Thursday, April 2, 2020

Paranoid:

Ek het myself nog nooit geklassifiseer as ‘n “germophobe” nie.  Dit gese, ek was nog altyd my hande sonder dat my ouers dit vir my geleer het.  Ek is daai ou wat die man wat voor my in die badkamer was en nie sy hande was nie snaaks aankyk in ‘n restaurant, veral as hy net na die kamerverlaat episode sy vrou se hand vashou en aan haar wang streel.

Vanoggend sit ons tweetjies hier omring met spuitbotteltjies van alle groottes gevul met ontsmettingsmiddels.  En skielik begin ons onwillekeurig dinge om ons ontsmet, die remotes, die selfone en ook selfs die laptops, so hierdie boodskap word vanaf ‘n gereinigde keyboard getik, so julle is veilig.  Ons gaan egter ‘n entjie verder, want nou ontsmet ons ook die ontsmettingsmiddel botteltjies, en ook die deurknoppe, krane en die toilet se silwer spoel gadget.  En skielik kyk ons mekaar vreemd aan en lag oor dit, want ons wonder wat ons nog kan ontsmet, die ligskakelaar, die lighter en die tuinslang waarmee blommetjies natgegooi word?

Dit word heel duidelik dat ‘n mens se gedagtes so ingesuig word op dinge waarop ‘n mens fokus, en mens sukkel om daarvan weg te kom.  Mens hou die telling van die infeksies intens dop op CNN en vir objektiwiteit Al Jezeera en ook soms soos ek dit noem die “nie-lockdown kaskenades” op eNca.  En skielik besef ek in ‘n oomblik wat ook die impak is van die blootstelling op my psige.  Gisteraand kyk ons Binnelanders, en ek wonder onwillekeurig hoekom hulle met hulle lewens aangaan, hande skud en drukkies uitdeel.  Sien net hoe consumed ‘n mens kan raak en gebreinspoel word deur alles wat om ons gebeur?

Nie een van ons is al ooit blootgestel aan situasies soos hierdie nie, en almal besef dat ons lewens nooit ooit weer dieselfde gaan wees nie.  Moontlik gaan daar in die toekoms orals by ingange iemand wees wat jou hande gaan spuit, en in restaurante ook ‘n botteltjie ontsmettings goed wees, so langs die Tabasco.  Ons sal nie weet nie, maar glo my vry, paranoid gaan ons bly.

Die ou mense het gese:  “Alles wat ‘n TE is, is verkeerd, behalwe te voet, te perd en tematies”.  Vanoggend se oefening het my laat besef dat dit eintlik heeltemal te erg kan word en jou hele gedagte kan oorneem.  Ons weet ook dat die lewe oor balans gaan, ja, jy moet jou hande was, maar as dit te erg word, dan het jy ‘n probleem.  As jy elke keer jou partner wil ontsmet voor jy haar ‘n drukkie gee, selfs al weet ons ons was nerens, gaan ‘n hele boel ander dinge ook verlore gaan. 

Vandag skryf ek nie lank nie, nie dat ek aan nog iets gedink het om te gaan ontsmet nie, maar eerder omdat ek my eie raad wil volg.  Miskien vandag, moenie so paranoid wees oor Covid-19 nie, skakel bietjie in op ‘n ander kanaal, lees ‘n boek, kyk ‘n film, gesels met mekaar, scroll verby die dinge op Facebook oor Covid, en leef bietjie vir ‘n verandering.  Probeer so effens normaliteit in jou lewe kry.

Ons weet tog al jare lank dat jou brein net op een ding op ‘n slag gefokus kan bly.  As jy bewus is van ‘n sekere tipe kar in wit, gaan jy dit orals om jou raaksien, maar as jy skielik bewus word van iemand wat ‘n rooi cabriolet ry, gaan jy skielik meer rooi cabriolet’s raaksien.  En as jy jou fokus verander, gaan jy dit beslis regkry om deur jou dag te kom en sodoende jou swaarkry met lekkerkry te kan klaarkry

No comments:

Post a Comment