Friday, February 10, 2012

Fokus

Ek is natuurlik absoluut gek daaroor om televisie te kyk en veral om flieks te kyk. Ek het al baie keer gesit en kyk en gewonder oor die detail wat ontbreek? Jy sien ‘n aksie-hero wat met ‘n valskerm uit die vliegtuig spring nadat hy die slegte ou doodgeskiet het. Jy weet nooit waar en wanneer hy die valskerm gekry het of aangetrek het nie. Hy land op ‘n strand en met so ‘n stadige aksie loop hy tussen die mense deur wat op die strand sonbrand. Die volgende oomblik wys hulle ‘n stad aan die anderkant van die aardbol, en onderaan die skerm staan die naam van die stad en in watter land dit is.

Die volgende oomblik sien ons ons aksie-held, geklee in ‘n Armani pak, wat inloop by ‘n restaurant. Hy bestel die beste bottel wyn en daardie dis wat SQ is. Waar het hy sy paspoort gekry, waar het hy die geld gekry vir die vliegkaartjie? Hy haal sy selfoon uit sy sak en maak ‘n oproep, en jy wonder of dit ‘n nuwe selfoon is, want toe hy op die strand geland het, sou die oue tog nat geword het.

Ek is seker almal van ons het hierdie dinge al gedink in ‘n film. Hoekom word alle detail dan nou nie vir ons geskets en gewys nie? Die rede daarvoor is eenvoudig, die details het geen relevansie op die storie het nie. Hoekom sal die regiseur nou 5 sekondes mors om vir ons te wys waar en hoe die aksie-held ‘n valskerm aantrek? Die antwoord is dat as dit nie bydra tot die storie nie, daardie detail verveel en tyd mors.

My en jou lewe is ook ‘n storie, maar soms spandeer ons soveel tyd aan daardie stukkies detail wat geen relevansie op die werklike storie wat saakmaak het nie. Ons word soms so vasgevang in onbenullighede wat gladnie enige relevansie het nie. Dit is dinge wat eintlik my aandag aftrek van dit wat ek WEL op moet fokus.

Ek vang myself soveel keer dat ek in die oggend wanneer ek wakker word en begin werk, dat ek besig raak met onbenullige e-mails. As ek my sin terugkry, dan is daar ‘n uur of twee verby wat ek nooit weer kan terugkry nie. So laat EK toe dat hierdie dinge oor my pad kom. Partykeer is my selfoon ook iets wat onbenullig is en my aandag aftrek. Daardie oproep wat jy nie verwag nie, en wat jou kop skielik weer in ‘n rigting gooi en jou fokus wegvat.

Ek wil altyd lag as ek sien hoe mense handel met hulle “moet doen” lysie. Ek het al opgehou om so ‘n lys te maak, want in baie gevalle is daardie lys niks meer werd as die papier waarop dit geskryf is nie. Of jy doen dit, of jy doen dit nie. My “moet doen” lysie is so lank dat ek in die oggend al moed verloor. Daar is mense op wat ek moet bel wat al so bloedrooi is op Outlook. Dit skrik my nie af dat dit rooi is nie.

Soms raak mense ook so betrokke in ander mense se lewens, en ons skinder en vertel stories wat gladnie enige relevansie of positiewe bydrae tot die storie het nie. Ek wil gladnie dit propageer dat jy op ‘n eiland moet leef en nooit mense om jou mee gesels of help nie, maar moenie dat dit so belangrik word dat jy nooit by die storie wat JOUNE is uitkom nie.

Ek sien baie keer in die proses van hierdie blog skryf, dat ek ‘n sekere gedagtegang en beplanning het van waar die storie moet opeindig, en dan die volgende oomblik kom vra my dogtertjie my om die kanaal te kom verander op die televisie. Wanneer ek weer voor die rekenaar kom sit moet ek soms die hele stuk van vooraf deurlees om weer die draad van die storie te kry.

