Wednesday, February 8, 2012

Kopbalans

Ek kan nogal ‘n redelike pessimistiese mens wees. Ek weet nie of dit my opvoeding was of my persoonlikheid nie. Ek is ook die hele tyd besig om te lees en te besin oor hoe ek hierdie streek in my kan teenwerk. Dit is nooit maklik nie, en dit is aaklig om so deur die lewe te gaan.

Ek het teologie gaan studeer, en ek dink dat ek ‘n groot Christen is. In Christenskap glo ek dat God wonderlike dinge vir my wil gee, en as ek om my kyk is ek baie geseënd. Maar ek vang myself telkens weer verval is pessimisme en in vertwyfeling oor my toekoms en my hede. Ek sit tussen twee vure, want aan die een kant is my omstandighede wat nie altyd perfek is nie, en aan die ander kant is die beloftes en die seën wat ek van die Here ontvang.

In myself sit ek ook met ‘n hele spul skuldgevoelens, want ek dink dat my omstandighede nou die oorsaak is van MY optrede deur tyd. Ek voel skuldig en ek dink dat die nie ‘n toets van ‘n buitehemelse wese is nie. Of is dit God of die duiwel wat hierdie dinge oor my pad gebring het? Ek dink nie dat ons ooit hierdie antwoord sommer net maklik sal vind nie. Toe Adam en Eva in die paradysverhaal was, het hulle tog ‘n keuse gehad. Daardie keuse is die keuse wat ons elke dag maak, vir God of teen God. Ons Bybel vertel tog elke plek dat as God vir ons is, niemand teen ons kan wees nie. Ons leer dat God ons nie bo ons vermoëns beproef nie. God is daar vir ons, Hy is ‘n God van genade en Hy is Regverdig. Allerhande mooi en groot woorde wat ons beindruk, maar wanneer die tekkie die teer tref en ek my lewe beskou, voel dit soms asof hierdie groot woorde net dit is, groot woorde.

Daarmee sê ek gladnie dat die woorde oor God en waarmee Hy beskryf word nie waar is nie, ek redeneer slegs dat ek nie altyd die groot woorde elke oomblik voel nie. Nou dat ek dit skryf, begin die skuldgevoelens weer. In die praktyk voel jy soms soos iemand met ‘n hoofpyn wat op niks anders kan fokus of lekker kan ervaar te midde van jou pyn nie.

Maar die vraag is nie of daar pyn en hartseer in jou lewe gaan wees nie, want ons weet dat dit deel van die lewe is. Die vraag is egter wat om daarmee te doen.

Ek dink aan my ma wat altyd terwyl ek studeer het vir my gesê het: “My kind, dink daaraan dat as dit nou sleg is, môre hierdie tyd is alles verby”. Ek spot haar baie daarmee, maar dit is baie goeie raad, en dalk die antwoord van hoe ons dit wat ons vasgevang moet hanteer. Ons is geleer om ons kop op te tel en te sê: “This also will pass”. Ons het geleer om ons horison te verbreed en weg te kyk van die krisis nou. Ons het geleer om te fokus op die groter prentjie, wat natuurlik altyd beter lyk as die kolletjies op die probleemdoek van naby.

So moet ek ook dink as ek na my probleme kyk. Hoekom sal ‘n mens dan nou die wiel van nuuts af wil uitvind? Deur die eeue het mense geleer dat dit die goeie manier is om na jou krisis nou te kyk. Mense het besef dat as jy elke oomblik van jou bestaan slegs fokus op wat fout is, jy so diep in die gat van pessimisme en pyn sal verval, dat jy nooit daar gaan uitkom nie.

Die lewe werk eenvoudig maar met balans. Aan die een kant het ek probleme en krisisse, maar aan die ander kant seën, genade en hoop. As elke dag ‘n blou maandag is, en ek nie kan uitsien na ‘n naweek nie, sjoe, sal ons nooit uit die bed opstaan nie. Alhoewel ons dit graag so droom, sal die lewe nooit NET bestaan uit naweek nie. Maar dit bestaan ook nie net uit blou maandae nie.

Dit klink soos breinspoeling, maar dit werk verseker. As mense deur die eeue heen hulle kopbalans so uitgesorteer het, hoekom nie ek ook vandag nie. Ek laat dan toe dat my probleem my breinspoel dat ek selfs liggaamlik siek word, hoekom nie toelaat dat die mooi my gesond maak nie. Ek glo dat jy alles in jou het, van voor geboorte af, om alles te kan doen wat jy moet. So leer ons ook uit die Bybel dat ons nie bo ons vermoëns beproef sal word nie.

Natuurlik gaan jy voel asof dit ‘n berg is om te klim, maar sonder die regte motivering en ingesteldheid, gaan die berg altyd vir jou te groot wees om te klim. Een ding van bergklim is dat wanneer jy bo uitkom, jy totaal vergeet van hoe moeilik dit was. Dink maar aan daardie krisis in jou lewe wat jou totaal laat voel het asof dit te erg is vir jou om te hanteer. Kyk waar is jy vandag, vandag geniet jy die uitsig van bo, en vergeet die pyn en verdriet wat jy moes deurgaan. As jy onthou, is dit nie meer daardie intense drama van die oomblik nie.

Baie mense sal redeneer dat jy deur hierdie metode eintlik nie fokus meer op die probleem nie. Ek redeneer anders, want as ek net op probleme fokus, sal ek nooit die energie kry om die berg te klim nie. Toe ek op Universiteit was, het ons baie boeke gehad wat ons moes deurwerk. Aan die begin het ek die hele stapel met al 20 boeke gelyk op my lessenaar gesit. Dan het ek so buite beheer gevoel, dat ek sommer moed wou opgee en op my bed gaan lê. Toe leer ek om dit anders te doen. Toe leer ek dat ek die hele spul buite sig gaan bêre. Dan haal ek een vir een uit. Die berg het nie weggegaan nie, maar ek het meer in beheer gevoel, want ek het die berg tree vir tree uitgeklim. Ek het nie gefokus op die hele 2 000 000 tree nie, maar net een op ‘n slag.

Dit is jou lewe, dit is jou krisis, en daarom het jy ook verstand gekry om te weet hoe om dinge op ‘n manier aan te pak wat vir JOU werk. Die grootste ding van ‘n krisis, is dat dit vir jou eerstens onoorkombaar lyk. Dit laat jou magteloos voel, en jy begin allerhande twyfel voel. Jy sien die 20 boeke op jou lessenaar, en weet jy het 12 ure voor die toets, en jy dink dit is onmoontlik. Deur my aksie met my boeke, het ek “beheer” geneem van die situasie.

Deur my krisis uit te balanseer met my seëninge, beteken nie dat die skaal altyd gelyk sal voel nie, maar dit gaan my anders laat voel. Die krisis bly, net soos die tyd van die eksamen die volgende oggend, maar deur myself die idee van beheer te gee, het gehelp. Die skuldgevoelens dat ek te laat begin leer het, of magteloosheid, het geen bydra gelewer nie, maar het eerder meer tyd geneem.

So, dit help nie om te veel “negatiewe” energie te spaneer aan ‘n krisis nie. Te wonder of dit God se straf is, of te vra waar God nou is, om skuldig te voel oor die feit dat ek dit dalk veroorsaak het, al hierdie dinge help niks. Dit gaan altyd daar wees, maar ek moet die ander kant van die balans vul met dinge wat die impak van my gevoelens minder maak.

So gaan jy vinnig sien dat jy die swaarkry met lekkerkry kan klaarkry!

No comments:

Post a Comment