Thursday, December 1, 2011

Lotto lewe

Iemand vertel nou die dag vir my 'n interresante storie. Hy sê dat hy so dan en wan 'n lotto kaartjie koop. Wanneer hy dit koop, dan begin hy droom van hoe hy die geld gaan spandeer en al die lekker dinge wat hy daarmee kan doen. Hy begin op 'n ander manier kyk na die motors wat by hom verby ry en in die winkelvensters is en ook na die huise langs die pad.

Een ding wat interresant is van sy manier van lotto koop, is dat hy tydens die trekking en 'n dag of twee nadat dit gewen is, nie kyk of dit hy is wat gewen het nie. Hy leef steeds in sy droomwêreld van spandeer en koop. In essensie vir hom is die idee in sy kop dat hy die lotto gewen het belangrik (al is hy onseker), maar daarmee saam kan hy dit nie hanteer as hy nie gewen het nie. Ek dag toe dat dit redelik vreemd is vir iemand om so te dink, maar toe besef ek dat dit is hoe ons baie kere leef.

Jy sien, van kleins af word ons lewens deur alles om ons beinvloed, en saam met dit vorm ons ook idees van wat belangrik is in die lewe vir ons, en ons droom. Ons droom van 'n ideale "lotto" wêreld waar alles gaan loop soos ek dit wil hê en waar ek gaan kom waar alles perfek is. Ek sien watter tipe huis ek wil hê, as mans droom ons oor die tipe motor wat ek graag soek. Ons droom van die ideale huweliksmaat, die 2 ½ kinders wat ons gaan kry. Ek droom oor die tipe werk wat ek gaan doen en waarmee ek myself elke dag gaan besig hou. Eers wil ek mos 'n polisieman of brandweerman of prinses word, maar later rig ek my lewe na 'n dokter, dominee of onderwyser. Ek droom oor die perfekte wêreld waar alles gaan loop presies soos ek dit bedroom. Ek glo dit en ek streef dit na deur die winkelvenster van my drome. Ek bid en ek glo en ek vertrou dat dit so gaan werk.

So leef ons nie "lotto" droom. Van die eerste oomblik van jou bestaan word jy elke oomblik met 'n lotto kaartjie uitgereik en elke oomblik van elke dag is daar 'n trekking. Ons weet ook dat, maak nie saak wat ek doen nie, dat my kanse om die lotto te wen is kleiner as my kans om deur weerlig getref te word. En elke trekking kan ek nie my kop in 'n gat druk en van die realiteit van wen of verloor ontsnap nie. Ek kan probeer, maar in werklikheid is die kanse dat ek my droomlewe gaan kry maar skraal. Die rede daartoe is dat dit nou maar een maal is hoe die lewe werk, net soos die lotto.

My vriend gaan verder en hê dat hy in 'n redelike depressie verval die oomblik nadat hy besef het dat hy nie die lotto gewen het nie, so daarom steek hy eerder sy kop in 'n gat en gaan nie die nommers na nie, want die droomwêreld in sy kop is beter as die depressie van die realiteit na die tyd. Gister lees ek dat die oorsaak van stress, ongelukkigheid en depressie juis dit is, wanneer jy in jou kop nie die som gemaak kan kry nie. Waar jou binneste nie tevrede is met die uislag van die trekking nie. Waar jy na die groot trekking vir dae rondsit en ongelukkig is omdat jy weer jou boksie met besittings moet uitpak by jou werk, by die huis en in jou stukkende ou motor en jou huis. Waar jy nie jou baas onder sy gat kon skop, of jou vrou kon vra om te pak nie, omdat jy die lotto gewen het nie. Terug te keer na die realiteit is nie maklik as jy so verweef geraak het in jou droomwereld nie.

Dan ontwikkel ons baie teorieë van die lewe en die lotto om te kan funksioneer. My een oom het so 'n joernaalboek met blokkies in wat hy 'n sisteem van die lotto en nommers bou. Dit is ongelooflik interresant, want hy speel dan net sekere nommers wat die meeste voorkom. So probeer ons elke dag sin maak van die wereld om ons op allerlei maniere, deur sielkundiges, boeke en medikasie. Ons probeer die "odds" van verloor verminder. Ons bou vir ons sisteme waarin ons so naby as moontlik kan bly aan ons drome en ideale.

Ons lees boeke en aanhalings wat ons beter laat voel oor die feit dat ons "gefaal" het. Ons dink onsself positief deur te fokus op die volgende trekking in die hoop dat dinge gaan beter gaan en dat ek dan kan wen. Ek raak betrokke by Godsdiens, en ek dink dat daar dalk 'n rede moet wees hoekom ek nie hierdie keer gewen het nie. Ek bid en glo vir die volgende trekking, en ek begin weer droom net om dalk weer teleurgesteld te wees. Maar een ding is seker, ek het nie 'n keuse nie, ek kan nie kies om ingeskryf te word vir die trekking nie, dit is outomaties.

In Daoism word daar vir ons 'n interresante konsep geskets van verwagtinge en drome. Daar word vir die priesters geleer om hulleself nie te was in warm water nie, want dan gaan hulle nooit weer tevrede wees met koue water nie, en altyd net hunker na warmer en beter water as die koue realiteit. Alhoewel dit hier drome wegmaak, glo ek dat daar 'n waarheid in steek oor die realiteit en hoe ek my lewe kan leef.

