Tuesday, October 27, 2015

Die mag van die gewoonte


Ons het sulke nuwe generasie hysbakke by ons gebou.  Jy druk die nommer van die vloer waarheen jy wil gaan aan die buitekant van die hysbak.  Die hysbak wys dan buitekant vir jou die hysbak wat jy moet gebruik, A, B of C.  Nou, soos julle kan dink is dit 'n vreeslike groot aanpassing vir mense, veral omdat die sekuriteit nie vir besoekers vertel hoe die hysbakke werk nie.  Daar is 'n verskeidenheid van maatskappye wat kantore in die gebou het, o.a. ook 'n konsulaat waar mense vir hulle visums kom aansoek doen.  Dit is baie interresant hoe mense sommer net in die eerste en beste hysbak klim, omdat hulle gewoond is daaraan.  Ek moet ook noem dat daar geen knoppies aan die binnekant van die hysbak is nie, so as jy in een geklim het, moet jy eers klaar ry tot op die vloer waar die hysbak voor geroep is voordat jy kan uitklim om 'n ander vloer te kies.


Ek vind dit ongelooflik insiggewend hoe mense sommer net in die hysbak klim, en dan met verbasing agterkom dat hulle nie 'n keuse het aan die binnekant nie.  Ons is so vasgevang in die mag van die gewoonte van in die eerste hysbak inklim en daar binne ons keuse uitoefen, dat mense nie oplet nie.  Ek vang myself natuurlik dat ek die hysbak bestel aan die buitekant, maar nooit kyk of ek in A, B of C moet klim nie.  Telkemale maak die hysbak so vinnig toe dat ek nie in tyd is nie, en dan moet ek dit weer bestel wat natuurlik baie tyd neem.


Dit laat my wonder hoeveel sulke dinge ons in ons lewens outomaties aangeleer het, wat dit vir ons moeilik maak om te bereik wat ons wil?  Dit is een van daardie ou gesegdes van Einstein wat gese het:  "The definition of insanity is doing the same thing over and over again, and expecting a different outcome".  En dalk is ons ongelukkigheid dalk eerder gekoppel aan 'n nuwe hysbak met nuwe aanwysings, maar ons kom telkemale op die verkeerde vloer uit, met rooi gesig en skaamte en rigtingloos, omdat ons nie oplet nie, en omdat ons nie aanwysings het nie.  Ons verval soms so in ons eie manier van doen, dat die gewoonte oor ons 'n "mag" begin uitoefen.  Ek sien daagliks mense om my wat hulle patrone, werkend of nie-werkend toepas, maar hulle verwagtinge is dat hulle 'n ander lewe soek.


Die hysbak het my nou oor en oor geleer, ons hou nie altyd van verandering nie, en daarom klim ons soms net op enige hysbak, sonder om twee keer te dink.  Ons kom baie keer in die moeilikheid in ons lewe, want ons "verwag" net dat dinge op dieselfde manier moet werk as wat dit nog altyd gewerk het.  Ons ondervinding behoort ons ook te leer dat dit nie die geval is nie.  Een van die grootste kontante is verandering.  Verandering en nuwe maniere is deel van ons lewe, en selfs ook om by dieselfde vloer uit te kom, verg daagliks van ons om op 'n nuwe of ander manier daar uit te kom.  Dit is nie altyd in ons beheer nie, en daarom moet ons elke oomblik van ons lewens bewus te wees van wat rondom ons gebeur.


In die hysbak het ek al telkemale gehoor hoe mense redeneer of die sisteem nou simpel of oulik is.  Dalk spandeer ons te veel tyd om te filosofeer oor dinge wat ons nie kan verander nie.  Die lewe is so, as ek per hysbak wil ry na waar ek wil wees in 'n gebou, dan moet EK aanpas en ophou verwag dat dinge by my moet aanpas.  Dit is ook 'n gewoonte wat ons aangeleer het, om graag te soek dat dinge ons in die lewe pas.  Ek dink ook nie die ontwerper van die hysbak het opsetlik probeer om JOU uit te haal of die lewe vir JOU per se moeilik te maak nie.  Gary Player het mos altyd gese:  "Play the course as it is and not as you would like it to be".  Breek die mag van DIE gewoonte by jou om dinge altyd in JOU guns te soek, want wat vat dit nou van jou om te konformeer aan die lewe en uitdagings wat aan jou gestel is? 


Dalk moet jy eerder dink aan hoe oulik die nuwe hysbak is, en dat jy volgende keer as jy by 'n soortgelyke hysbak kom, ander kan help om by hulle vloer sonder moeite of frustrasie uit te kom.  Dalk moet jy dink dat daar 'n oulike rede kan wees hoekom die hysbak op die manier werk en dat dit jou eintlik baie tyd spaar, want die hysbak in NET daar vir jou en jou vloer.  Jy het nie nodig om op elke vloer te stop en te kyk of te wonder waar jy is nie, dit is doelgerig. 


