Wednesday, September 18, 2013

Gaan skilder

Ek hoor so baie dat mense se dat die lewe moeilik is, en nie vir sussies gemaak is nie.  Maar het jy al gedink wat dit is wat die lewe so moeilik maak?

 

Ek lees baie oor die onderwerpe, en ek kom tot die konklusie dat daar om een of ander rede 'n onderskeid gemaak word tussen die fisiese en die spirituele, die logiese en onlogiese, die hart en die verstand asook die droomwereld en die realiteit.  Dit wil ook voorkom asof ons wereld in twee dele verdeel word naamlik die logiese weste en die spirituele ooste.  Vir ons as Westerlinge, gaan die wereld van die ooste die laaste paar jare oop, veral omdat ons dalk begin besef dat ons nie net eenvoudig kan leef in ons logiese breine nie, want met dit alleen kan jy nie geluk in jouself en jou lewe vind nie.  Al meer mense lees oor Budhisme en die Daoism, en al meer mense woon rituele by van meditasie en stil word.  Op een of ander wyse besef ons dat ons nie net eenvoudig kan aanhou om te luister na die geraas in ons logiese koppe nie.  Selfs in die sielkunde en ons metodes om mense te help, begin ons om "oosterse" metodes soos hipnose en meditasie toe te pas om mense te help om te leef.  Selfs die Dalai Lama lewer die volgende kommentaar oor hierdie twee werelde en se: "Westerners are externally rich, but in their hearts they are poor, Easterners are externally poor, but in their hearts they are rich".

 

Maar met hierdie "oopgaan" van die ruil van idees, sien ons ook dat die oosterse denke ook verstaan dat hulle manier van werk op sy eie ook nie die enigste antwoord is nie.  Ek is altyd bang om die woord "balans" te gebruik, aangesien dit baie mense oortuig dat hulle manier van dink reg is, want ons sukkel om twee gedagtes gelyktydig plek te gee, en dan bly mense in hulle manier van denke, omdat dit 'n stukkie van die waarheid bevat.  Ons sien dat denkers soos Anondea Judith in haar boek: "Eastern Body, Western Mind", sekere oorbruggingstegnieke toepas om die idees van die ooste te koppel met Maslow se ontwikkelingsfases.  Om te besef dat beide waar is in dieselfde ruimte is eintlik waaroor dit moet gaan, want jy sien, alhoewel ons Westerse logika ons leer dat slegs een idee waar is, maak dit ons mal omdat ons altyd gaan bly soek na die EEN antwoord wat in alle situasies waar is.  Ons is deurgans besig om deur die wereld te CSI en te desekteer om by 'N antwoord of oorsaak van dinge uit te kom. 

 

Daar is een goue draad wat van alle tye af 'n filosofie van elke geloof en filosofie is, en dit is dat daar progressie en groei in jouself moet plaasvind.  Mense wat nie bereid is om te groei en aan te pas en te dink of te wonder of nuwe dinge wil ervaar nie, sal nooit gelukkig wees nie.  Alles in ons wereld is ingedeel in spoed wat vorentoe gaan, selfs die tyd waarin ons leef.  Geluk en die sin vir die lewe gaan nie daaroor om een filosofie te kry en daarby vas te haak nie.  Selfs Paulus praat oor Christenskap en verwys na Christene as babatjies wat nie vaste spyse kan eet nie, want alhoewel hulle groot is, leef hulle soos babatjies, want hulle het nie gegroei nie.  Ek dink dit is hoekom dit so lekker is om kind te wees, want kinders "ontdek" elke dag iets nuuts, en die mense om hulle komplimenteer en maak 'n groot ding van elke nuwe ding wat hulle bemeester.  Van my beste tye was op Universiteit waar ek blootgestel is aan denkers en mense wat nuut en anders gedink het as wat ek doen.  Dan kom mense op een of ander stadium wat hulle stagneer, en dink hulle het ge-arriveer, en dan begin die depressie, die hartseer en die gevoel dat hulle nie kan "cope" in die wereld nie.  Die rede daarvoor is dat jy nie saam met die wereld groei nie, hulle dink hulleself onder jou uit en dan skielik word jy kwaad en moedeloos en herken jy nie die wereld om jou nie.  Jy voel depressief en jy kan nie funksioneer nie. 

