Wednesday, February 22, 2012

Wat die hart van vol is!

Die skerpioen sit op ‘n eiland waar daar geen kos meer oor is nie. Tussen hom en die kos is daar ‘n rivier, maar hy kan nie swem nie. Hy kom toe by die padda en vra vir hom of hy hom nie oor die rivier sal neem nie. Die padda sê toe vir hom dat hy nie wil nie, want watter waarborg het die padda dat die skerpioen hom nie sal steek halfpad deur die rivier nie.

Die skerpioen waarborg hom dat hy dit nie sal doen nie en die padda stem in. So klim die skerpioen op die padda se rug, en so waar, halfpad deur die rivier steek die skerpioen die padda in die rug. Die padda vra toe vir die skerpioen: “Hoekom doen jy dit, jy het dan gesê dat jy nie sal nie?” waarop die skerpioen reageer: “Ek kan nie help nie, ek is ‘n skerpioen!” Hierdie verhaal wys vir ons op sekere dinge in die natuur, veral dat kreature nie hulle natuurlikheid kan ontsnap nie, maak nie saak wat die konsekwensies van hulle aksies is nie.

Op universiteit het ek ‘n vriendin gehad wat haar skripsie geskryf het in sielkunde. In haar studie het sy ‘n analise gedoen tussen die “leuses” en uitsprake van instansies en lande teenoor wat werklik op daardie oomblik in die praktiese leefwêreld plaasgevind het. Die konklusie is gemaak dat die leuse nie altyd die realiteit uitbeeld nie, maar in meeste gevalle ‘n tekort in die praktiese wêreld aanspreek. Die leuse soos “Eendrag maak mag”, is dalk ‘n verwysing van ‘n verdeelde gemeenskap wat daarna streef om iets te wees wat hulle nog nie is nie. ‘n Uitvloeisel uit dit is dat wat mense vir jou oor hulleself vertel, in vele gevalle nie is wie hulle is nie, maar iets wat hulle graag sal wil vermag.

In die verhaal van die skerpioen het die skerpioen wel die behoefte gehad en belowe dat hy niks sal doen nie, want dit is sy wens, maar in realiteit is en was hy ‘n skerpioen.

Elke dag het ons met mense om ons te doen, van verhoudingsmaats, huweliksmaats, kinders, vriende, kollegas en vreemdes wat almal vir ons stories oor hulleself vertel. Met die bogenoemde in gedagte, is jou verstaan van menswees baie beter, wanneer jy fyn luister na hoe hulle oor hulleself en die wêreld praat.

In die eerste plek oordeel ons graag, soms nie veroordeel nie maar be-oordeel:

Die Bybel gee ons wonderlike riglyne hieroor wanneer dit vertel dat: “die oordeel waarmee jy oordeel, die oordeel is waarmee jy veroordeel gaan word”. Dit gaan hier nie net oor die konsep dat jy nie moet veroordeel, soos jy in baie preke gehoor het nie. Dit gaan verder om te vertel dat jy in die manier waarmee iemand oordeel, iets hoor van waarmee hulle in hulle eie lewens mee worstel. ‘n Eenvoudige manier om dit te stel is dat as iemand vroue met minagting hanteer, worstel hy dalk met ‘n probleem binne homself oor vroue.

Dit laat my dink aan die oulike verhaal in die Bybel dat jy eers die balk uit jou eie oog moet haal, voordat jy probeer om die splinter te verwyder. Die oomblik wanneer jy begin oordeel, sê jy dalk daarmee meer oor jouself as die persoon wat jy veroordeel. Dan gee jy ook nie net vir ander skietgoeters waarmee hulle jou aan jou integriteit kan vasbind nie, maar ook gee jy aan die duiwel ‘n vatkans.

Jammer dat ek weer na die Joost en Amor situasie verwys, maar ons ken nou die hele storie al. Joost en Amor het twee weke voordat Joost met sy stukkende onderklere in koerante verskyn het, in die Finesse (Christelike tydskrif). Hierin het hulle vertel van hulle godsdiensbelewing. Die twee situasies het nie gelyk asof dit strook met mekaar nie, en veral dit het soveel oordeel en kritiek tot gevolg gehad.

“Wat die hart van vol is, loop die mond van oor”.

Nie net in oordeel nie, maar ook in die dinge wat ons konstant oor die lewe praat, gee ons klomp kennis van wat mense dink. Nie altyd net direk nie, maar ook indirek. In al hierdie “nuwe” boeke oor hoe die lewe werk, stel hulle dit ook duidelik dat wat in my hart gebeur oorgaan na die lewe om my. As ek dit vul met negatiewe, gee ek die “bose” kos en voeding en word dit meer, dieselfde met die mooi en positiewe. Dit is hoekom ons leer van kleins af uit die Bybel om nie die duiwel ooit ‘n vatkans te bied nie.

