Tuesday, February 28, 2012

Oorsaak van leuens!

Ek het nou die dag die film “The Invention of Lying” gesien. Dit is skreeusnaaks, aangesien die mense in ‘n wêreld leef waar alles die “waarheid” is. Almal is blatant eerlik met mekaar oor hulle wêreld en oor mekaar. Daar is geen stories of films wat gemaak word in die film oor dinge wat nie werklik is nie, slegs dinge wat bewysbaar is. Daarom is alles op televisie slegs dokumentêre programme.

Die hoofkarakter stap toe by die bank in en die klerk vra hom hoeveel geld hy in sy rekening het. Hy vertel toe die eerste leuen, maar sonder om te blik en te bloos betaal die teller vir hom die geld uit wat hy gevra het. So kom hy agter dat hy die wêreld van eerlikheid kan manipuleer tot sy eie voordeel. Hy het toegang tot geld, mag en vroue. Die rede is dat as die mense om jou “eerlik” is en jy “oneerlik”, dan glo hulle dat jou leuens die waarheid is.

In die eerste verhaal in die Bybel lees ons al dat mense lieg om hulle eie agterstewe te red. Selfs die perfekte paradys is versuur deur leuens en so leef ons vandag in ‘n wêreld waar leuens die bo-toon voer. Ons is almal al belieg en ons het al meegedoen aan die vertel van leuens. Vir jare het ons in ‘n filosofie van apartheid geglo en selfs geglo dat sekere bevolkingsgroepe nie mense is nie. Rondom ons sien ons verhoudings wat deur leuens en oneerlikheid verwoes word.

Wat is ‘n leuen dan per definisie?

‘n Leuen is die teenoorgestelde van die waarheid. Dit is informasie wat nie die werklike gebeure of situasie uitbeeld nie. Dit is ‘n verdraaide beeld of ‘n wanvoorstelling.

Vir ons om te verstaan hoekom mense lieg, moet ons begin by die grootste leuen van alle leuens, die leuens oor en van God. Jy sien, van die eerste verhaal oor die skepping het die slang vir Adam en Eva ‘n leuen vertel oor God. Hy het gesê dat God hulle mislei en nie wil hê hulle moet van die boom se vrugte eet nie, want God is bang dat hulle so slim soos Hy sou word. Die onderliggende idee hiervan is dat ons wel goddelikheid in ons are het, maar dat die mens die sentrum van die lewe is en alles om my en jou draai. Hoe ons ook al slim stories met mekaar filosofeer oor God, is en bly God die sentrum waaroor die hele lewe handel.

Dit is belangrik om dit te besef, want daarsonder maak dit tog nie saak wat ek doen met my lewe nie. Die eerste leuen wat ek nooit vir myself moet vertel nie, is die twyfel in en oor God. As ek standvastig glo dat God die Alfa en Omega is en my lewe in Hom groei, is die eerste waarheid waarin ek moet besef.

Jy sien, Adam en Eva het die fout gemaak om dit nie te doen nie. Omdat hulle die leuen oor God geglo het, het HULLE lewens gebreek. As God nie meer God is nie, dan kom die tweede leuen ook outomaties dat EK nie goed genoeg is nie. Die idee dat ek hierdie arme eenvoudige en stukkende mens is. Ek glo naderhand dat ek nie meer goed is nie en dan gaan kruip ek weg vir God en die lewe net soos Adam en Eva. Ek is nie meer waardig om te leef nie, want wat is die sin van die lewe nou eintlik sonder God.

So sneeubal die feit dat ek met God verkeerd leef daartoe dat ek met myself verkeerd leef. Ek sien dan nie meer myself of die mense om my deur die oë van God nie, maar deur die leuen-oë van die wêreld om my. Stukkende mense met stukkende idees wat ‘n stukkende wêreld skep vir hulleself.

Wat dit nog erger maak is dat ons hierdie beeld toepas op die mense om ons. Omdat ek dink dat ek nie goed genoeg is nie, dat ek sleg is, hanteer ek die mense om my ook met dieselfde minagting. Kyk bietjie na iemand wat deur ‘n slegte tyd is, hetsy werk verloor of ‘n gebroke verhouding, kyk bietjie hoe hulle teenoor ander optree.

Mense met slegte beelde en idees van hulleself, vertel graag en hanteer ander asof hulle mislukkings is.

As ek ‘n blou bril opsit, lyk alles om my blou. Dalk lê die oplossing vir die węreld nie in groot lande en die Verenigde Nasies en Rooikruis nie, maar by elke mens wat met die leuen-bril rondloop. Die leuen-bril oor God en Sy plek in ons lewe en ook die manier hoe ek na myself kyk.

Wanneer die Bybel sê dat jy jou naaste moet liefhę soos jouself, kan die manier hoe jy jou naaste liefhet tog as bewys dien van wat jy oor jouself dink. En natuurlik, kan dit teruggevoer word na wat jy oor en van God dink.

Elke enkele situasie waarin jy leef en waar jy on-eg is, is ‘n leuen en maak jou lewe ondraaglik. Dalk is dit hoekom jou lewe voel asof jy nie meer in die paradys woon nie, maar in die woestyn. Onthou, God het deur Sy genade gekom en hierdie situasie omgekeer sodat ek en jy weer in die paradys kan leef. Jy kan nou die egte God sien en ervaar, jy kan ook nou die egte JY (Hoe God jou sien en hoe God jou gemaak het) leef en jy kan ook vandag die mense om jou in liefde hanteer, maar net soveel as wat jy jouself liefhet.

Ons almal al vuisvoos na onsself gekyk deur dit wat ander om ons van ons dink, maar miskien het die tyd gekom dat jy ophou om dit jou maatstaf te maak. Kyk eerder na jouself deur die oë van God en besef dat jy besonders is, mooi is en waardig is dat die Almagtige God met JOU bemoeienis maak.

As jy ophou om die Groot Leuens te vertel en te glo, sal al die ander leuens in jou lewe outomaties opdroog! Die waarheid maak ons vry!

Geniet jou dag, met al my liefde!

No comments:

Post a Comment