Wednesday, April 1, 2020

Ons Grendelstaat storie

Met ons almal wat in n grendelstaat verkeer, het ek besluit om so ‘n paar vriende nader te hark om saam met mekaar ‘n storie te skryf op Whatsapp. Hoe dit werk is dat elkeen ‘n nommer toegedeel word en jy mag dan net ‘n sinnetjie of 2 in volgorde skryf. Ons is nou op dag 5 en sommiges het nou al uitgeval, maar ons hou aan.
Wat dit interresant maak, is dat die storie projek ons presies ‘n idee gee van hoe die wereld werk. Toe ek daardie eerste dag om 12:00 die storie met slegs ‘n gedagte begin het, het niemand ‘n idee gehad waarheen die storie lei nie. Daar was geen formele tema of niks nie, net soos ons lewens is.
Elke dag en elke oomblik is daar ‘n sinnetjie of ‘n gedagte of ‘n ervaring wat bygelas word. En omdat ons ‘n hele spul is, het ek na elke plasing in my kop probeer om te dink hoe en wat ek kan skryf om die storie in my idee-rigting te laat vloei, maar dit werk toe nie so nie. Net as jy dink oor wat jou karakter gaan moet doen, kom die ouens voor jou met ‘n ander rigting wat jou dwing om effens meer kreatief te wees.
Dit gebeur telkemale met ons, wie van ons sou byvoorbeeld 2 maande terug gedink het dat ons hier sou sit? Ek het self nie kon glo hoe my lewe gedraai het oor die laaste tyd nie. Dinge wat ek beplan het en oor gehunker het het totaal en al in ‘n ander rigting gegaan as wat ek ooit sou gedink het.
Ons is almal so vasgevang en kinderlik hardkoppig oor ons idees van waar en hoe ons lewens uitgespel en uitgekaart moet word, en word kinderlik ongelukkig wanneer dit nie so uitwerk nie. Kyk net hoe absoluut is ons teruggeruk uit ons storie wat ons mee besig was voor die lockdown? Ja, en soms is dit onaangenaam en seer, en soms het ons nodig om ‘n totale kopskuif te maak. Hierdie Covid ding het ons so daaraan herinner aan hoe dinge in ons storie in ‘n oogwink kan verander. Ons weet dit erens diep binne ons, maar ons is seker nooit heeltemal reg vir sulke veranderings nie. In ons storie-groepie kan jy nie heeltemal lank vooruit dink nie, die persoon voor jou moet eers klaar plaas voordat jy kan dink en skryf, en jy moet kreatief wees, want dit is soms heeltemal anders as wat jy verwag, hoe frustrerend dit ookal is.
Ek het die bydraers ingedeel volgens nommers en die deelnemers kon nie kies wie voor hulle is nie, net soos ons ook maar net vrede moet maak met die sinnetjie en aksie wat voor jou gebeur. Hoe jy ookal beplan, kan jy nie die persoon voor jou coach om te post wat jy graag wil sien nie. En ook kan jy nie bepaal wat die persoon na jou gaan plaas nie, al waaroor jy beheer het is daardie enkele oomblik wanneer dit jou beurt is en die kollig op jou is. Jy het in die lewe slegs hierdie oomblik en wanneer dit jou beurt is om jou merk te maak.
Die mense wat ek gevra het om deel te word van die storieboek, is nie professionele skrywers nie, en ek ken mekaar nie, dit is net random. Op dieselfde manier het die deelnemers hier dus nie ‘n keuse van wie hulle saam mee moet skryf nie. Ek en jy het ook nie soveel beheer oor ons lewens dat ons altyd kan besluit wie die perfekte spannetjie in ons lewens is nie. Jou ouers, kinders, vriende, spesiale mense is net so random.
Maar skryf moet jy skryf, en soms hulle hinkepink idees inwerk in die storie. Ons storie gaan tien teen een nie die bestseller lys haal nie, mens weet nooit, maar skryf word hy geskryf. Te veel kere verwag ons van die lewe om eers die perfekte karakters, perfekte skrywers, perfekte omstandighede of perfekte tema te he, voordat ons skryf. Intussen gaan die tyd by ons verby, en mis ons soveel dinge.
Ek het nou al die storie, soos hy ontwikkel, met ‘n paar ander vriende gedeel, en sommige van hulle is nou ontsteld omdat ek hulle nie bygebring het nie en uitmis, en ander put soveel genot uit ons storie, hoe amateur dit ookal is, en kan nie wag vir wat volgende gaan gebeur nie.
In hierdie 5 dae het daar mense weggeval, oor welke rede ookal, party was te besig of het gevoel dat hulle werk en dalk ander in die steek gaan laat omdat hulle nie gou genoeg kan antwoord nie. Hulle is ook deel van die storie, al het hulle stem stil geraak. Soms, wanneer jy jou storie skryf word sekere deelnemers uit jou lewe gehaal, soos ek as moderator hulle verwyder. Ek as moderator kan nou vir ure met hulle redeneer om nie uit te klim nie, en eerder te bly, maar ek verstaan dat elkeen ook terselfdertyd met hulle eie ander storie besig is, wat vir hulle belangriker is as om op my en my storie alleen te fokus.
Die storie gaan aan, wie ookal uitval en wie ookal bykom, of jy nou self jou reeltjie skryf of nie. Ons het ‘n reeling dat indien die persoon voor jou binne 2 ure nie reageer nie, dan mis hulle hulle beurt. Die storie van die lewe werk ook so, as jy nie deelneem en jou deel bydrae nie, jou storie gaan aan, met jou of sonder jou.
En so het daar ook mense bygekom, en alhoewel ons daardie een ou mis wat die hele tyd iets spesiaals bygedra het, kom ek nou agter dat die impak van hierdie nuwe skrywer dalk baie meer en beter bydrae lewer tot ons storie. En soms, net soms kom hulle oor ons pad, sonder dat ons dit gesoek het, en met die vreemdste en kronkelste van draaie. Om die rede moet ‘n mens altyd bly glo in die proses en nie sommer van die staanspoor jou neus optrek vir nuwe impak skrywers in jou storie nie. Dit is dalk net die katalisator wat jou storie woema en meer betekenis gee, en wees eerder dankbaar vir dit as om te top oor die een skrywer wat nou nie meer deel van die proses is nie.
So tussendeur ook besef jy dat jy nie altyd die regte antwoord het nie, of dat jy onseker is oor wat om te plaas. Ons het so ‘n paar deelnemers wat saam met hulle geliefdes en gesinne saam die storie volg en saam besluit wat om te plaas. Daar is ook my vriendin wat ook soms vashaak en dan vir my vra om te help, en net so help sy my ook wanneer ek vashaak. Op hierdie oomblik in ons bestaan is ons afgesny van so baie dinge om ons en ons vryheid is ge-impakteer. Dit beteken nie dat ons storie ophou nie, en dat ons die storie alleen moet aanpak nie. Hoe gelukkig is ons met tegnologie dat ons kan Zoom en Houseparty en saam met mense wat ver is ons storie kan skryf? Van ons 16 wat saam skryf is ons hier en daar saam met iemand wat ons storie help skryf en ons ruimte deel, maar oor die algemeen is ons ver verwyder van mekaar. Dit is nie perfek nie, maar ons skryf saam aan mekaar se storie.
Dit is pret, vir my in elkgeval, en elke keer as ons whatsapps hier in die huis piep, spring ons beide op en kan nie wag om te sien wat wie geplaas het nie. En dan bespreek ons, ons is verbaas of verheug en skielik in ons koppe begin ons beplan wat ons gaan plaas, maar weereens nie altyd soos ons dit verwag nie. Die grootste ding hiervan is dat dit pret moet wees, en terwyl ons in ons slegste omstandighede in menseheugenis ons bevind, kan ons steeds lag en geniet en die storie skryf na die beste van ons kragte. Dit was tog die doel van die oefening, om iets te doen en aan die gang te hou wat ons aandag so bietjie aftrek en iets lekker kan doen, te midde van omstandighede. Vir baie mense hou hulle op om te skryf wanneer dinge bietjie taai en sleg word. En een van my vriendinne se kommentaar hierop is: “Ek is nie ‘n skrywer nie, ek kan nie skryf nie, en as dit nie hiervoor was nie het ek nooit geskryf nie”. As jy in die lewe wag vir alles om eers perfek te wees VOOR jy jou storie skryf, sal jy tien teen een nooit tot skryf kom nie.
Ons het, hier waar ons nou sit, nie baie keuse en beweegruimte nie. Soos in ons storie het nie een van ons enige idee of waarborg waar ons storie saam met Covid gaan eindig nie, en dit maak baie mense paranoid en vol vrees. Ons oefening het my gewys dat ons geen idee het, OOIT, waar ons lewens heen gaan en gaan eindig nie. Ons weet nie wie gaan aan die einde van 21 dae as deelnemers gaan oorbly nie, ons weet nie of ons held noodwendig gaan leef aan die einde van die storie nie, en of ons ooit gaan uitvind wat die geheim in die klein dorpie is nie. Aan die een kant sou die lewe makliker gewees het as ons die uiteinde en die laaste hoofstuk eerste kon lees, maar dan spoil jy eintlik die boek vir jouself. Ons storie, en so dink ek moet ons die lewe sien, se sin gaan oor dat ons bly skryf, al is dit met rukke en stote, al moet ek as moderator soms aanpor en herinner, al kan jy nie perfek skryf nie, al maak jy spelfoute, almal mag deelneem.
En deur dit alles het ons een belangrike ding om te onthou, soos ons storie whatsapp en data het om te kan skryf, so het God ook vir elkeen van ons al die ruimte van lewe geskep en die hele houer met lego blokkies op die mat uitgegooi om mee te bou. En die lekker, en ja soms scary ding, is dat jy jou storie kan bly bou, saam met die mense om jou, sonder dat jy ‘n finale plan of aanwysings het.
Dit is vrye wil, al voel dit soms dat jy ingeperk is, God jou nie beperk in jou denke en data nie, en jy jou storie kan afhandel, te midde van die twist en turns waaroor jy geen beheer het nie.

No comments:

Post a Comment