Wednesday, September 14, 2011

Die goed en die sleg

Elke dag is die televisie vol advertensies van skoonmaakmiddels wat kieme doodmaak. Jy ken daardie advertensie met die wasbak en die rooi goggas, en dan kom mamma met die wondermiddel en dan maak dit 99% van alle kieme dood. Ek wonder wat gebeur met daardie laaste 1%? Superdoders wat jou gesin en kinders veilig hou van siektes.

In sekere lande begin hulle nou hierdie tiepe superdoders verbied, aangesien die gifstowwe daarin die bakterie en kieme sterk maak, en dat jy later as dit nodig is, al hoe sterker gifdoders nodig het. Selfs in lande soos Nederland moedig hulle ouers aan om te begin om diere aan te hou, want daar is nie kieme wat kinders se eie ingeboude immuunstelsel ontwikkel nie, want hulle word te klinies groot.

Die teoloog, Eugene Drewermann, gebruik die gelykenis van die saaier op ‘n interresante manier. Hy begin die verhaal vertel, maar wys daarop dat veral wanneer die saad net opkom, dit baie moeilik is om te onderskei tussen die “goeie” saad en die onkruid. Hy waarsku dat ons versigtig moet wees om te vinnig en te gou die “slegte” te wil uittrek, want daarmee ruk ons dalk ‘n onskuldige goeie plantjie ook uit.

Ons leef in ‘n samelewing waar ons soek na NET die mooi en NET die goed. In onsself probeer ons ons slegte dinge wegsteek vir hulle om ons. In ons kinders is ons ingestel om die stout uit te roei en die goed te laat groei. So het ons ook geleer om so graag in ander mense en vir hulle hulle sleg uit te wys en oor te kritiseer.

Ek dink wat die twee voorbeelde hierbo vir ons wil vertel, is dat dinge wat ons nie pas nie en wat ons probleme mee het, dalk uitgeroei kan word, maar wat is die prys wat jy daarvoor betaal? Drewermann noem dit wel dat jy later, wanneer die tuin groter gegroei het, jy makliker kan sien wat die plante is wat onnodig is. Soos jy ‘n gesonder huis vir jou kinders gee, so stel jy hulle dalk eendag bloot aan groter “super-kieme”, wat moeilik gaan wees om uitgeroei te word.

Drewermann stel dit dat jy soms maar moet saamleef met die dinge in die lewe wat jou dwars in die krop steek, en nie so die hele tyd fout moet vind met jouself en die mense om jou nie. Hoeveel mense om ons is tog so ingestel om die foutiewelike persoon by die werk, in ‘n verhouding, in ‘n huis uit te snuffel, en soos met die spaanse inkwisisie op ‘n brandstapel aan die kaak wil stel. As ons kan ontslae raak van dit wat negatief is, gaan ons lewe daarom beter wees. Onthou natuurlik ook dat jy jouself en ander mense altyd sien vanuit jou eie omstandighede en jou eie ervaring van dinge. Soms is dit wat jy sien as negatief, dalk nie negatief per se nie, en dalk net vir JOU ‘n probleem. Dalk is dit gladnie vir die persoon ‘n probleem nie, of universeel dalk geheel en al aanvaarbaar. Wat doen ons dus, ons stel ‘n ultimatum om uit te ruk en te verbrand en weg te gooi, terwyl dit dalk iets is wat ek ook daarmee die goed uit iemand haal.

Dit is natuurlik belangrik dat mense in die lewe saam met ander leef en kan sê wat hulle dink en voel. Maar as ek die hele tyd op iemand se “slegte” punte fokus, en ek die hele tyd iemand kritiseer, gaan die persoon op die ou einde totaal en al sy eie redding erens anders gaan soek. Die goeie plante gaan ook son en water en kos soek, maak nie saak waar hulle dit kry nie.