Die mag van die gewoonte kan soms jou lewe totaal ondraaglik maak, of dit kan jou lewe gemakliker maak.  Dit is menslik om nie van verandering te hou nie, want dit laat ons onseker.  Deesdae, as jy nie verandering omarm nie, gaan jy 'n moeilikheid ondervind.  Ek verwys altyd na my ma wat in haar 70's is en hoe sy tegnologie aangryp.  Sy het 'n smartphone en sy weet hoe dit werk, want sy het besef dat whatsapp en die ander funksies haar lewe makliker en beter maak.  Ander ouens is nog vas aan hulle Nokia 2110i wat hy met 'n beltknippie aan sy sy dra, en vertel vir jou dat hy net wil bel en sms.  Dit is SY keuse, en daarmee het ek geen probleem nie, maar as jy eers besef dat jy 'n sms makliker met 'n tasskerm kan stuur waar jy nie die getalleknoppie oor en oor moet druk nie, sien jy die nut daarvan in om tog jou gewoonte te breek.


In ons persoonlike lewens hou ons ook van patrone en resepte.  Ek sien soveel mense wat so vasgevang is in hulle ongeluk en hartseer, en maar eerder daarby bly as om aanpassings te maak.  Ek dink dat as jy weier om te verander, en jou voet neersit dat jy die hysbak se knoppies aan die binnekant wil druk, jy welkom is om dit te doen.  Jy kan in elke hysbak spring en vir almal vertel hoe simpel die sisteem vir jou is, en dalk kom jy toevallig op die vloer uit waar jy wil wees.  Maar se nou maar niemand gaan vandag na vloer 3 toe nie, of hulle ry dalk nie met die hysbak wat jy kies nie?  Dan gaan jy baie gefrustreerd raak met jou situasie, en jy gaan naderhand almal om jou en jou ander passasiers en die eienaar van die gebou blammeer vir die feit dat jou lewe nie uitloop soos dit moet nie. 

Vandag is die dag wat jy, en ek bedoel nou nie drasties nie, die vryheid het om jou situasie te verander.  Ek praat baie daaroor, en mense dink ek is vreemd, maar ek het my denkwyse omgedraai.  Ek het aangeleer om dinge op 'n ander manier te doen, en daardeur nie noodwendig my doelwitte en drome op my maag geskryf nie.  Ek het ook nie noodwendig nodig om myself 'n breinoorplanting te gee nie, ek kom steeds op dieselfde plekke uit waar ek wil wees, maar deur die gewoonte van hoe ek daar wou uitkom te breek, het ek aangepas en kom ek vinniger by my vloer uit. 


Dalk is jy vandag ongelukkig of hartseer of depressief, ek weet nie wat jou situasie is nie.  Gaan sit 'n oomblik stil en gaan vra jouself of jy nie so onaanpasbaar is en dalk so voel omdat jy sinneloos soek na die hysbak wat werk soos JY aan gewoond is nie?  Miskien is jy so oorweldig deur dinge om jou, dat jy nie fokus op die geleenthede om die lesse te leer van hoe die nuwe sisteem werk nie.  Dalk is jy ook te skaam om vir ander te vra HOE hulle funksioneer in die sisteem.  Dalk is jou opsie om rond te kyk en as daar niemand is om te vra nie, jouself so bietjie fiks te maak en die trappe te vat, want wie het nou gese jy MOET die hysbak neem.


Moenie in die lewe die LEWE uitdaag en blammeer nie, dalk moet jy die MAG wat jou gewoontes oor jou het breek en as jy blaam moet plaas, DIT blammeer vir hoe jou lewe uitwerk.


Gaan lewe in kursief gedrukte letters vandag!  As iets nie werk nie, gaan doen dit anders!



Confidentiality
The e-mail and attachments are confidential and intended only for selected recipients. If you have received it in error, you may not in any way disclose or rely on the contents. You may not keep, copy or distribute the e-mail. Should you receive it, immediately notify the sender of the error and delete the e-mail. Also note that this form of communication is not secure, it can be intercepted, and may not necessarily be free of errors and viruses in spite of reasonable efforts to secure this medium. Any views and opinions expressed herein may not necessarily be those of the Liberty group of companies. The aforementioned does not accept any liability for any damage, loss or expense arising from this communication and/or from accessing any attachment.
libdisc25112014

Monday, October 26, 2015

Moenie aan jouself doen wat jy nie wil he ander aan jou moet doen nie!

Daar gebeur baie dinge met ons elke dag, dinge wat ons dalk van hou en dinge wat ons dalk minder van hou.  Baie van daardie dinge kan ons nie beheer nie, soos die verkeer of iemand anders se optrede teenoor ons.  Maar soms vind ek dit by myself dat ek my eie grootste vyand is.  En dit is nogal hartseer dat 'n mens jouself so kasty en pynig. 


Van kleins af praat mense van die term "selfbeeld", en dat jy vir jouself 'n positiewe denke oor jouself moet ontwikkel.  Deur die jare is dit soms die "mislukkings" wat ons beeld van onsself skaad, en naderhand glo jy dat JY 'n mislukking is.  Jy glo naderhand niks goed meer oor jouself nie.  En dan begin daar 'n bose kringloop waar jy met hoe minder en minder selfvertroue leef.  Dit gaan al slegter met jou selfbeeld, totdat jy amper wil moed opgee en niks meer goed van jouself dink nie.  In die oggend staan jy op met 'n negatiewe houding, en naderhand gun jy niks meer vir jouself nie.  Jy begin amper dink dat die lewe JOU iets skuld, en in dieselfde asem het jy amper die gevoel dat die wereld iets teen JOU het, want niks in jou lewe werk mooi uit nie.  Dag na dag koester jy van hierdie denke, veral wanneer dinge nie jou rigting gaan nie, en dan kry jy al die bewyse vir jou denke.  En so word jy daagliks ingetrek, dieper en dieper in die kolkgat van depressie.


Sommige mense in depressie bevind hulle vinnig en maklik in hierdie posisie.  Dan is dit dalk ook nie eers meer die mense of omstandighede om jou wat jou aftrek nie, maar jyself.  Nog voor jy met enige ding begin, glo jy al klaar dat dit nie gaan werk nie.   Jy maak nie meer 'n weddenskap op jouself nie, want jy verloor nog voor jy begin het.  Dan word dit 'n ongelooflike gevaarlike situasie, want dan voel jy absoluut 'n mislukking, wil niks meer aanpak nie. 


Interresant is weereens, jou gevoel van mislukking het wel uit te waai met situasies waarin jy soos 'n mislukking gevoel het, maar het meer uit te waai met jou reaksie op die situasie wat plaasgevind het.  Jy vergeet soms dat JY altyd 'n keuse het in HOE jy op situasies gaan reageer, alhoewel jy nie altyd kan beheer WAT met jou gaan gebeur nie.  Daar is soveel sosiale eksperimente op tweelinge gedoen wat vir ons bewys dat alhoewel 2 mense geneties amper dieselfde is, en aan dieselfde omstandighede blootgestel word, verskillende reaksies daarop kan toon.  So in die eerste plek, dit is nie altyd die omstandighede wat die skuld moet kry nie, dit is dalk meer die manier HOE jy dit toelaat om jou te beinvloed.

In die opskrif van hierdie stuk se ek dat jy jouself moet hanteer soos jy graag wil he ander mense jou moet hanteer.   Dit is duidelik al bewys, dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy jouself nie op dieselfde manier EERS hanteer nie.  Soms is daardie negatiewe binnestemmetjie van jou jou grootste vyand, en nie die mense om jou of jou omstandighede nie.  Dit is jy wat aan jouself grense stel.  Natuurlik mag jy glo aan jou beperkings, maar onthou dit is net jy wat dit beheer en bestuur.


So, dit wat jy voel wat ander aan jou doen en jy nie van hou nie, gaan in jou glashuis in en vra jouself af of dit nie maar net 'n spieelbeeld is van wat jy van jouself dink en wat jy aan jouself doen nie.  Dit is soms ons self en niks en niemand buite ons wat ons glashuis laat breek nie. 


Die antwoord is op die ou einde om die mooi in jouself te gaan herontdek.  Dit is dalk 'n goeie tyd om jou hand in eie boesem te steek en te kyk hoe jy met jouself omgaan en ophou om die wereld om jou die skuld vir jou eie ongeluk te gee. 


Dalk is dit juis die dag om jouself met so 'n klein bietjie deernis te hanteer.  Onthou, die oefening is nie dat jy jouself nou nog meer moet jammer kry of om 'n klomp verskonings te maak vir dinge nie.  Onthou, dit gaan hier oor die konsep dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy nie eers bereid is om dit self te doen nie.


Geniet die week, en gaan wees mooi met jouself!

Monday, October 5, 2015

Soek die mooi in alles

Ek het nog altyd geglo dat mense inherent goed is en in hulleself mooi is.  Dit is ons ervaring en omstandighede wat ons soms dwing in 'n ander rigting as wat ons graag wil.  Ek moet ongelukkig verstaan dat die Bybel 'n ander standpunt huldig, en vir ons se dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Ek het die voorreg gehad om 4 van my eie kindertjies se geboortes te aanskou, en as jy daardie eerste oomblik van geboorte sien, kan jy onmoontlik dink dat daardie 'n sondige wesentjie is.

Ek gaan myself nie nou verstout om met die Teoloe te stry daaroor nie, maar in my kop is ons skepsels van God en nie van die wereld nie.  Ons is in liefde ontvang en gebore, dit is die wereld om ons wat ons deur ondervinding die slegte en stoute dinge leer.  Ek stem wel dat daar 'n skadukant in ons elkeen is, en dat ons wel deur God geskep is met die vrye wil om te kies welke kan ons in die lewe gaan kies. 

Wanneer ek so op Facebook rondblaai, verwys mense graag na al die "morone" en simpel mense om hulle.  Soms is mense sarkasties, maar ek kry die idee dat ons soms wel dink dat almal om ons simpel en stupid is, en ons die enigstes is wat die mag en pag het om die "normale" bordjie om ons nekke te hang.  My lewe het verander die oomblik wat ek probeer het om die mooi in ander raak te sien.  Jou ingesteldheid oor die wereld verander die oomblik wat jy eerder begin om die mooi in ander te soek, eerder as die slegte.  Wanneer jy daardie deernis van Jesus aanleer, gebeur iets wonderliks in jou lewe.  Skielik is jy nie besig om stokke te soek om ander mee te kasty nie, maar met 'n liefdevolle hart plavei jy vir mense 'n pad om gelukkig en hulleself te kan wees. 

Vir lank het ek, in my eie lewe, probeer om dinge en mense te druk in die rigting van perfeksie.  Ek wou hulle in kassies indwing om sodoende te word wat ek van hulle gesoek het.  Ek dank die Vader dat ek deur baie pyn en leiding wel die les geleer het om te laat gaan.  Mense om my verstaan dit nie altyd nie, en sien dit as 'n swakheid, maar dit is juis waar ek dink volmaakte geluk en wasdom van afhang.  Om sag en met deernis te leef IS ons roeping, en dit IS ons Godgegewe gawe om uit te leef.  Jesus het vir ons 'n fantastiese voorbeeld gestel om nie altyd almal te veroordeel nie.  Jesus is veroordeel omdat hy met sekere mense in die samelewing moeite gedoen het.  Dit is die grootste boosheid van menswees om altyd ander te veroordeel.  Niemand is perfek nie, almal het foute, maar almal het ook skoonheid in hulle.  Dit beteken nie dat ek my kop in 'n gat druk en summier dink dat alles in die lewe om my perfek is nie, inteendeel.  Wat ek wel glo is dat almal die reg op lewe en asem het, en natuurlik raak ons ongelukkig as ander ons reg op lewe ontneem.

My standpunt daaroor is mooi uiteengesit in my blog oor Be-oordeel en Ver-oordeel.  In kort beteken dit dat ek wel standpunt mag inneem oor mense en dinge om my, maar dat ek nooit die mens mag veroordeel nie.  Ek mag my idees huldig, maar ek mag nooit dink dat ek die enigste is wat reg is en almal moet na my pype dans nie.  Die Bybel leer ons beslis dat ons nie mag oordeel nie, want ons sal in dieselfde lig ge-oordeel word.  Die spreekwoord lei ook mos dat mense wat in glashuise bly nie met klippe moet gooi nie, en dat jy die balk eers uit jou eie oog moet haal, voor jy fokus op die splinter in ander se oe.
In dieselfde opsig, soek die mooi in jou en bou dit uit.  Hou op om verskoning te maak vir wie en wat jy is.  Jy is dalk sag en emosioneel, of watter persoonlikheidseienskap jy ookal uitleef.  Soek die mooi in jouself vandag en gaan leef dit uit.  Hou op om vandag so hard op jouself eerstens te wees, en tweedens op mense om jou.  Soek die mooi om jou en in jouself.  Vind vrede by jou mooi dinge, en hou op om tevergeefs vir die res van jou lewe jou skadukant te beveg. 

In die "law of attraction" leer ons dat jou brein net op een ding op 'n slag kan fokus, maar ook dat jou brein nie kan onderskei of dit wat hom gevoer word waar of vals, goed of boos is nie.  Dit werk amper soos met 'n rekenaar wat nie oordeel wat jy op hom skryf of doen nie, maar slegs uitvoer wat die opdrag is.  Indien ek dus nou daagliks op my negatiewe dinge fokus, of die van ander, vermenigvuldig dit gewoonlik.  Dit kry kleintjies in jou kop, en daarom moet 'n ou die paring van energie en negatiwiteit onmiddelik stop.  'n Vrou vertel nou die dag vir my al die dinge wat haar man verkeerd doen, en lag toe effens vir haarself, dat sy stemtoon haar ook nou begin irriteer.  Op dieselfde manier, as jy fokus op die mooi in jou en ander mense, dan gaan die mooi ook vermeerder. Dit is dieselfde konsep wat aan die werk is in ons koppe. 

