Saturday, December 31, 2011

Seënwens vir jou vir 2012

Nou die dag is ek en my kinders en hulle maatjies hier saam in die swembad. Sjoe, dit is vir my so ongelooflik om te sien hoe hulle grootgeword het, veral omdat ons van Parkieland se tyd af saam kom. Hulle was toe so 4 jaar oud, en nou is hulle amper oppad Hoërskool toe. So saam met hulle praat ons oor kattekwaad en wat hulle deesdae doen met hulle maats en met die onderwyser. Natuurlik is ek versigtig om vir hulle te vertel wat ons in die “oertyd” gedoen het, toe kinders nog toegelaat was om kind te wees.

Hulle por my toe aan om te vertel, en ek dink toe aan die poets (sjoe, ook laas in die oertyd hierdie woord gebruik) wat ons soms mense gebak het. Jy sien, ons het in die oggend een persoon uitgekies, en dan so deur die dag vra elkeen wat hom sien vir hom hoekom hy so bleek lyk en of hy goed voel, want dit lyk nie so nie. Gewoonlik teen tweede pouse is die persoon of huistoe, of in die siekekamer.

So sit ek gister en beplan watter boodskap ek vir my vriende wil stuur op nuwe jaar. Ek dag toe ek het mos Google, kom ek gaan lees bietjie aanhalings van bekende mense oor die nuwe jaar. Soos gewoonlik is daar miljoene aanbevelings, en so kom ek toe af op interresante artikels wat juis handel oor die dinge wat ons mense toewens.

Ek is nie heeltemal iemand wat van Fantasie-stories hou soos "Harry Potter" en "Lord of the Rings" nie. Een ding is egter waar en dit is dat, alhoewel ons as mense in ‘n logiese wêreld leef, jy net rondom jou moet kyk hoe spiritualiteit uitgebrei het. Films en boeke waarin daar oor Vloeke en Seën gepraat word. En alhoewel ons dink dat dit fantasie is, praat die Bybel baie daaroor.

Ons kan ure daaroor filosofeer of dit wat ons sê bo-natuurlike magte het, en of dit soos in die voorbeeld van die poets wat ons gebak het slegs ‘n invloed op die mens om my se psige en optrede het. Hoe dit ookal is, wat ons moet besef is dat ons nie sommer net dinge mense kan toesnou, positief of negatief, sonder dat dit ‘n invloed het nie. Ons moet dus ook versigtig wees dat ons nie sommer soos in die Middeleeue, net omdat ons dinge nie verstaan nie, dink dat dit ‘n klomp nonsens is nie. Ons aksies en woorde HET ‘n invloed op mense om ons, PUNT.

‘n Familielid het ‘n paar jaar gelede hierdie storie vir my vertel. Hulle het in die Laeveld ‘n plaas gehad wat baie suksesvol was. Een dag het hulle stry gekry met een van die werkers wat toe die plaas verlaat het. Maar vandag hy die plaas verlaat het het dinge eenvoudig begin verkeerd loop. Mis-oeste, meer slange en werkers wat siek word. So het die werkers, wat baie in die tipe dinge glo, hom aangemoedig om iets te doen, want hulle het begin bang word. So praat hy een dag met ‘n boer op die dorp, en die gee hom toe raad om ‘n Sangoma na die plaas te laat kom, nie ‘n lokale een wat die mense en die omstandighede ken nie, maar ‘n onafhanklike van ver af.

Hy het baie daarmee geworstel, want hy is ‘n Christen en ons doen mos nie sulke dinge nie, en ons glo mos nie daarin nie. Hy besluit toe om die Sangoma te laat kom. Dit is nogal ‘n duur oefening, en toe hy die geld oorhandig toe wonder hy oor sy besluit, maar binne ‘n halfuur was hy ongelooflik verbaas. Die sangoma het op die plaas rondgeloop en allerhande muti gevind wat begrawe is, en op sy manier die vloek gebreek wat op die plaas en sy mense geplaas is. Daarna het dinge weer na “normaal” teruggekeer.