 

Ek ken middeljarige mense, mense van 70 (want dit is in die wereld waarin ons leef middeljarig) wat so bybly met tegnologie, e-mail en internet.  Mense wat hulle verheug oor die wonder van die wereld van vandag.  Dan sien ek weer jongmense, mense in hulle 40's, wat kerm en kla oor alles en elke dag met 'n lang gesig rondloop.  Jy sien, groei is iets wat jy wil, en ek dink die lus om te groei en oop te wees vir nuwe idees, dit is die sin van die lewe.  Die oomblik wat jy nie groei, lees of dink nie, is jy dood.  Soos die filosoof Descartes gese het: "I think, therefore I am", dit is dalk die sentrum van bestaan.  Elke dag is 'n nuwe dag en soms vind ek dat mense wat nie dink nie, stagneer en word ongelukkig, want dit is waar, die trein het reeds vertrek.  Ek kan nie onthou wie dit gese het nie, maar ek onthou die aanhaling: "In times of change, the eager to learn will inherit the earth, while the educated find themselves beautifully equiped for a world that no longer exists".  Dit is soos die oom wat die ossewa besigheid in die Kaap gehad het, wat nie geglo het dat motors ooit die nuwe ding sal word nie, en kort voor lank sy besigheid moes sluit, want niemand het meer met ossewaens gery nie.  Om jou idees te handhaaf is geen probleem nie, maar dalk is die probleem dat jy jouself nie toelaat om te groei of verder te gaan nie, en ook jou onvermoe om aanpasbaar te wees.

 

Mense het die tendens om ook, sonder dat hulle die feite weet van situasies of mense, die baba met die badwater uit te gooi.  Mense noem hulleself Christene en glo dat God alles in die wereld gemaak het, maar hulle proe nooit aan die stukkies wat God ook gemaak het nie, want dit is onbekend.  Mense gaan na palmlesers toe en lees boeke van oom Siener van Rensburg, want hulle wil weet.  Die lekker van die lewe le nie in beheer en weet en die waarheid nie, die lekker gaan in die ontdekking van wie jy is en die wereld rondom jou.  Die lekker gaan oor die moontlikhede van 'n wonderlike dag more wat God vir jou geskep het en kan ontdek.  Ek vind dit vreemd dat mense kan duisende rande spandeer om oorsee te gaan want dit is so wonderlik, terwyl ons eintlik hier in die derde wereld pragtige nuwe en mooi dinge kan ontdek.  Wat jy lees en waarheen jy groei is nie belangrik nie, maar DAT jy dit doen, dis die lewe.  Dis soos asemhaal, sonder groei IS jy dood net soos sonder asem.

 

Een van die lekker dinge van toer, is dat jy nuwe kulture ontdek.  Jy ontdek dinge wat jy nie eers geweet het bestaan nie, kosse wat jy nog nooit van geweet het nie, maniere van lewe wat jy nie ken nie.  Die hele lewe is 'n reis en iemand se nou die dag: "Reis is die beste opvoeding wat jy kan kry".  As ek altyd met Jan Tuisbly se karretjie ry, gaan ek nooit ontdek wat daarbuite is nie, en gaan ek dink dat die wereld net tussen hierdie 4 mure is, en dit gaan my realiteit bly.  Ek word vasgevang in my eie idees, en niemand daag my bietjie uit nie.  Ek en Hugo leer nou die dag geskiedenis oor die onderwerp van die Renaissance, waar mense uitgedaag is om nuut te dink.  Op die stadspleine het hulle by kafee's gesit en filosofeer oor of die lewe nie dalk anders is as wat hulle nog altyd gedink het nie.  Die kuns, die musiek, die skryfwerk en filosofie, het mense uitgedaag om nuut te dink.  Vandag het ek en jy 'n wereld van die internet met boeke en idees wat volop is.  Ons kan onsself uitdaag om elke dag iets nuuts te leer, te bemeester of oor te wonder.  Moenie bang wees daarvoor nie, want mense wat bang is, is mense wat nie lekker weet nie, en dan vashou aan dinge wat vir hulle meer sin maak.  Mense wat nie groei nie, hou vas aan grashalms en halwe waarhede as die sentrum van hulle bestaan.  Die sin van die lewe gaan oor jou eie persoonlike evolusie van vorentoe kyk en vorentoe beweeg en groei.

 

Ek het op skool tennis gespeel en dit baie geniet.  Oor die jare het ek steeds my raket gehad, maar nooit gaan speel nie.  So 'n paar maande gelede reel iemand 'n tennistoernooi tussen vriende, en ek gaan speel toe.  Genade, maar het ek gesukkel.  Ek het in my kop al die idees, maar omdat ek dit nie gereeld toegepas het nie, kon ek niks beteken op die tennisbaan nie.  Dieselfde geld vir jou persoonlike groei, elke dag en elke oomblik is ons op die tennisbaan.  Maar omdat ek nooit deelneem en balle slaan en nuwe tegnieke toepas en leer nie, gaan elke oomblik daarvan vir my hel wees.  So met jou verhoudings, so met jou werk, so met alles in jou lewe, ek moet deelneem.  Groei is presies dit, want daarmee leer ek hoe die wereld leef.  As ek nie groei saam met die spel nie, raak ek agter, en kort voor lank vra niemand my meer om saam te speel nie.  Dan word ek 'n toeskouer van die lewe, dan word ek 'n "victim" en blammeer die mense wat my nie meer vra nie.  Dan word ek 'n klakous wat naderhand die hele spel kritiseer.  Ek kyk tennis van die kant, en verlang eerder terug na die "mooi" goeie ou dae van Biorn Borg en Chris Evert, en mis die wonder en mooi van Nadal en Federer se pragtige tennis.  Naderhand koop ek nie eers meer kaartjies nie, naderhand kyk ek nie meer die wedstryde op televisie nie.  En kort voor lank MIS ek uit op die lewe en sit weer in my hoekie en wonder hoekom my lewe nie sin het nie.

 

Groei gaan dus ook gepaard met die bereidwilligheid om "OOP" te wees vir vernuwing en nuwe idees.  Oop te wees om te verstaan dat tennis verander het en dit te geniet vir wat dit is, eerder as om dit te vergelyk met hoe dit WAS.  Vandag is 'n nuwe dag, met baie lag en geniet-pakkies wat uitgepak is op die tafel.  Ek kan natuurlik gaan daarvoor, dit oopmaak en voluit leef, of in sak en as sit en bang wees dat daar dalk iets "gevaarlik" in die dag opgesluit kan wees.  Ek kan eerder fokus op dit wat "obstacles" is oppad na die lag toe en eerder in my hoekie sit en myself bejammer, of ek kan eenvoudig uitgaan en fokus op die prys wat wag in die lewe van elke dag.  Ek kan natuurlik by my venster staan en almal bekyk wat lag, en dit afmaak as sinneloos en oppervlakkig en simpel, of ek kan die deur oopsluit en saam gaan lag.  Ek kan natuurlik kritiseer en oordeel, of ek kan besef dat ek eintlik nie HULLE oordeer nie, maar eerder myself en dat ek myself jammer kry.  Eintlik besef ek dat ek eintlik jaloers is op hulle, want hulle LEEF, en ek sit en degenereer. 

 

My oom in Holland is vir my 'n ongelooflike inspirasie, want hy leef so met uitbundigheid.  Hy soek geleenthede en kanse OM dinge te doen, eerder as om redes te soek hoekom hy NIE wil nie.  As hy wil skilder, weet hy hy gaan dalk nie eendag in die Louvre een van sy skilderye daar sien hang nie, maar hy skilder vir HOM.  Sin in die lewe gaan nie oor die aanvaarding en noodwendig die GROOT prys nie, maar in die genieting van elke dag.  Met geld, sonder geld, maak nie saak nie.  Kleuterskool kindertjies teken prentjies elke dag en bring dit huistoe, en hulle is trots daarop.  Of jy dit nou op die yskas sit, of in die kar vergeet, hulle wys jou.  Dit gaan oor die genot van die prentjie teken, en nie oor die miljoene rande wat mense vir 'n Picasso betaal nie.  Of jy nou met 'n ou droee pen teken, of met waterverf of met oliverf, dit maak nie saak nie, solank jy net gaan geniet.  Kort voor lank kom jy dan agter dat, alhoewel jy gedink het jy kan nie verf nie, jy al hoe beter en beter word, en naderhand kan jy dit in jou huis ophang.

 

Gaan teken jou prentjies vandag,  gaan skilder, gaan groei

No comments:

Post a Comment