Ek vertel altyd die storie dat 'n klomp mans so bymekaar sit en oor hulle vrouens en huwelike begin praat.  Dit is mos amper mode om die ander geslag af te kraak, en dan hoor jy nie net die waarheid nie, maar ook die stigmas wat ons aan die ander geslag toedeel.  Kort voor lank word jy so ingetrek by die situasie dat jy sommer vir JOU vrou ook kwaad is.  Wanneer dit by ons kinders kom, is ons vreeslik ingestel op die feit dat hulle nie aan negatiewe dinge blootgestel moet word nie.  Maar doen ons dieselfde met onsself?  In watter mate stel jy jouself bloot aan negatiwiteit en swak invloede?  In die rekenaar wereld praat hulle van "garbage in, garbage out" en ons breine werk presies dieselfde. 

Nee man, kom ons begin ons wereld verander deur meer sagkuns met onsself en mense om ons om te gaan.  Dit beteken nie dat jy moet kondoneer wat mense doen nie, maar jy kan tog eerder op die vreeslik baie mooi in jou en die mooi in ander mense fokus.  Net omdat iemand anders iets "negatiefs" doen, het jy steeds die keuse om nie toe te laat dat dit jou beinvloed of nie.  Die lig het nog altyd die duisternis oorweldig, maar jy moet die lig se skakelaar aansit.  Dalk moet jy en ek vandag die lig in onsself, in ons lewensmaat, in ons kinders, in kollega's en in almal om ons soek.  Dink net wat sal gebeur as almal vandag net vir een persoon iets positiefs toedig van wat hulle in die lewe is.   

Kom ons begin by vandag en vir die res van ons lewens, en kom ons gee elke dag vir elke mens om ons net 1 kompliment, en kom ons verander die wereld waarin ons leef op die manier, want kritiek verander niks nie.
Hoop jou week is fantasties!!!!

Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!

Saturday, September 5, 2015

Die Waarheid

Ek weet nie wat dit in ons mense is nie, of dit in ons DNA ingebou is, of dalk deur die godsdienstige invloed in ons lewe nie, maar ons het 'n ongelooflike gesteldheid om na die waarheid te soek. Kyk maar na al die programme op Televisie soos CSI, en al die ander hof drama's. Dit maak mens soms gek, maar dit wys ons net dat ons graag daarna soek.

Maar die waarheid is 'n moeilike konsep. Van kleins af soek ons in 'n huweliksmaat, iemand wat REG is vir my, Mr. of Mrs. Right. Elke dag verskyn boeke en artikels wat vir ons probeer vertel hoe om te weet of iemand nou die ware een vir jou is. Tydskrifte gee vir ons die 10 dinge om voor uit te kyk in 'n ware maat wat gaan werk, of 6 tekens dat iemand nie die regte persoon is nie. Ons soek in alles die een waarheid, nie net in ons verhoudinge nie, maar in ons werke en elke dag se funkstionering.

Maar die waarheid het nie altyd 'n eienaar nie. As jy gister vir my gevra het wat die wisselkoers tussen die rand en dollar is, het ek gese R13.66. Het ek die waarheid gepraat? Natuurlik. As jy vandag vir my vra sal ek iets se soos R13.68. Het ek die waarheid gepraat? Natuurlik het ek. Maak die feit dat my antwoord verskil van gister my 'n leuenaar? Natuurlik nie. Dit is net 'n voorbeeld dat die omstandighede soms 'n invloed op die "waarheid" kan uitoefen. Is dit dan werklik wat ons dink as ons oor die konsep van "waarheid" praat?

'n Goeie vriend van my het een keer gese: "Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie, dit is onsekerheid". En miskien is dit hoekom ons na die waarheid soek, want ons dink die waarheid gaan die onsekerheid wegneem, en as die onsekerheid verby is, dan is ek vry. Ek leef nou as 'n geskeide mens tussen 'n klomp geskeides, miskien omdat "misery loves company", darem nie heeltemal so erg nie. Een dink wat ek sien is dat mense na 'n mislukking weer begin soek en vra na die ware een. Mense is as geskeides baie skepties oor nuwe verhoudings, want ons wil nie weer 'n fout maak nie, en ons is baie bang om onsself weer bloot te stel. Ons kyk terug na die mislukkings van die vorige verhouding en ons vra ongelooflik baie vrae. Maar ek het een tendens raakgesien in mense se mislukte verhouding, en dit is dat die oomblik wanneer jy met onsekerheid begin oor jou maat, jy begin om die laaste hoofstuk van jou verhouding te skryf. Dit is natuurlik baie maklik om te vertel dat alles by jou begin en eindig, maar kom ons wees eerlik, die lewe soos ons hom ken is nie so eenvoudig nie. Jy wil saam met iemand wees, dit is hoe ons gemaak is. Natuurlik se ons dat niemand jou gelukkig kan maak nie, maar ons weet in die praktyk dat dit ook maar net 'n storie is, want iemand kan jou gelukkig maak. Waaroor jy wel 'n keuse het is om jou lewe mense om jou toe te laat wat jou gelukkig maak, of mense te los wat dit nie doen nie.

Maar hoe weet jy wat die waarheid is en wie kan jy vertrou met jou hart en jou siel? Ek het 'n wonderlike familie, want ek sien huwelike wat werk. Ek sien mense wat, natuurlik te midde van soveel dinge, sielsgenote is. En die een ding wat ek by hulle geleer het, daar is geen onsekerheid van hulle gevoelens vir mekaar nie. En ek wonder baie keer wat dit maak werk, en ek het 'n konklusie gemaak uit die voorbeelde wat vir my gestel is.

Die antwoord le in die wiskunde en die wetenskap. In wiskunde is 1+1=2, universeel elke dag van die week. Die wetenskap leer ons van die aantrekkingskrag van die aarde wat keer dat ons wegsweef die ruimte in. Hierdie konsepte gee vir ons sekerheid, want dit is nie onderhewig aan omstandighede nie. Wat China se produksiesyfers is, of wat Zuma se, en of riool in die damme invloei, of dit somer of winter is, dit verander niks aan die konsep van die wiskunde en wetenskap nie. 1+1=2, in alle omstandighede en alle tye, en gravitasie verskil nie van een dag tot die volgende nie.

En dit is die antwoord vir 'n suksesvolle keuse van 'n huweliksmaat, konstantheid. As ons maar net iemand kan kry wat konstant vir my kan lief wees, dan kan ek gelukkig wees. Die lewe vra baie van 'n mens en jy het geen idee wat vir jou wag nie, armoede, siekte, oorlog, pyn ens. Maar een ding moet ons weet in 'n huweliksmaat, en dit is dat as jou liefde vir my en myne vir jou "konstant" is, dan het ek al die moed in die wereld om die veranderlikes te kan trotseer. Dan kan die wereld maar gooi na my kant toe wat dit wil, ek het sekerheid en ek kan leef.

Te veel mense loop rond in verhoudings en verruil liefde vir selfsugtige redes. Daardie konsep van as jy dit doen, sal ek dit doen, of ek doen nie dit nie, want jy doen nie dat nie. Soms kyk ek na mense en wonder waar is die speelklei en die blokkies. Ek wonder soms hoekom hulle nie net uit hulle situasie klim en sien hoe kinderagtig hulle met mekaar omgaan nie. En dan is dit vir my geen verrassing as die bom op 'n stadium bars en hulle uitmekaar gaan nie. Ek luister baie stories van mense wat geskei is, en dan kan ek soms verstaan dat die verteller haar man gelos het, maar in die storie kan ek ook hoor hoekom hy ook nie met haar kon saamleef nie. Ons speel speletjies met mekaar en ons dryf handel met ons liefde. Ons liefde vir mekaar is so uitgelewer aan omstandighede, dat mens wil siek word daarvan. Die wisselvalligheid van ons emosies vir mekaar het net een uiteinde.

Hierdie is 'n konsep wat ek vir soveel mense by troues preek, nl dat in die huweliksformulier jy se: "vir altyd en in alle omstandighede" sal ek vir jou lief wees. Ons belowe vir mekaar die konstantheid en die sekerheid, maar ons is nie altyd bereid om dit te gee nie. Ware liefde en ware saamwees is en kan net bestaan waar daar konstantheid van liefde is. Niks anders nie.

In my lewe is God se liefde vir MY konstant. God gee nie altyd wat ek vra nie, en soms is my omstandighede nie so goed en lekker nie, maar een ding is ek seker, God se liefde is konstant en maak nie saak wat my lewe inhou nie HY is altyd daar. Miskien moet ons ophou doekies omdraai in ons geloof en ook in ons lewens, en liefde konstant toepas, maak nie saak wat gebeur nie.

Monday, August 3, 2015

Spiritueel of Materieel

In haar boek "Eastern Body, Western Mind" skryf Anodea Judith dat ons agterkom dat die oosterlinge innerlik ryk is, dog uiterlik arm, en westerlinge uiterlik ryk, maar innerlik arm is.  Haar boek se doelwit is om oosterse denke rondom chakras en westerse idees oor ontwikkeling met mekaar te versoen, veral rondom die westerse ontwikkeling volgens Maslow.  Dit is nie daarop wat ek wil ingaan nie, maar veral vandag rondom wat ons barometers is waaraan ons geluk en sin in die lewe MEET.

