Saturday, August 24, 2013

Gaan verander die wereld!

Ek vind dit baie inspirerend om lewensverhale te lees van mense wat iets besonders in hulle lewens gedoen het.  Ek dink aan al die groot uitvinders en besigheidsmense soos Richard Branson wat die konformiteit uitgedaag het en buite die raamwerk van aanvaarding hulle pad uitgekap het.  Een van die groot redes dat ons so 'n fassinering het daarmee dink ek is omdat ons altyd met konformering gekonfronteer word. 
 
"whatever your parents taught you that you can do and be who-ever you want to be is really bad advice, because in life you are only accepted when you conform to the ideas and expectations of the people around you" ANON
Hierdie aanhaling is hoe die lewe werklik is, want jou bekende mense se boeke is besaai met allerhande emosies en pyn.  Om alles te doen soos almal dit wil he, dit is die maklikste manier om te leef.  Daarin le die minste stress en spanning.  Mense kan nie "anders" verstaan of aanvaar nie, en nog minder kan mense dit regkry om ander toe te laat om hulleself te wees.  Dit is soos die storie van die 3 krappies wat in die vlak bakkie geplaas word.  Die bakkie word dan warm gemaak, en alhoewel dit maklik is om uit te klim, trek hulle mekaar terug totdat hulle almal dood brand.
Ons wereld het so effens verander en ons sien al dat mense wel regkry om te besef dat mense anders is, maar om hulle in hulle andersheid toe te laat is nog nie moontlik nie.  Ons het almal verwagtinge, en ons hou van "orde", en daarom verwag ons van ander om soos ons te wees, en as hulle dit nie doen nie, dan moet daar fout met hulle wees. 
Nou wat is die uitdaging hier, want geen mens leef op 'n eiland nie, en ek dink nie jy kan sommer maar net doen wat jy wil nie.  Soos Gary Player gese het:  "Play the course as it is, and not how you would like it to be".  Dit is so waar, maar wanneer jy kinders grootmaak, wat gaan jy hulle leer?  Wat gaan die balans wees tussen wie jy IS en wat ander van jou VERWAG?  In hoe 'n mate gaan jy jouself afdruk op die wereld, in die wete dat dit met baie stress gepaard gaan, en hoeveel gaan jy konformeer?
Soos alles dink ek dat alles in jouself begin.  Jy sien, erens langs die pad het ons begin glo dat geluk en ongeluk by ander begin.  Mense maak my ongelukkig, en ek sit hekkies neer vir ander om oor te spring sodat ons gelukkig kan wees.  Ons verwagtinge van mense bepaal ons geluk en ongeluk.  So, ons neem deel aan die spel, en ek kan nie van ander verwag om dinge te wees en te doen, as ek dit nie self is of doen nie.  En ons word vasgevang in hierdie "ruiltransaksie".  Kyk bietjie om jou na huwelike en verhoudinge, alles is 'n ruiltransaksie.  Ek is dit en doen dit, want jy doen dit of dat.  Ons hele samelewing is gebou op die konsep. 
 
