Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!

No comments:

Post a Comment