Dit is heel duidelik dat vreeslik baie mense in die westerse wereld deesdae soek na iets meer as net materialisme.  Ons sien die hoeveelheid oosterse invloede in wat mense aanhaal, deel op facebook en die hoeveelheid boeke wat op ons rakke is.  Dit wil voorkom asof ons ingesteldheid en barometers vir geluk begin skuif het van die een kant om sukses te koop, eerder na 'n soeke na innerlike harmonie om sodoende meer vervuld te voel.

Ons sien ook baie meer mense wat begin om hulle lewens af te skaal en bereidwillig is om 'n eenvoudiger lewe te leef en gelukkig te wees, eerder as om net die bankbalans en groot motors te jag. Ek dink dit het baie te doen met twee faktore, die eerste is ons het in ons ouers en ervarings self agtergekom dat geluk nie in dinge is nie, maar eerder gevind word in onsself.  Tweedens het die omstandighede van die  ekonomiese krisis in die wereld mense hulle barometers laat hersien.  Ek het 'n ou klient gehad wat gelde by my bele het in die tyd toe ek nog by Liberty Life was, wat daarop aangedring het dat ek vir hom die kluis wys waar ons sy gelde gaan hou. 

Vandat geld virtueel geraak het en nie meer tasbaar nie, het geld sy romantiek verloor.  Ek het steeds my beursie met geld wat my oupa en ouma bymekaar gemaak het, en dit is maar net anders om 'n muntstuk in jou hande vas te hou as om jou bankbalans op 'n skerm te sien.  En ek dink die virtualiteit van geld het sy romantiek nie net verloor nie, maar daarmee saam het ons die waarde van dinge wat dit kan koop anders begin sien.  Hier in ons veertigs is on sanders as in ons twintigs, want ons het nie meer uitknipsels van Golf GTI's op ons mure nie, maar wys eerder vir mense ons vakansiefoto's.  Soos jy ouer word het ons begin besef dat dinge WAT jy koop nie vir jou sin in die lewe gee nie, maar eerder ervarings van die lewe.  Meer pa's is by hulle kinders se sport- en kultuuraktiwiteite vandag as in die vorige geslag.  Ons is bereid om produktiwiteit en die najaag van kapitalisme op die agtergrond te skuif.  Dit is amper asof ons in die idée van die prediker in die Bybel begin besef het dat dit soms 'n gejaag na wind is, en ons probeer om ons lewens te balanseer tussen hierdie dinge.

Ek was op 'n stadium, kom ons noem dit nou maar bevoorregd in finansies en in besittings.  Ek het nou nie in 'n kasteel gewoon nie, maar ons het gemaklik geleef.  Dit het tot baie konsekwensies in my lewe gelei waarop ek nie nou in detail wil ingaan nie.  Maar soos ek dinge nagejaag het, het die al meer en meer verantwoordelikhede en doelwitte gebring. 

Ek onthou dat ons elke jaar ons kontrakte moes hernu by die maatskappy om jou kontrak te behou.  Elke jaar het jy 'n groter en groter doelwit gekry om net jou werk te behou, en daarmee saam het die spanning en dramas al meer geword.  Dit het vir my so geword dat ek naderhand aan niks anders gedink het as werk en maniere om geld te maak, en al minder oor die dinge waarvoor ek nou kans kry om oor te dink.  Dit was waar ek my balans verloor het, alhoewel mense toe baie respek vir my gehad het.  Ek onthou hoe belangrik dit vir my geword het om elke maand in die top 5 te wees en aande en naweke gewerk het om daarby uit te kom.  So word ons soms so ingetrek in die verdienste van geld, dat ons nie daaruit kan kom nie.  So word dit vir sekere mense dat jy naderhand niks anders in jou lewe belangrik ag nie, en al meer en meer ingesuig word in 'n sinnelose lewe.  Moenie 'n fout maak nie, dit is heerlik om te kan koop wat jy wil he en ook om te kan gaan vakansie hou waar jy wil sonder om jou te bekommer oor geld.  Dit is heerlik, tot ek een vakansie daar by Groot Brakrivier saam met my gesin is en myself uitvang dat ek alweer die hele tyd sit en planne maak en my bekommer oor my besigheid. 

Vandag sit ek in 'n ander posisie, waar ek nie genoeg geld het om alles te bekostig nie.  Ek bly nie meer in die mooi huis nie, en ek kan nie meer die motor van my drome elke 6 maande vervang nie, inteendeel, ek ry weer met my studentekarretjie.  En ek dink dit is wat Anodea Judith bedoel met uiterlik ryk en innerlik arm, want wat is die punt dat jy alles het in die lewe, maar jou siel gaan verlore.  En net soos met die ryk jong man, het ek besef dat ons hele samelewing ook ingesluk is deur die idée van mense met geld en materiele dinge is suksesvol, en die wat dit nie het nie, hulle het moeilikheid.  Ek het gesien dat my vriendekring al hoe kleiner word, want hulle verstaan dit nie waarin ek nou is nie, en omdat ons barometer van sukses op 'n sekere manier werk, dink hulle minder van my, en se selfs reguit vir my dat hulle respek vir my verloor het.  Die beginsel is, ek is bekommerd oor 'n samelewing waar dit alles NET gaan oor een ding, en waar mense nie sukses op die korrekte manier nastreef nie.  Ons kyk neer op mense met minder as ons.  Kyk maar na kinders en hoe hulle altyd net meer en meer en beter en beter soek.  Wie het hulle dit geleer? 

