Friday, December 30, 2011

Nuwejaarsvoornemens!

Soos kinders aan die einde van ‘n jaar ‘n rapport kry wat hulle akademiese jaar definieer, kyk ons so in die laaste paar dae van die ou jaar na ons lewens in die jaar 2011. Ons kyk terug om te bepaal of ons hierdie jaar gedoen het wat ons wou doen. Ons kyk ook in skaamte en ongeluk terug aan daardie vakke waarin ons nie goed gevaar het nie. Ons kyk na ons mislukkings en ons prestasies. Sekere mense het vordering gemaak, ander was weer baie gelukkig en ander weer ongelukkig. Sekere mense het maar net suurstof gesteel en net bestaan.

Ons is maar eenmaal kreature van gewoontes. Veral rondom die kerstyd het families verskeie rituele. Daar is sekere kosse soos beestong en gammon wat vir generasies bedien word op kersdag so saam met ouma se kerspoeding met die muntstuk in. Ons deel die kinders se geskenke uit op oukersaand nadat ons die storie van Jesus vir hulle vertel het. Ons is net so opgewonde om hulle te sien geskenke oopmaak dat ons nie kan wag tot kersoggend nie. Dit is ons ritueel, en dit gebeur outomaties sonder dat ons enigsins meer daaroor hoef te dink of te wonder.

Per definisie is gewoontes ‘n optrede wat plaasvind op grond van invloede van buite wat ons telkens herhaal, en wat na ‘n tyd onbewustelik gebeur. Onbewustelik beteken dat jy nie meer daaroor dink of oplet dat jy dit doen nie. Asemhaling is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Nie een van ek of jy dink meer daaroor nie, dit gebeur net. Gewoonte is iets wat vorm op grond van eksterne stimulasie, waar jy ophou om elke keer anders op te tree, en een kies wat jy dan oor en oor doen. Dan kom jy later nie meer agter dat jy dit doen nie, en word dit ‘n gewoonte.

As jy so ‘n gewoonte geskep het, is dit moeilik om te breek, al weet ons dat dit skadelik is. Soms is die gewoontes dinge wat ek oor jare aangeleer het. Net so is nuwe gewoontes moeilik om aan te leer. Dit is dalk hoekom ons so sukkel met die lewe van elke dag, omdat ons aanhou met dinge wat nie vir ons goed of lekker of reg is nie en dan begin dink: “This is as good as it gets”. Dit is wat die onbewustelike aksies aan ons doen, ons bevraagteken nie meer die uitkoms of ons gewoontes nie.

Een ding wat sinoniem is met die einde van die jaar is dat ons nuwejaars voornemens het. Almal soek ‘n beter lewe en ‘n beter rapport in 2012. Sommige mense wil ophou rook, ander wil meer oefen en gesonder leef en ander wil weer meer geld verdien. So kyk ek bietjie terug na my voornemens aan die einde van 2010. Bitter min van ons kry dit reg om by voornemens te hou, inteendeel, gewoonlik hier teen die 3e Januarie is alles weer vergete en klim ons terug in die groef van die ou patrone en gewoontes.

Om werklik iets te verander aan my lewe, moet ek my gewoontes en patrone breek en verander. Ek kan nie elke keer met ander materiaal dieselfde patroon rok maak en dink dat die styl anders gaan wees nie. Sonder hierdie bewuswording en ‘n nuwe patroon, gaan alles dieselfde bly, ook in 2012. Dan kan ek eintlik maar net my rapport fotostatteer en die datum verander na 2012.

Een van die redes hoekom ons gewoontes so moeilik breek is dat die stimilu van buite en omstandighede nie sommer gaan verander nie. Gewoontebreek is ‘n ander optrede wat gevra word op dieselfde stimilu van buite. My man, my vrou, my kinders, my werk, my liggaam, my uiterlike, en die ekonomie gaan nie verander nie. Hoe mense teenoor my optree en wat die lewe van my vra gaan dieselfde wees en bly. Soms wil ons die gewoontes in ons breek, maar ons voel ons kan dit net doen wanneer dit buite ons eers moet verander. Nuwejaarsdag moet eers kom voordat ek gaan kyk na wat ek eet, intussen kan ek maar die een blok sjokolade na die ander eet, of wag tot daar geen sjokolade in sig is nie. En dit is dalk die rede hoekom niks in jou lewe verander nie, want jy wag vir iets of iemand om dit VIR jou te doen.

Soms moet die gewoonte ook eers lewensgevaarlik genoeg wees en die druk eers oorweldigend op my wees dat ek dit belangrik genoeg ag om my gewoonte te verander. Hoe belangriker die verandering vir my is, hoe meer is ek bereid om myself in te span om dit te breek. Sodoende sal ‘n roker wat ‘n hartomlyning operasie moet ondergaan, eerder ophou rook as iemand wat nog nie siek is van die gewoonte nie.

In boeke soos “The Secret” en ander, kry ons die idee van voornemens en die “Law of Attraction”. Wat dit beteken is dat alles begin met ‘n voorneme. Sonder die voorneme as ‘n begin, gaan dinge eenvoudig nooit gebeur nie. Maar as ek nie ook aksie neem nie, gaan niks absoluut verander nie. Mense loop met soveel drome en ideale in hulle koppe wat nooit in realiteit en praktyk plaasvind nie.

Ek moet erken dat daar volgens my 2 tipes gewoontes dus is. Die een is wat ek self geskep het, soos rook, en ander wat deur oorlewering en patrone van die wêreld om my gevestig is, wat ook kultuur kan insluit. In oosterse lande is dit nie vreemd om honde te eet nie, maar hier by ons in Suid-Afrika eet ons nie graag ons troeteldiere nie. Maar ek het beheer oor beide die waarvan ek bewus is, en ook die van oorlewering.

As ek om my na mense kyk, glo ek nogal in die ingesteldheid-konsep van die lewe. Gewoontes word soms groter en erger oor tyd. Soos ‘n mens ouer word, raak dit al hoe moeiliker om my gewoontes te breek. Soms word hierdie gewoontes oorgedra na alles en almal om my. En so kan die sondes van die Vaders vir die kinders erwe bly. Ons gewoontes is soms ook soos Tyddeelpunte, dat ons dit vir ons kinders gee. So sien ons baie keer in families dat sekere gewoontes nie net in oupa was nie, maar in jou ma, in jou en in jou kinders. Families dra baie keer alkoholisme, depressie en aggressie oor van geslag tot geslag, omdat ons dit nie meer bevraagteken nie en as “normaal” sien. So gaan dit van geslag na geslag, totdat iemand hokaai roep. Miskien is jy die skakel.

Selfs in ons verhoudinge met mense het ons gewoontes aangeleer. Dit kan positiewe gewoontes wees soos om mekaar altyd te groet met ‘n druk en ‘n soen. Maar daar is ook negateiwe gewoontes soos die manier wat mens optree as daar konflik of stress is. Dit is soos om die ou koeie uit die sloot te gaan haal, of om selfsugtig te wees waar dit nie meer gaan oor die oorlewing van die verhouding in die oog nie, maar oor MY oorlewing.
Niks word opgeslos as iemand byvoorbeeld wen en die ander verloor nie. Iemand het een keer gesê dat as dit wat jy sê of doen nie ‘n positiewe bydra lewer tot die uitkoms wat jy verlang nie, moenie dit sê of doen nie.

In die definisie van gewoontes is dit belangrik dat jou optrede van onbewustelik na bewustelik moet beweeg. Dit is hoekom dit belangrik is om jou aksies elke dag te beskou, en as jy ongelukkig is met dinge om jou, moet jy dit eers bewustelik maak, voordat jy dit kan verander. As jy die mense om jou, jouself, huweliksmaat en kinders se lewens beskou, en jou gewoontes dra by tot hulle ongeluk, word bewus daarvan en verander dit. Daarom is dit ook van belang om vas te stel wat presies die gewoonte is wat gebreek moet word. Dalk gaan jy dit weer op ‘n stadium onbewustelik weer doen, word dan weer bewus daarvan, fokus weer daarop en benadruk jou voorneme om dit te verander. Kort voor lank gaan jy agterkom dat jy nou outomaties die negatiewe met die positiewe vervang het, en dan word dit onbewustelik deel van jou lewe tot voordeel van jouself en almal om jou.

Die engelse spreekwoord sê: “Misery loves company”, en in Afrikaans: “Soort soek soort”. In die “law of attraction” word dit duidelik gestel dat dit jou omstandighede direk afhanklik is van jou ingesteldheid en optrede waarvan jou gewoontes natuurlik die belangrikste is. Dit is nie 'n bo-natuurlike gebeurtenis nie, maar kan ook deur bewustelike aksies na my aangetrek word. As die uitkoms van my aksies altyd seermaak, gaan verander iets aan die begin en in jou gewoontes. Soos Einstein gesê het: “Insanity is doing something over and over again, but expecting a different result”.

Hiervan is ons almal deeglik bewus, en dit is hoekom ons nuwejaars voornemens het, omdat ons nie baie gelukkig is met ons uitkomste in ons lewens nie. Ons wil patrone breek van ongesond leef, arm wees en ongelukkig opstaan. Ek is deeglik bewus dat my rook nie goed vir my liggaam is nie, nie net omdat dit op die houer staan nie, maar omdat ek voel dat ek nie meer so goed kan ruik nie, of ‘n oggend hoesie ontwikkel. Dit is wanneer ek bewus word van die invloed op MY lewe, wat ek kan verander. Afgesien van hoeveel mense sterf aan longkanker, ek moet die bewustelik vir MY maak voor ek kan verander.

In werklikheid is nuwejaarsvoornemens die wens in ons harte om beter mense te wees en die negatiewe te breek tot voordeel van myself en die mense om my.

My voorneme is om hierdie jaar die mens te word wat ek glo God my bestem het om te wees. Ek is deeglik bewus van wat dit is wat ek moet verander, en ek gaan nie wag vir die nuwe jaar om dit te doen, of myself toets aan die einde van 2012 nie, maar elke liewe oomblik van elke dag, waarvan vandag die eerste is.

Gaan bou die lewe wat jy wil in 2012. Voorspoedige nuwe jaar!

1 comment: