Monday, September 23, 2013

Onse Vader en Depressie

Soms voel die lewe moeilik en ondraaglik, wat veroorsaak dit.  Soms voel ek depressief, hoekom?  Soms voel ek eensaam en alleen, hoekom?  Soms sukkel ek om in die oomblik van vandag te leef en voel ek asof ek nie uit die bed kan of wil opstaan nie, hoekom?  Soms wil ek vlug, hoekom?
Vandag vra ek hierdie vrae vir myself en spekuleer, nie omdat ek dink dat ek die antwoord het nie, maar eerder wil spekuleer oor hoekom dit so is uit my ondervinding. Vir my spekulasie, wil ek die woorde van die Onse Vader in Mattheus 6 as 'n moontlike riglyn gebruik.  Dit is nou die gebed wat Jesus vir Sy dissipels leer van hoe hulle eintlik moet bid en hoe hulle dalk hulle ingesteldheid moet verander.
1.        Wete dat die sentrum van bestaan God is:
Ek gee nou nie om wie ek en jy is nie, en hoe gelowig is nie, maar die lewe kan nie bestaan sonder God nie.  As ek bid:  "Onse Vader wat in die Hemel is, laat U naam geheilig word", beteken dit dat ek weet en verstaan dat ek nie sonder God kan bestaan of leef nie.  Deur Sy Naam te heilig, gee ek daarmee erkenning van die feit dat God elke dag en oomblik my middelpunt van bestaan is.  Ek gee God die erkenning vir wie en wat God is.  Daar is in pastorale sielkunde die wete dat enige probleem in my bestaan, sielkundig en ook fisies, onderliggend 'n probleem met my verhouding met God is.  So, enige probleem en enige situasie het in sy essensie 'n verhoudingsprobleem met God.
    2.        Laat U koningkryk kom en laat U wil geskied:
Vir eeue reeds sit mense met die dilemma van 'n vraag of God totaal in beheer is van die lewe, en of ek as individu in beheer van my lewe is.  Die wonder van God is dat God NIE my soos 'n poppemeester WIL beheer, sonder my toestemming nie.  God het ons geskep sodat ek en jy vrye wil kan toepas.  Ons is so geskep dat ons SONDER God kan leef en bestaan indien ons dit so wil verkies.  Dan is dit natuurlik ook so dat my keuses en my idees my eie is, en dat ek dan ook alleen verantwoordelikheid vir my dade moet aanvaar.  Deur God te vra om Sy wil te laat geskied, maak ek God en Sy wil vir my lewe, deel van my bestaan.  Op hierdie wyse doen ek dieselfde as Jesus aan die kruis met die woorde:  "In U hande gee ek my gees oor."  Wat dit wonderlik maak is dat ek nie net God erken soos in die eerste punt as die sentrum van my bestaan nie, maar ook elke dag my pad met God wil loop.  Dit is van kardinale belang, aangesien die Bybel ons ook leer dat selfs die bose ook die bestaan van God erken, maar in rebellie teen God is. 
Wat dit verder ook belangrik maak is dat ek ook in my oorgee aan God se wil, God se hand en God se les soek in elke ding wat in my lewe gebeur.  Baie mense in hulle depressie sit met ongelooflike skuldgevoelens oor hulle keuses en hulle lewens.  Hulle leef in 'n bestaan van "regret", en hulle is elke dag besig om hulleself te blammeer oor die keuses wat hulle gemaak het, eerder as die verstaan en die leer van lesse.  Dit is seker een van die moeilikste idees in ons bestaan, om te verstaan dat my lewe in God se hande is, en dat ek wel vrye keuse het, maar dat ek telkens vra en soek na God se wil in my lewe.
Deur te vra vir God se wil, erken ek daarmee dat God vir my die skilderdoek gee wat dit vir my moontlik maak om te kan skilder.  Sonder dit kan ek al die mooiste idees in my ronddra, maar sal ek in die lug skilder.
    3.        Gee my vandag my daaglikse brood:
Waar die WIL van God dalk meer 'n groter en langer plan is, gaan hierdie deel van die gebed oor die klein dingetjies wat ek elke dag nodig het vir my bestaan.  Hieronder is my behoefte aan gesondheid, kos, skuiling en elke tree van my bestaan van elke dag.  In die daaglikse brood bewys ek ook dat ek besef dat ek God nie net nodig het in die feit dat ek dink my lewe is in God se hande, naamlik die pad wat ek moet loop nie, maar in besonder ook elke tree van my bestaan. 
In my depressie en sukkel van elke dag, fokus ons soms te veel op die groot prentjie, terwyl die klein prentjies soos 'n impressionistiese skildery, saam die groot prentjie vorm.  Wanneer ek depressief is, is die beste raad soms om op die klein dingetjies te fokus.  Soos wanneer jy nie krag het vir die dag en vir die groot prentjie nie, moet jy dalk fokus op die klein dingetjies.  Fokus om net eers op te staan en te stort vir 'n week.  Daarna, sit elke keer net een stukkie klein aksie by om te verseker dat jy verandering teweegbring.
Wanneer ek skilder, kan ek natuurlik nie net doen met die idee of met die wit doek voor my nie, ek het verf en kwaste en idees nodig, deur die loop van 'n proses.
4.        Vergewe my sondes:
Wanneer die Bybel ons leer van God se vergiffenis, beteken dit dat God my skilderdoek, met al die skewe en lelike en ongure beelde, uitvee en elke keer vir my 'n NUWE doek gee om op te skilder.  Ons dink soms dat meesters soos Picasso en Rembrandt sommer net perfek begin skilder het van die begin af.  Beslis nie, hulle studios en huise was gevul met honderder probeerslae, selfs van hulle bekendste skilderye.  God se vergiffenis beteken dat ek elke keer van voor af begin, maar natuurlik met die kennis en die tegniek van wat ek geleer het op die vorige skilderdoeke van my lewe.  Elke keer probeer ek beter en beter, en al kry ek dit nie reg nie, is daar 'n onuitputbare bron van skoon en nuwe doeke by God beskikbaar.
Hierdie idee maak die lewe draaglik, want depressie en stryd en drama in my lewe, kom gewoonlik van die feit dat ek na al die vuil en mislukte doeke van die verlede kyk, en besef dat daar nie plek is vir my nuwe idees nie.  Sonder skoon en nuwe doeke, al het ek al die tegnieke van 'n meester, sal niks beteken nie, en gaan selfs die grootste meester net nog 'n nuwe gemors maak. 
5.        Soos ek ander vergewe:
Interresant van die manier hoe hierdie sinsnede gevorm is, is dat ek net van God kan verwag om my te vergewe op dieselfde manier hoe ek mense om my vergewe.  Het jy al daaraan gedink dat Jesus nooit aan die kruis gevra het om Sy sondes te laat vergewe nie?  Jesus het verstaan dat Hy EERS die mense om hom, hulle wat hom tot dood veroordeel en aan 'n kruis vasgespyker het moet vergewe.  Jy moet eers vergewe voordat jy van God en ander kan verwag om jou te vergewe, en omdat jy mens is, verstaan jy ook die woorde van Jesus wat se:  "Want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Kom ons wees eerlik, elke dag word ongelooflike onreg ons aangedoen, miskien klein, of dalk net so groot soos om aan 'n kruis vasgespyker te word.  Deur NIE te vergewe nie, beteken dit dat ek myself meer onreg aandoen as hulle wat my skade aangedoen het, want terwyl hulle lankal vergeet het wat hulle aan my gedoen het, laat ek deur die feit dat ek nie vergewe nie, hulle toe om elke dag en elke oomblik oor en oor aan my die skade te doen.  Sonder vergiffenis is dit geen wonder dat ek depressief is nie, want ek leef totaal in die verlede en beleef oor en oor dieselfde hartseer van daardie oomblikke van hartseer.
Om een of ander rede het ons ook die spreekwoord aangeleer om te vergewe, maar nie te vergeet nie.  Die Bybel leer ons dat God se vergiffenis 'n totaal NUWE skilderdoek gee, sonder om ooit weer daaraan te dink.  Vergewe is vergewe EN vergeet.  Ek kan soos Picasso en Rembrandt my tegniek vir die res van my lewe op my ondervinding bou, maar as ek iemand vergeet het, vergeet ek totaal en al hoe die gemors-skildery gelyk het.  Sonder vergiffenis, kan ek nie leef nie. 
En dalk is die belangrikste vergiffenis nie noodwendig NET vir mense om my nie, maar ook myself.  Nie om verskoning te soek nie, maar ook in die wete dat nie al my probeerslae perfek is nie, en dat ek myself NIE kan blammeer oor die feit dat ek aan die begin nie soos 'n meester geskilder het nie.  As ek die eerste probeerslag nie suksesvol is nie, kan ek nie ophou skilder nie, want skilder is deel van die lewe, en sonder skilder is ek REEDS dood, en watter tipe van 'n erfenis los ek vir die wereld rondom my.
Hierdie vergiffenis van ander is so belangrik, dat dit weer in die gebed herhaal word, en ons besef dus hoe belangrik dit is.  Ek sien baie mense met wrokke in hulle harte, want hulle kan nie vergewe nie, en daarom kan hulle eenvoudig NIE met hulle lewens voortgaan nie.  Dit beteken gladnie dat jy in so 'n situasie moet en mag bly van situasies wat jou oor en oor skade doen nie, beslis nie.  Dit beteken tog ook dat jy, na vergiffenis, met 'n skoon doek kan sit om jou lewe beter en mooier en met meer kleur te gaan skilder.
6.        Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose:
Ons weet al baie lank dat die bose nie noodwendig iets is wat buite ons menswees is nie, want elke dag veroorsaak ons ook hartseer en drama in mense se lewens.  Deur die gebed vra ons vir God om ons te help om onderskeid te kan tref tussen wat goed en sleg in die lewe is.  Ons vra vir God om ons op die paaie te lei waar ons nie in drama en spanning is nie, en waar ons ook nie drama en spanning in ander se lewens veroorsaak nie.  Daarmee saam spreek ons ook ons bereidwilligheid uit om, na vergiffenis, die regte pad en die regte lewe te WIL leef, uit dankbaarheid.  God vergewe ons, en ons wil tog probeer om ons volgende skildery met meer kleur en met beter tegniek te voltooi.  Ons spreek ons begeerte uit dat God ons gedagtes en ons aksies sal lei, sodat ons nie weer oor en oor dieselfde foute sal maak nie.  Ons wil groei en beter mense word, al weet ons dat ons nie perfek is nie, wil ons graag die mooi agterlaat in die mense om ons se skilderdoeke.

1 comment:

  1. Dankie Deon dat jy ons weer herinner hoe om ons dag te begin, veral as woorde mens baie maal kortkom. 'n DAG MET GEBED OMSOOM; RAFEL NOOIT UIT NIE.... meeste van die tyd ontmoet God ons daar waar ons tyd het om te "sit".

    ReplyDelete