Tuesday, October 27, 2015

Die mag van die gewoonte


Ons het sulke nuwe generasie hysbakke by ons gebou.  Jy druk die nommer van die vloer waarheen jy wil gaan aan die buitekant van die hysbak.  Die hysbak wys dan buitekant vir jou die hysbak wat jy moet gebruik, A, B of C.  Nou, soos julle kan dink is dit 'n vreeslike groot aanpassing vir mense, veral omdat die sekuriteit nie vir besoekers vertel hoe die hysbakke werk nie.  Daar is 'n verskeidenheid van maatskappye wat kantore in die gebou het, o.a. ook 'n konsulaat waar mense vir hulle visums kom aansoek doen.  Dit is baie interresant hoe mense sommer net in die eerste en beste hysbak klim, omdat hulle gewoond is daaraan.  Ek moet ook noem dat daar geen knoppies aan die binnekant van die hysbak is nie, so as jy in een geklim het, moet jy eers klaar ry tot op die vloer waar die hysbak voor geroep is voordat jy kan uitklim om 'n ander vloer te kies.


Ek vind dit ongelooflik insiggewend hoe mense sommer net in die hysbak klim, en dan met verbasing agterkom dat hulle nie 'n keuse het aan die binnekant nie.  Ons is so vasgevang in die mag van die gewoonte van in die eerste hysbak inklim en daar binne ons keuse uitoefen, dat mense nie oplet nie.  Ek vang myself natuurlik dat ek die hysbak bestel aan die buitekant, maar nooit kyk of ek in A, B of C moet klim nie.  Telkemale maak die hysbak so vinnig toe dat ek nie in tyd is nie, en dan moet ek dit weer bestel wat natuurlik baie tyd neem.


Dit laat my wonder hoeveel sulke dinge ons in ons lewens outomaties aangeleer het, wat dit vir ons moeilik maak om te bereik wat ons wil?  Dit is een van daardie ou gesegdes van Einstein wat gese het:  "The definition of insanity is doing the same thing over and over again, and expecting a different outcome".  En dalk is ons ongelukkigheid dalk eerder gekoppel aan 'n nuwe hysbak met nuwe aanwysings, maar ons kom telkemale op die verkeerde vloer uit, met rooi gesig en skaamte en rigtingloos, omdat ons nie oplet nie, en omdat ons nie aanwysings het nie.  Ons verval soms so in ons eie manier van doen, dat die gewoonte oor ons 'n "mag" begin uitoefen.  Ek sien daagliks mense om my wat hulle patrone, werkend of nie-werkend toepas, maar hulle verwagtinge is dat hulle 'n ander lewe soek.


Die hysbak het my nou oor en oor geleer, ons hou nie altyd van verandering nie, en daarom klim ons soms net op enige hysbak, sonder om twee keer te dink.  Ons kom baie keer in die moeilikheid in ons lewe, want ons "verwag" net dat dinge op dieselfde manier moet werk as wat dit nog altyd gewerk het.  Ons ondervinding behoort ons ook te leer dat dit nie die geval is nie.  Een van die grootste kontante is verandering.  Verandering en nuwe maniere is deel van ons lewe, en selfs ook om by dieselfde vloer uit te kom, verg daagliks van ons om op 'n nuwe of ander manier daar uit te kom.  Dit is nie altyd in ons beheer nie, en daarom moet ons elke oomblik van ons lewens bewus te wees van wat rondom ons gebeur.


In die hysbak het ek al telkemale gehoor hoe mense redeneer of die sisteem nou simpel of oulik is.  Dalk spandeer ons te veel tyd om te filosofeer oor dinge wat ons nie kan verander nie.  Die lewe is so, as ek per hysbak wil ry na waar ek wil wees in 'n gebou, dan moet EK aanpas en ophou verwag dat dinge by my moet aanpas.  Dit is ook 'n gewoonte wat ons aangeleer het, om graag te soek dat dinge ons in die lewe pas.  Ek dink ook nie die ontwerper van die hysbak het opsetlik probeer om JOU uit te haal of die lewe vir JOU per se moeilik te maak nie.  Gary Player het mos altyd gese:  "Play the course as it is and not as you would like it to be".  Breek die mag van DIE gewoonte by jou om dinge altyd in JOU guns te soek, want wat vat dit nou van jou om te konformeer aan die lewe en uitdagings wat aan jou gestel is? 


