Thursday, December 29, 2011

God se plek in my lewe!

Ek kyk nou die aand die fliek “Bruce Almighty”. Jim Carrey is moeg vir sy lewe wat nie uitwerk soos hy beplan nie, en dan spreek hy God daaroor aan. God gee dan aan hom die verantwoordelikheid om met dieselfde magte die wêreld in te gaan. Eers gebruik hy dit vir sy eie gewin, en dan met meer verantwoordelikheid.

Die film se onderliggende boodskap gaan oor die eeu oue vraag of dit God is wat ons pad en toekoms vir ons uitgelê het en die rol van die menslike vrye wil. Die eerste is die idee dat God soos ‘n poppemeester ons lewens totaal beheer en alle toutjies trek sodat alles in die wêreld werk volgens die plan wat God lank reeds opgestel het. ‘n Plan waar ek geen rol te speel het of enigsins iets aan kan doen nie, net asem haal en vertrou op God.

Hierdie idee bring natuurlik die ander probleem na vore dat as God dan ‘n goeie en liefdevolle God is en alles ten goede laat meewerk, hoekom is die wêreld dan so ‘n stukkende plek. Hoekom lyk dit dan asof God mense laat val en daar soveel ongelukkige mense is? Hoekom is daar dan mense soos Bruce in die film wat op ‘n stadium so boos word omdat die pad wat vir hulle gekies is so ‘n stuk grondpad is net gevul met slaggate? As God dan so is soos ons glo, dan voel ons dat my lewe een strook hoofweg met 5 verligte bane sonder ander verkeer behoort te wees.

Dan kom die Bybel natuurlik op sy manier en verduidelik vir ons dat hierdie net ‘n tydelike woning is, en dat alles een dag beter sal wees as ons die ewige lewe kry. My vraag altyd is dat as ek die geleentheid gekry het wat Bruce gekry het, hoekom sal ‘n mens nie alles goed en mooi en perfek maak en onderhou nie? Bruce het aan die begin almal se gebede verhoor en almal het gekry wat hulle gevra het, net weer om te besef dat dit ook nie goed uitwerk nie.

God het egter, as ek die Bybel reg verstaan, vir ons vrye wil as geskenk gegee. Selfs in die skeppingsverhaal sien ons dat God aan Adam en Eva die opsie gee om te kies of hulle na die slang gaan luister en van die vrugte van die boom van goed en kwaad gaan eet. Vrye wil om hulle lewens te leef soos hulle wil, vir God te kan kies of teen God te wil kies.

Dit wil voorkom asof God nie ‘n poppemeester is nie, maar eerder die Regiseur van hierdie spel van die lewe. God kies ons as akteurs en rig ons af op die draaiboek van ons lewens, waarin elkeen van ons ons eie interpretasie van die spel kan gee. Wanneer ons op die verhoog staan, volg ons die draaiboek, en God kan nie werklik inmeng in die manier hoe ek my gesig trek nie. Dit is ek en ek alleen op die verhoog, so gemaak en so laat staan om my eie potjie te krap.

Jeff Dunham wat ‘n buikspreker is, geniet ek baie. Julle sal hom onthou as die ou wat Ahmed die dooie terroris aan die wêreld bekendgestel het. Sy spreekwoord is mos: “Shut up, I kill you”. Wat interresant is van sy konsep is dat alhoewel hy totaal in beheer is van die spraak en die beweging van sy poppe, elkeen van die karakters hulle eie persoonlikheid het. Dit is asof hulle hulle eie ding doen met hulle eie stemtoon en menswees. Dit is asof hulle volwaardige karakters is wat alleen funksioneer. ‘n Mens sien na ‘n ruk eintlik nie meer die hand wat die pop regop hou nie en ‘n mens sien gladnie Jeff se mond beweeg nie.

In hierdie geval raak die buikspreker eintlik vir ons net nog ‘n akteur op die verhoog. Hy dra slegs die vertoning en rig dit in ‘n rigting. Alhoewel hy totaal in beheer is, raak hy eintlik “weg”, en die fokus val op die ander karakters. Is dit dalk hoe God dit doen met ons? Die middelpunt van die vertoning, maar die kollig val op ons en ons persoonlikheid. Dit wil voorkom of dit amper ONS vertoning is, eerder as die buikspreker. God het al die karakters uitgedink en geskep. God het ook al die dialoog geskryf en ons praat deur HOM. Sonder Hom sal daar nie ‘n vertoning wees nie, en sonder Hom sal niks plaasvind nie. Maar deur Hom leef en praat ‘n karakter.

Die karakters in Jeff Dunham se vertoning is eintlik ook salig “onbewus” van die hand wat hulle regop hou. Hulle dink en voel asof hulle op hulle eie is. So word Peanut (een van die karakters) in die laaste vertoning bewus van die feit dat hy nie alleen funksioneer nie. Hy besef redelik komies dat Jeff se hand op ‘n redelike interresante plek in sy anatomie ingaan. Hy besef ook dat hy nie alleen kan praat nie, en dat hy net kan bestaan DEUR Jeff.

Hier so aan die einde van die jaar kyk ons almal terug op die jaar wat verby is. Hoe simpel en hoe dom dit ook is, ons kan nie anders as om vir onsself ‘n rapport op te stel nie. Ons kyk terug na al die verkeerde keuses, probleme en krisisse. Ons kyk ook te min na alles wat ons vermag het. Amper soos ‘n pa wat nie kyk na die vakke bo 80% nie, maar fokus op die een vak wat onder gemiddeld is. Hoe dit ookal is, ons kyk terug en weeg ons lewens.

