Saturday, August 3, 2013

Vrot appels

Dit is half 4 in die oggend en ek kan nie slaap nie. Soos ek wakker le, kom allerhande gedagtes in my kop, en so besluit ek om ietsie te skryf. Ek sit die lig aan om my rekenaar te gaan haal, maar dink toe dat ek vinnig op die stoepie 'n sigaret gaan raak, en so by my kool, gebeur iets kleins wat my herinner aan presies waaroor ek wou skryf. Die ander mense in die huis slaap natuurlik, en ek probeer om hulle nie wakker te maak nie. Stadig skuif ek die skuifdeur van die stoep oop, en stap in my versigtigheid in die windchimes vas en die bulder natuurlik die nag in.

Dit is net 'n bewys vir my van presies waaroor ek wou skryf, en dit is oor hoe dinge in ons lewens vermenigvuldig, veral die dinge wat ek negatief probeer vermy. Snaaks is dit dat die negatiewe dinge die vermoe het om vinniger te vermenigvuldig as die positiewe, of miskien is dit omdat ons die negatiewe so maklik vatplek in ons lewens gee. Dit is soos die eksperiment van die een vrot appel wat in die bak saam met die gesonde appels is. Dit is dalk hoekom die Bybel ons waarsku dat ons nie die duiwel en daarmee saam die negatiewe 'n vatkans moet gee nie, want die kanse dat die vrot appel die ander ook vrot gaan maak is groter as dat die ander 90% mooi appels die vrot van die een appel sal omkeer.

Elke dag gebeur daar miljoene dinge met ons, sommige daarvan positief en sommige negatief. Maar daar is daardie defining dinge wat of op een slag of herhalend in ons lewe ons lewens verander. Verskoon die engels, maar met defining dinge bedoel ek dinge wat 'n werklike merk op jou lewe maak en emosies by jou wakker maak. Dit kan daardie maatjie in graad 2 gewees het wat vir jou vertel het dat jy 'n haakneus het, of die rooikopmeisie wat vir jou vertel het dat jy krom bene het, enige oomblik wat jy kan onthou en wat jou geruk het. Soms is dit ook oor tydperke, want as mense oor jare vir jou vertel hoe krom jou neus is, gaan die patroon naderhand by jou vassteek. Ek noem spesifiek graad 2, want daar is mense wat so ver terug in hulle lewens hierdie momente ervaar het, en dit steeds met hulle saamdra tot die dag in die graf.

Die vraag is egter nie of sulke momente met jou gaan gebeur nie, maar wat jy daarmee doen. Noem dit nou maar die "negatiewe" momente is om een of ander rede soveel kragtiger as al die positiewe insidente. Vir jare kan mense jou vertel hoe mooi jy is, maar daardie vrot appeltjie met haar poniesterte se kommentaar is waaraan jy vashou. Dit is net weer die bewys van die vrot appel wat eintlik altyd die gesonde en mooi sal uitwis. Wat vir my verstommend is, is in ons wonderlike en tegnologiese tyd, met al die kwalifikasies en boeke en denke wat ons tot ons beskikking het, dat ons almal eenvoudig terugsit en kyk vir ons bak appels en absoluut niks aan die situasie doen nie. Ons sit en wag en kyk hoe ons hele pragtige bord appels opgevreet word, sodat ons met niks mooi in die lewe oorgelos word nie. Wat ook verstommend is, is dat mense so maklik oorgee aan hierdie kanker wat ons lewens vreet, en dan absoluut verbaas is dat daar niks mooi oor is in hulle lewens nie. Dit wil lyk asof ons niks meer breinselle het as 'n amoeba wat erens op 'n klippie deur die son weggebrand word nie. Wat dit nog erger maak is dat ons dan paraplegies pleit en vergaan omdat dit nou maar een maal my persoonlikheid is. Aag shame-pies. Ons lag daaroor, maar almal is skuldig daaraan.

Ek vind dit vreemd dat ons toelaat dat omstandighede ons lewens so dikteer. Ek vind dit totaal in teenstelling met die intelligensie wat God ons mee geskape het. Ek vind dit godslasterlik dat ons so omgaan met die lewe wat God vir ons gegee het. Ek dink dat dit die werk van die "bose" is en dit die rede is hoekom ons wereld in die toestand is waarin dit is. Wat ek ook doen in hierdie geval, is dat ek eintlik daardie arme dogtertjie met haar poniesterte, wat so by the way, nie eers die insident kan onthou nie, die "mag" gee om my hele bestaan te dikteer. Dalk het sy kommentaar oor jou krom neus gemaak omdat jy die laaste rooi suigstokkie gekry het wat sy wou gehad het, en dit die eerste van jou is wat sy kon raaksien. Nou loop jy die res van jou lewe rond met 'n etiket om jou nek van "Ou Hakneus". Snaaks soos dit mag klink, dit is presies wat ons elke dag doen.

Wat ons nie besef nie, is dat dit nie net daardie een vrot appel is wat my lewe vergiftig nie, maar omdat ek so ingestel is en ingekoop het in die hakneusgeid, ek gelukkig ook deur my lewe nog meer en meer vrot appeltjies langs die pad begin optel. Ek tel hulle nie net op nie, maar aag-shame, omdat ek nou so 'n ou mislukking is, en omdat dit my persoonlikheid is en ek niks daaraan kan verander nie, draai ek die vrot appeltjie mooi in 'n sakdoekie toe, en gaan plaas dit verder strategies in my appelbak. Dan, met al my insig oor hoe die wereld werk, is ek dan totaal verbaas as my verrotting soveel vinniger plaasvind.