Dalk moet jy eerder dink aan hoe oulik die nuwe hysbak is, en dat jy volgende keer as jy by 'n soortgelyke hysbak kom, ander kan help om by hulle vloer sonder moeite of frustrasie uit te kom.  Dalk moet jy dink dat daar 'n oulike rede kan wees hoekom die hysbak op die manier werk en dat dit jou eintlik baie tyd spaar, want die hysbak in NET daar vir jou en jou vloer.  Jy het nie nodig om op elke vloer te stop en te kyk of te wonder waar jy is nie, dit is doelgerig. 


Die mag van die gewoonte kan soms jou lewe totaal ondraaglik maak, of dit kan jou lewe gemakliker maak.  Dit is menslik om nie van verandering te hou nie, want dit laat ons onseker.  Deesdae, as jy nie verandering omarm nie, gaan jy 'n moeilikheid ondervind.  Ek verwys altyd na my ma wat in haar 70's is en hoe sy tegnologie aangryp.  Sy het 'n smartphone en sy weet hoe dit werk, want sy het besef dat whatsapp en die ander funksies haar lewe makliker en beter maak.  Ander ouens is nog vas aan hulle Nokia 2110i wat hy met 'n beltknippie aan sy sy dra, en vertel vir jou dat hy net wil bel en sms.  Dit is SY keuse, en daarmee het ek geen probleem nie, maar as jy eers besef dat jy 'n sms makliker met 'n tasskerm kan stuur waar jy nie die getalleknoppie oor en oor moet druk nie, sien jy die nut daarvan in om tog jou gewoonte te breek.


In ons persoonlike lewens hou ons ook van patrone en resepte.  Ek sien soveel mense wat so vasgevang is in hulle ongeluk en hartseer, en maar eerder daarby bly as om aanpassings te maak.  Ek dink dat as jy weier om te verander, en jou voet neersit dat jy die hysbak se knoppies aan die binnekant wil druk, jy welkom is om dit te doen.  Jy kan in elke hysbak spring en vir almal vertel hoe simpel die sisteem vir jou is, en dalk kom jy toevallig op die vloer uit waar jy wil wees.  Maar se nou maar niemand gaan vandag na vloer 3 toe nie, of hulle ry dalk nie met die hysbak wat jy kies nie?  Dan gaan jy baie gefrustreerd raak met jou situasie, en jy gaan naderhand almal om jou en jou ander passasiers en die eienaar van die gebou blammeer vir die feit dat jou lewe nie uitloop soos dit moet nie. 

Vandag is die dag wat jy, en ek bedoel nou nie drasties nie, die vryheid het om jou situasie te verander.  Ek praat baie daaroor, en mense dink ek is vreemd, maar ek het my denkwyse omgedraai.  Ek het aangeleer om dinge op 'n ander manier te doen, en daardeur nie noodwendig my doelwitte en drome op my maag geskryf nie.  Ek het ook nie noodwendig nodig om myself 'n breinoorplanting te gee nie, ek kom steeds op dieselfde plekke uit waar ek wil wees, maar deur die gewoonte van hoe ek daar wou uitkom te breek, het ek aangepas en kom ek vinniger by my vloer uit. 


Dalk is jy vandag ongelukkig of hartseer of depressief, ek weet nie wat jou situasie is nie.  Gaan sit 'n oomblik stil en gaan vra jouself of jy nie so onaanpasbaar is en dalk so voel omdat jy sinneloos soek na die hysbak wat werk soos JY aan gewoond is nie?  Miskien is jy so oorweldig deur dinge om jou, dat jy nie fokus op die geleenthede om die lesse te leer van hoe die nuwe sisteem werk nie.  Dalk is jy ook te skaam om vir ander te vra HOE hulle funksioneer in die sisteem.  Dalk is jou opsie om rond te kyk en as daar niemand is om te vra nie, jouself so bietjie fiks te maak en die trappe te vat, want wie het nou gese jy MOET die hysbak neem.


Moenie in die lewe die LEWE uitdaag en blammeer nie, dalk moet jy die MAG wat jou gewoontes oor jou het breek en as jy blaam moet plaas, DIT blammeer vir hoe jou lewe uitwerk.


Gaan lewe in kursief gedrukte letters vandag!  As iets nie werk nie, gaan doen dit anders!



Confidentiality
The e-mail and attachments are confidential and intended only for selected recipients. If you have received it in error, you may not in any way disclose or rely on the contents. You may not keep, copy or distribute the e-mail. Should you receive it, immediately notify the sender of the error and delete the e-mail. Also note that this form of communication is not secure, it can be intercepted, and may not necessarily be free of errors and viruses in spite of reasonable efforts to secure this medium. Any views and opinions expressed herein may not necessarily be those of the Liberty group of companies. The aforementioned does not accept any liability for any damage, loss or expense arising from this communication and/or from accessing any attachment.
libdisc25112014

No comments:

Post a Comment