Thursday, August 15, 2013

Die Sin van die Lewe

Ek is besig om 'n preek te skryf vir 'n begrafnis wat ek more moet doen van iemand wat selfmoord gepleeg het.  Sjoe, en ek wonder so by myself hoe iemand moet voel en wat moet gebeur vir mense om so ver te gaan. 
Ek dink onwillekeurig aan Job en sy beeld van die lewe.  Die boek handel oor Job wat 'n gelowige man was.  Hy was ook baie ryk en het baie besittings gehad, insluitende 'n klomp kinders.  Job is bekommerd dat sy kinders nie dieselfde geloof as hy het nie, en bring die hele tyd offers aan God vir sonde wat hy of sy familie "dalk" gepleeg het.  Satan se ook vir God dat die vir Job maklik is om in God te glo, want Job is ryk en gelukkig en het nog nooit onder moeilike dinge en tye deurgeloop nie.  In 'n vreemde draai in die storie kry die Satan geleentheid om Job te "toets" en te kyk of hy steeds sal glo wanneer hy alles verloor. 
Interresant is dat Job se vrou hom ook aanmoedig om op te hou glo, en in gesprekke met 3 van sy vriende word hy die hele tyd versoek om teen God te gaan, want kyk wat het God aan hom gedoen.  Job se vriende wys hom eintlik daarop dat hy iets teen God gedoen het wat veroorsaak het dat hy nou so swaarkry, want dit is God wat hom straf.  Job glo steeds dat hy onskuldig is en dat die straf onregverdig is.  Job gaan nie teen sy God nie, maar soek steeds antwoorde van hoekom sy lewe so 'n ommeswaai gehad het.
Na die gesprekke met sy vriende, kom God aan die woord.  In hierdie pragtige taal word 2 belangrike sake aangehaal:
1.        God vertel van sy almag en dat Hy die wereld geskep en gemaak het.  Job se vriende praat oor en van God vanuit 'n totaal verkeerde oogpunt.  En hoe waar is dit nie van ons eie bestaan nie, ons verwys en dink oor God uit menslike ondervinding en dink dat God se optrede vergelyk kan word met menslike optrede.  Ons vergeet dat God die "Gans Andere" is, en ons eintlik nie God se naam mag gebruik en beelde van Hom moet maak nie.  Nie omdat ons nie oor God mag dink of praat nie, maar omdat die beeld van God wat ons sal skep, nooit sal voldoen aan wie en hoe God werklik is nie.  Professor Johan Heyns het ons geleer dat "God nie IS nie", want die oomblik wanneer ek die woord IS gebruik, ontneem en verskraal ek wie God werklik is.  Verder, loop ek die gevaar om ander mense in hulle situasie en toestand te mislei met my beeld, baie dieselfde as wat Job se vriende met Job gedoen het.  God is wie God is, en al wat ek kan doen is om Hom te aanbid, te glo en te vertrou dat my lewe in Sy hand is. 
 
Dit mag vir baie mense voorkom uit die verhaal van Job dat daar met Job se lewe 'n speletjie gespeel word.  Dat dit of 'n stryd is tussen God en die Satan oor mag.  Verder dat God mens toets bo jou vermoens.  Eintlik is dit simbolies van wat geloof werklik moet wees, en dit is geloof, te midde van wat ookal in jou lewe gebeur.  Of jy swaarkry, of jy ryk is, of jy arm is, of jy siek is, of jy gesond is, of jy in stryd is, of jy alleen is, of jy vyande het, of jy gelukkig is – dit maak nie saak nie.  Werklike geloof is in die onsienbare – en daarom kan jy nie se dat God aanbidbaar is slegs wanneer die mooi jou tref nie, maar te midde van alles.  Dit si geloof, in die Almagtige God en nie soos mense dink dat jy slegs waardig is omdat jy vir hulle iets kan beteken nie.  God is God, Geloof is geloof – ongeag. 
Die vraag is:  "Hoe lyk jou geloof?"  Is dit geanker in menslike idees, waar dit eintlik net 'n ruiltransaksie is.  As God vir my goed is, aanbid ek Hom, as dinge nie reg loop nie, dan twyfel ek oor my geloof en twyfel ek in God. 
Eintlik speel die "bose" of "satan" in die verhaal 'n belangrike rol, want eintlik is die bose 'n verpersoonlikking van iets of iemand wat God nei "verstaan" nie, en wat soos mense dink.  Die Satan dink dat Job net in God glo omdat God goed is vir hom, maar hoe verkeerd kon hy nie gewees het nie.  God se liefde en genade is onvoorwaardelik, en daarom moet ons geloof ook onvoorwaardelik wees.  Weet God is daar en te midde van alles, en niemand kon vir Job anders oortuig nie.  Die vraag is egter hoe jy daaroor dink.
2.        God beloon vir Job.  Sy rykdom verdubbel, hy kry 7 seuns en 3 dogters by.  In die Bybel is die getal 7 'n volmaakte getal, dit is waar God (verteenwoordig deur die getal 3) sy sin kry met die aarde (verteenwoordig met die getal 4).  Die getal 7 beteken dan dat God en mens mekaar op 'n volmaakte plek ontmoet en waar Sy wil gestand doen.  Job se dogters is die mooiste in die land en Job leef nog vir 140 jaar daarna en sterf aan natuurlike oorsake.
Dit wat Job hier ontvang, is nie werklik 'n "beloning" van sy geloof nie, maar is baie meer as dit, want Job het geglo ongeag wat met hom gebeur het.  Hy het nie in God geglo omdat hy gedink het dat God hom gaan beloon nie.  Die vraag vir my vanoggend is of ek dieselfde geloof het.  Mense bid en glo "omdat", terwyl ons moet bid en glo "te midde" van alles.   Daardie oomblik wat jy God se almag besef, wanneer jy besef dat jy net leef en bestaan "as gevolg" van God, en God aanbid omdat hy God is en nie vir wat hy vir jou beteken nie.
Daar is soveel pyn en lyding rondom ons elke dag, en ons is uitgelewer aan 'n wereld waar mense jou veroordeel, waar jy baie vyande het en waar jy gepeper word met idees oor jou geloof.  Natuurlik word ons nie meer oor ons geloof vervolg in die ware sin van die woord nie, maar ons geloof word elke dag getoets.  Dawid sukkel dwarsdeur sy lewe met die idee oor wie God werklik is, want God is ook goed vir mense wat NIE in God glo nie.  Prediker vra na die sin van die lewe, want alles beteken eintlik niks nie.
Beide van Dawid en Prediker, en natuurlik ook Job, kom tot die konklusie dat dit nie saakmaak wat jy doen in die lewe nie, dit is onbelangrik wat met jou gebeur, dit is onbelangrik wat mense om jou dink, God is God, Hy is in beheer, en die grootste beloning vir jou lewe is wanneer jy God ontmoet en wanneer jy hierdie "onvoorwaardelike" genade van God ontvang en al wat jy in die lewe kan en mag doen is om God "onvoorwaardelik" te antwoord met geloof. 
Weet God is in beheer, moenie ophou glo nie, moenie ophou bid nie en moenie ophou vertrou nie, onvoorwaardelik!
"Soek eers die Koningkryk van God, en al hierdie dinge sal jou toegevoeg word"

No comments:

Post a Comment