Friday, April 3, 2020

Die tweede bedryf:

Hier in Suid-Afrika is ons deur die eerste week van Lockdown, en nou le die tweede een voor. Die eerste week het sy skok en skop op die sisteem gelaat, maar als en als dink ek ons het dit gemaak, ja want ons is nog almal hier. Daar was baie grappies en stories en video’s wat die rondte gedoen het. Daar was genoeg snacks, wyn en daar was amper iets van ‘n optimistiese positiwiteit by mense oral te bespeur. Dit is seker maar soos ‘n nuwe besem en saam het ons die ervaring so bes moontlik vir onsself en die mense om ons probeer maak.
Nou le die tweede week eers voor ons, en dit laat my amper dink aan ‘n opera. Toe ek klein was het die Staatsteater in Pretoria geopen. My ouers het beide van Opera gehou, en ons het seker elke produksie gaan bywoon. Dit was die tyd toe mense nog opgedress het vir die okkasie, bietjie meer fancy as wat ek gewoond was om mee kerk toe te dra. My ouers het ook hulle bes gedoen om my te kultiveer, alhoewel ek nie heeltemal seker is dat dit gewerk nie. Ons het op ‘n plot buite Pretoria gebly, en as enigste kind was ek soms eensaam, en al het dit opera gekos, dit was darem lekker om stad toe te gaan, want dit was ‘n heerlike outing. My hoogtepunt was die pouse en wanneer ek kon Whispers en ‘n koeldrank kry, seker maar soos enige kind.
Opera’s is gewoonlik in Italiaans, en my ouers het altyd vir my die storie voor die tyd vertel sodat ek darem die ding kon volg. En, ek moet se, Truk het altyd sulke fenominale produksies op die aangebied met ongelooflike dekor en sangers. Dit het gevoel of jy spesiaal is, want in daardie tyd was daar nie so baie vertonings van enige aard wat ons kon bywoon soos vandag nie. Soos my kinders seg, ja, toe pa jonk was het julle op kliptablette geskryf met ‘n hamer en bytel. Amper so iets. Maar dit was ‘n outing wat ek met groot deernis onthou.
Die opera’s het gewoonlik 3 bedrywe gehad. Die eerste is nogal exciting gewees, want die stelling word gemaak vir die res wat gaan volg. Die karakters word voorgestel en ‘n klomp area’s skep die agtergrond van die storie met oorgawe. Ek onthou dat ek dan sommer so op die punt van die bruin fluweel stoel gesit het en verstom was oor die dekor met opwinding. Dan was daar die pouse en almal het daar in die foyer in toue gestaan en goeters gekoop om te drink of aan te hap.
Die kultuurkenners het met neuse in die lig die eerste bedryf beskryf, kommentaar gelewer oor die tenoor en daardie sopraan en hoe bly hulle is dat hulle vanaand gekom het. Daar was ook altyd een tannie wat ‘n beter produksie van die opera in in Milaan gesien het. Erens was daar ook ‘n grommerige oom wat by sy vrou kla omdat die Coke R1 kos wat volgens hom buitensporig was. Die pouse het dan skielik tot ‘n einde gekom met ‘n ding-dong-dang klok wat aangekondig het dat ons ons plekke moet inneem.
Die tweede bedryf is altyd waar my aand so bietjie skeef geloop het. Die middelste bedryf is gewoonlik waar die karakterontwikkeling en intriges plaasvind. Die area’s wat gesing is het soms vervelig en middelmatig geklink. Omdat my ouers so opgewonde oor Opera was, het ek altyd probeer om wakker te bly in hierdie tyd. Dit het soms gevoel asof dit so ‘n onnodige deel is waar dinge nie werklik gebeur nie, dalk omdat ek nie mooi verstaan het nie. Ek was kort en die stoele van die staatsteater het my soos ‘n handskoen gepas, want my kop het net-net bygekom by die rugleuening om my kop te laat rus. So nou en dan het my ma of pa my met die elmboog in die ribbes gepomp om wakker te word, maar helaas, die vaak het my meestal soos in ‘n vervelige kerkdiens bekruip. Ek kan nie onthou of ek ooit een Opera se tweede bedryf ooit deurgesien het nie.
Een van my ouer se gunsteling opera’s was La Traviata (the fallen Woman) van Verdi, met Violetta wat ryk is en verlief raak op Alfredo wat arm was en wat nie die goedkeuring van beide stel ouers weggedra het nie. Maar mens kan mos nie in die lewe kies op wie jy verlief raak nie. In die tweede bedryf is hulle uiteindelik saam, en dan sien Alfredo hoeveel sy opgeoffer het om saam met hom te wees en nou kom al die skuldgevoelens. Alfredo gaan dan terug stad toe en probeer sy bes om aan haar vereistes te probeer voldoen en geld te kry, sodat Violetta nie alles moet bydra nie en sy by hom moet bly. Sy pa kom by Violetta aan en vra haar om asseblief redelik en realisties te wees en die verhouding te stop, want hulle aksies het ‘n impak op ander mense se lewens, veral Alfredo se suster se moontlike troue in ‘n ryk familie in.
As gevolg van druk, besluit Violetta om die regte ding te doen en haar liefde op te offer en terug te gaan na haar ou lewe wat inpas by wat almal van haar vra. Sy los vir Alfredo ‘n brief, maar sy sien nie kans om hom te face nie, en gee instruksies dat die afse brief eers vir hom gegee moet word wanneer sy reeds weg is.
In die derde bedryf is Violetta siek en oppad om dood te gaan, en sy dink dat dit te laat is om met Alfredo te verenig waaroor sy spyt is. En op die einde kom Alfredo wel om haar vas te hou, en so hulle liefde te verenig. En die opera eindig met Alfredo se pa wat die stok in die speke was, wat sy blessing aan hulle liefde te gee wanneer hy erken en besef hoe lief die twee mekaar het, al is dit eintlik te laat.
Hierdie tweede week van die lockdown gaan volgens my ook soos die tweede bedryf in ‘n opera wees. Dit is juis nou wat ons karakters getoets gaan word en waar ons baie dinge in en om ons gaan challenge. In die eerste week is nog naby genoeg aan die normaal waaraan ons gewoond was en dit het gevoel dat ons planne werk. Die laaste week (hopelik die laaste week) gaan dit ‘n aftel week wees waarin die klimaks gaan kom. Die middelste week gaan amper ‘n grys week wees. Dit is die week waarin ons sterk sal moet staan.
Jy gaan keuses en besluite in jou lewe uitdaag, jy gaan baie emosies ervaar, veral omdat jy teruggeruk word na die realiteite van jou lewe. Ja, jou snacks gaan opraak, jou wyn minder gereeld gegooi kan word en jou verhouding met jouself en die mense om jou gaan getoets word.
Ek tel by vriende op in die gesprekke dat hulle die lockdown nou begin voel. Sommiges voel al meer depressed, so duidelik word die tweede bedryf nou ‘n werklikheid vir almal. Dit is asof alle grappies nou op ‘n stokkie is, en selfs die braai vervelig word. Moenie dat dit met jou gebeur nie, elmboog jouself in die ribbes, en as jy weet dat dit so gaan wees kan jy voorberei. Weet dit gaan dalk jou boringste week in jou lewe wees, en ontspan, this too will pass. Jy kan dalk baie mooi dinge en geleenthede mis.
Jy mag dit vreemd vind dat ek nie hier vir jou ‘n mooi prentjie van bemoediging skets nie, maar ek glo dat ‘n mens tog mag en moet eerlik wees, want ons weet dat die begin van vorentoe beweeg daarin le dat jy eers moet weet waar jy is. Jy mag so voel, ons IS in ‘n moeilike scenario, en besef wat in jou kop en emosies aangaan is belangrik.
Karl Jung het gese: “Who looks outside, dreams, who looks inside, awakes”. Dit beteken dat ‘n mens wel voel asof jy ver van jou droom is, om saam met vriende te wees, om vryelik uit te gaan en te beweeg, maar werklike groei kom wanneer jy in jouself in kyk, wanneer jy jouself leer ken en verstaan. Ja, en dit is nie altyd maklik nie, maar soos Jung ook vir ons vertel “There is no coming to conscieousness without pain”. Dit ons menslike natuur om van enige pyn of goeters wat ons pla te wil wegskram. Dit was soos met my ervarings met die opera’s, jy moet deur die 2e bedryf kom voor jy by die klimaks en die areas kom wat die hele “straf” die moeite werd maak.
Ek sal nou nie se dat my ervarings, hoe vervelig ookal vir my, my totaal negatief gemaak het teenoor opera’s nie. In ons hedendaagse wereld het ons YouTube, wat jou vinnig heen en weer kan laat soek vir die Opera areas wat jou favourites is. Jy kan rondspring tussen die 1e tot die 3e bedryf met die druk van ‘n knoppie. Maar die voorreg is van ons weggeneem, nou MOET jy dwarsdeur die hele vertoning sit, 1e, 2e en 3e bedryf, hoe frustrerend ookal.
Maar, jy het keuses in hierdie tyd. Soos wat ek terugvertel van my ervarings van die aande saam met my ouers, het selfs die middel 2e bedryf steeds deel uitgemaak van my memories. Jy kan seker die eerste bedryf en laaste bedryf saam kyk sonder die tweede, maar soos ek groter geword het, het ek besef dat, alhoewel die middelste as kind vervelig was, dit juis IN die tweede bedryf is waar daar werklike diepte in die storie kom en wat die uiteinde soveel meer die moeite werd maak.
Probeer dus hierdie komende week in dieselfde lig sien, bly positief en ja, let op. Word bewus, en dalk kry jy nodige tyd om bewustelik te besef wat werklik in jou aangaan, want wanneer al jou kanse en verskonings en redenasies in jou plaasvind, skrik jy dalk wakker om reg te wees vir die destiny wat eintlik jou pad is sodat jy reg is om jou lewe te rig waar dit moet heen lei.
Wees dankbaar, want erens in die groot plan van die wereld is ons almal gedwing na binne, nie net binne ons huise nie, maar na die binnekamers van ons harte, om dalk net daar werklik weer te ontdek wie ons is en wat vir ons belangrik is, en dalk te besef wat ons moet gaan regstel wanneer ons uit hierdie situasie kom.

No comments:

Post a Comment