Monday, August 12, 2013

Vloeke?

Soms voel dit asof die wereld conspire teen jou om jou te gee wat jy NIE soek nie. So het ek en my neef 'n diskussie oor vloeke wat daar op mense en oor families kan wees. Dit is amper so dat jy sekere dinge dwarsdeur mense se lewens en families se geskiedenis kan sien. Die Bybel praat oor die sonde van die vadere wat die kinders erwe sal bly, maar wat beteken dit nou. Beteken dit dat daar werklik dinge soos vloeke op mense kan wees.

Soos met baie van my denke, dink ek dat 'n mens versigtig moet wees wanneer jy enige onderwerp soos hierdie aanpak, want eintlik is daar niemand wat werklik WEET nie. Ons spekuleer maar daaroor, en ek glo altyd dat daar tegelyketyd, meer as een antwoord tot die probleem kan wees. Die grootste onreg wat mense enige onderwerp kan aandoen, is om summier een of meer standpunte te ignoreer. Ek voel dat ek eerder hier verskillende opsies moet gee, en dan gaan vorm jy jou eie opinie.

Ons leef huidiglik in 'n vreemde tyd, want aan die een kant is dit 'n spirituele tyd met meer en meer mense wat belangstel in hulle eie spiritualiteit, en aan die ander kant, die wetenskap en logika wat ons wereld heel anders inkleur en wat soms in teenstelling met spiritualiteit staan. Eeue gelede het mense, wanneer hulle iets nie verstaan nie, 'n spirituele baadjie daarvoor aangetrek en veral as iets onverklaarbaar is. Vandag lyk dit soms asof die wetenskap en logika oorgeneem het en mense dink dat as ek iets nie logies kan verklaar nie, dit eenvoudig nie bestaan nie. Om dit beter te beskryf, hoeveel kinders ken jy wat deesdae nog bang is vir die donker? Wanneer laas het jy om 'n braaivleisvuur spookstories gehoor of vertel? Maar net omdat iets dus nie tasbaar en uitrekenbaar is nie, beteken dit nie dat dit nie bestaan nie, en daarmee saam ook die idee van die bose en vloeke.

Die Bybel vertel ons ook dat die grootste uitdaging vir die bose of die Satan is om mense te laat glo dat die bose of die duiwel nie bestaan nie. So, ons moet maar versigtig wees dat ons nie sommer die baba met die badwater uitgooi nie. So, aan die een kant moet ons dink dat die bose wel bestaan, en ons weet ook dat die bose altyd in stryd is met die goeie en die mooi. Die bose is die ander kant van die muntstuk, want waar ons glo dat God net mooi en lekker aan ons gee, is die bose daarop uit om ons lewens te verwoes. Vloeke word die manier waarop onreg en hartseer jou aangedoen word.

Ons sien dwarsdeur die Bybel dat mense se funksionering ingeperk is deur allerhande vloeke van die bose oor hulle.

Die vraag is dus, kan dit so wees dat iets of iemand jou onreg wil aandoen en dat jy vasgevang is in dit?

Ons moet ook besef dat die vloeke nie altyd 'n bo-aardelikse heks is wat dit aan jou doen nie, maar gewone mense. Die literatuur oor hierdie onderwerp stel dit duidelik dat as iemand jou iets toesnou en vloek, daardie vloek op jou gaan sit. Een skrywer stel dit so erg: "Every word and thought has power, and those who curse sometimes don't know that they are actually putting a curse on the people around them. We have to know and believe that the dark power is not allways with the dark lord, but evil persists in the ordinary man". Dit bring ons terug na die begin van die bose, en dit is die oomblik wanneer jy iemand nie goed toewens nie, jy boos is en boos optree. Die goeie is dan nie in jou nie, en daarom is dinge soos skinder ook 'n vorm van 'n vloek wat ek oor iemand kan uitspreek. Ek wonder ook soms oor huwelike en verhoudings waar mense baklei hoeveel vloeke ons elke oomblik rondstuur, en dan soms wonder oor hoekom ons lewens nie werk nie, en hoekom verhoudings verdoem is en hoekom mense dan alleen en eensaam is. Geen wonder Jakobus vertel ons dat ons 'n wag voor ons mond moet sit nie. Wees versigtig wat jy mense dus toesnou, woorde is krag en het krag. Moet dus nie 'n fout maak en wonder hoekom mense presies word wat jy van hulle se en dink nie, jy is dalk die een wat hulle in die monstervorm in jou kop giet.

Wat doen jy dus nou met hierdie tipe dinge en mense? Ongelukkig kan 'n mens nie kies in watter tipe wereld jy leef nie. Niemand is dus werklik, as jy in vloeke glo, heeltemal immuun nie, en jy kan dit ook nie altyd ontsnap nie. Daar is dus 2 maniere om dit te hanteer, in die eerste plek het jy nie nodig om in so 'n situasie of saam met iemand te wees wat jou so hanteer nie, veral as jy besef dat dit skadelik is vir jou. Tweedens glo ek steeds dat elke aksie 'n teenreaksie is, so, dit is nie nodig om vuur met vuur te beveg nie. Die Bybel stel dit tog ook duidelik dat 'n sagte woord die grimmigheid en daarmee saam afkeer.

Moeder Theresa het ook gese dat jy nie kan help hoe mense jou hanteer nie, maar as hulle jou sleg hanteer, beteken dit nie dat jy moet ophou om goed aan hulle te doen nie. So, of dit nou oor moeilike mense of vloeke of wat ookal in die lewe handel, lyk dit my dat ons elke oomblik geroep is om ander mense mooi, sag en liefdevol te hanteer.

Ander stukke oor vloeke stel dit duidelik dat jy nie nodig het om die vloek te "vat" nie. Hoekom is ons in verhoudings en tussen mense wat ons skade wil aandoen? Hoekom sal jy in 'n verhouding wil bly waar dit net oor die ander persoon gaan en iemand lelik is met jou? Hoeveel daarvan is jou oorsaak? Jy het natuurlik die reg om selfsugtig te wees, maar die oomblik wat dit ten koste van iemand anders is, of jy iemand skade wil aandoen, dan is dit verkeerd. Wie en wat jy is, wat ookal aan jou gedoen word, is sonder twyfel jou eie toedoen, jy is of was by iemand of in situasies waar jy nie moet wees nie. Dit gaan nie oor oordeel nie, maar veral be-oordeling van jou lewe. Om een of ander rede glo ons dat die lewe moeilik moet wees, en dink ons ook dat alle mense sukkel, en daarom is dit aanvaarbaar om jou in jou situasie te bevind. Wie het hierdie gemors in ons koppe ingeprent? Gaan bou die lewe wat jy dink en weet jy verdien, kap af wanneer iemand jou skade aandoen, en moet nooit ingetrek word daarby nie.

Dit beteken dus ook dat JY in beheer is van wat met jou gebeur. God se wil vir jou lewe is nie dat dit deur die bose oorwin mag word nie. God se wil vir jou lewe is mooi harmonievolle dae, gevul met lag en geluk. Daar is niks fout daarmee om eerder die mooi te soek en te leef nie. Elke oomblik in jou lewe moet jy jouself die vraag afvra, wat God van my sal verwag in die situasie, en ek dink almal weet wanneer hulle die goed in die lewe doen.

Oor familievloeke wat sogenaamd oorgedra word van geslag tot geslag, dink ek dat daar ander dinge ook 'n rol speel. Ek dink dat dit soms eerder met 'n aangeleerde gedrag te doen het. As jy van geslag tot geslag sien dat aggressie die optrede is wat altyd gekies word wanneer dinge verkeerd loop, dan word dit 'n patroon. As jy sien en leer dat alkohol die manier is om probleme op te los, dan gaan mense dit geslag na geslag doen. Maar weereens, jy kan soos in die voorbeelde hier bo kies om dit deel van jou lewe te maak en dit te aanvaar, of jy kan jou gesonde verstand gebruik en self die verandering bring. Alles in die lewe is soos 'n supermark, jy vat slegs huistoe wat jy "koop". Dit is hoe eenvoudig die lewe en hoe die "law of attraction" werk, dis nie altyd 'n magiese en groot ding nie, maar soms net prakties en eenvoudig. Jy koop jou lewe, jy koop jou omstandighede en jy koop wat met jou gebeur. So kan jy ook die breek bring wanneer jy dink dat daar een of ander familievloek is. Een bewys van keuses as dit by sulke sogenaamde vloeke kom, is dat 2 kinders in dieselfde huis grootword, maar verskillend kan en mag leef. Jy het nie nodig om die resep van mense voor jou te volg nie, jy kan jou eie besluite neem, jy kan verandering bring. Dit is hoekom God vir ons gesonde verstand gegee het.

So, wat ookal oor jou lewe 'n "invloed" het, is omdat jy dit toelaat. Soms kyk ek na mense om my en sien hoe hulle papsopnat in die reen staan, terwyl daar 'n droee dakkie naby is. Dan kry hulle hulleself ongelooflik jammer en word kwaad vir die reen, terwyl hulle mag en kan. Soms word ons verslaaf aan die "misery" en die drama om ons, want ons dink dit is hoe dit moet wees. Die ergste vloek in jou lewe is wanneer jy inkoop in die drama en dink dat dit is hoe dit moet wees. Van buite weet ek dit klink en lyk maklik, maar van buite sien ons hoe mense elke dag breek en gebreek word, en eintlik sien ons hoe eenvoudig dit kan wees. So, as jou pakkie voel asof dit vol gemors en vol "vloeke" is, onthou, jy het jouself daaraan blootgestel en jy en jy alleen kan dit breek, met liefde en deernis, eerste aan jouself.

Jy mag 'n wonderlike lewe leef, jy mag jouself geniet, jy mag gelukkig wees, weet dit en doen dit!

Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment