Monday, October 5, 2015

Soek die mooi in alles

Ek het nog altyd geglo dat mense inherent goed is en in hulleself mooi is.  Dit is ons ervaring en omstandighede wat ons soms dwing in 'n ander rigting as wat ons graag wil.  Ek moet ongelukkig verstaan dat die Bybel 'n ander standpunt huldig, en vir ons se dat ons in sonde ontvang en gebore is.  Ek het die voorreg gehad om 4 van my eie kindertjies se geboortes te aanskou, en as jy daardie eerste oomblik van geboorte sien, kan jy onmoontlik dink dat daardie 'n sondige wesentjie is.

Ek gaan myself nie nou verstout om met die Teoloe te stry daaroor nie, maar in my kop is ons skepsels van God en nie van die wereld nie.  Ons is in liefde ontvang en gebore, dit is die wereld om ons wat ons deur ondervinding die slegte en stoute dinge leer.  Ek stem wel dat daar 'n skadukant in ons elkeen is, en dat ons wel deur God geskep is met die vrye wil om te kies welke kan ons in die lewe gaan kies. 

Wanneer ek so op Facebook rondblaai, verwys mense graag na al die "morone" en simpel mense om hulle.  Soms is mense sarkasties, maar ek kry die idee dat ons soms wel dink dat almal om ons simpel en stupid is, en ons die enigstes is wat die mag en pag het om die "normale" bordjie om ons nekke te hang.  My lewe het verander die oomblik wat ek probeer het om die mooi in ander raak te sien.  Jou ingesteldheid oor die wereld verander die oomblik wat jy eerder begin om die mooi in ander te soek, eerder as die slegte.  Wanneer jy daardie deernis van Jesus aanleer, gebeur iets wonderliks in jou lewe.  Skielik is jy nie besig om stokke te soek om ander mee te kasty nie, maar met 'n liefdevolle hart plavei jy vir mense 'n pad om gelukkig en hulleself te kan wees. 

Vir lank het ek, in my eie lewe, probeer om dinge en mense te druk in die rigting van perfeksie.  Ek wou hulle in kassies indwing om sodoende te word wat ek van hulle gesoek het.  Ek dank die Vader dat ek deur baie pyn en leiding wel die les geleer het om te laat gaan.  Mense om my verstaan dit nie altyd nie, en sien dit as 'n swakheid, maar dit is juis waar ek dink volmaakte geluk en wasdom van afhang.  Om sag en met deernis te leef IS ons roeping, en dit IS ons Godgegewe gawe om uit te leef.  Jesus het vir ons 'n fantastiese voorbeeld gestel om nie altyd almal te veroordeel nie.  Jesus is veroordeel omdat hy met sekere mense in die samelewing moeite gedoen het.  Dit is die grootste boosheid van menswees om altyd ander te veroordeel.  Niemand is perfek nie, almal het foute, maar almal het ook skoonheid in hulle.  Dit beteken nie dat ek my kop in 'n gat druk en summier dink dat alles in die lewe om my perfek is nie, inteendeel.  Wat ek wel glo is dat almal die reg op lewe en asem het, en natuurlik raak ons ongelukkig as ander ons reg op lewe ontneem.

My standpunt daaroor is mooi uiteengesit in my blog oor Be-oordeel en Ver-oordeel.  In kort beteken dit dat ek wel standpunt mag inneem oor mense en dinge om my, maar dat ek nooit die mens mag veroordeel nie.  Ek mag my idees huldig, maar ek mag nooit dink dat ek die enigste is wat reg is en almal moet na my pype dans nie.  Die Bybel leer ons beslis dat ons nie mag oordeel nie, want ons sal in dieselfde lig ge-oordeel word.  Die spreekwoord lei ook mos dat mense wat in glashuise bly nie met klippe moet gooi nie, en dat jy die balk eers uit jou eie oog moet haal, voor jy fokus op die splinter in ander se oe.
In dieselfde opsig, soek die mooi in jou en bou dit uit.  Hou op om verskoning te maak vir wie en wat jy is.  Jy is dalk sag en emosioneel, of watter persoonlikheidseienskap jy ookal uitleef.  Soek die mooi in jouself vandag en gaan leef dit uit.  Hou op om vandag so hard op jouself eerstens te wees, en tweedens op mense om jou.  Soek die mooi om jou en in jouself.  Vind vrede by jou mooi dinge, en hou op om tevergeefs vir die res van jou lewe jou skadukant te beveg. 

In die "law of attraction" leer ons dat jou brein net op een ding op 'n slag kan fokus, maar ook dat jou brein nie kan onderskei of dit wat hom gevoer word waar of vals, goed of boos is nie.  Dit werk amper soos met 'n rekenaar wat nie oordeel wat jy op hom skryf of doen nie, maar slegs uitvoer wat die opdrag is.  Indien ek dus nou daagliks op my negatiewe dinge fokus, of die van ander, vermenigvuldig dit gewoonlik.  Dit kry kleintjies in jou kop, en daarom moet 'n ou die paring van energie en negatiwiteit onmiddelik stop.  'n Vrou vertel nou die dag vir my al die dinge wat haar man verkeerd doen, en lag toe effens vir haarself, dat sy stemtoon haar ook nou begin irriteer.  Op dieselfde manier, as jy fokus op die mooi in jou en ander mense, dan gaan die mooi ook vermeerder. Dit is dieselfde konsep wat aan die werk is in ons koppe. 

Ek vertel altyd die storie dat 'n klomp mans so bymekaar sit en oor hulle vrouens en huwelike begin praat.  Dit is mos amper mode om die ander geslag af te kraak, en dan hoor jy nie net die waarheid nie, maar ook die stigmas wat ons aan die ander geslag toedeel.  Kort voor lank word jy so ingetrek by die situasie dat jy sommer vir JOU vrou ook kwaad is.  Wanneer dit by ons kinders kom, is ons vreeslik ingestel op die feit dat hulle nie aan negatiewe dinge blootgestel moet word nie.  Maar doen ons dieselfde met onsself?  In watter mate stel jy jouself bloot aan negatiwiteit en swak invloede?  In die rekenaar wereld praat hulle van "garbage in, garbage out" en ons breine werk presies dieselfde. 

Nee man, kom ons begin ons wereld verander deur meer sagkuns met onsself en mense om ons om te gaan.  Dit beteken nie dat jy moet kondoneer wat mense doen nie, maar jy kan tog eerder op die vreeslik baie mooi in jou en die mooi in ander mense fokus.  Net omdat iemand anders iets "negatiefs" doen, het jy steeds die keuse om nie toe te laat dat dit jou beinvloed of nie.  Die lig het nog altyd die duisternis oorweldig, maar jy moet die lig se skakelaar aansit.  Dalk moet jy en ek vandag die lig in onsself, in ons lewensmaat, in ons kinders, in kollega's en in almal om ons soek.  Dink net wat sal gebeur as almal vandag net vir een persoon iets positiefs toedig van wat hulle in die lewe is.   

Kom ons begin by vandag en vir die res van ons lewens, en kom ons gee elke dag vir elke mens om ons net 1 kompliment, en kom ons verander die wereld waarin ons leef op die manier, want kritiek verander niks nie.
Hoop jou week is fantasties!!!!

No comments:

Post a Comment