As my idee van God die eerste is van die poppemeester, dan kom alle eer God toe, maar ek raak weg. Ek kyk terug en vorentoe en besef dat ek eintlik NIKS hoef te doen in die lewe nie, en ek aanvaar my lot, maar eintlik laat ek maar God se water oor God se akker loop. Ek gee oor niks om nie, is oor niks besorg nie, en ek “hang” net in die water rond totdat God weer ‘n toutjie trek. Ek het dus in die nuwe jaar absoluut geen seggenskap of opsies nie. Ek bestaan eintlik nie, maar is net ‘n pion in die hand van die poppemeester.

Ek kan dan natuurlik ook al my mislukkings van my lewe aan God toeken. Dit was nie ek nie, maar dit is God wat die pad so uitgelê het, ek kan nie help nie. Niks is dus my toedoen of my fout nie, want ek het geen keuse in die saak gehad nie. Dan twyfel ek soos Bruce Almighty in die bestaan van God en God se goedheid, aangesien ek dan dink dat alles goed en sleg van God kom. Wanneer enige-iets gebeur, speel ek GEEN rol nie, en God is totaal verantwoordelik.

As ek terugkyk weer op die jaar waar God die regiseur is en ek die akteur, loop ek weer die gevaar dat ek alleen al die krediet en debiet kry vir wat gebeur. EK het my woorde vergeet, EK het ‘n slegte aand gehad en wanneer dit ‘n goeie jaar was, dan kry EK die Oscar. Die kollig val totaal en al NET op my. Die gevaar hiervan is dat ek Egosentries begin leef, of dat ek dink dat EK fantasties is. Alles is my skuld en ek kry krediet vir alles.

Dit is nogal vir my die gevaar van die nuwe spiritualiteit wat soms vat-vat aan hierdie idee. Ek is die sentrum van die universum en alles en almal draai om my. Dinge werk nie uit nie, want my vibrasies is nie reg nie, of ek trek die dinge aan na my toe wat ek wil. Ek is dus Skepper en Onderhouer van alles en almal in die wêreld. Ek is God, en neem God se werking oor.

Bruce Almighty het ook hierdie fout gemaak. Hy het met sy almag NET homself bevoordeel. Hy het sy droom werk gekry en hy het alles in ‘n rigting gestoot dat hy en hy alleen voordeel trek. My ouma-grootjie het in dieselfde lig gepraat oor ons uiterlike. Sy het gesê: “My kind, as ons onsself gemaak het, was ons vandag nog besig daarmee”. Ons moet versigtig ook wees dat ons nie so alles aan onsself opdra nie. Jy sien, die probleem is nie net wanneer die goeie gebeur en jy die Oscar-momente het nie. Die probleem, soos met die poppespel-idee, is wanneer die pappaja die waaier slaan. Wanneer die “skuld” op iets of iemand gepak word en wanneer ek die oorsaak vir ongeluk en pyn soek, dan raak dit moeilik.

In die poppespel-idee begin ek twyfel in God se goedheid en self in Sy bestaan. In die regiseur-akteur-idee begin ek myself so kasty dat ek myself stukkend breek. Dan breek ek so dat ek so bang word om selfs net ietsie te doen in die toekoms. Ek benadeel dan ook alles en almal om my wat vir die vertoning kaartjies gekoop het deur nie eers op te daag vir die vertoning nie. Ek is so bang vir die herhaling of nuwe mislukkings dat ek nie kans sien vir 2012 se vertoning nie. So bang ek vergeet my woorde of dat mense my uitjou dat ek sommer wil weghardloop van alles en almal. So oorlaai met die verantwoordelikheid van my eie lewe dat selfs die kleinste stokkie my rug laat breek.

Met die buikspraak-idee voel ek gemakliker. Dit voel asof daar ‘n totale wisselwerking is. God beheer en onderhou my lewe met Sy hand en stem, maar ek “ontwikkel” my eie persoonlikheid. Ek kan kies of ek ‘n Ahmed (selfmoord bommer), Peanut (Loskop met ‘n kuif) of Walter (Ou grompot) wil wees in die vertoning. In die laaste vertoning het Ahmed se geraamte vasgehak aan homself en sy voete het die hele tyd van die podium afgeval. Wat lekker is van die probleem, is dat Jeff Dunham op sy voete kon dink en daar en dan die situasie kon red, nie net deur homself nie, maar ook met die hulp van die karakter en sy persoonlikheid. Dit het niks weggeneem van die vertoning nie, maar tot nog meer lag en skater.

So wil ek die jaar graag ingaan met opgewondenheid en ekstase. Waar ek nie net ‘n nommer is wat maar net op die pad loop sonder enige wil of persoonlikheid of keuse nie. Ek wil beslis ook nie die jaar alleen ingaan en alles alleen moet dra op die verhoog nie. Ek gaan my jaar in saam met God wat my dra en my toelaat om my eie karakter te vorm. ‘n God wat saam met my leef, in die wete dat as dinge reg loop, dit ek en God is wat saam in die kollig is, en wanneer dinge skeef loop, dat God daar is om die dialoog te herskryf sodat die vertoning steeds ‘n sukses kan wees.

Mag jy ‘n wonderlike jaar saam met God beleef in alles wat jy aanpak!

No comments:

Post a Comment