As daar nou een ding is wat die Lockdown Pandemie my geleer
het, is hoeveel keer ek myself die woorde hoor uiter het “ek verstaan nie”. Informasie en syfers maak soms nie sin
nie. Daar is dubbele standaarde en hoe
meer mense, hoe meer kenners en teoriee.
Maar een ding is verseker, niks, nerens ooit in menseheugenis het ons
onsself ooit in so ‘n posisie bevind nie.
Dit voel soos daardie aanhaling wat se “just when we knew all of life’s
answers, they changed the questions”.
En ons word ook aan die diepkant ingegooi, want soveel van
ons vertel vir mekaar dat die nou juis ‘n tyd is wat jy na binne moet keer en
sekere vrae aan jouself stel en probeer antwoord. Kom ons wees nou totaal eerlik met mekaar,
ons probeer onsself rig in ‘n rigting van sekerheid oor iets, maar ons het ook
absoluut geen idee vir watter tipe wereld ons onsself voor moet voorberei nie,
want ons verstaan self nie, en niemand kan vir ons enige werklike leiding gee
nie.
Ek vang my daagliks dat ek so ‘n verstarrende uitdrukking
kry oor wat gebeur, want ek het absoluut gee clue nie, niemand het nie. Al die kenners op aarde probeer met slim
dinge ons rig, maar dit voel soos ‘n Garmin GPS wat ek mee sit, maar ek het nie
‘n eindbestemming se koordinate nie. En
ek maak myself rustig met die idee van “it’s not about the destination, but
about the journey”, maar om eerlik te wees, die reis is nie heeltemal so
romanties en pragtig nie, en ja, ek het nou al aan die rose geruik, dit gepluk
en potpourie gemaak sodat ek daagliks die reuk kan ervaar.
Is dit dan verkeerd om so verward en buite beheer te
voel? Verseker nie, dit kan ek jou
waarborg. Maar skielik besef ons dat
aanhalings soos “smell the roses” en “the only constant is change” wat ons jare
al aanhaal, help ook nie meer nie. Aan
die begin van die tyd van inperking lees ek op Facebook nog ‘n aanhaling wat
lees “maak seker dat die normaal wat jy na wil terugkeer is die normaal
waarheen jy toe wil terugkeer”. Weereens
pragtige woorde, en as jy soos ek is, het jy telkemale jou kop gebreek oor wat
jou normaal was, wat gewerk het en wat nie, wat jy wil verander en wat
nie.
En so sit ons soos elke jaar op ‘n oujaarsdagaand en spin
vir mekaar oulike stories oor voornemens van wat ons gaan doen in die nuwe
jaar, wat ons eintlik weet net ‘n wens is, en wat ons geen werklike aksieplanne
voor in plek het om dit wel te doen nie.
Wat die voornemens dan, en ook in ons huidige situasie vir ons wys, is
dat daar geen tekort is aan insig van wat in ons lewens nie werk nie. Dit het ons baie van en ons betaal daagliks
die prys daarvoor, maar ons bly dit doen, ons hou vas daaraan. Hoekom?
Is dit vrees of tekort aan guts of wat is dit? Die groot vraag is eintlik nie oor wat werk
en nie werk nie, want ons weet presies, die vraag is egter wat my daarvan
weerhou het om in Januarie en Februarie van 2020 iets daaraan te doen?
Ek het grootgeword met ‘n ma wat ‘n matriek wiskunde juffrou
was. My en haar grootste fights was
altyd oor Adam en Eva. Kom ek
verduidelik dit beter, want dit gaan nie oor die Bybel nie. Almal het altyd daarna verwys hoe gelukkig ek
is om haar by my te he om te kan help as ek vashaak. Dit was so, maar het tot oneindige vassit
gelei. As ek by haar kom met ‘n som wat
ek nie verstaan nie, het sy my mal gemaak om dan altyd eers ‘n skoon papier en
pen nader te hark en dan die beginsel (dis nou Adam en Eva) te wil verduidelik en
uit te pluis. Dit het my gek gemaak,
aangesien ek nie nou daarin belanggestel het nie, want ek het geweet van Botmas
ens. En miskien, is dit waar ek en jy vandag
sit met die situasie in ons lewens.