So word ons verlede ook soms ‘n storing van my storie wat ek wil vertel. Sommige mense leef in woede en skuldgevoelens oor hulle verlede, wat hulle fokus totaal wegneem van wat nou moet gebeur. Dit is amper soos die stories wat terugflitse het. Ek haat dit as ek ‘n film kyk wat begin by die einde amper, en dan vir ons vertel wat gebeur het 3 maande vantevore.

Dit maak jou soms so deurmekaar, dat jy nie ordentlik die dinge wat gebeur in leërs kan plaas nie. Wat jou tot op hierdie punt gebring het is belangrik, maar om die hele tyd terug te verwys daarna, trek soms jou aandag af van waar jy nou is. Jy mis allerlei wonderlike oomblike in die onmiddelike omgewing. Moenie dat jou verlede jou aandag aftrek van wat NOU nodig is nie.

Soms word ons drome en dinge wat ons hoop gebeur of wat kan gebeur in die toekoms ons aandag af. Uitgestelde geluk word iets wat my aandag aftrek van die hede. Nie net geluk nie, maar ook vrese en spanning oor die toekoms word iets wat my lewe vandag beinvloed. Ek is so besig om te bekommer oor die rekeninge aan die einde van die maand, dat ek vergeet dat ek NOU iets daaraan kan doen. Die Bybel stel dit tog vir ons dat die dag van more vir homself sorg. Moenie toelaat dat jou drome en ideale in die pad staan van wat NOU nodig is nie.

Ons het ook baie idees in ons kop oor hoe die lewe werk. Ek verkoop ook versekering, en so sit ons nou net met een van ons leweransiers en praat oor hoe ons besigheid meer effektief kan bedryf. So sit ek aan die een kant en gee my idee, en ander hulle idees. Die antwoord is nooit in wat jy dink of doen nie, maar of dit werk of nie. As dinge nie effektief ‘n bydra maak tot die storie nie, wat is die sin daarvan om dit vir mense te vertel.

Ons hou daarvan om die idees van suksesvolle mense te hoor, omdat ons kan sien dat hulle idees effektief ‘n bydra maak tot hulle storie. En in die meeste gevalle leer ons uit hulle sukses dat hulle nooit energie spandeer aan dinge wat nie ‘n bydra lewer nie. Suksesvolle mense is mense wat in die oomblik kan fokus op wat belangrik is, en kan uitblok of uitskakel wat nie die storie dien nie.

Dit is soos ‘n gholfspeler wat ‘n hou moet slaan. Hoe meer hy dink en bekommer en wonder of droom of siekte het of dink aan probleme met sy vrou of bekommer oor die water links van die setperk, NIKS anders is belangrik as die hou nie. In die storie “the greatest game ever played”, is daar ‘n wonderlike stukkie waar die een speler so stip na die skoonveld voor hom kyk. Stelselmatig sien ons dat, alles om hom, die mense, bome en water verdwyn. Dan is dit NET hy en die balletjie en die skoonveld.

Ons brein is maar een keer so gemaak dat dit nie op 2 verskillende gedagtes op een slag kan fokus nie. In gholf moet ek wel die water voor die setperk kan raaksien en my stokkeuse daarby aanpas, maar dan moet ek my fokus afhaal van alles en die fokus instel op die bal, die setperk en die vlaggie. Dus, alhoewel al die ander dinge voor my en om my deel van die geheel uitmaak, moet my fokus wees op die hou wat ek NOU gaan slaan.
Watter tipe dinge in jou lewe is onbenullig en onbelangrik vir jou storie? Of dit jou verlede, jou toekoms of jou idees is, vra jouself altyd of dit jou storievertel positief dien.

Een van my geliefde uitdrukkings is die omgedraaide van “a mind is a terrible thing to waste” en dit is “a waste is a terrible thing to mind”!
Gaan onkompliseer jou lewe vandag, en vertel die storie wat mense boei, los al die dinge uit jou fotoverhaal wat nie sin maak of niks met die storie te doen het nie!

No comments:

Post a Comment