Monday, September 12, 2011

Verandering

Een ding waarvan jy seker kan wees in jou lewe is dat dinge verander. Ek praat nou die dag met ‘n tannie wat 90 jaar oud is. Ek kon egter nie glo hoe baie dinge in haar leeftyd verander het nie. Van die Eerste Wereldoorlog tot Bin Laden. Van briewe skryf tot internet en BBM’s. Van perdekarre tot ruimtereise. Van posbome tot e-pos.

Daar is natuurlik baie mense wat hierdie veranderinge deurgemaak het, maar wat die tannie so besonders maak, was haar ingesteldheid om by te hou by die veranderinge. Sy het ‘n Blackberry en sy BBM. Sy het ‘n laptop en sy Skype haar kleinkinders in Kanada. Sy bestuur self haar motor en gaan fliek die laatvertoning by Brooklyn. Sy was 52 jaar getroud met dieselfde man.

Dan sien ek soveel mense wat elke dag so oor alles kerm en kla. Mense wat graag wil hê dat die lewe moet wees SOOS HULLE DIT VERLANG. Mense wat nie by die omstandighede om hulle kan aanpas nie, en krities is teenoor alles en almal om hulle.

In Kaapstad was daar ‘n maatskappy wat Ossewa wiele gemaak het. Toe motors hulle verskyning gemaak het, het die een seun van die eienaar sy pa raad gegee dat hulle dalk ‘n nuwe afdeling moet oopmaak wat wiele maak vir motors. Sy pa het summier geweier en gesê dat daar altyd ossewaens sal wees en dat hierdie nuwe dinge net ‘n gier is wat sal oorwaai. Kort voor lank, was hulle sonder ‘n besigheid en inkomste.

Ek ken baie mense wat presies op dieselfde manier kyk na hulleself, hulle wereld en ook hulle verhoudings. Mense wat werklik swaarkry, is mense wat hulle verset teen verandering. Mense wat nie die realiteit en die opwinding in verandering kan raaksien nie. Ek het op die plaas grootgeword en vir die eerste 5 jaar van my lewe het ons nie elektrisiteit gehad nie. Toe ons Pretoria toe trek, was dit vir my ongelooflik om in my kamer te sit en die ligskakelaar aan en af te sit. Ek onthou ook die eerste Telefunken televisie wat ons gekry het en hoe wonderlik dit was om die Blou Bulle daardie eerste Saterdag op ons eie televisie te kan kyk.

“In times of change, the adapters will inherit the earth, while the educated find themselves beautifully positioned for a world that no longer exists” ANON.

Hoeveel keer het jy al op ‘n Sondagmiddag gesit en luister na een van jou ooms wat vertel hoe wonderlik en fantasties dinge WAS? In hulle tyd het dinge so en so gewerk, en nou deesdae is alles een groot gemors. Van die kerk tot die politiek, van menswees tot huwelikke, van kinders grootmaak tot die persoon wat nie in die Spar met hom afrikaans praat nie. Van die prys van melk tot die nuus. Elke komponent “WAS” beter, en niks is goed of mooi in vandag of die toekoms nie.

Geen wonder dat soveel mense op allerhande koppilletjies moet wees nie. Ek praat nie van mense met werklike probleme nie, maar eerder van die mense wat as gevolg van hulle vasskop en vashou aan idees en lewens wat nie meer bestaan nie, iets moet gebruik om te kan funksioneer. Mense wat so vashou en fout vind met alles en almal om hulle. Dit is gewoonlik ook hulle wat jou wil oortuig dat mense nie kan verander of kan aanpas nie. Dit is natuurlik ook vreemd dat dit ook die mense om ons is wat vashou aan idees en lewens wat ook nie so fantasties was nie. Mense wat dink dat “better the devil you know than the devil you don’t”.

Dit is ook die tipe mense wat ook soveel verwagtinge het van hulleself en die lewe rondom hulle. Die woord verwag is vanselfsprekend, die wag op dinge wat ver is, en ek wat niks beheer daaroor het nie. Mense wat altyd wag vir ander en omstandighede om te verander voordat hulle enigsins gaan deelneem. Banksitter wat die lewe en die spel van buite dophou en nooit self deelneem nie, en net as impakspeler op die veld kom wanneer omstandighede dit noodsaak. Mense wat eers gaan of wil begin leef wanneer dinge hulle pas, wanneer hulle in die of daai huis bly, wanneer hulle skip inkom of wanneer hulle by die of daardie persoon gaan wees.

As ek dit so verduidelik, lag ek hardop. Geen wonder dat mense op medikasie moet wees nie, maar daar is ongelukkig geen pilletjie wat jy kan drink vir hierdie siekte wat gaan help nie.

Hoe die lewe is, is net hoe die lewe is. Jy kan op en af spring, maar dinge is soos dit is. Die lewe, die wêreld en die tyd loop aan, met of sonder jou. As jy nie kan aanpas nie, gaan jou lewe aanhou om te wees soos dit is. As jy nie vandag met jou kind speel of vir haar ‘n sprokie lees nie, gaan dit niks werklik verander aan die feit dat vandag verbygaan nie, maar jy gaan uitmis. As jy nie vandag iets lees om jouself te verryk in kennis nie, gaan die son vannaand tog ondergaan, maar jy gaan nie groei nie. As jy nie vandag aan jou drome werk nie, gaan die maan in elkgeval opkom vannaand. As jy nie vandag liefde betoon teenoor die belangrike mens in jou lewe nie, gaan jy elkgeval vannaand in die bed moet klim om te slaap. As jy nie vandag ophou met jou aaklige gewoontes nie, die son gaan more oggend weer opkom. Die lewe gaan gebeur, of jy nou deelneem en iets doen daaraan of nie.

Maar jy kan ook die verandering WEES en LEEF wat jy in die wêreld in jou en om jou wil sien. Net jy kan jou lewe verander en voluit gaan bou daaraan. Maar jy moet werklik wil en daadwerklik daaraan werk. Ek rook, en wil graag ophou. Maar hierdie woorde gaan my nerens bring as ek nie werklik ophou nie.

Ek word vreeslik kwaad vir mense wat sê: “Sjoe, ek wou nog altyd geleer het om klavier te speel”. Jy weet wat, jy sal nooit nie. As jy nie vandag begin om jou lewe in plek te plaas nie, maak dit nie saak nie. Dit gaan jou omtrent 5 jaar neem om te leer om klavier te speel. As jy vandag begin, gaan jy dan kan klavier speel. As jy niks doen nie, gaan jy oor 5 jaar elkgeval nie kan klavier speel nie.

Die lewe is nie kompleks of moeilik nie, die lewe is eenvoudig. Ons kompliseer dinge deurdat ons nie aanpasbaar genoeg is nie. Ons kompliseer dinge omdat ons in ‘n idee in ons koppe leef van hoe dinge was of hoe ons graag dinge wil hê. God het ons geskape met al die insig om te kan verander en aan te pas. As dit koud is, trek jy ‘n trui aan, jy kerm en kla nie dat jy koud kry nie, jy doen iets daaraan.

As jou lewe dan nou nie is wat dit moet wees nie, gevul met ongeluk en hartseer en pyn, gaan kyk of dit nie jou “resistance” teenoor die lewe en verandering is nie. Gaan pas aan by dit in jou lewe, en geniet vandag. Gaan wees die verandering, die mens en die wêreld wat jy wil.

“It does not help yourself or the world, when you sit in church and listen, but rarely do what is asked of you. Then rather stop wasting our time, you are just taking up space”

No comments:

Post a Comment