Showing posts with label #geluk. Show all posts
Showing posts with label #geluk. Show all posts

Tuesday, December 22, 2015

Koel soos n Komkommer oor Kommer

Kom ons wees nou eerlik, bekommernis is deel van menslike natuur. Hoe ons ookal vir onsself vertel dat jy in die oomblik van NOU moet leef, weet ons daar is n more wat kom. Selfs al is jy nou op vakansie bekommer jy steeds oor dinge. Gaan die kinders dit geniet of gaan jou skaapboud op kersdag reg uitkom of gaan die weer lekker wees of selfs dat die vakansie te vinnig verby gaan wees. Jy draai ook dalk jou sente om en bekommer jou daaroor. 

Die realiteit is dat bekommernis jou genot van die lewe en jou vakansie steel. Wat is die punt van vakansie as jy jou gaan bekommer? Dus, wees bewus van 2 dinge, jy gaan ek kan altyd iets vind wat jou bekommer, en tweedens dit steel die sin van dinge by jou.

Mense vra baie vir my in hulle kommentaar op my blogs hoekom ek altyd so positief klink. My blogs is soms uit teenreaksie op die bekommernisse in my lewe en nie n buite konteks optrede nie. 

Dit is dalk die eerste belangrike punt om te maak en dit is dat EK KIES om nie my bekommernis my te laat beheer nie. 

Nou, mense dink dat so n keuse daartoe lei dat jy niks aan jou situasie doen nie. Mense dink dat dit n 'kop in die gat' reaksie is, maar die teendeel is waar. Ek het net agtergekom dat om teen die despair wat saam met bekommernis loop te kies, die eerste deel van die oplossing van probleme is. 

Mense vergeet dat aksies in jou brein begin en nie jou hande wat die besem gryp en begin vee nie. Tweedens het ek geleer dat as ek nie halt roep erens in die bekommernis nie, dit gaan sneeubal sodat ek oor meer en meer dinge my gaan bekommer.  Derdens het ek uit my situasies geleer dat n mens baie meer kan uitstaan as wat mens dink. Vierdens het ek besef dat as ek vir n week lank my bekommer oor dat ek oor n week gaan honger lei, ek reeds vir n week lank honger is, elke dag, die hele dag. Bekommernis laat jou reeds die probleem ervaar nog voor dit gebeur of enigsins 'gaan' gebeur. In die vyfde plek soek ek uit alles die les wat ek moet leer. Laastens is ek gelowig, ek het n onverskrokke geloof dat God my sal help. En daardie geloof kom nie altyd in die vorm dat die beker my sal verbygaan nie, maar in die wete dat God altyd by my is.

Dus, wat doen ek? Ek kom uit die gewoonte om my oor alles tot vervelens toe te bekommer. Ek praat uit ondervinding, want ek was so dat ek naderhand niks meer geniet het nie, tot ek besluit het om anders met myself om te gaan. Ek verstaan dat dit ook te doen het met my persoonlikheid en dat dit nie altyd is wie jy is nie, so hier volg n paar algemene wenke.

1. Soek die mooi in NOU

Kyk vir n oomblik om jou rond en kyk wat jy het. Soveel keer fokus ons op wat ons nie het nie, maar wanneer ons soek na wat ons het, sien ons dat die glas meer as half vol is. Wanneer ek dit doen, vervaag my despair, want my beker loop oor.

2. Doen iets lekker

Gisteraand is die laaste aand wat my dogtertjies by my is vir die vakansie. Terwyl ek opsien na die weggaan en oor allerhande issues my bekommer, besluit ek summier om hulle die liggies in Lawley straat te gaan wys. Oppad soontoe sing al die kinders saam met die radio. Daar aangekom hang hulle by die vensters uit en juig oor elke kersvader, kruis en kersboom. Die genot en opwinding op hulle gesiggies laat my van als vergeet. Hulle leef IN die oomblik en leef hulleself uitbundig uit. Hulle bekommer hulle nie oor hoe hard hulle skree 'kersboom pappa' nie. Daar leer hulle my toe n groot les, en toe ons by huis kom kry ek drukkies en 'dankie pappas'.

Ek kan hulle nie see toe vat nie, maar gisteraand is n beter ervaring om by 'in te check' as n week in Mauritius. Kinders waardeer die klein goeterkies, en bekommer hulle nie oor die klein karretjie waar 6 agterin moet sit nie. 

3. Worry realisties

Ons dink soms alles waaroor ons bekommer is 10 uit 10. Ek het die reel van 10 by my niggie geleer en dit werk so. As iets lewensgevaarlik is, dan is dit n 10, anders is dit op meeste n 8. As daar bloed uitkom is dit n 8, anders op die meeste n 6. As ek niks daaraan kan doen nie, dan is dit n 6, maar as ek iets daaraan kan doen, op meeste n 4. As ek iets daaraan kan doen, maar niks doen nie, is dit n 4, en wanneer ek iets daaraan doen word dit n 2.

Wanneer iets onder n 5 is, dan kantel die skaal na my kant toe, want dan is ek in beheer. 

Ek het verder in my lewe geleer dat 99% van dinge waaroor ek my bekommer nie gebeur nie, en dit wat wel gebeur min kere so erg is soos dit oor en oor in my kop afgespeel het. 

4. Soek alternatiewe

Nou, gewoonlik op hierdie punt behoort jy anders te dink, want daar is nooit net een antwoord op jou situasie nie. Selfs wanneer jy jouself in n hoek ingeverf het bly daar altyd die opsie om deur die nat verf te loop. Natuurlik is dit nie gemaklik nie, maar dit is doenbaar.  Soms moet jy terugtrek na jou ma toe of jou X-Box vir n jaar bere om jou punte te verbeter. Maar lekker of nie, dit maak jou weer dankbaar dat jy n ma het om na terug te trek of n X-Box gehad het om mee te speel.

Soms voel dit dan steeds vir jou asof jy nie opsies het nie, maar die besluit om deur die verf te loop is steeds JOU besluit. En meeste van die kere as jy dit moet doen en jy kyk terug op dit, was dit nie eers so erg soos jy gedink het nie. 

5. Jy is altyd in beheer

Wanneer jy jouself in n situasie van despair bevind, kasty ons onsself omdat ons dink en voel dat dit ons skuld is. Ok, dit kan en is soms die oorsaak. Maar het jy ooit daaraan gedink dat as dit jy was wat dit veroorsaak het, dat jy dan ook die oplossing is? 

Ek het geleer dat ek en ek alleen my situasie kan verander. Ander mense is daar om jou te help, maar net jy en jy alleen skryf die eksamen. 

6. Moenie ophou glo en bid nie

Daar is altyd lig in die tonnel, en dit is nie n trein wat van voor kom nie. Het jy al agtergekom dat jou oe aanpasbaar is in die donker? As jy jou oe knip, waar dit eers pikdonker was is daar skielik vorms wat jy kan uitmaak. 

Blinde mense leer ons dat al kan jy nie sien nie, het jy steeds ander sintuie wat jy kan gebruik. Jou hande kan jou help voel sodat jy nie in iets vasloop nie. Jou neus kan jou laat ruik waar die uitgang van die tonnel is. Jou vel kan jou laat voel waar die hitte van die uitkoms is en jou ore kan jou laat luister waar die voeltjies sing. 

As jy glo dat daar n uitkoms is, sal dit kom vir jou en sal jy dit soek. As jy dit nie glo nie gaan jy dalk in n hopie sit en vergaan, dalk centimeters van die uitgang af. Hoe sal jy ooit weet?


Tuesday, December 8, 2015

Moenie jou beeste name gee nie!



'n Boer sal vir jou vertel dat jy nooit vir 'n bees of 'n skaap 'n naam moet gee nie, want dan is dit soveel moeiliker vir jou om hom te slag wanneer die tyd reg is.  'n Snaakse ding gebeur wanneer iets 'n naam kry, want onmiddelik het dit 'n persoonlikheid en is nie sommer maar net nog 'n bees wat op die land loop nie.  Ons sien deur die eeue hoe belangrik name is, en ek onthou nog soveel kleinkinders wat ont-erf is deur 'n oupa omdat die kind nie sy oupa se naam gekry het nie.  In die nuwe denke oor name en klanke, se ons dat name belangrik is wat jy kies vir kinders, want klanke gee 'n vibrasie af wat mense of aantrek of afstoot.

Elke ding het deesdae mos ook 'n politiese korrekte manier om jou oor die ding uit te spreek.  Mense is nie gestremd nie, maar fisies uitgedaag.  Kinders is nie pleinweg meer stout nie, maar hulle is eerder ADHD of een of ander ander afkorting.  So gee ons elke dag name aan dinge wat om ons gebeur.  Nou dink ek daar is 2 kante van die benaming van dinge, net soos met die skaap en die bees.

Aan die een kant is dit belangrik om dinge 'n naam te gee, want, indien dit universeel erkenbaar en definieerbaar is, weet mense presies wat dit is, en help dit om te diagnoseer en te behandel.  As mense nie name gehad het nie, hoe sou ons dan mense roep of weet met wie ons op die foon praat? So, die naamgewery het 'n doel om mense van mekaar uit te ken of om sekere dinge te identifiseer.

Naamgewery kan aan die ander kant baie vreemde "negatiewe" invloed ook kry.  Soms word dit soos met die bees dat wanneer jy dit 'n naam gegee het, dit baie moeiliker word om hom te slag.  Mense kruip maklik weg agter dinge soos hulle afkoms, hulle sindrome en dink dat wanneer dit 'n naam het, jy agter dit kan wegkruip.  Ons sien ook dat dit in families die geval is waar mense 'n van soos "Mandela" het, en dink dat dit jou moet en sal dra deur jou lewe. 
Eintlik gee die naamgewery aan "iets" die reg om 'n "iemand" te word.  Dit is dalk wat bedoel word met die skep van "karma".  Ek kom agter dat mense in die westerse wereld soms 'n probleem het met die idee of die woord, maar in werklikheid is dit nie altyd 'n kosmiese uitwerking van oorsaak en gevolg nie.  Soms is karma net die skep van 'n issue of 'n situasie.  Ek sien dit baie in verhoudings waar mense oor dinge begin praat wat hulle pla, dan gee hulle 'n "naam" aan 'n emosie, en dan word dit lewenslank 'n saak van geskil tussen mense.

Ek weet dat sielkundiges ons leer dat jy moet kan kommunikeer oor dinge, maar ek sien dit soveel keer dat dit juis hierdie naamgewery is wat dinge kompliseer tussen mense.  En dieselfde gebeur tussen mense as wanneer jy 'n bees 'n naam gee, dit skep komplikasies later wanneer dit nodig is om te slag en word al hoe moeiliker om die dier te slag.  Hierdie is so waar in verhoudings, veral wanneer ons met mekaar praat en ons emosies oordra, dan gee ons 'n vibrasie of 'n personifikasie aan ons emosies, en dan word dit soms onmoontlik vir die paartjie om dit geslag en opgelos te kry.

Ons loop daagliks met sulke dinge in ons verhoudinge rond, "jy laat my voel" byvoorbeeld is 'n kragtige benaming, want dit laat my blitsvinnig verstaan wat van my verwag word of nie van my verwag word nie.  Skielik plaas hierdie benamings van ons emosies ons in 'n kissie en daar bly ons.  Die kissies laat ons soms voel asof dit ons verstrengel, maar natuurlik kan dit ons ook vry maak. 

Daar gebeur ook ander dinge in die naamgewing van emosies en die verbalisering daarvan.  Kyk bietjie aan die begin van 'n verhouding, wat ons kalwerliefde noem, hoe "maklik" die verhouding is, terwyl hoe meer name ons aan dinge gee, hoe meer Karma ontstaan tussen mense.  Natuurlik voel dit onmoontlik om altyd net in daardie nirvana stadium te bly, sonder dat ons van mekaar sekere dinge verwag.  Ek advokeer gladnie hier dat mense nie met mekaar oor dinge moet praat nie, maar dat ons versigtig moet wees watter dinge ons name gee in ons verhouding, omdat ons verstaan dat as iets 'n naam het, dit baie moeilik is om daarvan ontslae te raak.  Die ander kant van die muntstuk is dat die "mooi" dinge wat ons name aan gee, ook net so moeilik is om van ontslae te raak.

Ons verval soms so in die groef van alles in ons lewens en verhoudinge name te gee.  Partykeer vergeet ons dat ons versigtig moet wees, want dalk, miskien verseker, is die dinge wat jou in jou verhouding pla, JOU issue en nie die van die verhouding of die ander persoon nie.  Daar is 3 persone in 'n verhouding betrokke, Ek, Jy en Ons.  Soms is JY reg, soms is die ander persoon reg, maar dit is nie waaroor dit in verhoudings gaan nie, dit gaan oor die ONS. 
Mense sukkel ongelooflik waneer hulle die ONS verantwoordelik maak vir iets wat nie die ons se probleem is nie, maar die ek of jy.  Soms moet jy jouself vra of EK my issue of probleem deel van ONS mag maak, want ons weet tog dat net ek my beeste kan voed of slag.  Soms het ons in ons lewens issues van dinge gemaak (hulle name gegee), maar omdat ons nie kans sien vir die slag van die bees nie, maak ons dit deel van ONS se verantwoordelikheid om dit te doen.  Elkeen van ons moet besef dat, alhoewel mense saam in 'n verhouding is, ek nie my issues in die verhouding kan indra nie.  Dit is MY bees, en dit is ek en ek alleen wat vir Blommetjie moet slag.

'n Boer gee nie sy beeste name nie, want soms is 'n bees net 'n bees.  Soms moet ons nie al ons gevoelens en emosies so benaam en analiseer, dat ons later nie kan doen wat ons moet doen nie.  Soms is emosies net emosies, en soms is situasies net situasies en soms is die ander persoon se aksies net aksies.  Jammer dat ek nou "name" daaraan gee, maar die beginsel is dat ons soms ons eie lewens kompliseer deur dinge MEER betekenis te gee as wat dit moet, en daardeur karma skep en ander verantwoordelik maak vir ons situasies en gevoelens.

Dit is natuurlik vir ander mense altyd makliker om jou bees vir jou te slag, want hulle is nie die een wat daaraan betekenis gegee het nie, dit is JY.  Vir ander is jou bees net 'n bees, en dit is altyd JY en JY alleen wat so voel oor 'n saak.  En dit is die laaste ding wat ons van mense "verwag" in verhoudinge, want ons dink dat as ek EK en al my benaamde beeste in die verhouding inbring, dit oplos in die groot ONS en dan word ek soms kwaad as hulle nie dieselfde deernis en gevoelens vir my beeste het nie.  Onthou altyd, JY het hulle name gegee, JY het hulle gevoer, en dit is en word onregverdig om van ander te verwag om dieselfde te voel en op te tree oor jou issues, as JY.

Monday, October 5, 2015

Soek die mooi in alles

Ek het nog altyd geglo dat mense inherent goed is en in hulleself mooi is.  Dit is ons ervaring en omstandighede wat ons soms dwing in 'n ander rigting as wat ons graag wil.  Ek moet ongelukkig verstaan dat die Bybel 'n ander standpunt huldig, en vir ons se dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Ek het die voorreg gehad om 4 van my eie kindertjies se geboortes te aanskou, en as jy daardie eerste oomblik van geboorte sien, kan jy onmoontlik dink dat daardie 'n sondige wesentjie is.

Ek gaan myself nie nou verstout om met die Teoloe te stry daaroor nie, maar in my kop is ons skepsels van God en nie van die wereld nie.  Ons is in liefde ontvang en gebore, dit is die wereld om ons wat ons deur ondervinding die slegte en stoute dinge leer.  Ek stem wel dat daar 'n skadukant in ons elkeen is, en dat ons wel deur God geskep is met die vrye wil om te kies welke kan ons in die lewe gaan kies. 

Wanneer ek so op Facebook rondblaai, verwys mense graag na al die "morone" en simpel mense om hulle.  Soms is mense sarkasties, maar ek kry die idee dat ons soms wel dink dat almal om ons simpel en stupid is, en ons die enigstes is wat die mag en pag het om die "normale" bordjie om ons nekke te hang.  My lewe het verander die oomblik wat ek probeer het om die mooi in ander raak te sien.  Jou ingesteldheid oor die wereld verander die oomblik wat jy eerder begin om die mooi in ander te soek, eerder as die slegte.  Wanneer jy daardie deernis van Jesus aanleer, gebeur iets wonderliks in jou lewe.  Skielik is jy nie besig om stokke te soek om ander mee te kasty nie, maar met 'n liefdevolle hart plavei jy vir mense 'n pad om gelukkig en hulleself te kan wees. 

Vir lank het ek, in my eie lewe, probeer om dinge en mense te druk in die rigting van perfeksie.  Ek wou hulle in kassies indwing om sodoende te word wat ek van hulle gesoek het.  Ek dank die Vader dat ek deur baie pyn en leiding wel die les geleer het om te laat gaan.  Mense om my verstaan dit nie altyd nie, en sien dit as 'n swakheid, maar dit is juis waar ek dink volmaakte geluk en wasdom van afhang.  Om sag en met deernis te leef IS ons roeping, en dit IS ons Godgegewe gawe om uit te leef.  Jesus het vir ons 'n fantastiese voorbeeld gestel om nie altyd almal te veroordeel nie.  Jesus is veroordeel omdat hy met sekere mense in die samelewing moeite gedoen het.  Dit is die grootste boosheid van menswees om altyd ander te veroordeel.  Niemand is perfek nie, almal het foute, maar almal het ook skoonheid in hulle.  Dit beteken nie dat ek my kop in 'n gat druk en summier dink dat alles in die lewe om my perfek is nie, inteendeel.  Wat ek wel glo is dat almal die reg op lewe en asem het, en natuurlik raak ons ongelukkig as ander ons reg op lewe ontneem.

My standpunt daaroor is mooi uiteengesit in my blog oor Be-oordeel en Ver-oordeel.  In kort beteken dit dat ek wel standpunt mag inneem oor mense en dinge om my, maar dat ek nooit die mens mag veroordeel nie.  Ek mag my idees huldig, maar ek mag nooit dink dat ek die enigste is wat reg is en almal moet na my pype dans nie.  Die Bybel leer ons beslis dat ons nie mag oordeel nie, want ons sal in dieselfde lig ge-oordeel word.  Die spreekwoord lei ook mos dat mense wat in glashuise bly nie met klippe moet gooi nie, en dat jy die balk eers uit jou eie oog moet haal, voor jy fokus op die splinter in ander se oe.
In dieselfde opsig, soek die mooi in jou en bou dit uit.  Hou op om verskoning te maak vir wie en wat jy is.  Jy is dalk sag en emosioneel, of watter persoonlikheidseienskap jy ookal uitleef.  Soek die mooi in jouself vandag en gaan leef dit uit.  Hou op om vandag so hard op jouself eerstens te wees, en tweedens op mense om jou.  Soek die mooi om jou en in jouself.  Vind vrede by jou mooi dinge, en hou op om tevergeefs vir die res van jou lewe jou skadukant te beveg. 

In die "law of attraction" leer ons dat jou brein net op een ding op 'n slag kan fokus, maar ook dat jou brein nie kan onderskei of dit wat hom gevoer word waar of vals, goed of boos is nie.  Dit werk amper soos met 'n rekenaar wat nie oordeel wat jy op hom skryf of doen nie, maar slegs uitvoer wat die opdrag is.  Indien ek dus nou daagliks op my negatiewe dinge fokus, of die van ander, vermenigvuldig dit gewoonlik.  Dit kry kleintjies in jou kop, en daarom moet 'n ou die paring van energie en negatiwiteit onmiddelik stop.  'n Vrou vertel nou die dag vir my al die dinge wat haar man verkeerd doen, en lag toe effens vir haarself, dat sy stemtoon haar ook nou begin irriteer.  Op dieselfde manier, as jy fokus op die mooi in jou en ander mense, dan gaan die mooi ook vermeerder. Dit is dieselfde konsep wat aan die werk is in ons koppe. 

Ek vertel altyd die storie dat 'n klomp mans so bymekaar sit en oor hulle vrouens en huwelike begin praat.  Dit is mos amper mode om die ander geslag af te kraak, en dan hoor jy nie net die waarheid nie, maar ook die stigmas wat ons aan die ander geslag toedeel.  Kort voor lank word jy so ingetrek by die situasie dat jy sommer vir JOU vrou ook kwaad is.  Wanneer dit by ons kinders kom, is ons vreeslik ingestel op die feit dat hulle nie aan negatiewe dinge blootgestel moet word nie.  Maar doen ons dieselfde met onsself?  In watter mate stel jy jouself bloot aan negatiwiteit en swak invloede?  In die rekenaar wereld praat hulle van "garbage in, garbage out" en ons breine werk presies dieselfde. 

Nee man, kom ons begin ons wereld verander deur meer sagkuns met onsself en mense om ons om te gaan.  Dit beteken nie dat jy moet kondoneer wat mense doen nie, maar jy kan tog eerder op die vreeslik baie mooi in jou en die mooi in ander mense fokus.  Net omdat iemand anders iets "negatiefs" doen, het jy steeds die keuse om nie toe te laat dat dit jou beinvloed of nie.  Die lig het nog altyd die duisternis oorweldig, maar jy moet die lig se skakelaar aansit.  Dalk moet jy en ek vandag die lig in onsself, in ons lewensmaat, in ons kinders, in kollega's en in almal om ons soek.  Dink net wat sal gebeur as almal vandag net vir een persoon iets positiefs toedig van wat hulle in die lewe is.   

Kom ons begin by vandag en vir die res van ons lewens, en kom ons gee elke dag vir elke mens om ons net 1 kompliment, en kom ons verander die wereld waarin ons leef op die manier, want kritiek verander niks nie.
Hoop jou week is fantasties!!!!

Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!