Monday, October 26, 2015

Moenie aan jouself doen wat jy nie wil he ander aan jou moet doen nie!

Daar gebeur baie dinge met ons elke dag, dinge wat ons dalk van hou en dinge wat ons dalk minder van hou.  Baie van daardie dinge kan ons nie beheer nie, soos die verkeer of iemand anders se optrede teenoor ons.  Maar soms vind ek dit by myself dat ek my eie grootste vyand is.  En dit is nogal hartseer dat 'n mens jouself so kasty en pynig. 


Van kleins af praat mense van die term "selfbeeld", en dat jy vir jouself 'n positiewe denke oor jouself moet ontwikkel.  Deur die jare is dit soms die "mislukkings" wat ons beeld van onsself skaad, en naderhand glo jy dat JY 'n mislukking is.  Jy glo naderhand niks goed meer oor jouself nie.  En dan begin daar 'n bose kringloop waar jy met hoe minder en minder selfvertroue leef.  Dit gaan al slegter met jou selfbeeld, totdat jy amper wil moed opgee en niks meer goed van jouself dink nie.  In die oggend staan jy op met 'n negatiewe houding, en naderhand gun jy niks meer vir jouself nie.  Jy begin amper dink dat die lewe JOU iets skuld, en in dieselfde asem het jy amper die gevoel dat die wereld iets teen JOU het, want niks in jou lewe werk mooi uit nie.  Dag na dag koester jy van hierdie denke, veral wanneer dinge nie jou rigting gaan nie, en dan kry jy al die bewyse vir jou denke.  En so word jy daagliks ingetrek, dieper en dieper in die kolkgat van depressie.


Sommige mense in depressie bevind hulle vinnig en maklik in hierdie posisie.  Dan is dit dalk ook nie eers meer die mense of omstandighede om jou wat jou aftrek nie, maar jyself.  Nog voor jy met enige ding begin, glo jy al klaar dat dit nie gaan werk nie.   Jy maak nie meer 'n weddenskap op jouself nie, want jy verloor nog voor jy begin het.  Dan word dit 'n ongelooflike gevaarlike situasie, want dan voel jy absoluut 'n mislukking, wil niks meer aanpak nie. 


Interresant is weereens, jou gevoel van mislukking het wel uit te waai met situasies waarin jy soos 'n mislukking gevoel het, maar het meer uit te waai met jou reaksie op die situasie wat plaasgevind het.  Jy vergeet soms dat JY altyd 'n keuse het in HOE jy op situasies gaan reageer, alhoewel jy nie altyd kan beheer WAT met jou gaan gebeur nie.  Daar is soveel sosiale eksperimente op tweelinge gedoen wat vir ons bewys dat alhoewel 2 mense geneties amper dieselfde is, en aan dieselfde omstandighede blootgestel word, verskillende reaksies daarop kan toon.  So in die eerste plek, dit is nie altyd die omstandighede wat die skuld moet kry nie, dit is dalk meer die manier HOE jy dit toelaat om jou te beinvloed.

In die opskrif van hierdie stuk se ek dat jy jouself moet hanteer soos jy graag wil he ander mense jou moet hanteer.   Dit is duidelik al bewys, dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy jouself nie op dieselfde manier EERS hanteer nie.  Soms is daardie negatiewe binnestemmetjie van jou jou grootste vyand, en nie die mense om jou of jou omstandighede nie.  Dit is jy wat aan jouself grense stel.  Natuurlik mag jy glo aan jou beperkings, maar onthou dit is net jy wat dit beheer en bestuur.


So, dit wat jy voel wat ander aan jou doen en jy nie van hou nie, gaan in jou glashuis in en vra jouself af of dit nie maar net 'n spieelbeeld is van wat jy van jouself dink en wat jy aan jouself doen nie.  Dit is soms ons self en niks en niemand buite ons wat ons glashuis laat breek nie. 


Die antwoord is op die ou einde om die mooi in jouself te gaan herontdek.  Dit is dalk 'n goeie tyd om jou hand in eie boesem te steek en te kyk hoe jy met jouself omgaan en ophou om die wereld om jou die skuld vir jou eie ongeluk te gee. 


Dalk is dit juis die dag om jouself met so 'n klein bietjie deernis te hanteer.  Onthou, die oefening is nie dat jy jouself nou nog meer moet jammer kry of om 'n klomp verskonings te maak vir dinge nie.  Onthou, dit gaan hier oor die konsep dat jy nie van ander kan verwag om jou op 'n sekere manier te hanteer indien jy nie eers bereid is om dit self te doen nie.


Geniet die week, en gaan wees mooi met jouself!

No comments:

Post a Comment