Nou wonder ons hoekom ons lewens nie uitwerk nie, want aan die een kant is dit fisies onmoontlik vir ons om aan al die vereistes van ander te voldoen – almal gaan jou telleurstel.  Daar is 2 redes hiervoor, die eerste is, dit is JOU vereistes en idees waaraan hulle moet voldoen, en nie noodwendig hulle manier van dink nie.  Tweedens is dit fisies onmoontlik vir iemand om aan al ander se vereistes te voldoen, want per definisie is dit slawerny. 
So, eerstens moet jy na jou ingesteldheid kyk en of jy nie mense in jou lewe toelaat om jou gelukkig of ongelukkig te maak op grond van die mate wat hulle aan jou vereistes voldoen nie.  Ek dink so baie keer aan die kruiswoorde van Jesus:  "Vergewe hulle Vader, want hulle weet nie wat hulle doen nie".  Soms dink ons dat mense dinge doen, omdat hulle ons daardeur met opset wil skade aandoen.  Dit is absoluut nie waar nie, mense is hulle eie mense en om hulle eie mens te wees is net so 'n Godgegewe saak soos suurstof.  In sielkunde noem hulle die fenomeen om jou geluk en ongeluk deur ander te laat bepaal "Living through others".  In kort is dit wat dit is, jou hele lewe word bepaal deur ander, en vreemd genoeg, jy word dan hulle "slaaf".  Dit is ook hoekom mense in verhoudings toksies aan mekaar verslaaf is, hulle raak verslaaf aan die spel, en alhoewel iemand anders die hekkies moet oorkom, word ons so deel van die spel, dat ons wil gek word.  Ons hou naderhand van die baklei, ons hou naderhand meer daarvan om mekaar te oortuig van hoe hulle nie die hekkies oorkom nie, en naderhand begin ons "wens" dat hulle dit nie kan doen nie, sodat ons hulle daaroor kan aanvat.  Ons voel naderhand beter oor onsself, wanneer hulle misluk. 
Verder kom ons in situasies waar dit wat jou pla, al hoe meer voorkom.  Hoe meer jy op iets fokus, hoe meer word dit, dis eenvoudig.  Die arme hekkiesatleet in jou lewe word naderhand ook so op sy/haar senuwees, veral as dit wat jy verwag nie moontlik is vir hulle nie.  Hulle word al meer gekonfronteer met situasies wat hulle eenvoudig niks aan kan doen of kan oorkom nie.
So, vir 'n begin, pak weg die hekkies, rol op die speelveld en gooi die stophoorlosie weg.  Gun mense eers hulle andersheid, gun hulle hulle menswees voordat jy dit van ander kan verwag.  Bere die strydbyle en maak vrede met die feit dat jou "kritiek" op hulle ook maar net vir jou wys hoeveel jy anders is as ander.  Hoe meer fout jy vind met ander, is 'n teken van hoe "anders" JY is, eerder as hoe anders "hulle" is.  Dit is hoekom soveel verhoudings tussen mense misluk, want ons dink dit is werk.  Ons moet dit maak werk, en ons dink dat ons geluk opgesluit is in ons eendersheid en wanneer ons dit wat ons pla gaan deurpraat en deurwerk.
In alles wat ek al ervaar en gelees het en terapiesessies wat ek gedoen het, het ek tot die konklusie gekom dat wanneer jy moet "praat" en wanneer jy moet "uitsorteer", jy reeds die stryd verloor het.  'n Paar jaar gelede het ek 'n blog geskryf oor mansvriendskap, en in kort daarin die konklusie gemaak dat ek en my mansvriende nog nooit gaan sit het om ons vriendskap te "definieer" nie.  Baie mense het kommentaar daarop gelewer dat die rede vir dit is dat dit nie werklik 'n "saakmaak" verhouding is nie.  As ek na al die "saakmaak" verhoudings om my kyk, wil dit vir my voorkom asof die resep wat ons toepas NIE werk nie.  Vir geen oomblik dink ek dat mens nie moet kommunikeer in 'n verhouding nie, inteendeel mens moet, maar dit mag nooit gebou word op die verwagtingspeletjie nie.  Verhoudings werk of dit werk nie, en ons laat maklik toe dat ons verwagtinge van mekaar eerder die mooi doodmaak as wat dit die issues oplos.
Eugene Drewermann, 'n duitse Teoloog skryf in sy boek "Op het raakvlak van hemel en aarde", oor die gelykenis van die saaier.  Nou, wat Drewermann interresant maak, is dat hy ook sielkunde deel van sy bybelanalise maak.  In die gelykenis, praat hy van die saad wat gesaai word, op die land.  Die land kan vergelyk word met mense en/of verhoudings.  Wanneer die saad opkom, en dit klein plantjies is, dan skoffel die tuinier die bossies uit, sodat die goeie plantjies kan groei en vrugte dra.  Maar die probleem is dat met die geskoffel, ons maklik die mooi ook uitskoffel, want ons weet nie altyd wat goed of onkruid is nie.  Wat ons uithaal is gebasseer op wat ons dink en sien.  Hy waarsku teen die skoffel, want soms is daar naderhand geen plantjies oor nie, want jy roei die mooi met die lelik uit.
Hoe waar is dit nie vir verhoudings nie, as ek begin karring aan dinge, word nie hekkiesatleet naderhand so moeg om te misluk en te hoor hoe verkeerd hulle optree, dat hulle hulle spykerskoene ophang, want wat is die punt van die lewe as alles wat jy doen veroordeel word.  Kort voor lank is daar nie meer 'n stukkie land met enige mooi blomme nie, want in my quest om die lelik uit te werk, roei ek die mooi ook uit.
'n Dogter vra vir haar ouma wat 50 jaar getroud is, hoe sy dit reggekry het.  Sy antwoord:  "My kind, ek het op die vooraand van my troue 'n lysie gemaak van alles wat my in jou oupa pla.  Toe het ek dit opgefrommel en in die snippermandjie gegooi en myself belowe om nooit weer daaraan te dink nie".  In terapiesessies het ek al vir mense gevra om lysies te maak van wat hulle NIE in die ander persoon van hou nie, en daar is gewoonlik nie genoeg papier en ink nie.  Dan vra ek hulle om neer te skryf wat hulle wel van hou in die persoon.  Sonder uitsondering is die laaste lysie die probleem, hulle sit en dink en dink, en dan is die lysie so kort.
Dit is makliker om fout te vind as goed, en in baie gevalle is dit juis die ondergang.  Maar, dit begin by jouself, in jou andersheid, gaan koop vir jou 'n boek, en bo-aan elke bladsy skryf jy die naam van belangrike mense in jou lewe.  Begin by God, dan jouself, dan jou huweliksmaat, dan jou eks, dan jou kinders ens.  Elke dag, skryf net een ding neer van wat mooi is in daardie verhouding/persoon.  Elke dag voor jy begin, lees eers weer alles wat jy die vorige dae geskryf het.  Ek waarborg jou, binne 'n maand gaan jy die wonderlikste verhoudings met al daardie mense rondom jou beleef.  En wanneer hulle iets doen wat jou woedend maak, maak oop jou boekie, gaan lees wat jy geskryf het en skryf 'n ekstra positiewe ding oor die persoon daarin. 
Kom ons gaan maak die wereld 'n beter plek, vir jouself en vir die mense wat saam met jou leef.

No comments:

Post a Comment