Saturday, September 5, 2015

Die Waarheid

Ek weet nie wat dit in ons mense is nie, of dit in ons DNA ingebou is, of dalk deur die godsdienstige invloed in ons lewe nie, maar ons het 'n ongelooflike gesteldheid om na die waarheid te soek. Kyk maar na al die programme op Televisie soos CSI, en al die ander hof drama's. Dit maak mens soms gek, maar dit wys ons net dat ons graag daarna soek.

Maar die waarheid is 'n moeilike konsep. Van kleins af soek ons in 'n huweliksmaat, iemand wat REG is vir my, Mr. of Mrs. Right. Elke dag verskyn boeke en artikels wat vir ons probeer vertel hoe om te weet of iemand nou die ware een vir jou is. Tydskrifte gee vir ons die 10 dinge om voor uit te kyk in 'n ware maat wat gaan werk, of 6 tekens dat iemand nie die regte persoon is nie. Ons soek in alles die een waarheid, nie net in ons verhoudinge nie, maar in ons werke en elke dag se funkstionering.

Maar die waarheid het nie altyd 'n eienaar nie. As jy gister vir my gevra het wat die wisselkoers tussen die rand en dollar is, het ek gese R13.66. Het ek die waarheid gepraat? Natuurlik. As jy vandag vir my vra sal ek iets se soos R13.68. Het ek die waarheid gepraat? Natuurlik het ek. Maak die feit dat my antwoord verskil van gister my 'n leuenaar? Natuurlik nie. Dit is net 'n voorbeeld dat die omstandighede soms 'n invloed op die "waarheid" kan uitoefen. Is dit dan werklik wat ons dink as ons oor die konsep van "waarheid" praat?

'n Goeie vriend van my het een keer gese: "Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie, dit is onsekerheid". En miskien is dit hoekom ons na die waarheid soek, want ons dink die waarheid gaan die onsekerheid wegneem, en as die onsekerheid verby is, dan is ek vry. Ek leef nou as 'n geskeide mens tussen 'n klomp geskeides, miskien omdat "misery loves company", darem nie heeltemal so erg nie. Een dink wat ek sien is dat mense na 'n mislukking weer begin soek en vra na die ware een. Mense is as geskeides baie skepties oor nuwe verhoudings, want ons wil nie weer 'n fout maak nie, en ons is baie bang om onsself weer bloot te stel. Ons kyk terug na die mislukkings van die vorige verhouding en ons vra ongelooflik baie vrae. Maar ek het een tendens raakgesien in mense se mislukte verhouding, en dit is dat die oomblik wanneer jy met onsekerheid begin oor jou maat, jy begin om die laaste hoofstuk van jou verhouding te skryf. Dit is natuurlik baie maklik om te vertel dat alles by jou begin en eindig, maar kom ons wees eerlik, die lewe soos ons hom ken is nie so eenvoudig nie. Jy wil saam met iemand wees, dit is hoe ons gemaak is. Natuurlik se ons dat niemand jou gelukkig kan maak nie, maar ons weet in die praktyk dat dit ook maar net 'n storie is, want iemand kan jou gelukkig maak. Waaroor jy wel 'n keuse het is om jou lewe mense om jou toe te laat wat jou gelukkig maak, of mense te los wat dit nie doen nie.

Maar hoe weet jy wat die waarheid is en wie kan jy vertrou met jou hart en jou siel? Ek het 'n wonderlike familie, want ek sien huwelike wat werk. Ek sien mense wat, natuurlik te midde van soveel dinge, sielsgenote is. En die een ding wat ek by hulle geleer het, daar is geen onsekerheid van hulle gevoelens vir mekaar nie. En ek wonder baie keer wat dit maak werk, en ek het 'n konklusie gemaak uit die voorbeelde wat vir my gestel is.

Die antwoord le in die wiskunde en die wetenskap. In wiskunde is 1+1=2, universeel elke dag van die week. Die wetenskap leer ons van die aantrekkingskrag van die aarde wat keer dat ons wegsweef die ruimte in. Hierdie konsepte gee vir ons sekerheid, want dit is nie onderhewig aan omstandighede nie. Wat China se produksiesyfers is, of wat Zuma se, en of riool in die damme invloei, of dit somer of winter is, dit verander niks aan die konsep van die wiskunde en wetenskap nie. 1+1=2, in alle omstandighede en alle tye, en gravitasie verskil nie van een dag tot die volgende nie.

En dit is die antwoord vir 'n suksesvolle keuse van 'n huweliksmaat, konstantheid. As ons maar net iemand kan kry wat konstant vir my kan lief wees, dan kan ek gelukkig wees. Die lewe vra baie van 'n mens en jy het geen idee wat vir jou wag nie, armoede, siekte, oorlog, pyn ens. Maar een ding moet ons weet in 'n huweliksmaat, en dit is dat as jou liefde vir my en myne vir jou "konstant" is, dan het ek al die moed in die wereld om die veranderlikes te kan trotseer. Dan kan die wereld maar gooi na my kant toe wat dit wil, ek het sekerheid en ek kan leef.

Te veel mense loop rond in verhoudings en verruil liefde vir selfsugtige redes. Daardie konsep van as jy dit doen, sal ek dit doen, of ek doen nie dit nie, want jy doen nie dat nie. Soms kyk ek na mense en wonder waar is die speelklei en die blokkies. Ek wonder soms hoekom hulle nie net uit hulle situasie klim en sien hoe kinderagtig hulle met mekaar omgaan nie. En dan is dit vir my geen verrassing as die bom op 'n stadium bars en hulle uitmekaar gaan nie. Ek luister baie stories van mense wat geskei is, en dan kan ek soms verstaan dat die verteller haar man gelos het, maar in die storie kan ek ook hoor hoekom hy ook nie met haar kon saamleef nie. Ons speel speletjies met mekaar en ons dryf handel met ons liefde. Ons liefde vir mekaar is so uitgelewer aan omstandighede, dat mens wil siek word daarvan. Die wisselvalligheid van ons emosies vir mekaar het net een uiteinde.

Hierdie is 'n konsep wat ek vir soveel mense by troues preek, nl dat in die huweliksformulier jy se: "vir altyd en in alle omstandighede" sal ek vir jou lief wees. Ons belowe vir mekaar die konstantheid en die sekerheid, maar ons is nie altyd bereid om dit te gee nie. Ware liefde en ware saamwees is en kan net bestaan waar daar konstantheid van liefde is. Niks anders nie.

In my lewe is God se liefde vir MY konstant. God gee nie altyd wat ek vra nie, en soms is my omstandighede nie so goed en lekker nie, maar een ding is ek seker, God se liefde is konstant en maak nie saak wat my lewe inhou nie HY is altyd daar. Miskien moet ons ophou doekies omdraai in ons geloof en ook in ons lewens, en liefde konstant toepas, maak nie saak wat gebeur nie.

No comments:

Post a Comment