In my familie se geskiedenis het ek dit nogal baie sterk ervaar. Jy sien, my oupa was ‘n alkoholis. My pa het so sterk daarteen gerebbeleer dat hy selfs by plekke sonder betaling gaan werk het om alkoholiste te kan help. Alhoewel hy daarteen geveg het, was die hele idee rondom alkohol, die spil waarom sy lewe gedraai het. Toe hy self ‘n alkoholis word, kon mense dit nie glo nie, juis omdat hy so sterk daaroor gevoel het. Dit wil voorkom asof die alkohol, so deel van sy lewe geword het, dat dit sy ondergang beteken het, al het hy goeie bedoelings gehad.

So ken ek ook ‘n vrou wat so teen buite-egtelike verhoudinge was, dat sy een keer ‘n e-pos by haar werk onderskep het van 2 kollegas. Sy het hulle gekonfronteer daaroor, en as hulle dit nie gestop het nie, was sy bereid om die man se vrou daarvan te vertel. Vreemd genoeg, is sy een wat ‘n klompie jare later ook aan so ‘n buite-egtelike verhouding skuldig wat tot haar egskeiding gelei het.

Dit wil voorkom dat ons, soos die padda en die skerpioen, selfs met negatiewe dinge, al het ons die beste van bedoelings, moet vermy.

Beteken dit dat ons nie mag streef om beter te wees nie?

So vra iemand nou die dag vir my waarom ek nie in my versekeringsberoep vir mense sê dat ek ‘n dominee was nie. My response daarop is nie dat ek myself nie vertrou nie, maar dat ek versigtig is vir mense wat ‘n teksversie op ‘n visite-kaartjie druk of vir my vertel dat ek hulle kan vertrou omdat hulle christene is. Nie omdat ek dink ek onbetroubaar is nie, maar omdat ek weet dat ek menslik is.

Alle mense is maar eenmaal skerpioene, en is feilbaar. Christen of nie-Christen. Of ek nou streef daarna om in alles soos ‘n Christen op te tree, besef ek dat daar tye gaan wees waar ek foute gaan maak. Ek is ‘n Christen omdat ek glo dat God my vergewe vir wat ek doen, maar ek loop nie daarmee op my mou nie, want mense is skerpioene, en hulle het nie dieselfde ingesteldheid rondom vergiffenis nie.

Moeder Theresa het gesê: “Jy gaan goed aan mense doen, en hulle gaan jou teleurstel, maar dit beteken nie dat jy moet ophou om goed te doen nie”. Bly dus streef na om beter te wees.

So is ek versigtig vir wat mense vir my sê.

Dalk het ek deur ondervinding baie sinies geword, en skep ek met my houding weer ander karma en manifestasies in my eie lewe. Dit mag so wees. Wat ek eintlik bedoel daarmee is nie dat ek net die teenoorgestelde in mense glo van wat hulle sê en net die slegste verwag nie. Ek vra myself eerder die vraag af, soos in die geval van my pa, van hoekom die konsep in hulle lewens ‘n rol speel, dat hulle voel hulle vir jou iets moet sê.

Dit beteken weereens dat wat die hart van vol is en ek myself oor uitspreek, gevaarlik is. Dit is gevaarlik aangesien dit die maatstaf word waarmee ek mense be-oordeel. Dit beteken dus nie dat almal wat uitsprake maak oor hulle standpunt in die lewe in die algemeen daaroor lieg nie, maar eerder dat hulle hulle oopstel vir mislukking. Dit is dalk ‘n totale veralgemening, verskoon my daaroor, want daar is baie mense wat hulle uitspreek oor situasies en standpunt inneem en daarby bly.

Wat dus van belang in die lewe is, is om te luister na ander mense. Nie na hulle stories nie, maar wat tussen die lyne genoem word. Dit is wat in hulle harte aangaan. In terapie kry ons ook te doen met die konsep van projeksie. Jy sal soms in sulke sessies sien dat die jaloerse persoon “soms” die een is wat hulleself nie vertrou nie, en daarom vertrou hulle die ander persoon nie. Iemand wat noem dat hulle nie toegelaat word om hulleself te wees nie, dalk die een wat die ander persoon nie toelaat nie. Die een wat die ander beskuldig van selfsug, die een is wat die ander nie ‘n plek gun nie, want dan is daar nie genoeg plek vir hulle nie.

Daarom moet ons versigtig wees wat in ons gedagtes gebeur, want dit manifesteer in ons lewens. Wees versigtig oor die oordeel wat jy oor ander het, jy sien in ander raak wat in jou eie lewe aangaan. Veral by kinders en in ons opvoeding is die irritasies gewoonlik dit wat ons ook nie van onsself hou nie. Dit krap, omdat dit ‘n krapplek is by my.

Wanneer dit by mense kom, en veral by ons kinders, stel ons hulle soms op vir mislukking, deur wat in ons denke gebeur. As ek geirriteerd is in die oggend, gaan alles naderhand verkeerd loop en gaan meer en meer dinge my irriteer. Dit is nie kernfisika nie, dit is net eenvoudig logika. Dit is nie ‘n totale spirituele ervaring nie, net prakties. Dit lei ook daartoe dat almal in die huis naderhand huil en kerm en kla, en dit net van my ingesteldheid waarmee ek opstaan.

No comments:

Post a Comment