Tuesday, September 20, 2011

Die lewe van toelaat

Vandat ons klein kindertjies is, sien ons hoe die wêreld ons wil beheer en bestuur. As jy soos ek ‘n bietjie van ‘n rebel is en dinge nie vir soetkoek opvreet nie, word dit dalk nog moeiliker. Vir jou ouers wat jou op die “regte pad” wil plaas is dit natuurlik ‘n groter uitdaging om met so ‘n kind huis te hou.

Ek het egter baie vroeg agtergekom dat om te konformeer, die pad van die minste weerstand is. Om die rol te speel van om te aanvaar wat rondom jou aangaan en gebeur. Die uitdaging van hierdie tipe optrede is dat dit van korte duur is, maar dat dit storms in jou veroorsaak. As jy “oneerlik” is met jouself en die mense om jou, in hierdie sin van die woord, word jy ingesuig in ‘n lewe waar jy al meer konformeer, en uiteindelik soveel van jouself verloor, dat jy soms nie weer jou pad terug kan vind huistoe nie. Wie jy in jou egtheid is, of wat jy veronderstel was om te word, begin jy vergeet.

Ek sien daagliks aan die een kant mense wat so leef en eintlik moed opgegee het om hulleself op een of ander wyse te vind en te herontdek. Mense wat so sukkel om hulle essensie te kry, dat al die boeke en programme wat ons vertel dat ons onsself moet wees hulle nie kan help nie. Dit is dinge wat in die basis van alles van ons verwag om onsself aan ons skoenriempies op te tel. Omtrent onmoontlik.

Wat eintlik die antwoord is, is dat ons nooit ander moet druk en onsself moet toelaat om gedruk te word tot op die punt waar dit amper onmoontlik is om onsself weer te vind nie. Dit is amper net so onmoontlik as om jouself aan jou skoenriempies op te tel. Maar daarin is eintlik die roeping wat ons teenoor die mense in ons lewens en veral ons kinders het.

Ons is so geprogrammeer dat ons wil oorwin en oorheers. Wat ek dink en doen, verwag ek, moet almal dink en doen en mee saamstem. Ons manipuleer, ons baklei en stoei die ander persone rondom ons tot oorgawe. Amper soos ons voel oor ‘n supermoondheid wat ander minderhede oorheers en oorwin, nie omdat hulle reg is nie, maar omdat hulle die slaankrag het.

Jy onthou ook daardie onderwyser wat jou op skool met soveel vrees belaai het en wat sy mes vir jou ingehad het. Daardie persoon in wie se klas jy jou mond gehou het, eerder as om hulle die satisfaksie te gee om jou lewe oor te neem. Jy onthou dalk daardie boelie wat jou in vrees gelaat het, en wat jou lekker koeldrank by jou gesteel het. Dalk ‘n pa of ma wat jou lewe so totaal ondraaglik gemaak het en jou laat voel het soos ‘n bonsai-boompie wat beperk word in jou groei.

Dit is dus ons roeping om te kyk na ons eie gedrag. Is jy die boelie? Is jy die persoon wat ten alle koste JOU wil op almal afdruk? Is jy nie dalk die een wat jou maat in die verhouding weerhou van groei en dat hulle wortels kan versprei en hulle ‘n volledige jakkalsbessie kan word wat koelte vir mense om jou gee nie? Is jy nie dalk die oorsaak vir soveel onheil en pyn en lyding in ander se lewens nie?

Die uiteinde van hierdie gedrag is altyd dieselfde, en dit is dat die mense om jou jou verlaat. Jy sal onthou dat die boelies op skool later niemand meer oor het om mee vriende te wees as mense wat dieselfde dink en doen as hulle nie.

Talle kere het ek met tieners in my kantoor gesit wat so hunker na ‘n verhouding met hulle ouers, maar wat eenvoudig nie kan nie oor die militaristiese manier van ouerskap. Mense wat sê: “Kinders word gesien en nie gehoor nie” of “jy is ‘n kind, wat weet jy van die lewe”.

Gelukkig werk dit so dat hierdie tipe mense altyd ‘n graf vir hulleself grawe. Die rede is eenvoudig, en dit is dat jou lewe JOU lewe is, jou denke JOU denke en jou aksies JOU aksies. Elke mens op aarde is ‘n individu, en het die reg om hulleself te wees. Ek kan wel my opinie oor hulle aksies en selfwees hê, maar dit is HULLE lewens en besluite. En in baie gevalle gaan wat ander sê en doen reglynig wees teenoor wat my idee is. Maar net omdat dit van my verskil, beteken nie dat dit verkeerd is nie.

Oor die laaste klompie maande het ek tot die besef gekom dat ons meer bereik deur mense te laat gaan om self hulle prosesse af te handel. Wat jy dan agterkom en besef is dat wanneer so ‘n persoon wel doen wat jou gelukkig maak, hulle dit doen in opregtheid en vanuit hulle diepste self. Om iemand te dwing om na ons pype te dans, maak iets in mense wakker van rebellie en ongemak. Mense gaan ons beveg as hulle in hulle essensie bedreig voel, dit is ‘n natuurlike aksie van mense.

Ek voel dat die wêreld ‘n beter plek is en kan wees waar ons mense om ons toelaat om hulleself te wees. Waar mense die ruimte het om self te besluit wat hulle wil en nie wil doen nie. Dit is soos die rympie sê: “If you love something, set it free. If it comes back to you, you know it is yours. If it doesn’t, it never was”

Niemand behoort aan iemand anders nie, en daarom het niemand die reg om vir jou te besluit en voor te skryf wat jy moet doen nie. Daarom mag jy dit ook nie doen nie, want dit is ‘n universele reël. Miskien lê die grootste uitdaging van die mensdom presies hierin, om ander toe te laat om te mag leef, om iemand die sonlig toe te wens en die asem te gun.

Op dieselfde wyse is God met ons. God het ons vrye wil gegee om vir onsself te kan besluit, selfs dat ons Hom kan verwerp as ons wou. Die feit dat God ons toelaat om hierdie keuses self te maak, is die grootste geskenk van die liefde. Maar een ding is wonderlik, God bly lief vir almal, al verwerp hulle HOM. God bewys genade aan almal, selfs al kruisig hulle HOM. Seker een van die wonderlikste aanhalings is: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Selfs in daardie oomblik van die grootste verwerping, nog steeds liefde, deernis en genade te kan wys.

As ons hierdie kykie in God se hart kan vat op ons pad vandag, sal die wêreld ‘n beter plek word. Sal ons ‘n fantastiese huwelik hê en sal ons kinders ekstaties gelukkig te wees. Is dit nie van alle tye af ons roeping om die voorbeeld van God in die wêreld te wees nie? Miskien, as ek so na my eie lewe kyk, het ek dalk vir ‘n oomblik vergeet WIE en WAT God is en beteken vir my. Dalk is dit nodig vir ons om te besef dat ons nie self God moet speel in almal se lewens nie, en dalk God en sy manier, pad wil en proses moet vertrou met die wêreld en mense om ons.

Gaan vandag en hou op om die mense om jou in te breek en af te breek. Gaan dalk en haal die stibeul van woede, wraak, beheer ens uit die mense om ons, en kom ons laat mense toe om self te wees. Wat is mooier as ‘n perd wat losgelaat word en op sy eie kan hardloop en spring in die groene gras en kan bokspring wanneer hy wil?

Dalk is dit wat ons almal nodig het en wat die wêreld om ons gaan genees?

No comments:

Post a Comment