Showing posts with label #lewe. Show all posts
Showing posts with label #lewe. Show all posts

Monday, December 7, 2015

Opsies vir Stress!



Daar is 'n eksperiment in Amerika gedoen waardeur hulle 'n groot groep mense oor 'n 30 jaar tydperk analiseer het.  Die groep was gekies vir 'n eksperiment oor die invloed van stress en spanning op mense, om te bewys of die invloed van stress tot premature dood kan lei.  Natuurlik het hulle nie net hulle gesondheid in ag geneem nie, maar ook hulle stressvlakke in die algemeen, en die mees insiggewende hulle ingesteldheid oor stress.  Na 'n hele paar jaar het hulle die sterfterekords nagevors om te sien wie van die mense nog lewe, en 'n groot hoeveelheid van hulle was reeds oorlede.  Maar hulle het een vreemde feit agtergekom, een van die vrae in die eksperiment was of die persoon glo en dink dat stress tot jou dood kan lei.  Toe hulle na die statistieke kyk, het hulle agtergekom dat die mense wat gese het dat hulle NIE dink dit tot jou dood kan lei nie, se mortaliteit was noembaar baie laer as die wat gedink het die teenoorgestelde is waar.

Ek weet dat 'n mens met statistiek omtrent enige punt kan bewys, maar hierdie studie het my baie getref, want dit beteken tog dat daar 'n konneksie is tussen jou ingestelheid en mortaliteit.  Ek het al baie verwys na die werk van Louise Hay wat konneksies maak tussen selfs spesifieke emosies wat lei tot spesifieke uitwerking wat tot spesifieke siektes lei. 

Nou wil ek vandag so 'n klein oefening vir jou gee om jou te help om jou ingesteldheid teenoor jou lewe anders te sien. 

Ondervinding het ons nou al gewys dat omstandighede rondom jou nie net een oplossing of reaksie het wat daarmee saamgaan nie.  Dit is asl bewys met tweelinge dat alhoewel hulle in dieselfde omstandighede grootgeword het, hulle soms verskil in hulle idees oor dieselfde dinge.  So as daar nie 'n spesifieke reaksie is wat met 'n spesifieke aksie val nie, is daar tog opsies.  Daar word baie gepraat oor glas half vol en glas half leeg reaksies op dinge, en ook dat die grootste persentasie van mense makliker die glas half leeg sien.  Die eerste deel van die oefening is die besef dat die glas nie altyd propvol kan wees nie.  Daar is in jou lewe sekere situasies wat nie lekker is nie, stressvol is en jou in die nag laat wakker le.  Dus, die erkenning daarvan is die beginpunt, want jy kan nie altyd net die glas half vol sien nie, want dan fokus jy nie op dinge wat gedoen en afgehandel MOET word nie. 

Jou reaksie op 'n situasie is slegs 'n keuse, en vir die tweede punt van die oefening het jy nie nodig om die stukkie van die glas te gaan soek wat vol of leeg is nie.  Al wat jy hier doen is om IN die situasie wat jou laat opstress net 'n oomblik te gaan sit en te analiseer of daar 'n ander opsie of manier is om na die situasie te gaan kyk.   Hoe meer opsies jy kry en sien, hoe beter natuurlik.  Die opsies hoef nie altyd positief te wees nie, want wat jy doen is om balans te vind in HOE jy oor 'n spesifieke situasie voel.  Ek vind dat mense soms daardie emosie wat hulle het vat en dit so oor en oor en oor dink, dat dit sneeubal en hulle naderhand gladnie meer die son kan sien nie.  Dan gooi mense hulle hande in die lug en sien geen meer uitkoms nie.  Net so gevaarlik soos dit is om met jou kop in die wolke te leef en in drome nooit die realiteit hanteer nie, net so gevaarlik is dit om ook die een gevoel van negatiwiteit en vrees oor en oor uit te speel, want dan gebruik jy al jou energie op.  So, wanneer ek hier praat van ander opsies, beteken dit nie dat jy die vuur blus met water nie, maar stelselmatig die bol sneeu stukkie vir stukkie kleiner maak. Net die vraag:  "Is daar 'n ander manier om na die situasie en kyk en oor die situasie te voel?", verander alles.  Soms dink ons die ergste is die enigste opsie, en ons het nie energie om dit te hanteer nie, deur net te dink aan opsies kan jy skielik sien hoe maklik dit is om na die volgende vlak te beweeg.

Hoe hulle ookal eksperimente oor die brein doen, is daar nog nooit 'n glyskaal ontwikkel vir emosies wat dit kan kwantifiseer nie.  Maar eksperimente het al getoon dat sekere "verandering" in emosies sekere dele van die brein aktiveer en allerhande dinge soos adrenalien vrystel.  Maar dit vat oefening om dit reg te kry, en elke mens het sy manier om te weet wat hulle groewe en grafte is mbt emosies.  Daar is ook geen regte resep hiervoor nie, maar ek dink dat as jy hierdie oefening doen dit baie sal help.

Wanneer jy nou effens "anders", nie noodwendig "beter" voel nie, kan jy in die derde plek begin om te kyk na die konteks.  Een van die mees praktiese plekke waar ek altyd begin, is om op te hou dink dat ek die enigste is wat sukkel met sekere dinge.  Almal het geldelike, emosionele en verhoudings probleme.  Deur te erken dat ek nie die enigste is nie, bring reeds 'n mate van verandering in jou houding.  Een goeie voorbeeld hiervan is die hospitaalbed-eksperiment.  Kom ons se jy het hoofpyn en jy dink dit is die einde van jou lewe, dink vir 'n oomblik aan mense wat terminaal met kanker stry, dit vat nie jou hoofpyn weg nie, maar dit laat jou besef dat daar ander is wat met groter issues as jy sukkel.  Skielik sien jy jou situasie in konteks en vir wat dit werklik is, nie die einde van jou wereld nie.

Terwyl ons so oor konteks praat, kan konteks ook soms 'n bydrae lewer tot baie ongelukkigheid.  Dit is soms die mense en wereld om jou wat jou emosies skep, deur sekere "mode-aksies".  In die finansiele bedryf sit ek voor kliente, en een van die vrae wat baie my vra is of AL die kliente so sukkel met hulle finansies.  Ons praat deesdae almal van hoe sleg dit met mense gaan, terwyl, as ek om my kyk sien ek ongelooflike nuwe ontwikkelinge, nuwe motors ens.  My konsultasie met die klient verander onmiddelik wanneer ek die ander kant vir hom wys en se dat kliente nie sukkel nie.  Kom uit die groef daarvan om SAAM te praat, sodat jy naderhand dinge begin glo wat nie jou eie denke is nie, en wat soms nie waar is nie.

Die vierde ding om te doen, vloei so effens uit die vorige oefening uit, en dit is dankbaarheid vir wat jy reeds het.  Kyk net gou vinnig om jou wat en wie jy in jou lewe het, en se dankie.  Vat 'n stuk papier en skryf gou 'n lys neer van dinge waarvoor jy dankbaar kan wees, en hou aan tot jy uit dinge uithardloop om neer te skryf.  Vir my is hierdie een van die kragtevolste dinge om te doen om my situasie te verander.  Dalk is dit hier waar jy verstaan dat jy nie jou huisverband kan betaal nie, maar om dankbaar te wees dat jy wel kredietwaardig is, 'n huis het, meubels het ens.  verander dalk jou ingesteldheid om 'n plan te maak om jou paaiement te betaal.  Dan verander die energie in jou lewe en skielik WIL jy jou situasie uitsorteer omdat jy dit doen uit DANKBAARHEID en nie uit dwang nie.

Die vyfde en net so belangrik soos die ander is om aksie te neem.  Tel op die foon en maak 'n reeliing met die bank, staan op en gaan drink 2 Panado's vir jou hoofpyn of stuur 'n SMS vir iemand wat vir jou belangrik is maar waar daar twis is.  Indien dinge in jou lewe OOK nie prakties verander nie, gaan al die bo-staande dinge absoluut niks beteken nie.  Jou bank gaan nie al hierdie mooi stories glo van positiewe denke en dankbaarheid nie, as jy nie betaal nie, gaan hulle jou huis kom haal.  Soms dink ons dat ons praktiese probleme met EMOSIONALITEIT opgelos gaan word.  Nee, die oefeninge hier bo oor al die spiritualiteit is SLEGS gerig daarop om jou in hierdie vyfde oefening die energie te verskaf om jou probleem te hanteer.  Een van my vriende se altyd:  "Talk is cheap, but money buys the whiskey". 

Ek hoop hierdie kan jou help om 'n fantastiese week te ervaar!
libdisc25112014

Monday, October 5, 2015

Soek die mooi in alles

Ek het nog altyd geglo dat mense inherent goed is en in hulleself mooi is.  Dit is ons ervaring en omstandighede wat ons soms dwing in 'n ander rigting as wat ons graag wil.  Ek moet ongelukkig verstaan dat die Bybel 'n ander standpunt huldig, en vir ons se dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Ek het die voorreg gehad om 4 van my eie kindertjies se geboortes te aanskou, en as jy daardie eerste oomblik van geboorte sien, kan jy onmoontlik dink dat daardie 'n sondige wesentjie is.

Ek gaan myself nie nou verstout om met die Teoloe te stry daaroor nie, maar in my kop is ons skepsels van God en nie van die wereld nie.  Ons is in liefde ontvang en gebore, dit is die wereld om ons wat ons deur ondervinding die slegte en stoute dinge leer.  Ek stem wel dat daar 'n skadukant in ons elkeen is, en dat ons wel deur God geskep is met die vrye wil om te kies welke kan ons in die lewe gaan kies. 

Wanneer ek so op Facebook rondblaai, verwys mense graag na al die "morone" en simpel mense om hulle.  Soms is mense sarkasties, maar ek kry die idee dat ons soms wel dink dat almal om ons simpel en stupid is, en ons die enigstes is wat die mag en pag het om die "normale" bordjie om ons nekke te hang.  My lewe het verander die oomblik wat ek probeer het om die mooi in ander raak te sien.  Jou ingesteldheid oor die wereld verander die oomblik wat jy eerder begin om die mooi in ander te soek, eerder as die slegte.  Wanneer jy daardie deernis van Jesus aanleer, gebeur iets wonderliks in jou lewe.  Skielik is jy nie besig om stokke te soek om ander mee te kasty nie, maar met 'n liefdevolle hart plavei jy vir mense 'n pad om gelukkig en hulleself te kan wees. 

Vir lank het ek, in my eie lewe, probeer om dinge en mense te druk in die rigting van perfeksie.  Ek wou hulle in kassies indwing om sodoende te word wat ek van hulle gesoek het.  Ek dank die Vader dat ek deur baie pyn en leiding wel die les geleer het om te laat gaan.  Mense om my verstaan dit nie altyd nie, en sien dit as 'n swakheid, maar dit is juis waar ek dink volmaakte geluk en wasdom van afhang.  Om sag en met deernis te leef IS ons roeping, en dit IS ons Godgegewe gawe om uit te leef.  Jesus het vir ons 'n fantastiese voorbeeld gestel om nie altyd almal te veroordeel nie.  Jesus is veroordeel omdat hy met sekere mense in die samelewing moeite gedoen het.  Dit is die grootste boosheid van menswees om altyd ander te veroordeel.  Niemand is perfek nie, almal het foute, maar almal het ook skoonheid in hulle.  Dit beteken nie dat ek my kop in 'n gat druk en summier dink dat alles in die lewe om my perfek is nie, inteendeel.  Wat ek wel glo is dat almal die reg op lewe en asem het, en natuurlik raak ons ongelukkig as ander ons reg op lewe ontneem.

My standpunt daaroor is mooi uiteengesit in my blog oor Be-oordeel en Ver-oordeel.  In kort beteken dit dat ek wel standpunt mag inneem oor mense en dinge om my, maar dat ek nooit die mens mag veroordeel nie.  Ek mag my idees huldig, maar ek mag nooit dink dat ek die enigste is wat reg is en almal moet na my pype dans nie.  Die Bybel leer ons beslis dat ons nie mag oordeel nie, want ons sal in dieselfde lig ge-oordeel word.  Die spreekwoord lei ook mos dat mense wat in glashuise bly nie met klippe moet gooi nie, en dat jy die balk eers uit jou eie oog moet haal, voor jy fokus op die splinter in ander se oe.
In dieselfde opsig, soek die mooi in jou en bou dit uit.  Hou op om verskoning te maak vir wie en wat jy is.  Jy is dalk sag en emosioneel, of watter persoonlikheidseienskap jy ookal uitleef.  Soek die mooi in jouself vandag en gaan leef dit uit.  Hou op om vandag so hard op jouself eerstens te wees, en tweedens op mense om jou.  Soek die mooi om jou en in jouself.  Vind vrede by jou mooi dinge, en hou op om tevergeefs vir die res van jou lewe jou skadukant te beveg. 

In die "law of attraction" leer ons dat jou brein net op een ding op 'n slag kan fokus, maar ook dat jou brein nie kan onderskei of dit wat hom gevoer word waar of vals, goed of boos is nie.  Dit werk amper soos met 'n rekenaar wat nie oordeel wat jy op hom skryf of doen nie, maar slegs uitvoer wat die opdrag is.  Indien ek dus nou daagliks op my negatiewe dinge fokus, of die van ander, vermenigvuldig dit gewoonlik.  Dit kry kleintjies in jou kop, en daarom moet 'n ou die paring van energie en negatiwiteit onmiddelik stop.  'n Vrou vertel nou die dag vir my al die dinge wat haar man verkeerd doen, en lag toe effens vir haarself, dat sy stemtoon haar ook nou begin irriteer.  Op dieselfde manier, as jy fokus op die mooi in jou en ander mense, dan gaan die mooi ook vermeerder. Dit is dieselfde konsep wat aan die werk is in ons koppe. 

Ek vertel altyd die storie dat 'n klomp mans so bymekaar sit en oor hulle vrouens en huwelike begin praat.  Dit is mos amper mode om die ander geslag af te kraak, en dan hoor jy nie net die waarheid nie, maar ook die stigmas wat ons aan die ander geslag toedeel.  Kort voor lank word jy so ingetrek by die situasie dat jy sommer vir JOU vrou ook kwaad is.  Wanneer dit by ons kinders kom, is ons vreeslik ingestel op die feit dat hulle nie aan negatiewe dinge blootgestel moet word nie.  Maar doen ons dieselfde met onsself?  In watter mate stel jy jouself bloot aan negatiwiteit en swak invloede?  In die rekenaar wereld praat hulle van "garbage in, garbage out" en ons breine werk presies dieselfde. 

Nee man, kom ons begin ons wereld verander deur meer sagkuns met onsself en mense om ons om te gaan.  Dit beteken nie dat jy moet kondoneer wat mense doen nie, maar jy kan tog eerder op die vreeslik baie mooi in jou en die mooi in ander mense fokus.  Net omdat iemand anders iets "negatiefs" doen, het jy steeds die keuse om nie toe te laat dat dit jou beinvloed of nie.  Die lig het nog altyd die duisternis oorweldig, maar jy moet die lig se skakelaar aansit.  Dalk moet jy en ek vandag die lig in onsself, in ons lewensmaat, in ons kinders, in kollega's en in almal om ons soek.  Dink net wat sal gebeur as almal vandag net vir een persoon iets positiefs toedig van wat hulle in die lewe is.   

Kom ons begin by vandag en vir die res van ons lewens, en kom ons gee elke dag vir elke mens om ons net 1 kompliment, en kom ons verander die wereld waarin ons leef op die manier, want kritiek verander niks nie.
Hoop jou week is fantasties!!!!

Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!