Ek raak in depressie en stress omdat my realiteit nie voldoen aan die vereistes van my drome en ideale nie. As iemand my nie hanteer soos ek hanteer wil word nie, bring dit spanning. As ek nie kan koop wat ek wil hê nie, dan bring dit spanning. Vir hoeveel jaar het ons sonder High Definition TV geleef, hoekom is dit nou die einde van my lewe as ek dit nie kan koop nie? Waar kan ek vinniger as 120 km per uur ry, so hoekom moet ek my kop breek omdat ek nie 'n Bugatti kan ry wat so vinnig soos 'n vliegtuig is nie? Hoekom dink ek dat 'n nuwe huis en nuwe klere my gelukkiger gaan maak, as ek verseker weet dat geluk van binne kom en jou hart is waar jou huis ookal is?

My pa het op 'n stadium eiendomme verkoop. Een van sy kliente het 'n kleinhoewe gesoek wat redelik eenkant is en redelik beskut is. Hy was reeds baie ryk en het reeds 'n Porsche en al die dinge wat 'n mens van kan droom besit. Na 'n ruk lees ons van hom in die koerant, want hy het begin om dwelms te vervaardig. Soms is mense maar so dat jy nie tevrede is met selfs die baie wat jy het nie, en steeds nadat jy die lotto se groot prys gewen het, nie ophou om te droom van groter en beter en mooier nie.

Met droom is daar niks fout nie, maar as dit jou realiteit word, en al is waar jy leef, dan word dit 'n probleem. As my geluk NET afhang van die vewesenlikking van my drome, sal min mense werklik gelukkig kan wees. Jy moet kan tevrede wees en kan vrede maak met jou lewe, ongeag wat jou drome en ideale sê. Jy moet jouself en mense om jou kan aanvaar vir wie en wat julle is, ongeag of dit jou droom en jou ideale lewe is. Jou lewe moet fantasties wees, te midde van wat gebeur met jou en om jou. Dinge in die lewe gaan nie altyd loop soos jy verwag nie, jy kan, maar gaan moontlik nie een keer in jou lewe die lotto wen nie, en as jy dit een keer gewen het, dalk nie weer nie.

Daar is niks fout met droom nie, daar is niks fout met die hoop op die wen van die lotto nie, en ook niks fout om na beter te streef of om maatstawwe te stel waaraan jy graag wil hê jou lewe en mense om jou moet voldoen nie, maar jy kan nie wag vir dit om te gebeur voordat jy gelukkig kan wees nie. Jy funksioneer met jou voetjies vierkantig op die grond op hierdie oomblik, en jy moet kan vrede maak met alles en almal om jou. In so baie boeke word vir ons uitgespel dat werklike geluk oor aanvaarding gaan, en ek stem daarmee saam.

As ek nie dit wat ek het en die mense en omstandighede om my kan aanvaar nie, sal dit ook van my weggeneem word. Hoe dankbaarder ek is vir wat ek het, hoe meer dinge waarvoor ek kan dankbaar wees sal in my lewe inkom. Hoe ondanbaarder ek is, en hoe meer ek my lewe kritiseer, hoe kleiner gaan dit word, en dan word selfs dit wat ek het ook van my ontneem. Dit word nie ontneem deur iets of iemand anders nie, maar deur jouself. Kyk in hierdie oomblik om jou rond, en begin bewus raak van wat jy het en hoeveel mooi en lekker daar rondom jou is. Jy eet dalk nie 'n buffet ontbyt by 'n great restaurant nie, maar die eiertjie op 'n broodjie kan net so lekker wees, maar dit is my keuse.

Die Bybel stel dit duidelik: "Wat jy saai sal jy maai", en dit is nie net van toepassing op boerdery nie, maar op elke faset van my lewe, waarvan die belangrikste my ingesteldheid en verwagtinge van die lewe is. Pessimistiese mense vind meer dinge om oor pessimisties te wees. Negatiewe mense vind meer dinge om oor negatief te wees. Baklei mense vind altyd meer mense en dinge om oor te baklei. Ongelukkige mense meer en meer dinge om oor ongelukkig te wees. Die gelykenis van die saaier wys ook vir ons dat jy versigtig moet wees wat jy in jou hart en jou verstand in die grond plant, want wat jy ookal plant groei. Net soos 'n boer het jy 'n keuse of jy met kakiebos, mielies of aartappels wil boer. Die grond en die reen en die son sal op jou land skyn, maar hulle kan nie kies wat groei nie, dit is tussen jou en die saad wat jy plant.

Dalk is vandag die dag dat jy jou "checklist" van waaraan mense en jou lewe moet voldoen in die laai los, en eerder met 'n skoon papier begin en skryf wat jy alles het om voor dankbaar te wees. Miskien is dit die dag wat jy besef hoe wonderlik God jou realiteit gemaak het en dankbaar is daarvoor, eerder as om in depressie en stress te leef omdat jy nie jou idee kan afmerk op jou "checklist" nie. Miskien is dit die dag waar jy dankbaar is vir die feit dat jy aan die "lotto" kon deelneem, en nie bekommerd is of jy wen of verloor nie, maar die spel geniet vir wat dit is.


Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment