Monday, September 23, 2013
Onse Vader en Depressie
Wednesday, September 18, 2013
Gaan skilder
Ek hoor so baie dat mense se dat die lewe moeilik is, en nie vir sussies gemaak is nie. Maar het jy al gedink wat dit is wat die lewe so moeilik maak?
Ek lees baie oor die onderwerpe, en ek kom tot die konklusie dat daar om een of ander rede 'n onderskeid gemaak word tussen die fisiese en die spirituele, die logiese en onlogiese, die hart en die verstand asook die droomwereld en die realiteit. Dit wil ook voorkom asof ons wereld in twee dele verdeel word naamlik die logiese weste en die spirituele ooste. Vir ons as Westerlinge, gaan die wereld van die ooste die laaste paar jare oop, veral omdat ons dalk begin besef dat ons nie net eenvoudig kan leef in ons logiese breine nie, want met dit alleen kan jy nie geluk in jouself en jou lewe vind nie. Al meer mense lees oor Budhisme en die Daoism, en al meer mense woon rituele by van meditasie en stil word. Op een of ander wyse besef ons dat ons nie net eenvoudig kan aanhou om te luister na die geraas in ons logiese koppe nie. Selfs in die sielkunde en ons metodes om mense te help, begin ons om "oosterse" metodes soos hipnose en meditasie toe te pas om mense te help om te leef. Selfs die Dalai Lama lewer die volgende kommentaar oor hierdie twee werelde en se: "Westerners are externally rich, but in their hearts they are poor, Easterners are externally poor, but in their hearts they are rich".
Maar met hierdie "oopgaan" van die ruil van idees, sien ons ook dat die oosterse denke ook verstaan dat hulle manier van werk op sy eie ook nie die enigste antwoord is nie. Ek is altyd bang om die woord "balans" te gebruik, aangesien dit baie mense oortuig dat hulle manier van dink reg is, want ons sukkel om twee gedagtes gelyktydig plek te gee, en dan bly mense in hulle manier van denke, omdat dit 'n stukkie van die waarheid bevat. Ons sien dat denkers soos Anondea Judith in haar boek: "Eastern Body, Western Mind", sekere oorbruggingstegnieke toepas om die idees van die ooste te koppel met Maslow se ontwikkelingsfases. Om te besef dat beide waar is in dieselfde ruimte is eintlik waaroor dit moet gaan, want jy sien, alhoewel ons Westerse logika ons leer dat slegs een idee waar is, maak dit ons mal omdat ons altyd gaan bly soek na die EEN antwoord wat in alle situasies waar is. Ons is deurgans besig om deur die wereld te CSI en te desekteer om by 'N antwoord of oorsaak van dinge uit te kom.
Daar is een goue draad wat van alle tye af 'n filosofie van elke geloof en filosofie is, en dit is dat daar progressie en groei in jouself moet plaasvind. Mense wat nie bereid is om te groei en aan te pas en te dink of te wonder of nuwe dinge wil ervaar nie, sal nooit gelukkig wees nie. Alles in ons wereld is ingedeel in spoed wat vorentoe gaan, selfs die tyd waarin ons leef. Geluk en die sin vir die lewe gaan nie daaroor om een filosofie te kry en daarby vas te haak nie. Selfs Paulus praat oor Christenskap en verwys na Christene as babatjies wat nie vaste spyse kan eet nie, want alhoewel hulle groot is, leef hulle soos babatjies, want hulle het nie gegroei nie. Ek dink dit is hoekom dit so lekker is om kind te wees, want kinders "ontdek" elke dag iets nuuts, en die mense om hulle komplimenteer en maak 'n groot ding van elke nuwe ding wat hulle bemeester. Van my beste tye was op Universiteit waar ek blootgestel is aan denkers en mense wat nuut en anders gedink het as wat ek doen. Dan kom mense op een of ander stadium wat hulle stagneer, en dink hulle het ge-arriveer, en dan begin die depressie, die hartseer en die gevoel dat hulle nie kan "cope" in die wereld nie. Die rede daarvoor is dat jy nie saam met die wereld groei nie, hulle dink hulleself onder jou uit en dan skielik word jy kwaad en moedeloos en herken jy nie die wereld om jou nie. Jy voel depressief en jy kan nie funksioneer nie.
Ek ken middeljarige mense, mense van 70 (want dit is in die wereld waarin ons leef middeljarig) wat so bybly met tegnologie, e-mail en internet. Mense wat hulle verheug oor die wonder van die wereld van vandag. Dan sien ek weer jongmense, mense in hulle 40's, wat kerm en kla oor alles en elke dag met 'n lang gesig rondloop. Jy sien, groei is iets wat jy wil, en ek dink die lus om te groei en oop te wees vir nuwe idees, dit is die sin van die lewe. Die oomblik wat jy nie groei, lees of dink nie, is jy dood. Soos die filosoof Descartes gese het: "I think, therefore I am", dit is dalk die sentrum van bestaan. Elke dag is 'n nuwe dag en soms vind ek dat mense wat nie dink nie, stagneer en word ongelukkig, want dit is waar, die trein het reeds vertrek. Ek kan nie onthou wie dit gese het nie, maar ek onthou die aanhaling: "In times of change, the eager to learn will inherit the earth, while the educated find themselves beautifully equiped for a world that no longer exists". Dit is soos die oom wat die ossewa besigheid in die Kaap gehad het, wat nie geglo het dat motors ooit die nuwe ding sal word nie, en kort voor lank sy besigheid moes sluit, want niemand het meer met ossewaens gery nie. Om jou idees te handhaaf is geen probleem nie, maar dalk is die probleem dat jy jouself nie toelaat om te groei of verder te gaan nie, en ook jou onvermoe om aanpasbaar te wees.
Mense het die tendens om ook, sonder dat hulle die feite weet van situasies of mense, die baba met die badwater uit te gooi. Mense noem hulleself Christene en glo dat God alles in die wereld gemaak het, maar hulle proe nooit aan die stukkies wat God ook gemaak het nie, want dit is onbekend. Mense gaan na palmlesers toe en lees boeke van oom Siener van Rensburg, want hulle wil weet. Die lekker van die lewe le nie in beheer en weet en die waarheid nie, die lekker gaan in die ontdekking van wie jy is en die wereld rondom jou. Die lekker gaan oor die moontlikhede van 'n wonderlike dag more wat God vir jou geskep het en kan ontdek. Ek vind dit vreemd dat mense kan duisende rande spandeer om oorsee te gaan want dit is so wonderlik, terwyl ons eintlik hier in die derde wereld pragtige nuwe en mooi dinge kan ontdek. Wat jy lees en waarheen jy groei is nie belangrik nie, maar DAT jy dit doen, dis die lewe. Dis soos asemhaal, sonder groei IS jy dood net soos sonder asem.
Een van die lekker dinge van toer, is dat jy nuwe kulture ontdek. Jy ontdek dinge wat jy nie eers geweet het bestaan nie, kosse wat jy nog nooit van geweet het nie, maniere van lewe wat jy nie ken nie. Die hele lewe is 'n reis en iemand se nou die dag: "Reis is die beste opvoeding wat jy kan kry". As ek altyd met Jan Tuisbly se karretjie ry, gaan ek nooit ontdek wat daarbuite is nie, en gaan ek dink dat die wereld net tussen hierdie 4 mure is, en dit gaan my realiteit bly. Ek word vasgevang in my eie idees, en niemand daag my bietjie uit nie. Ek en Hugo leer nou die dag geskiedenis oor die onderwerp van die Renaissance, waar mense uitgedaag is om nuut te dink. Op die stadspleine het hulle by kafee's gesit en filosofeer oor of die lewe nie dalk anders is as wat hulle nog altyd gedink het nie. Die kuns, die musiek, die skryfwerk en filosofie, het mense uitgedaag om nuut te dink. Vandag het ek en jy 'n wereld van die internet met boeke en idees wat volop is. Ons kan onsself uitdaag om elke dag iets nuuts te leer, te bemeester of oor te wonder. Moenie bang wees daarvoor nie, want mense wat bang is, is mense wat nie lekker weet nie, en dan vashou aan dinge wat vir hulle meer sin maak. Mense wat nie groei nie, hou vas aan grashalms en halwe waarhede as die sentrum van hulle bestaan. Die sin van die lewe gaan oor jou eie persoonlike evolusie van vorentoe kyk en vorentoe beweeg en groei.
