Showing posts with label #balans. Show all posts
Showing posts with label #balans. Show all posts

Tuesday, December 22, 2015

Koel soos n Komkommer oor Kommer

Kom ons wees nou eerlik, bekommernis is deel van menslike natuur. Hoe ons ookal vir onsself vertel dat jy in die oomblik van NOU moet leef, weet ons daar is n more wat kom. Selfs al is jy nou op vakansie bekommer jy steeds oor dinge. Gaan die kinders dit geniet of gaan jou skaapboud op kersdag reg uitkom of gaan die weer lekker wees of selfs dat die vakansie te vinnig verby gaan wees. Jy draai ook dalk jou sente om en bekommer jou daaroor. 

Die realiteit is dat bekommernis jou genot van die lewe en jou vakansie steel. Wat is die punt van vakansie as jy jou gaan bekommer? Dus, wees bewus van 2 dinge, jy gaan ek kan altyd iets vind wat jou bekommer, en tweedens dit steel die sin van dinge by jou.

Mense vra baie vir my in hulle kommentaar op my blogs hoekom ek altyd so positief klink. My blogs is soms uit teenreaksie op die bekommernisse in my lewe en nie n buite konteks optrede nie. 

Dit is dalk die eerste belangrike punt om te maak en dit is dat EK KIES om nie my bekommernis my te laat beheer nie. 

Nou, mense dink dat so n keuse daartoe lei dat jy niks aan jou situasie doen nie. Mense dink dat dit n 'kop in die gat' reaksie is, maar die teendeel is waar. Ek het net agtergekom dat om teen die despair wat saam met bekommernis loop te kies, die eerste deel van die oplossing van probleme is. 

Mense vergeet dat aksies in jou brein begin en nie jou hande wat die besem gryp en begin vee nie. Tweedens het ek geleer dat as ek nie halt roep erens in die bekommernis nie, dit gaan sneeubal sodat ek oor meer en meer dinge my gaan bekommer.  Derdens het ek uit my situasies geleer dat n mens baie meer kan uitstaan as wat mens dink. Vierdens het ek besef dat as ek vir n week lank my bekommer oor dat ek oor n week gaan honger lei, ek reeds vir n week lank honger is, elke dag, die hele dag. Bekommernis laat jou reeds die probleem ervaar nog voor dit gebeur of enigsins 'gaan' gebeur. In die vyfde plek soek ek uit alles die les wat ek moet leer. Laastens is ek gelowig, ek het n onverskrokke geloof dat God my sal help. En daardie geloof kom nie altyd in die vorm dat die beker my sal verbygaan nie, maar in die wete dat God altyd by my is.

Dus, wat doen ek? Ek kom uit die gewoonte om my oor alles tot vervelens toe te bekommer. Ek praat uit ondervinding, want ek was so dat ek naderhand niks meer geniet het nie, tot ek besluit het om anders met myself om te gaan. Ek verstaan dat dit ook te doen het met my persoonlikheid en dat dit nie altyd is wie jy is nie, so hier volg n paar algemene wenke.

1. Soek die mooi in NOU

Kyk vir n oomblik om jou rond en kyk wat jy het. Soveel keer fokus ons op wat ons nie het nie, maar wanneer ons soek na wat ons het, sien ons dat die glas meer as half vol is. Wanneer ek dit doen, vervaag my despair, want my beker loop oor.

2. Doen iets lekker

Gisteraand is die laaste aand wat my dogtertjies by my is vir die vakansie. Terwyl ek opsien na die weggaan en oor allerhande issues my bekommer, besluit ek summier om hulle die liggies in Lawley straat te gaan wys. Oppad soontoe sing al die kinders saam met die radio. Daar aangekom hang hulle by die vensters uit en juig oor elke kersvader, kruis en kersboom. Die genot en opwinding op hulle gesiggies laat my van als vergeet. Hulle leef IN die oomblik en leef hulleself uitbundig uit. Hulle bekommer hulle nie oor hoe hard hulle skree 'kersboom pappa' nie. Daar leer hulle my toe n groot les, en toe ons by huis kom kry ek drukkies en 'dankie pappas'.

Ek kan hulle nie see toe vat nie, maar gisteraand is n beter ervaring om by 'in te check' as n week in Mauritius. Kinders waardeer die klein goeterkies, en bekommer hulle nie oor die klein karretjie waar 6 agterin moet sit nie. 

3. Worry realisties

Ons dink soms alles waaroor ons bekommer is 10 uit 10. Ek het die reel van 10 by my niggie geleer en dit werk so. As iets lewensgevaarlik is, dan is dit n 10, anders is dit op meeste n 8. As daar bloed uitkom is dit n 8, anders op die meeste n 6. As ek niks daaraan kan doen nie, dan is dit n 6, maar as ek iets daaraan kan doen, op meeste n 4. As ek iets daaraan kan doen, maar niks doen nie, is dit n 4, en wanneer ek iets daaraan doen word dit n 2.

Wanneer iets onder n 5 is, dan kantel die skaal na my kant toe, want dan is ek in beheer. 

Ek het verder in my lewe geleer dat 99% van dinge waaroor ek my bekommer nie gebeur nie, en dit wat wel gebeur min kere so erg is soos dit oor en oor in my kop afgespeel het. 

4. Soek alternatiewe

Nou, gewoonlik op hierdie punt behoort jy anders te dink, want daar is nooit net een antwoord op jou situasie nie. Selfs wanneer jy jouself in n hoek ingeverf het bly daar altyd die opsie om deur die nat verf te loop. Natuurlik is dit nie gemaklik nie, maar dit is doenbaar.  Soms moet jy terugtrek na jou ma toe of jou X-Box vir n jaar bere om jou punte te verbeter. Maar lekker of nie, dit maak jou weer dankbaar dat jy n ma het om na terug te trek of n X-Box gehad het om mee te speel.

Soms voel dit dan steeds vir jou asof jy nie opsies het nie, maar die besluit om deur die verf te loop is steeds JOU besluit. En meeste van die kere as jy dit moet doen en jy kyk terug op dit, was dit nie eers so erg soos jy gedink het nie. 

5. Jy is altyd in beheer

Wanneer jy jouself in n situasie van despair bevind, kasty ons onsself omdat ons dink en voel dat dit ons skuld is. Ok, dit kan en is soms die oorsaak. Maar het jy ooit daaraan gedink dat as dit jy was wat dit veroorsaak het, dat jy dan ook die oplossing is? 

Ek het geleer dat ek en ek alleen my situasie kan verander. Ander mense is daar om jou te help, maar net jy en jy alleen skryf die eksamen. 

6. Moenie ophou glo en bid nie

Daar is altyd lig in die tonnel, en dit is nie n trein wat van voor kom nie. Het jy al agtergekom dat jou oe aanpasbaar is in die donker? As jy jou oe knip, waar dit eers pikdonker was is daar skielik vorms wat jy kan uitmaak. 

Blinde mense leer ons dat al kan jy nie sien nie, het jy steeds ander sintuie wat jy kan gebruik. Jou hande kan jou help voel sodat jy nie in iets vasloop nie. Jou neus kan jou laat ruik waar die uitgang van die tonnel is. Jou vel kan jou laat voel waar die hitte van die uitkoms is en jou ore kan jou laat luister waar die voeltjies sing. 

As jy glo dat daar n uitkoms is, sal dit kom vir jou en sal jy dit soek. As jy dit nie glo nie gaan jy dalk in n hopie sit en vergaan, dalk centimeters van die uitgang af. Hoe sal jy ooit weet?


Monday, December 7, 2015

Opsies vir Stress!



Daar is 'n eksperiment in Amerika gedoen waardeur hulle 'n groot groep mense oor 'n 30 jaar tydperk analiseer het.  Die groep was gekies vir 'n eksperiment oor die invloed van stress en spanning op mense, om te bewys of die invloed van stress tot premature dood kan lei.  Natuurlik het hulle nie net hulle gesondheid in ag geneem nie, maar ook hulle stressvlakke in die algemeen, en die mees insiggewende hulle ingesteldheid oor stress.  Na 'n hele paar jaar het hulle die sterfterekords nagevors om te sien wie van die mense nog lewe, en 'n groot hoeveelheid van hulle was reeds oorlede.  Maar hulle het een vreemde feit agtergekom, een van die vrae in die eksperiment was of die persoon glo en dink dat stress tot jou dood kan lei.  Toe hulle na die statistieke kyk, het hulle agtergekom dat die mense wat gese het dat hulle NIE dink dit tot jou dood kan lei nie, se mortaliteit was noembaar baie laer as die wat gedink het die teenoorgestelde is waar.

Ek weet dat 'n mens met statistiek omtrent enige punt kan bewys, maar hierdie studie het my baie getref, want dit beteken tog dat daar 'n konneksie is tussen jou ingestelheid en mortaliteit.  Ek het al baie verwys na die werk van Louise Hay wat konneksies maak tussen selfs spesifieke emosies wat lei tot spesifieke uitwerking wat tot spesifieke siektes lei. 

Nou wil ek vandag so 'n klein oefening vir jou gee om jou te help om jou ingesteldheid teenoor jou lewe anders te sien. 

Ondervinding het ons nou al gewys dat omstandighede rondom jou nie net een oplossing of reaksie het wat daarmee saamgaan nie.  Dit is asl bewys met tweelinge dat alhoewel hulle in dieselfde omstandighede grootgeword het, hulle soms verskil in hulle idees oor dieselfde dinge.  So as daar nie 'n spesifieke reaksie is wat met 'n spesifieke aksie val nie, is daar tog opsies.  Daar word baie gepraat oor glas half vol en glas half leeg reaksies op dinge, en ook dat die grootste persentasie van mense makliker die glas half leeg sien.  Die eerste deel van die oefening is die besef dat die glas nie altyd propvol kan wees nie.  Daar is in jou lewe sekere situasies wat nie lekker is nie, stressvol is en jou in die nag laat wakker le.  Dus, die erkenning daarvan is die beginpunt, want jy kan nie altyd net die glas half vol sien nie, want dan fokus jy nie op dinge wat gedoen en afgehandel MOET word nie. 

Jou reaksie op 'n situasie is slegs 'n keuse, en vir die tweede punt van die oefening het jy nie nodig om die stukkie van die glas te gaan soek wat vol of leeg is nie.  Al wat jy hier doen is om IN die situasie wat jou laat opstress net 'n oomblik te gaan sit en te analiseer of daar 'n ander opsie of manier is om na die situasie te gaan kyk.   Hoe meer opsies jy kry en sien, hoe beter natuurlik.  Die opsies hoef nie altyd positief te wees nie, want wat jy doen is om balans te vind in HOE jy oor 'n spesifieke situasie voel.  Ek vind dat mense soms daardie emosie wat hulle het vat en dit so oor en oor en oor dink, dat dit sneeubal en hulle naderhand gladnie meer die son kan sien nie.  Dan gooi mense hulle hande in die lug en sien geen meer uitkoms nie.  Net so gevaarlik soos dit is om met jou kop in die wolke te leef en in drome nooit die realiteit hanteer nie, net so gevaarlik is dit om ook die een gevoel van negatiwiteit en vrees oor en oor uit te speel, want dan gebruik jy al jou energie op.  So, wanneer ek hier praat van ander opsies, beteken dit nie dat jy die vuur blus met water nie, maar stelselmatig die bol sneeu stukkie vir stukkie kleiner maak. Net die vraag:  "Is daar 'n ander manier om na die situasie en kyk en oor die situasie te voel?", verander alles.  Soms dink ons die ergste is die enigste opsie, en ons het nie energie om dit te hanteer nie, deur net te dink aan opsies kan jy skielik sien hoe maklik dit is om na die volgende vlak te beweeg.

Hoe hulle ookal eksperimente oor die brein doen, is daar nog nooit 'n glyskaal ontwikkel vir emosies wat dit kan kwantifiseer nie.  Maar eksperimente het al getoon dat sekere "verandering" in emosies sekere dele van die brein aktiveer en allerhande dinge soos adrenalien vrystel.  Maar dit vat oefening om dit reg te kry, en elke mens het sy manier om te weet wat hulle groewe en grafte is mbt emosies.  Daar is ook geen regte resep hiervoor nie, maar ek dink dat as jy hierdie oefening doen dit baie sal help.