Aan die ander kant van Anodea se redenasie, dink ek ook nie die antwoord vir geluk daarin gelee is om erens op 'n ashoop te sit en te dink dat dit werklike geluk is nie.  Daar is natuurlike behoeftes wat ons en ons kinders het wat aan voldoen moet word, en dit is weereens waar die idée van balans inkom.  Aan die een kant is dit belangrik om te verstaan dat werklike geluk wel van binne en van die geestelike siel afkomstig is.  Daar is by my geen twyfel dat ek eerder saam met 'n geestelike sal wil sit en praat oor die werklike dinge van die lewe as by 'n braai waar almal spog oor hulle besittings, maar nie werklik oor die lewe kan filosofeer op praat nie.  Natuurlik is dit my persoonlikheid ook wat daardie behoefte het, maar ek dink julle verstaan waaroor dit gaan.

Die Bybel leer ons tog dat daar 'n prioriteitslys is waarin dinge moet gebeur.  Die Bybel leer dat ons eers die Koningkryk van God moet soek en Sy geregtigheid voordat al die dinge ons toegevoeg gaan word.  Duidelik leer ons daaruit dat al die rykdom in die wereld tot ons beskikking is, maar geen werklike sukses sal ooit kom voor ek nie die spirituele in my voed nie.  Voordat my siel nie vervuld is nie, kan en sal geen biljoen of Bugatti my gelukkig maak nie, want ek gaan soek die regte ding op die verkeerde plek.  Hoe baie keer hoor jy mense se dat wanneer hulle daardie werk kry of wanneer hulle in hulle droomhuis bly dat hulle dan sal gelukkig wees.  Studies is al gedoen onder persone wat 'n Ferrari aanskaf, en gemiddeld 'n maand na die aankoop, begin hulle reeds soek na die nuwe model en sit hulle name op die waglys.  Soos hier kan statistiek ons natuurlik enige ding laat bewys wat ons pas, en hier pas dit my nou.

Ek dink wat die Bybel ons wil leer is nie dat daar fout is met besittings nie.  Dit is die algemene idée wat vir eeue in godsdienste voorop gestaan het.  Wat die Bybel ons eintlik leer is dat spiritualiteit KAN bestaan sonder materialisme, maar materialisme NIE sonder spiritualiteit nie.  So, soms moet ons 'n oomblik stilstaan en kyk na ons barometer waarmee ons na ander mense en onsself kyk.  Wanneer jy vriende en mense om jou beoordeel, moet dit altyd EERS wees vanuit die spiritualiteit.  As die skrywers van sukses-sprokies vir ons vertel dat ons onsself moet omring met suksesvolle mense, moet dit eers gaan oor hulle spirituele sukses voordat dit oor enige iets anders in hulle lewens handel.  Wanneer ons kinders leer om vriende te maak, soek ons nie die "rykste" kind in die skool uit om mee vriende te wees nie, ons soek daardie kinders met die regte waardes wat hulle sal uitdaag om beter mense se wees.  Die vraag is hoe ons dit toepas in ons volwasse lewens.  Miskien moet ons gaan stilstaan en ons waardesisteem beoordeel en terug te tree en terug te gaan na wat God ons in die Bybel geleer het. 

Wanneer ons na ander kyk, wees versigtig watter maatstaf jy gebruik om hulle mee te toets.  Wees versigtig om nie die boek aan sy omslag te oordeel nie, maar eers die boek se inhoud kans te gee om ons te verras met die mooi wat daarin geskryf is, die inhoud.  Dit is maklik om te se dat dit meer oor die innerlike as die uiterlike gaan, maar in watter mate lieg ons vir onsself om die teenoorgestelde te doen.  Dit is natuurlik ook veral waar wanneer dit by jouself kom.  Beoordeel jy jouself, jou geluk en jou sukses aan uiterlike of innerlike dinge of die innerlike?  Dit is nie maklik om alles te verloor nie, maar soos ek voorheen gese het, materialisme kan nie sonder die innerlike bestaan nie, maar die innerlike en wie jy is, in wie jy glo bly vir altyd, met of sonder die materialisme.

Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al die ander dinge sal jou bygevoeg word.  En al word dit jou nie bygevoeg nie, is jy steeds gelukkig en suksesvol, en wanneer dit jou bygevoeg word kan jy dit met 'n ander dankbaarheid en visie geniet!