Weereens, dit klink na ‘n “wolhaar-storie” vir ons logiese wesens, maar net omdat ons dit nie verstaan nie, beteken dit nie dat ons dit met die badwater moet uitgooi nie. Die storie is nie oop vir bespreking nie, maar weereens net ‘n bewys dat die moontlikheid bestaan dat ons denke, woorde en aksies dalk ook groter dinge in die lewe kan beinvloed as wat ons onsself indink. Dit is vir ons om te verstaan dat ons as mense verrykende gevolge het of kan hê op die mense om ons, dalk nie net op mense se psige alleen nie, maar dalk in kombinasie met ons psige.

Ons sien in die verhaal van Jakob en Esau hoe belangrik die mense seën in die ou testament ge-ag het. Nie net die seën van God nie, maar ook die seën van ‘n vader. Die tipe seën het ook natuurlik ook praktiese dinge ingesluit soos erflatings. Dit beteken dus ook dat ons as mense ook die seën op mense mag en moet en kan uitspreek. Ons besef dat dit belangrik is en mense se hele toekoms kan beinvloed. Pas dus jou tong op in die bewustheid van die invloed wat dit op mense se psige of op hulle toekoms kan hê.

In ‘n wêreld met soveel haat, pyn en ongeluk, het ons dalk met die ingang van 2012 ongelooflike seën nodig. So moet jy bewustelik dink aan die mense om jou met die boodskappe wat jy stuur vandag en môre. Dink bewustelik en seôre. Dink bewustelik en seën hulle om jou.

Begin by jouself, en seën jouself. Daardie stemmetjie wat so elke oomblik in jou lewe saam met jou loop, haal die pyn en lyding en kastyding uit jou stemtoon en vertel jouself dat jy goed genoeg is. Seën jouself met die wete dat jy in God se hand is en dat God by jou, in jou en deur jou teenwoordig is. Skryf vir jouself ‘n seënbede neer, want alles begin by jou. Die slegte woorde wat jy oor ander uitspreek is maar net ‘n refleksie van jou eie “vloek” op die lewe en jouself. Die “sleg” en oordeel waarmee jy oordeel oor ander wys hoe jy oor jouself oordeel. Gee jouself dus ‘n klop op die skouer en gee jouself ‘n blaaskans. Hou die seën op jouself op jou foon of in jou dagboek en dra dit met jou saam in 2012.

Pas jou oordeel en jou tong op wanneer jy met ander mense praat in 2012. Jou huweliksmaat, jou kinders, jou werknemers, jou kollegas, jou vriende en jou vyande. Seën hulle met ‘n opregte hart in die wete dat jy ‘n bydra lewer in iemand se lewe wat hulle dalk nêrens anders kan ervaar of kry nie. Dalk is dit God wat hulle op daardie oomblik oor jou pad gestuur het om vir hulle God se liefde te wys. Dalk is dit nodig vir hulle om met hulle eie pyn, jou liefde en seën te ervaar. Dalk is jy die verandering wat jy graag in die wêreld wil sien. Vloek en skree en oordeel lei nooit tot positiewe dinge in die lewe nie, dis net die sagte woord wat die grimmigheid afkeer. Dit is net in wiskunde waar 2 negatiewe ‘n positiewe maak.

Ek filosofeer en dink baie oor God. Alhoewel ek daaroor dink, is daar sekere dinge wat ek nie oor twyfel nie. Ek twyfel nie oor God se bestaan en teenwoordigheid in my lewe nie. En ek glo dat God met elkeen van ons is en bly. Daarom wil ek jou en almal om jou, die volgende toewens vir 2012 uit Numeri 6:

“Die Here seën jou
en Hy beskerm jou,
Die Here is naby jou
en Hy is genadig vir jou,
Die Here doen wat jy vra
en Hy laat dit goed gaan
met jou."


Met baie liefde, AMEN!

No comments:

Post a Comment