Wednesday, September 7, 2011

"It is complicated"

Op facebook kan jy jou verhoudingstatus stel dat mense weet of jy enkellopend, in ‘n verhouding of getroud is. Daar is ook ‘n opsie wat jy kan kies “it is complicated”. Dit is baie vreemd, want wat is jy nou? Eintlik sê hierdie status dat iemand besluiteloos is, en dat enige een van die ander statusse van toepassing is of kan wees.

Mense besef egter nie, maar hierdie status wat jy vir die wereld openbaar, sê alles van jou karakter. Van die mense op my facebook is in verhoudings, maar hulle status reflekteer nie wat hulle werklik is nie en so mislei hulle hulleself en die mense om hulle. Dalk doen mense dit maar omdat hulle daardeur iets wil bereik of omdat hulle nie die waarheid wil leef nie.

In die hele lewe werk dit ook so. Ek sien soveel mense wat eintlik ‘n lewe leef van “it is complicated”. Hulle is so verward oor wie hulle is en wat hulle uit die lewe soek. Hulle maak nooit ‘n vaste en finale commitment teenoor die lewe of hulleself nie. Hulle leef een lewe, terwyl hulle voor hulle siele weet dat dit nie is wie hulle is nie. Hulle aksies en woorde reflekteer vir die wêreld ander dinge as wie hulle werklik is. Hulle neem nooit ‘n vaste besluit nie, maar leef eerder in die spasie van gekompliseerd, waar hulle hulleself opsies gee, maar dit is nooit opreg nie. Hulle aksies en hulle woorde gee hulleself weg. Die Bybel stel dit duidelik dat lou nooit werk nie, dit word uitgespoeg! Net soos op facebook, gaan die lewe jou ook kras en kru hanteer en misbruik as jy nooit ‘n vaste besluit kan neem nie.

Een van my vriende is ‘n veearts. Een dag is ons by mense en hulle probeer hulle hond leer om in die dag buite die huis te bly terwyl die deure oopstaan, maar in die aand mag die hond in die huis wees. Hy lag hom toe morsdood, want diere werk nie so nie. Jy is of ‘n binnedier of ‘n buitedier. Mense, met ons verhewe intellek en denke werk op dieselfde manier. Geen mens kan met onsekerhede en deurmekaar leef nie. Dit kompliseer ons lewens, en dit maak ons ongelukkig.

As dit by die Bybel en Godsdiens kom, is ek die laaste persoon wat glo aan fundamentalisme. Dit is die denke dat jy die Bybel en wat daar staan so letterlik opneem en woord vir woord, sonder enige konteks toepas. Ek het al baie draaie gemaak by verskillende hoofstroom en nie-hoofstroom kerke en gemeentes, waar mense probeer om op ‘n nuwe manier te dink oor God en Godsdiens. Soms voel dit vir my dat ‘n totale verwerping van alles ook ‘n mate van fundamentalisme is. Ek lewer nie kritiek nie, maar glo dat almal van ons tog iets glo en dit wat ons glo moet ons tog uitleef.

Wie of wat jy ookal is, êrens in die lewe moet jy standpunt en status inneem. Jy kan nie net rondfladder en op elke blommetjie in die oomblik wil gaan neerplak omdat dit jou op daardie stadium pas nie. Erens moet jy in die lewe ‘n besluit neem, en dan moet jou woorde en jou aksies daarby inpas. Om geen standpunt in te neem en in niks te glo nie, is ook ‘n leuen.

In verhoudings leef soveel mense om my in ongelukkigheid. Hulle leef saam, maar is nie bereid of lus om elke dag en elke oomblik ‘n volslae keuse en commitment te maak aan mekaar en die verhouding nie. Mense lieg vir hulleself, en mense laat toe dat hulle idees en wie hulle werklik is en wil wees deur die rookskerm van leuens oorskadu word. Mense kan en mag en moet elke dag in verhoudings ‘n keuse vir mekaar maak en commit aan mekaar sonder voorbehoud. Mense moet ophou om oor hulle verhoudings te skryf dat dit gekompliseerd is, en eerder besluite neem of een kant toe, of ander kant toe. Mense verwoes mekaar deur onsekerheid. Om hierdie rede se die Bybel dit duidelik dat die waarheid mense vry maak.

Een van die dinge van kinders grootmaak is dat kinders struktuur en konsekwentheid nodig het. Amper soos die voorbeeld van die hond, kan kinders werklik net ontwikkel as hulle weet wat rondom hulle gebeur en aangaan. Dit is nie altyd eenvoudig in ‘n wêreld van gebroke huise nie, maar tog moontlik indien hulle standvastige ouers het met standvastige idees wat hulle lewens help rig. Soms voel dit vir my as ek na mense kyk asof hulle kinders meer stabiliteit en konsekwentheid het as hulle ouers. Waar die kinders die stabiele faktor moet wees omdat hulle ouers “it is complicated” oor hulle lewens skryf. Almal van ons as grootmense het ook konsekwentheid en struktuur nodig.

Alles in die lewe is ‘n keuse, erens in die wereld moet jy besluite neem. Miskien is die dag vandag dat jy wakker geskud word uit jou “it is complicated” status en standpunt innneem vir jouself, oor jouself, oor jou verhouding, oor jou verhouding met God. Die Bybel stel dit duidelik dat jy slegs ‘n goeie en sterk huis kan bou op goeie en sterk fondamente. En daardie fondamente is jou keuses wat jy maak.

Gaan vandag en gaan leef die status wie en wat jy werklik is, en wees eerlik met die lewe en die mense om jou!

No comments:

Post a Comment