Ek het op skool tennis gespeel en dit baie geniet. Oor die jare het ek steeds my raket gehad, maar nooit gaan speel nie. So 'n paar maande gelede reel iemand 'n tennistoernooi tussen vriende, en ek gaan speel toe. Genade, maar het ek gesukkel. Ek het in my kop al die idees, maar omdat ek dit nie gereeld toegepas het nie, kon ek niks beteken op die tennisbaan nie. Dieselfde geld vir jou persoonlike groei, elke dag en elke oomblik is ons op die tennisbaan. Maar omdat ek nooit deelneem en balle slaan en nuwe tegnieke toepas en leer nie, gaan elke oomblik daarvan vir my hel wees. So met jou verhoudings, so met jou werk, so met alles in jou lewe, ek moet deelneem. Groei is presies dit, want daarmee leer ek hoe die wereld leef. As ek nie groei saam met die spel nie, raak ek agter, en kort voor lank vra niemand my meer om saam te speel nie. Dan word ek 'n toeskouer van die lewe, dan word ek 'n "victim" en blammeer die mense wat my nie meer vra nie. Dan word ek 'n klakous wat naderhand die hele spel kritiseer. Ek kyk tennis van die kant, en verlang eerder terug na die "mooi" goeie ou dae van Biorn Borg en Chris Evert, en mis die wonder en mooi van Nadal en Federer se pragtige tennis. Naderhand koop ek nie eers meer kaartjies nie, naderhand kyk ek nie meer die wedstryde op televisie nie. En kort voor lank MIS ek uit op die lewe en sit weer in my hoekie en wonder hoekom my lewe nie sin het nie.
Groei gaan dus ook gepaard met die bereidwilligheid om "OOP" te wees vir vernuwing en nuwe idees. Oop te wees om te verstaan dat tennis verander het en dit te geniet vir wat dit is, eerder as om dit te vergelyk met hoe dit WAS. Vandag is 'n nuwe dag, met baie lag en geniet-pakkies wat uitgepak is op die tafel. Ek kan natuurlik gaan daarvoor, dit oopmaak en voluit leef, of in sak en as sit en bang wees dat daar dalk iets "gevaarlik" in die dag opgesluit kan wees. Ek kan eerder fokus op dit wat "obstacles" is oppad na die lag toe en eerder in my hoekie sit en myself bejammer, of ek kan eenvoudig uitgaan en fokus op die prys wat wag in die lewe van elke dag. Ek kan natuurlik by my venster staan en almal bekyk wat lag, en dit afmaak as sinneloos en oppervlakkig en simpel, of ek kan die deur oopsluit en saam gaan lag. Ek kan natuurlik kritiseer en oordeel, of ek kan besef dat ek eintlik nie HULLE oordeer nie, maar eerder myself en dat ek myself jammer kry. Eintlik besef ek dat ek eintlik jaloers is op hulle, want hulle LEEF, en ek sit en degenereer.
My oom in Holland is vir my 'n ongelooflike inspirasie, want hy leef so met uitbundigheid. Hy soek geleenthede en kanse OM dinge te doen, eerder as om redes te soek hoekom hy NIE wil nie. As hy wil skilder, weet hy hy gaan dalk nie eendag in die Louvre een van sy skilderye daar sien hang nie, maar hy skilder vir HOM. Sin in die lewe gaan nie oor die aanvaarding en noodwendig die GROOT prys nie, maar in die genieting van elke dag. Met geld, sonder geld, maak nie saak nie. Kleuterskool kindertjies teken prentjies elke dag en bring dit huistoe, en hulle is trots daarop. Of jy dit nou op die yskas sit, of in die kar vergeet, hulle wys jou. Dit gaan oor die genot van die prentjie teken, en nie oor die miljoene rande wat mense vir 'n Picasso betaal nie. Of jy nou met 'n ou droee pen teken, of met waterverf of met oliverf, dit maak nie saak nie, solank jy net gaan geniet. Kort voor lank kom jy dan agter dat, alhoewel jy gedink het jy kan nie verf nie, jy al hoe beter en beter word, en naderhand kan jy dit in jou huis ophang.
Gaan teken jou prentjies vandag, gaan skilder, gaan groei
Wednesday, August 28, 2013
Wynand "Loftus" Van Vuuren
Saturday, August 24, 2013
Gaan verander die wereld!
So, vir 'n begin, pak weg die hekkies, rol op die speelveld en gooi die stophoorlosie weg. Gun mense eers hulle andersheid, gun hulle hulle menswees voordat jy dit van ander kan verwag. Bere die strydbyle en maak vrede met die feit dat jou "kritiek" op hulle ook maar net vir jou wys hoeveel jy anders is as ander. Hoe meer fout jy vind met ander, is 'n teken van hoe "anders" JY is, eerder as hoe anders "hulle" is. Dit is hoekom soveel verhoudings tussen mense misluk, want ons dink dit is werk. Ons moet dit maak werk, en ons dink dat ons geluk opgesluit is in ons eendersheid en wanneer ons dit wat ons pla gaan deurpraat en deurwerk.
Thursday, August 15, 2013
Die Sin van die Lewe
Monday, August 12, 2013
Vloeke?
Soos met baie van my denke, dink ek dat 'n mens versigtig moet wees wanneer jy enige onderwerp soos hierdie aanpak, want eintlik is daar niemand wat werklik WEET nie. Ons spekuleer maar daaroor, en ek glo altyd dat daar tegelyketyd, meer as een antwoord tot die probleem kan wees. Die grootste onreg wat mense enige onderwerp kan aandoen, is om summier een of meer standpunte te ignoreer. Ek voel dat ek eerder hier verskillende opsies moet gee, en dan gaan vorm jy jou eie opinie.
Ons leef huidiglik in 'n vreemde tyd, want aan die een kant is dit 'n spirituele tyd met meer en meer mense wat belangstel in hulle eie spiritualiteit, en aan die ander kant, die wetenskap en logika wat ons wereld heel anders inkleur en wat soms in teenstelling met spiritualiteit staan. Eeue gelede het mense, wanneer hulle iets nie verstaan nie, 'n spirituele baadjie daarvoor aangetrek en veral as iets onverklaarbaar is. Vandag lyk dit soms asof die wetenskap en logika oorgeneem het en mense dink dat as ek iets nie logies kan verklaar nie, dit eenvoudig nie bestaan nie. Om dit beter te beskryf, hoeveel kinders ken jy wat deesdae nog bang is vir die donker? Wanneer laas het jy om 'n braaivleisvuur spookstories gehoor of vertel? Maar net omdat iets dus nie tasbaar en uitrekenbaar is nie, beteken dit nie dat dit nie bestaan nie, en daarmee saam ook die idee van die bose en vloeke.
Die Bybel vertel ons ook dat die grootste uitdaging vir die bose of die Satan is om mense te laat glo dat die bose of die duiwel nie bestaan nie. So, ons moet maar versigtig wees dat ons nie sommer die baba met die badwater uitgooi nie. So, aan die een kant moet ons dink dat die bose wel bestaan, en ons weet ook dat die bose altyd in stryd is met die goeie en die mooi. Die bose is die ander kant van die muntstuk, want waar ons glo dat God net mooi en lekker aan ons gee, is die bose daarop uit om ons lewens te verwoes. Vloeke word die manier waarop onreg en hartseer jou aangedoen word.
Ons sien dwarsdeur die Bybel dat mense se funksionering ingeperk is deur allerhande vloeke van die bose oor hulle.
Die vraag is dus, kan dit so wees dat iets of iemand jou onreg wil aandoen en dat jy vasgevang is in dit?
Ons moet ook besef dat die vloeke nie altyd 'n bo-aardelikse heks is wat dit aan jou doen nie, maar gewone mense. Die literatuur oor hierdie onderwerp stel dit duidelik dat as iemand jou iets toesnou en vloek, daardie vloek op jou gaan sit. Een skrywer stel dit so erg: "Every word and thought has power, and those who curse sometimes don't know that they are actually putting a curse on the people around them. We have to know and believe that the dark power is not allways with the dark lord, but evil persists in the ordinary man". Dit bring ons terug na die begin van die bose, en dit is die oomblik wanneer jy iemand nie goed toewens nie, jy boos is en boos optree. Die goeie is dan nie in jou nie, en daarom is dinge soos skinder ook 'n vorm van 'n vloek wat ek oor iemand kan uitspreek. Ek wonder ook soms oor huwelike en verhoudings waar mense baklei hoeveel vloeke ons elke oomblik rondstuur, en dan soms wonder oor hoekom ons lewens nie werk nie, en hoekom verhoudings verdoem is en hoekom mense dan alleen en eensaam is. Geen wonder Jakobus vertel ons dat ons 'n wag voor ons mond moet sit nie. Wees versigtig wat jy mense dus toesnou, woorde is krag en het krag. Moet dus nie 'n fout maak en wonder hoekom mense presies word wat jy van hulle se en dink nie, jy is dalk die een wat hulle in die monstervorm in jou kop giet.
Wat doen jy dus nou met hierdie tipe dinge en mense? Ongelukkig kan 'n mens nie kies in watter tipe wereld jy leef nie. Niemand is dus werklik, as jy in vloeke glo, heeltemal immuun nie, en jy kan dit ook nie altyd ontsnap nie. Daar is dus 2 maniere om dit te hanteer, in die eerste plek het jy nie nodig om in so 'n situasie of saam met iemand te wees wat jou so hanteer nie, veral as jy besef dat dit skadelik is vir jou. Tweedens glo ek steeds dat elke aksie 'n teenreaksie is, so, dit is nie nodig om vuur met vuur te beveg nie. Die Bybel stel dit tog ook duidelik dat 'n sagte woord die grimmigheid en daarmee saam afkeer.
Moeder Theresa het ook gese dat jy nie kan help hoe mense jou hanteer nie, maar as hulle jou sleg hanteer, beteken dit nie dat jy moet ophou om goed aan hulle te doen nie. So, of dit nou oor moeilike mense of vloeke of wat ookal in die lewe handel, lyk dit my dat ons elke oomblik geroep is om ander mense mooi, sag en liefdevol te hanteer.
Ander stukke oor vloeke stel dit duidelik dat jy nie nodig het om die vloek te "vat" nie. Hoekom is ons in verhoudings en tussen mense wat ons skade wil aandoen? Hoekom sal jy in 'n verhouding wil bly waar dit net oor die ander persoon gaan en iemand lelik is met jou? Hoeveel daarvan is jou oorsaak? Jy het natuurlik die reg om selfsugtig te wees, maar die oomblik wat dit ten koste van iemand anders is, of jy iemand skade wil aandoen, dan is dit verkeerd. Wie en wat jy is, wat ookal aan jou gedoen word, is sonder twyfel jou eie toedoen, jy is of was by iemand of in situasies waar jy nie moet wees nie. Dit gaan nie oor oordeel nie, maar veral be-oordeling van jou lewe. Om een of ander rede glo ons dat die lewe moeilik moet wees, en dink ons ook dat alle mense sukkel, en daarom is dit aanvaarbaar om jou in jou situasie te bevind. Wie het hierdie gemors in ons koppe ingeprent? Gaan bou die lewe wat jy dink en weet jy verdien, kap af wanneer iemand jou skade aandoen, en moet nooit ingetrek word daarby nie.
Dit beteken dus ook dat JY in beheer is van wat met jou gebeur. God se wil vir jou lewe is nie dat dit deur die bose oorwin mag word nie. God se wil vir jou lewe is mooi harmonievolle dae, gevul met lag en geluk. Daar is niks fout daarmee om eerder die mooi te soek en te leef nie. Elke oomblik in jou lewe moet jy jouself die vraag afvra, wat God van my sal verwag in die situasie, en ek dink almal weet wanneer hulle die goed in die lewe doen.
Oor familievloeke wat sogenaamd oorgedra word van geslag tot geslag, dink ek dat daar ander dinge ook 'n rol speel. Ek dink dat dit soms eerder met 'n aangeleerde gedrag te doen het. As jy van geslag tot geslag sien dat aggressie die optrede is wat altyd gekies word wanneer dinge verkeerd loop, dan word dit 'n patroon. As jy sien en leer dat alkohol die manier is om probleme op te los, dan gaan mense dit geslag na geslag doen. Maar weereens, jy kan soos in die voorbeelde hier bo kies om dit deel van jou lewe te maak en dit te aanvaar, of jy kan jou gesonde verstand gebruik en self die verandering bring. Alles in die lewe is soos 'n supermark, jy vat slegs huistoe wat jy "koop". Dit is hoe eenvoudig die lewe en hoe die "law of attraction" werk, dis nie altyd 'n magiese en groot ding nie, maar soms net prakties en eenvoudig. Jy koop jou lewe, jy koop jou omstandighede en jy koop wat met jou gebeur. So kan jy ook die breek bring wanneer jy dink dat daar een of ander familievloek is. Een bewys van keuses as dit by sulke sogenaamde vloeke kom, is dat 2 kinders in dieselfde huis grootword, maar verskillend kan en mag leef. Jy het nie nodig om die resep van mense voor jou te volg nie, jy kan jou eie besluite neem, jy kan verandering bring. Dit is hoekom God vir ons gesonde verstand gegee het.
So, wat ookal oor jou lewe 'n "invloed" het, is omdat jy dit toelaat. Soms kyk ek na mense om my en sien hoe hulle papsopnat in die reen staan, terwyl daar 'n droee dakkie naby is. Dan kry hulle hulleself ongelooflik jammer en word kwaad vir die reen, terwyl hulle mag en kan. Soms word ons verslaaf aan die "misery" en die drama om ons, want ons dink dit is hoe dit moet wees. Die ergste vloek in jou lewe is wanneer jy inkoop in die drama en dink dat dit is hoe dit moet wees. Van buite weet ek dit klink en lyk maklik, maar van buite sien ons hoe mense elke dag breek en gebreek word, en eintlik sien ons hoe eenvoudig dit kan wees. So, as jou pakkie voel asof dit vol gemors en vol "vloeke" is, onthou, jy het jouself daaraan blootgestel en jy en jy alleen kan dit breek, met liefde en deernis, eerste aan jouself.
Jy mag 'n wonderlike lewe leef, jy mag jouself geniet, jy mag gelukkig wees, weet dit en doen dit!
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!
Saturday, August 3, 2013
Vrot appels
Dit is net 'n bewys vir my van presies waaroor ek wou skryf, en dit is oor hoe dinge in ons lewens vermenigvuldig, veral die dinge wat ek negatief probeer vermy. Snaaks is dit dat die negatiewe dinge die vermoe het om vinniger te vermenigvuldig as die positiewe, of miskien is dit omdat ons die negatiewe so maklik vatplek in ons lewens gee. Dit is soos die eksperiment van die een vrot appel wat in die bak saam met die gesonde appels is. Dit is dalk hoekom die Bybel ons waarsku dat ons nie die duiwel en daarmee saam die negatiewe 'n vatkans moet gee nie, want die kanse dat die vrot appel die ander ook vrot gaan maak is groter as dat die ander 90% mooi appels die vrot van die een appel sal omkeer.
Elke dag gebeur daar miljoene dinge met ons, sommige daarvan positief en sommige negatief. Maar daar is daardie defining dinge wat of op een slag of herhalend in ons lewe ons lewens verander. Verskoon die engels, maar met defining dinge bedoel ek dinge wat 'n werklike merk op jou lewe maak en emosies by jou wakker maak. Dit kan daardie maatjie in graad 2 gewees het wat vir jou vertel het dat jy 'n haakneus het, of die rooikopmeisie wat vir jou vertel het dat jy krom bene het, enige oomblik wat jy kan onthou en wat jou geruk het. Soms is dit ook oor tydperke, want as mense oor jare vir jou vertel hoe krom jou neus is, gaan die patroon naderhand by jou vassteek. Ek noem spesifiek graad 2, want daar is mense wat so ver terug in hulle lewens hierdie momente ervaar het, en dit steeds met hulle saamdra tot die dag in die graf.
