Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

No comments:

Post a Comment