Wanneer jy nou effens "anders", nie noodwendig "beter" voel nie, kan jy in die derde plek begin om te kyk na die konteks.  Een van die mees praktiese plekke waar ek altyd begin, is om op te hou dink dat ek die enigste is wat sukkel met sekere dinge.  Almal het geldelike, emosionele en verhoudings probleme.  Deur te erken dat ek nie die enigste is nie, bring reeds 'n mate van verandering in jou houding.  Een goeie voorbeeld hiervan is die hospitaalbed-eksperiment.  Kom ons se jy het hoofpyn en jy dink dit is die einde van jou lewe, dink vir 'n oomblik aan mense wat terminaal met kanker stry, dit vat nie jou hoofpyn weg nie, maar dit laat jou besef dat daar ander is wat met groter issues as jy sukkel.  Skielik sien jy jou situasie in konteks en vir wat dit werklik is, nie die einde van jou wereld nie.

Terwyl ons so oor konteks praat, kan konteks ook soms 'n bydrae lewer tot baie ongelukkigheid.  Dit is soms die mense en wereld om jou wat jou emosies skep, deur sekere "mode-aksies".  In die finansiele bedryf sit ek voor kliente, en een van die vrae wat baie my vra is of AL die kliente so sukkel met hulle finansies.  Ons praat deesdae almal van hoe sleg dit met mense gaan, terwyl, as ek om my kyk sien ek ongelooflike nuwe ontwikkelinge, nuwe motors ens.  My konsultasie met die klient verander onmiddelik wanneer ek die ander kant vir hom wys en se dat kliente nie sukkel nie.  Kom uit die groef daarvan om SAAM te praat, sodat jy naderhand dinge begin glo wat nie jou eie denke is nie, en wat soms nie waar is nie.

Die vierde ding om te doen, vloei so effens uit die vorige oefening uit, en dit is dankbaarheid vir wat jy reeds het.  Kyk net gou vinnig om jou wat en wie jy in jou lewe het, en se dankie.  Vat 'n stuk papier en skryf gou 'n lys neer van dinge waarvoor jy dankbaar kan wees, en hou aan tot jy uit dinge uithardloop om neer te skryf.  Vir my is hierdie een van die kragtevolste dinge om te doen om my situasie te verander.  Dalk is dit hier waar jy verstaan dat jy nie jou huisverband kan betaal nie, maar om dankbaar te wees dat jy wel kredietwaardig is, 'n huis het, meubels het ens.  verander dalk jou ingesteldheid om 'n plan te maak om jou paaiement te betaal.  Dan verander die energie in jou lewe en skielik WIL jy jou situasie uitsorteer omdat jy dit doen uit DANKBAARHEID en nie uit dwang nie.

Die vyfde en net so belangrik soos die ander is om aksie te neem.  Tel op die foon en maak 'n reeliing met die bank, staan op en gaan drink 2 Panado's vir jou hoofpyn of stuur 'n SMS vir iemand wat vir jou belangrik is maar waar daar twis is.  Indien dinge in jou lewe OOK nie prakties verander nie, gaan al die bo-staande dinge absoluut niks beteken nie.  Jou bank gaan nie al hierdie mooi stories glo van positiewe denke en dankbaarheid nie, as jy nie betaal nie, gaan hulle jou huis kom haal.  Soms dink ons dat ons praktiese probleme met EMOSIONALITEIT opgelos gaan word.  Nee, die oefeninge hier bo oor al die spiritualiteit is SLEGS gerig daarop om jou in hierdie vyfde oefening die energie te verskaf om jou probleem te hanteer.  Een van my vriende se altyd:  "Talk is cheap, but money buys the whiskey". 

Ek hoop hierdie kan jou help om 'n fantastiese week te ervaar!
libdisc25112014

Wednesday, September 30, 2015

Limiet-loos

In die film met dieselfde naam sien ons vir Bradley Cooper wat 'n magiese pilletjie ontdek wat wondere vir sy brein doen.  Skielik is hy heeltyd energiek en wakker.  Hy kan tonne informasie op dieselfde oomblik hanteer en verwerk.  Hy beindruk almal om hom met sy vibrasie en almal dink hy kan alles doen, en hyself ook.  Hy is wakker.

Wanneer ons kinders is of kinders grootmaak, dink ons dat ons alles kan doen.  Jy dink ook sommer dat jou pa ook Hulk is en die sterkste man in die wereld is.  Jy dink jou ma is die wonderwerker in die kombuis, en niemand kan jou seer geskaafde knie behandel soos sy nie.  Jy dink die wereld van die wereld, en jy dink alles is moontlik.

Soos jy ouer word, dink jy nie meer so nie.  Op skool sien jy outjies wat vinniger is as jy op die atletiekveld.  Jy kry te doen met 'n blonde meisie met vlegsels wat jou ore aansit in wiskunde.  Jy sien ander mense se ouers, en daai pa van jou maatjie se muscles is groter as jou pa s'n.  Jy begin interpersoonlike krisisse met maatjies optel.  Stadig maar seker glo jy nie meer dat jy "limitless" is nie.  So begin jy kampies en hokkies skep waar jy kan funksioneer, en vermy die plekke waar jy dink jy nie kan funksioneer nie. 

Soos jy nog ouer word, word hierdie situasie vererger deur meer en meer situasies om jou.  Jy ontmoet al meer en meer mense om jou wat "beter" as jy presteer.  Jy kom agter dat jy ouer word en jou liggaam nie meer die dinge kan doen soos in jou 20's nie.  Jy kom al meer in aanraking met hartseer situasies en verhoudings wat opbreek, en hou jy naderhand op om te glo in ware liefde.  Jy kry kinders en alhoewel jy aan die begin glo dat hulle "limitless" is, besef jy al hoe meer dat hulle maar ook nie is nie.  Jy begin hulle beskerm en oppas en keer dat hulle seerkry en kanse vat waarin hulle hulle beperkinge kan ken.  En sonder meer dra JY ook by tot hulle kassies van kan en nie kan nie.  Jy begin hulle leer dat daar 'n woord bestaan soos "onmoontlik" of "onwerklik" of "onrealisties". 

Dan, soos almal van ons wat ouers het wat bo 70 is, sien jy dat hoe ouer jy word, jou geleenthede al hoe meer verminder.  Jy kan later nie eers meer lekker loop nie, en jou rug en kniee gee in.  Jy begin totaal buite beheer voel en al meer en meer kassies in jou lewe se deure word gesluit.  Jy kan nie eers jou kleinkinders behoorlik optel sonder pyn nie.  Jy sien hoe meer en meer mense om jou, van jou ouderdom, siektes en kwale kry wat al hoe meer en meer bydra tot jou vrees oor jou eie toekoms.  En sodoende voel jy "bewusteloos" en sonder enige hoop.  Jy is soos iemand wat niks nuuts meer wil aanpak nie, of jy nou wil of nie, kan of nie kan nie.  En so word ouderdom 'n nuwe tronk wat jou herinner dat jy NIE limitless is nie.

Die Bybel vertel ons dat as ons die geloof van 'n mosterdsaadjie gehad het, ons berge sou kon versit.  Wat dit beteken is dat jy geskep is om "limitless" te leef.  Jy is nie gemaak om op hierdie speelgrond van God voor die tyd moed op te gee nie.  Wat maak dit nou werklik saak of jy die vinnigste is, jy kan steeds hardloop.  Wat maak dit saak dat jy nie professioneel kan dans nie, jy kan steeds dans.

Jy sien, ons voel en leef "limitless", omdat ons ons laat beinvloed deur ander mense en situasies van buitekant.  Ons "kompetisie" met ander laat ons voel asof ons nie goed genoeg is nie en nie dinge kan doen nie.  Ons laat omstandighede en mense om ons toe om al ons potensiaal en geloof in onsself te steel.  Ons gee alles en almal om ons die mag om VIR ons te besluit wat ons kan en nie kan doen nie.  Dit beteken nie dat daar nie iemand slimmer, ouliker en vinniger as ek is nie, natuurlik nie.  Dit beteken net dat ek nie moet opgee in die lewe omdat ek bang is iemand is beter as ek in 'n ding nie.  Vra jouself af wat jy in jou lewe sou vermag het as jy nie toegelaat het dat jy jouself met ander mense vergelyk nie.  Wat sou jou attitude teenoor jouself gewees het as jy kon trots wees op wie jy IS en nie op wie jy is in vergelyking met ander mense of dinge nie?  Hoe sou jou lewe uitgedraai het as jy bly glo het in jou "limitless"?

Die woord se vir ons alles, want dit bestaan uit 2 dele, "limit" en "less".  Ek dink die lewe begin wanneer jy jou kassies afbreek en jou horisonne verbreed.  Die oomblik wat jy verstaan dat jy en jy alleen die limiete op jouself en jou vermoens plaas, niemand anders nie.  Dit is JY wat die omstandighede om jou MAG gee en dit is jy wat opgee nog voor jy probeer het.  Dit is JOU denke wat dink dat jy nie berge kan versit nie.  Dit is JY wat jouself teen Usain Bolt stel en besluit JY gaan nie hardloop nie, want jy sal nooit so vinnig soos hy wees nie.  Nogal interresant dat hulle op skool vir ons geleer het dat ons eintlik almal wenners is, want ons het deelgeneem.  Daar sal altyd iemand beter as jy wees in 'n item, maar dit beteken nie jy moet ophou lewe nie.  As dit vir jou gaan om die beste te wees, altyd die hero te wees, is dit dalk eerder jou limiet.  Jy hoef nie die hero te wees en die goue medalje te verower om die lewe te geniet nie. 

Wanneer jy die grense van jou vermoens begin afbreek, dan leef jy.  Wanneer jy besef dat JY kan kies hoe jy wil lewe en wat jy wil doen, dan staan niks in jou pad nie.  Natuurlik staan jou talent dalk in die pad dat jy nie die beste kunstenaar in die wereld is nie, maar beteken nie dat jy nie jou stokmannetjies op 'n doek in jou huis kan raam nie.  Kinders teken hulle waterverf prentjies en ons hang dit met magnete op die yskas, en soms is daardie verwronge rooi, geel en blou huisie vir ons en ons kinders meer werd as die Picasso wat in die sitkamer hang. 

Mense vra my baie keer hoe ek so positief oor die lewe kan bly, want ek het blykbaar soveel hardship deurgegaan.  Vir my is dit eenvoudig, want ek LEEF.  Ek huil natuurlik wanneer dinge nie uitwerk soos ek graag wou nie, maar ek glo dat alles moontlik is.  Ons se dit so baie maar wat ander van jou dink is natuurlik belangrik, maar as jy niks van jouself dink nie, of glo dat alles moontlik is nie, sal niks wees nie.  Dan verloor jy nog voor jy begin het.  En as jou geluk afhang van omstandighede en besittings en allerhande dinge buite jou, sal jy nooit geluk ervaar nie.

Die vraag is vandag, wat laat jy toe in jou lewe om jou in te perk?  Wie en wat gee jy die mag om jou in kassies te sit en jou lewe te bepaal?  Die Bybel leer ons 'n belangrike les in die verband, naamlik, as iets jou pla, sny dit af.  Ons dra soveel baggasie saam van dinge wat gladnie eers relevant is nie, en al hierdie dinge hou ons terug.  Vandag is 'n dag in my lewe wat ek NIE volspoed kan hardloop vir my ideale nie, dit is 'n dag wat maklik kon ontaard het in 'n selfbejammering, maar ek weier volstrek om iets of iemand die mag te gee om oor MY geluk, MY toekoms te besluit en limiete te stel aan wat EK kan vermag. 

En ten slotte, jy kan enige iets vermag, maar dit moet vir jouself wees, nie vir ander of om iemand te beindruk nie.  Wanneer jy opreg jou lewe jaag, jouself vry maak van alles en almal wat jou lewe kan beperk, DIT is die sin van die lewe.  Dit is die wonderlikste gevoel in my lewe wat ek vir julle almal toewens, om op te hou om jouself te beperk, en jouself LESS te LiMIT.  Gaan GROOT!!!

Friday, September 25, 2015

Reg voor jou ogies!

So 'n ruk gelede is my kar gesteel, en saam met dit my redelike nuwe laptop.  Ek gebruik nou 'n ander een, wat soos gewoonlik nie sy instruksie boekie byderhand het nie.  Oor die afgelope paar weke het ek ook opleiding gehad, en my totaal en al frustreer omdat ek weet die rekenaar het 'n wireless ingebou, maar hy wys die heeltyd dat die draadloos ongedaan gemaak is.  Ek soek en ek soek en ek is op control panel en op die internet.  Uiteindelik wip ek vanmiddag my agterstewe en gaan youtube die model van HP om te kyk hoe om die draadloos aan te skakel.

Tot my verbasing en eintlike skaamheid, kom ek toe agter dat hier aan die voorkant so 'n knoppie is wat jy van lings na regs kan skuif om die draadloos aan te skakel.  En toe ek dit klaar gedoen het, sien ek daar staan net so links van die roetekoersgewer, die woord "wireless".  Genade, hoe dom en hoe onkapabel voel ek nie toe nie.  Dit was nou werklik 2 weke wat ek met die frustrasie sit.  Sien, ek het nou die ou skootrekenaar op en onderstebo gedraai, want oom google se dat daar 'n knoppie is,  wat ek toe tot by die kragkabel soek.  Ek was nou al amper reg om Hewlett Packard se direksie in China te gaan soek en te dagvaar oor die feit dat hulle wanvoorstelling gepleeg het.  Nou is ek skaam en jammer aan Ching Chong Chaai erens in China wat ek so gevloek het.

Soms is die antwoord nie kernfisika nie, maar staan dit duidelik voor ons ogies geskryf.  Soms maak ons so 'n groot bohaai van dinge en ruk dinge uit verband wat eintlik eenvoudig is.  Ek kan nie glo dat ek nooit die woord "wireless" raakgesien het nie, maar ek weet hoekom.  Ek het gedink dat dit tog nie so eenvoudig kan wees nie, want rekenaars moet mos complicated wees.  Ek het selfs onder die battery gaan soek aan die agterkant van die rekenaar vir die antwoord. 

Net om te besef dat dit nie HP of die skootbedeksel is wat gekompliseerd is nie, dit wat vir aanname en ingesteldheid.  Want sien, hoe kwater 'n mens mos is, en hoe meer frustrasies jy het, sien jy nie die reenboog nie, maar net rooi.  Dalk is die antwoord vir ons lewens en vooruitgang om net rustig te word en te kyk en te observeer.  Soms dink ons dat jy komplekse redenasies moet voer om by antwoorde uit te kom.  Ek dink, as ek dalk net effens rustiger was, sou ek kon konsentreer en die voor die hand liggende oplossing gevind het.

Iemand het een keer gese dat, hoe minder jy van iets weet, hoe meer kompleks probeer jy dit maak, terwyl mense wat werklik oor 'n onderwerp weet, jy dit maklik vind en maklik maak.  Vandag besef ek net dat ons dinge in die lewe so kompliseer dat ons wil mal word daarvan.  Ons analiseer alles tot by die prop van die rekenaar en Eskom, terwyl die antwoorde vir die lewe redelik eenvoudig is. 

Ek weet nie wat in jou lewe gebeur nie.  Ek vestaan nie jou trauma en depressie nie.  Ek is nie daar waar jou tekkie die teer tref nie.  Dit maak nie saak nie, wat wel saakmaak is dat jy dalk net dieselfde moet doen as my ervaring met die rekenaar.  Dalk moet jy verstaan dat die antwoord vir jou lewe moontlik reg voor jou is.  Moenie jouself SO kasty om ALTYD op die moeilike plekke die antwoorde in lang Harvard Studies te gaan soek nie.  Soms is die antwoord in die woord van 'n kind, reg voor jou en in jouself.  Dalk is dit die les wat ek vandag moet leer, en die tweede wat hiermee gelykstaan is, geen krisis kan teen spoed opgelos word nie.  Soos jou swaai in gholf, "slow it down to a blurr", want teen spoed mis jy dalk al die wonderlike en mooi dinge langs die pad wat die ou wat stap raaksien.

Op hierdie langnaweek, word rustig en stil.  Gaan sit onder 'n boom en kyk vir jou man of jou vrou, vir jou kinders en jou hond wat vir 'n takkie grom.  Word bewus van die suikerbekkie wat op die tak bo jou kom sit.  Wees nie net noodwendig "danbaar" nie, maar word net bewus van wie jy is en waarvan jy deel is.  Dis nie noodwendig jou erfenis waar jy vandaan kom nie, maar dit kan beslis jou hier en nou betekenisvol maak.  Die antwoord vir die vraag na die sin van die lewe is dalk lewensgroot voor jou geskryf, sien dit raak en maak dit jou eie.

Soos jou ma altyd vir jou gese het:  "Maak oop jou oe"!