Die vraag is egter nie of sulke momente met jou gaan gebeur nie, maar wat jy daarmee doen. Noem dit nou maar die "negatiewe" momente is om een of ander rede soveel kragtiger as al die positiewe insidente. Vir jare kan mense jou vertel hoe mooi jy is, maar daardie vrot appeltjie met haar poniesterte se kommentaar is waaraan jy vashou. Dit is net weer die bewys van die vrot appel wat eintlik altyd die gesonde en mooi sal uitwis. Wat vir my verstommend is, is in ons wonderlike en tegnologiese tyd, met al die kwalifikasies en boeke en denke wat ons tot ons beskikking het, dat ons almal eenvoudig terugsit en kyk vir ons bak appels en absoluut niks aan die situasie doen nie. Ons sit en wag en kyk hoe ons hele pragtige bord appels opgevreet word, sodat ons met niks mooi in die lewe oorgelos word nie. Wat ook verstommend is, is dat mense so maklik oorgee aan hierdie kanker wat ons lewens vreet, en dan absoluut verbaas is dat daar niks mooi oor is in hulle lewens nie. Dit wil lyk asof ons niks meer breinselle het as 'n amoeba wat erens op 'n klippie deur die son weggebrand word nie. Wat dit nog erger maak is dat ons dan paraplegies pleit en vergaan omdat dit nou maar een maal my persoonlikheid is. Aag shame-pies. Ons lag daaroor, maar almal is skuldig daaraan.
Ek vind dit vreemd dat ons toelaat dat omstandighede ons lewens so dikteer. Ek vind dit totaal in teenstelling met die intelligensie wat God ons mee geskape het. Ek vind dit godslasterlik dat ons so omgaan met die lewe wat God vir ons gegee het. Ek dink dat dit die werk van die "bose" is en dit die rede is hoekom ons wereld in die toestand is waarin dit is. Wat ek ook doen in hierdie geval, is dat ek eintlik daardie arme dogtertjie met haar poniesterte, wat so by the way, nie eers die insident kan onthou nie, die "mag" gee om my hele bestaan te dikteer. Dalk het sy kommentaar oor jou krom neus gemaak omdat jy die laaste rooi suigstokkie gekry het wat sy wou gehad het, en dit die eerste van jou is wat sy kon raaksien. Nou loop jy die res van jou lewe rond met 'n etiket om jou nek van "Ou Hakneus". Snaaks soos dit mag klink, dit is presies wat ons elke dag doen.
Wat ons nie besef nie, is dat dit nie net daardie een vrot appel is wat my lewe vergiftig nie, maar omdat ek so ingestel is en ingekoop het in die hakneusgeid, ek gelukkig ook deur my lewe nog meer en meer vrot appeltjies langs die pad begin optel. Ek tel hulle nie net op nie, maar aag-shame, omdat ek nou so 'n ou mislukking is, en omdat dit my persoonlikheid is en ek niks daaraan kan verander nie, draai ek die vrot appeltjie mooi in 'n sakdoekie toe, en gaan plaas dit verder strategies in my appelbak. Dan, met al my insig oor hoe die wereld werk, is ek dan totaal verbaas as my verrotting soveel vinniger plaasvind.
In my eie lewe sien ek dit oor en oor hoe die "issues" wat ek het my lewe opvreet. Ek was in die laerskool, en my ma-hulle het in die A-Capella koor gesing. Dit was heerlik, want ons het baie getoer en op klein dorpies gaan sing. Op elke dorpie het ons by gasgesinne geslaap, en die een keer by mense gebly waar die oom se valstande syne was, maar hom nie mooi gepas het nie. Aan etenstafel het die goed geklingel, nie net van die tjoppies nie, maar sommer so met die mash ook. My mond het werklik oopgehang, want jy kon die hele eetpetalje tande, spoeg en al hoor. Van daardie dag af het ek 'n hele issue oor mense se tande en klanke wanneer mense eet. Nou dink ek maak ek my kinders gek, want met elke ete het ek kommentaar daaroor, en nie dat hulle slegte tafelmaniere het nie, maar my ingesteldheid daaroor vermenigvuldig die klanke in my kop. Niemand anders hoor dit nie, maar ek hoor dit teen 'n helse volume. Daai oom is lankal seker dood, en sy valstande saam met hom begrawe, nou loop ek steeds met die ding in my.
Wanneer sielkundiges met ons werk, hoor hulle in die eerste plek wat jou issue is, dan gaan soek hulle na die insidente waar dit jou gegraffeer het, en dan help hulle ons om met pollyfilla ons stukkie menswees weer toe te maak. Jy sien, niks in die lewe is finaal nie, net die dood. Alles wat gebeur is jou persepsie van dinge en persepsies is nie cast in stone nie. Alles hang af van hoe jy daarna kyk. So, ek stem saam dat die appel dalk 'n vrot appel is, dit is nie werklik waaroor dit gaan nie, want slegte dinge gaan met jou gebeur. Wat ek op sinspeel is daardie totale sinnelose manier wat ons op die grond sit met die bak tussen ons bene en kyk hoe ons vergiftig word deur die appel en absoluut niks daaraan doen nie. En wat dit erger maak is dat ons dan die simpatie van ander soek oor die vreeslike ding wat besig is om te gebeur. Soms dink ek dat ons nie opgee om 'n verandering te bring en die appel uit die bak te smyt nie, maar dit pas ons om iets te he om die skuld te gee. Solank die dogtertjie met die poniesterte deel van my bak appels is, kan ek mense kry om my jammer te kry oor my neus. As ek haar uitgooi, wat gaan ek dan doen, want ek het haar kommentaartjie tog nou so mooi gekoester al die jare, ek kan tog nie nou van haar ontslae raak nie.
Hierdie koestering van ons "misery" is ook so 'n vreemde konsep. Ek hoor mos hoe praat mense en dit word vir hulle 'n mode om vrot appeltjies met hulle saam te dra. Daardie absolute irriterende houding van mense wat se: "Aag jong, dit help nie om te kla nie, mense kan tog niks daaraan doen nie". Jy is DOODREG, ons wil dit nie eers hoor nie, dit is jou vrot appeltjie, laat hy jou vergiftig en los my asseblief net uit dat ek my appeltjies gesond hou.
Louise Hay is een van die interresantste skrywers wat ek teegekom het, nie omdat sy die wiel uitgevind het nie, maar omdat sy haar idees so mooi en wetenskaplik in pakkies kan sit. In haar boek, "Healing your life", skryf sy van haar ervarings en analises oor die laaste 45 jaar. Sy maak 'n konneksie tussen liggaamlike vergiftiging, naamlik siekte, en die sielkundige en emosionele oorsake daarvan. Dink weer aan die konsep van die bak appels, jy word vergiftig en siek want jy laat die vrot appels toe om elke dag deel van jou lewe te wees. Op dieselfde manier sien ons in NLP, dat wetenskaplikes nou ook mense se persoonlikhede begin assosieer met die tipe siektes wat hulle gaan kry. Jy sien, jy kan nie wegkom van die konsep af nie, wat jy koester, gaan jou hele lewe beinvloed.
Maar, daar moet egter ook 'n praktiese oplossing wees, maar die begin daarvan is om te besef hoe absurd en onlogies dit is om met jou vrot appels te sit en dit te koester. Eerstens is die probleem daarvan dat vrot appels NET tot een uiteinde kan lei, daaroor is daar nie twyfel nie. Tweedens is die probleem dat die vrot appeltjies naderhand 'n reukie gaan afgee, wat ook die mens om jou van jou af gaan wegjaag, want alhoewel misery van geselskap hou, gaan mense net so lank met jou reukie kan uithou. Derdens, kom oor jouself, jy gaan beslis nie die eerste persoon in geskiedenis wees wat deur koestering die vrot appels gesond gaan maak nie.
Die lewe is gemaak om geleef te word, maar met stank en vrot vergiftiging is die lewe eenvoudig een groot aaklige spul. Moet ook nie vir my se dat ek dit ver-ooreenvoudig nie, want die lewe is eintlik werklik so eenvoudig, dit is ons wat dit kompliseer met allerhande teoriee en verskonings. Glo my, ek het my deel van baie slegte appels en momente in my lewe gehad waarvan almal bewus is, maar ek weier om toe te laat dat my bak appels vergiftig word. Ek hou liewers net een gesonde appel oor en gaan koop nuwes, as om 'n hele bak vrot gemors met my saam te dra op die pad.
Wat gaan jy toelaat om jou finale defining etiket in jou lewe wees, graad 2 se hakneus of vandag se pragtige mens? Hoe lank gaan jy nog in die verlamming vassit totdat jy opstaan en die lewe wat God vir jou vandag gee uitleef met uitbundigheid?
Kies die lewe, kies die geluk, kies die positiewe, want wat jy kies gaan vermenigvuldig in jou lewe, dit is die waarheid!
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!