Vir 5 weke lank sit ek en jy met huiswerk en ons maak
sommetjies oor elke deel van ons lewens.
Ek wonder of daar ooit soveel introspeksie was as ooit voorheen in die
geskiedenis. Miskien is dit die rede
hoekom jou nuwejaarsvoornemens nooit gebeur nie. En verseker is dit ook hoekom al hierdie
oulike plannetjies wat ons vir mekaar vertel ons gaan verander in die
Post-Lockdown ook nie gaan werk nie, en dit is dat ons die som wil oplos, nou,
net hierdie enetjie sodat die huiswerk kan klaarkom. Dit gaan beslis nie werk nie, en dit is wat
my ma se ondervinding in 35 jaar van wiskunde haar geleer het, dat as jy nou
sukkel met die som, sukkel jy nie met die som nie, jy het nie die basiese
formule of beginsel wat die som nodig het om mee opgelos te word onder die knie
nie.
In die laaste klompie jare het ek my revenge op haar gehad
wanneer ek byvoorbeeld tegnologie aan haar probeer verduidelik en dan aspris by
Adam en Eva begin, en dan word sy weer kwaad vir my. En in daardie kwaad word van my vir haar oor
die beginsel en vice versa, is dalk die antwoord. Vir ons om werklik diep te delf na ons ware
en diepste beginsels, drome en ideale is nie altyd maklik of sonder pyn
nie. Soms herinner dit ons van die kere
toe ons ook daaraan aandag moes skenk en nie het nie, wat uiteindelik tot al
hoe groter toffie somme gelei het.
Ek het ook uit dit geleer dat, hoe ouer ‘n mens word, die
somme nie weggaan of makliker word nie.
Maar as ek nie aan die basiese beginsels voldoen nie, gaan my somme
later ‘n nagmerrie word, en kan dit soms lei tot ‘n situasie waar ek eenvoudig
opgee. Maar ook aan die ander kant, die
oomblik wat ek die beginsel weer onder beheer gekry het, het ‘n magiese ding
gebeur, die som het homself dan ook soms outomaties opgelos. Ons kan maklik hier en nou so vasstaar teen
die hakies wat die x en die y inhok, met ‘n kwadraat bo en ‘n vierkantswortel
oor ons getalletjies, dat ons gladnie enigsins kan glo of hoop het om aan die
ander kant van die gelykaan teken ooit te kan kom nie.
Ons almal voel oorweldig deur die som wat ons nou gedwing
word om op te los, en ons voel dalk toegegooi deur ‘n klomp vrese en
emosies. Ek sal arrogant wees om voor te
stel dat alles OK gaan wees, want ek weet nie.
Dit sal onwys wees om enige voorstelle op die tafel te gooi, want niemand
weet wat die koordinate vir die GPS se eindpunt is nie. Wat ons wel in gedagte moet hou is dat ‘n GPS
2 stelle koordinate nodig het, nie net die eindpunt nie, maar ook ‘n beginpunt. Vir sommige van ons is dit belangrik om altyd
te weet waarheen ons oppad is, maar die grootste genot is baie keer in ‘n
roadtrip wat jy slegs jy en jou metgeselle op die oop pad is en sien en kyk wat
gebeur, en dit vat guts.
So, wanneer jou som nie nou sin maak nie, miskien is die
uitdaging nie om jouself te dwing om dit net met ongeduld NOU op te los of om
die koordinate nou te kan kry sodat jy
kan gaan lekker dinge doen nie, maar om werklik terug te gaan na JOU Adam en
jou Eva, dit wat werklik vir jou belangrik is.
Eers as jy dit gedoen, besef en werklik onder die knie gekry het, dan
kan jy die som aanpak. En dit bring ‘n
totale bevryding van ‘n eerlikheid met jouself wat vir jou vrede kan
bring.
No comments:
Post a Comment