Thursday, February 23, 2012

Eet of word geëet

Toe ek begin het om versekering te koop, het ons bestuurder vir ons hierdie beginsel geleer as ‘n klomp jong ouens wat in die industrie begin werk het. Wanneer jy met verkope werk, besef jy dat as jy nie aan iemand die produk verkoop nie, is daar ander wat dit gaan doen. En, as jy nie verkoop nie, gaan jy honger ly. In kort, is dit jy en jou aksies alleen wat tot sukses lei, sodat jy die lewe kan leef wat jou gelukkig gaan maak.

In die denke oor die “Law of Attraction” word dit duidelik vir ons gemaak dat jy en jy alleen jou lewe en jou toekoms bepaal. Soms voel dit of hierdie idee so bietjie van die realiteit ontneem is. Ons weet tog dat dit nie net ek is wat leef nie, maar ander mense om my wat ook hulle wil afdwing. Ons wat gelowig is, glo ook tog dat daar dan ook “bo-natuurlike” krag van God werksaam is in ons lewens. Hoe nou gemaak?

Ek het vele kere verwys na die EN-EN beginsel, teenoor die OF-OF. Wat dit in kort beteken is dat ons in dieselfde ruimte meer as een antwoord kan gee op ‘n vraag. Dit is amper soos daardie veelvuldige keuse vrae wat jy in eksamens kry met die opsie van “all of the above”.

Ons is nou maar een keer so dat ons ongemaklik voel in sulke situasies, want ons sal graag een klinkklare antwoord wil sien op ‘n vraag. Maar, as jy nou bietjie aangestap het in ervaring, sal jy verstaan dat die lewe nie met absolute werk nie. Daar is soveel veranderlikes wat ‘n rol kan speel, en mense word ongelukkig in sulke omstandighede.

Alhoewel ek sterk is in my geloof, het ek vroeg besef dat ek nie net kan bid sonder om iets te doen nie. So het ek altyd vir die kinders in die Belydenisklas gevra waarvoor ek moet bid voordat ons verdaag. Almal het natuurlik die een of ander toets gehad die week waarvoor hulle gebed wou gehad het. My vraag was altyd aan hulle dat as ek moet bid, waarvoor moet ek vra. Moet ek vra dat die toets maklik moet wees of moet ek vra dat die toets gladnie moet plaasvind nie, of moet ek eerder vra dat hulle die krag en insig moet kry om lekker te kan leer? Jy kan natuurlik dink dat hulle altyd eerder die tweede opsie gekies het van die toets wat gladnie moet plaasvind nie. Ons weet nou al uit ervaring dat dit nie sommer gebeur nie.

Die “Law of Attraction” leer ons dat ons deur ons ingesteldheid berge kan versit. Ek het dit in my lewe gekombineer met die idee van die mosterdsaadjie en geloof. Ek glo werklik in wonderwerke, want daar het baie in my lewe al gebeur, gebeur huidiglik en gaan nog gebeur. Die probleem daarvan is egter dat my bankbestuurder nie hierdie konsep baie mooi verstaan nie. Ek dink hy gaan vir my lag as ek vir hom sê: “The Universe will provide”. Sjoe, sou lekker gewees het as ons op dieselfde golflengte was.

Ander mense het hulle eie persoonlikhede, keuses, nukke en grille. Ek kan nie altyd kies wat hulle in my pad en ervaring plaas nie, want dit is hulle eie keuses. As iemand my sleg behandel, dink ek nie dit is totaal my eie keuse nie. Die “Four Agreements” gee ons in een van die lesse die opdrag dat ons niks “persoonlik” moet opneem nie. Dit beteken dat dit wat mense dink en doen, hulle eie lewe en hulle eie stryd is. Alhoewel ek daarby betrek word omdat ek die lewe met hulle deel, beteken nie dat dit oor my handel nie. Ons is nie altyd so “belangrik” dat alles oor ons handel nie.

Gholf is so ‘n interessante spel vir my, aangesien dit ons baie leer oor wat elke dag in die lewe moet gebeur. Wanneer ek speel is daar soveel uitdagings, opponente en veranderlikes. So ‘n paar jaar gelede het Louis Oosthuizen die Britse Ope gewen. Wat oplettend was is die feit dat hy so op sy wit handskoen aan sy linkerhand ‘n rooi kolletjie gehad het. Voor elke hou het hy so deur sy roetine gegaan, en voor hy slaan vir ‘n ruk stip na die kolletjie gekyk. Dit het hom laat fokus op dit waaroor hy beheer het.

Jy sien, soms is ons so besig om te fokus op die dinge om ons waaroor ons nie beheer het nie, dat ons vergeet om te fokus op waaroor ek wel beheer het. Soms te besig om te bid, dat ek nie studeer nie. Dalk raak ek so besig om te manifesteer, dat ek nie werk nie. Soms is ek so besig om te soek na die swartskaap-mense wat tot my omstandighede gelei het, dat ek vergeet dat ek ook beheer het. Natuurlik het ‘n gholfspeler ‘n ingesteldheid teenoor sy spel, hy het visie oor waar die bal moet eindig, hy neem al die uitdagings in ag, geloof in homself en geloof in God wat die talent vir hom gegee het. In die oomblik wat hy die hou moet speel fokus hy slegs op een ding en dit is dit waaroor hy wel beheer het. Natuurlik het hy ook die geskiedenis agter hom van die brou-hou op die vorige gat, maar hy kan nie daaroor fokus nie, want slegs hier en nou en hierdie oomblik is van belang.

Daar is elke dag in jou lewe soveel dinge wat gebeur. Jy het ‘n geskiedenis van mooi en lelike dinge wat jou pad gekruis het. Jy het elke dag uitdagings soos water voor jou setperk, maar jy het die vermoë om hierdie dinge te oorbrug. Inplaas daarvan om kwaad te word oor die ontwerper van die baan wat dit nou vir jou moeiliker maak, maak eerder planne van hoe jy die uitdaging gaan oorbrug.

Daar is ‘n oulike spreekwoord wat sê: “Here, gee my die kennis om te verstaan wat ek nie kan verander nie, die krag om te verander wat ek kan en die insig om die verskil te ken”. Jy kan nie die hele dag rondsit en top oor die verlede, die hede en die toekoms nie. Dalk moet jy nooit sig verloor van wat jy wel oor beheer het nie. Gaan doen dit vandag, in geloof, in aksie en in manifestering. Gaan “EAT” neem aksie, voordat jy opgevreet word!

Soos ek in ‘n kursus geleer het: “The Universe applauds actions and not ideas”

No comments:

Post a Comment