As jy dit in jou lewe sal regkry om net die mooi dinge in mense kos te gee en te voed, gaan daar outomaties geen indringing van dit wees wat jou afsit nie, want die negatiewe gaan nie kos of water kry nie. Wat jy gaan voed en op fokus in jou lewe, dit gaan groei en sterker word en begin oorheers. Ek ken mense wat maklik vertel dat hulle “positief” is, maar wat so fokus op dit wat fout is in hulleself en die mense rondom hulle, dat die uitspraak eerder ‘n hoop is. Dit is ook ‘n sielkundige situasie, want sommige mense dink en hou aan dink dat die enigste manier om gelukkig en positief te wees, is wanneer alle onkruid wat HULLE pla uitgeroei en verwyder uit die lewe. Soms skep hulle na ‘n tyd ook sommer maar net situasies om hulle verslawing aan kritiek en fout vind te voed.

Dwarsoor ons lewens is daar altyd maatstawwe van goed of sleg. Soms, moet die wetenskaplike nie die eksperiment blammeer vir wat gebeur nie, maar na die kalibrasie van die meetinstrument gaan kyk. So moet ons ook ons lewens inrig en onsself afvra dat as alles om jou verkeerd en sleg en in desimale uitkom, is die fout nie dalk by jou as meetinstrument nie? Is jy en jou optrede nie dalk die oorsaak van die optrede van mense nie? Is jou liniaal reg? En wie het gesê dat jou liniaal die enigste is en op alles en almal van toepassing is? Jy kan tog nie met jou liniaal temperatuur meet nie? In dieselfde asem is jy nie die gawe vir die mensdom om vir almal voor te skryf wat om te doen en nie te doen nie.

Ons godsdiens agtergrond het natuurlik hierdie idee by ons geskep van sonde wat moet bely word, en ek wil nie daarop ingaan nie. In kriminologie het ons geleer dat die vrees vir straf nie iemand keer om dinge verkeerd te doen nie. Die waarskuwings op sigarette sien ek nie eers meer nie, dit maak nie saak watter tipe halwe swart long jy daarop gaan sit nie. Ek gaan steeds wil rook as ek wil rook. Dit is natuurlik so dat daar dinge is wat in jouself en tussen jou en ander mense gaan skuur. Dinge wat eenvoudig in jou pad gaan staan om gelukkig en suksesvol te kan wees. Daar is ook natuurlik in die tuin van die saaier die plante wat gaan vrugte dra en mooi blomme gaan gee, en die indringerbossies wat die kos en water gaan steel om oor te neem. Wat is dus nou die antwoord?

In die praktyk, hoe meer gifstowwe jy gooi in jou huis, hoe groter gaan jou “kieme” eintlik word en hoe meer “nuwe” kieme gaan ek begin raaksien. As ek in mense die sleg wil uitroei wat my pla, gaan ek nuwer en groter issues skep, en gaan al meer dinge my pla. Die Bybel leer ons ook dat ons nie mag oordeel nie, want die oordeel waarmee ons oordeel gaan later terugkom om ons te byt, want ons gaan oor dieselfde kam geoordeel word. Haal eers die balk uit jou eie oog, voordat jy die splinter in ander se oë raaksien. Mense wat in glashuise woon, moet nie met klippe gooi nie. Dit alles beteken dat as JY nie volmaak is nie, jy dalk totaal moet stilbly, want jy het nie kwalifikasies in chemie nie, en jy kan en mag nie in die tuin werk nie, want jy gaan meer skade as goed aanrig.

‘n Dogter vra die aand voor haar eie troue vir haar ouma: “Ouma was nou vir 52 jaar getroud met oupa. Hoe het ouma dit reggekry dat hy ouma nie mal maak nie?”. Die ouma antwoord toe: “Die aand voor my troue het ek ook getwyfel, en ‘n lys gemaak van al die dinge wat ek nie van hou in jou oupa nie. Ek het belowe dat dit die laaste keer is wat ek daardeur lees, en dat ek nooit ooit weer daaraan sal dink of iets sal sê daaroor nie, en dit verbrand.”

‘n Mooi les vir elkeen van ons, om dalk so effens genadiglik te wees met onsself, in die eerste plek, en met die mense om ons. Ons weet nie wat hulle deurgaan en wat gebeur met hulle nie, maar dit is beter om die mooi en die goed in mense te voed, as die negatiewe, want dit breek onsself en die mense om ons. Wys vandag God se genade en liefde vir die mense om jou!

Jy het dit in jou – leef dit uit!

No comments:

Post a Comment