Monday, February 20, 2012

99%

Ons leef in so 'n vreemde wereld. Dit wil voorkom asof mense om ons ongelooflik dom is. So lees ek op my dogtertjie se swemvlerkies al die waarskuwings. Soveel waarskuwings dat daar selfs nie meer plek vir kleur is nie. Daar is selfs een wat se dat jy die vlerkies nie moet gebruik tydens 'n aardbewing nie. So wonder ek toe nou of ek in die harwar van 'n aardbewing eers my dogtertjie se vlerkies gaan soek.

So sien ek toe in 'n restaurant die week so 'n groot teken wat se: "pasop vir die trappie". Kyk mense nie meer deesdae waar hulle loop nie? Dalk is dit omdat hulle dalk die hele tyd rondkyk teen die mure vir waarskuwings, dat hulle nie kyk waar hulle loop nie.

Jy kry ook geen ander sepe en skoonmaakmiddels wat nie anti-bakterie middels bevat nie. En ek wil my dood lag want almal waarsku jou dat dit slegs 99% van kieme doodmaak. Weet hulle dit regtig? En "common sense" beteken tog nie dat ek werklik dink dat alle kieme sal doodgaan nie, en dat daar nuwes is wat ons nie ken nie. My biologie kennis is maar swak, maar hoe weet dettol van almal, en hoekom maak hulle dan nie liewer 'n sepie wat ook daai 1% outjie kan laat vrek nie.

Hoe amusant ek dit ookal vind, dit is nou maar een maal mense. Ons is so behep met die waarskuwings van die lewe. Ingestel op wat verkeerd gaan loop, dat ons vergeet om rondom ons die mooi te sien. As ek alles opweeg, mense, kanse en geleenthede, sal ek nooit iets doen nie. So skryf ons oor die mense om ons ook al hierdie negatiewe waarskuwings. Die een is moeilik, die een is simpel, die een is talentvol, die een is dit en die een is dat.

Kyk bietjie na die mense om jou, en kyk bietjie of daar plek vir kleur en mooi op die mense om my. So die hele tyd al die gevaarligte en negatiwiteit. Baie mense om ons is al so deur ons negatiwiteit bekrap dat alle pogings tot die geniet van hulle nabywees onmoontlik word.

Laat my ook so dink aan die "glans-paartjie" Joost en Amor. Ag tog, blaaie en blaaie vol beswaddering. Mens kan amper nie glo dat hulle ooit iets mooi in mekaar gesien het nie. Elke dag en week nuwe oordele en swartsmeer. Alhoewel dit hulle lewens is, is dit 'n goeie voorbeeld.

Teen die tyd dat ek alle waarskuwings op Mia se swemvlerkies gelees het, gaan sy dalk al te groot wees om dit te gebruik. En hoeveel wonderlike kanse om te swem het ek en sy nie dalk gemis nie?

Nie net wat ons met ander doen nie, maar ons doen dit met onsself. Altyd besig om te oordeel, beoordeel, te weeg en te lig bevind.

Ons is tog bewus dat mense ook soos Detol se sepies is. Op die beste kan ons 99% wees. Niemand in ons en om ons is perfek nie. Dit beteken nie dat ons daarom nie beter kan probeer wees nie, maar dis tyd dat die kastyding van onsself en die mense om ons moet stop.

Skinderartikels oor Whitney en Joost fokus op die imperfeksie van mense. Dis asof ons verbaas is dat mense se koppies dalk half leeg is. Amper asof ander se imperfeksies ons eie kan wegsteek. Baie mense leef daar, uitvang ophang en kruisig.

Maar, net die feit dat die detol seep nie daardie een kiem doodmaak nie, beteken nie dat ekke dit nie gaan koop nie. Dit is elkgeval beter as die ander opsies daar buite.

Die waarskuwing van die "imperfekte" 99%, gee 'n uitkoms dat niemand hulle kan veroordeel of dagvaar as hulle siek word nie.

Dalk moet ons fokus meer val op wat die mense en produkte om ons reg doen. Fokus op wat mense vir ons beteken, eerder as nie!

Sien die halfvol glas eerder as die half leeg! As jy vrek van die dors, kan 'n halfvolle jou lewe red en jou dag verryk!

No comments:

Post a Comment