In my eie lewe sien ek dit oor en oor hoe die "issues" wat ek het my lewe opvreet. Ek was in die laerskool, en my ma-hulle het in die A-Capella koor gesing. Dit was heerlik, want ons het baie getoer en op klein dorpies gaan sing. Op elke dorpie het ons by gasgesinne geslaap, en die een keer by mense gebly waar die oom se valstande syne was, maar hom nie mooi gepas het nie. Aan etenstafel het die goed geklingel, nie net van die tjoppies nie, maar sommer so met die mash ook. My mond het werklik oopgehang, want jy kon die hele eetpetalje tande, spoeg en al hoor. Van daardie dag af het ek 'n hele issue oor mense se tande en klanke wanneer mense eet. Nou dink ek maak ek my kinders gek, want met elke ete het ek kommentaar daaroor, en nie dat hulle slegte tafelmaniere het nie, maar my ingesteldheid daaroor vermenigvuldig die klanke in my kop. Niemand anders hoor dit nie, maar ek hoor dit teen 'n helse volume. Daai oom is lankal seker dood, en sy valstande saam met hom begrawe, nou loop ek steeds met die ding in my.

Wanneer sielkundiges met ons werk, hoor hulle in die eerste plek wat jou issue is, dan gaan soek hulle na die insidente waar dit jou gegraffeer het, en dan help hulle ons om met pollyfilla ons stukkie menswees weer toe te maak. Jy sien, niks in die lewe is finaal nie, net die dood. Alles wat gebeur is jou persepsie van dinge en persepsies is nie cast in stone nie. Alles hang af van hoe jy daarna kyk. So, ek stem saam dat die appel dalk 'n vrot appel is, dit is nie werklik waaroor dit gaan nie, want slegte dinge gaan met jou gebeur. Wat ek op sinspeel is daardie totale sinnelose manier wat ons op die grond sit met die bak tussen ons bene en kyk hoe ons vergiftig word deur die appel en absoluut niks daaraan doen nie. En wat dit erger maak is dat ons dan die simpatie van ander soek oor die vreeslike ding wat besig is om te gebeur. Soms dink ek dat ons nie opgee om 'n verandering te bring en die appel uit die bak te smyt nie, maar dit pas ons om iets te he om die skuld te gee. Solank die dogtertjie met die poniesterte deel van my bak appels is, kan ek mense kry om my jammer te kry oor my neus. As ek haar uitgooi, wat gaan ek dan doen, want ek het haar kommentaartjie tog nou so mooi gekoester al die jare, ek kan tog nie nou van haar ontslae raak nie.

Hierdie koestering van ons "misery" is ook so 'n vreemde konsep. Ek hoor mos hoe praat mense en dit word vir hulle 'n mode om vrot appeltjies met hulle saam te dra. Daardie absolute irriterende houding van mense wat se: "Aag jong, dit help nie om te kla nie, mense kan tog niks daaraan doen nie". Jy is DOODREG, ons wil dit nie eers hoor nie, dit is jou vrot appeltjie, laat hy jou vergiftig en los my asseblief net uit dat ek my appeltjies gesond hou.

Louise Hay is een van die interresantste skrywers wat ek teegekom het, nie omdat sy die wiel uitgevind het nie, maar omdat sy haar idees so mooi en wetenskaplik in pakkies kan sit. In haar boek, "Healing your life", skryf sy van haar ervarings en analises oor die laaste 45 jaar. Sy maak 'n konneksie tussen liggaamlike vergiftiging, naamlik siekte, en die sielkundige en emosionele oorsake daarvan. Dink weer aan die konsep van die bak appels, jy word vergiftig en siek want jy laat die vrot appels toe om elke dag deel van jou lewe te wees. Op dieselfde manier sien ons in NLP, dat wetenskaplikes nou ook mense se persoonlikhede begin assosieer met die tipe siektes wat hulle gaan kry. Jy sien, jy kan nie wegkom van die konsep af nie, wat jy koester, gaan jou hele lewe beinvloed.

Maar, daar moet egter ook 'n praktiese oplossing wees, maar die begin daarvan is om te besef hoe absurd en onlogies dit is om met jou vrot appels te sit en dit te koester. Eerstens is die probleem daarvan dat vrot appels NET tot een uiteinde kan lei, daaroor is daar nie twyfel nie. Tweedens is die probleem dat die vrot appeltjies naderhand 'n reukie gaan afgee, wat ook die mens om jou van jou af gaan wegjaag, want alhoewel misery van geselskap hou, gaan mense net so lank met jou reukie kan uithou. Derdens, kom oor jouself, jy gaan beslis nie die eerste persoon in geskiedenis wees wat deur koestering die vrot appels gesond gaan maak nie.

Die lewe is gemaak om geleef te word, maar met stank en vrot vergiftiging is die lewe eenvoudig een groot aaklige spul. Moet ook nie vir my se dat ek dit ver-ooreenvoudig nie, want die lewe is eintlik werklik so eenvoudig, dit is ons wat dit kompliseer met allerhande teoriee en verskonings. Glo my, ek het my deel van baie slegte appels en momente in my lewe gehad waarvan almal bewus is, maar ek weier om toe te laat dat my bak appels vergiftig word. Ek hou liewers net een gesonde appel oor en gaan koop nuwes, as om 'n hele bak vrot gemors met my saam te dra op die pad.

Wat gaan jy toelaat om jou finale defining etiket in jou lewe wees, graad 2 se hakneus of vandag se pragtige mens? Hoe lank gaan jy nog in die verlamming vassit totdat jy opstaan en die lewe wat God vir jou vandag gee uitleef met uitbundigheid?


Kies die lewe, kies die geluk, kies die positiewe, want wat jy kies gaan vermenigvuldig in jou lewe, dit is die waarheid!
Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment