Ek het op ‘n klein plasie buite Belfast in Mpumalanga
grootgeword. Een van die baie
herinneringe was toe ons voor Kersfees in die Dennebos by die ingang van die
plaas ‘n Denneboompie gaan kap het vir ‘n kersboom. Dit is jare terug, maar steeds vandag ruik ek
daardie soet reuk van die bos. Die
boompie is toe in ‘n pot geplant, die versiering kon begin.
My ma het ‘n boks uit
die spaarkamer se kas gehaal met al die verskillende versierings daarin. Daardie gekleurde streamers, engeltjies, dwergies,
appeltjies en natuurlik die ster wat bo-op die boom einding was almal
deurmekaar. En soos almal van julle al
ervaar het is die groot uitdaging daardie string liggies wat onder in die boks
le, te ontknoop. My ma het altyd verwys
dat daar van die figuurtjies wat op die boom kom, wat deur die jaar hulleself
besig hou deur daardie string liggies te koek.
Maar ek weet dat ‘n mens nooit die vorige jaar met die oppak van die
boom nie noukeurig genoeg met die liggies omgaan wanneer jy dit wegbere nie. Ek onthou dat ek en my ma ure lank op die
vloer voor die kaggel gesit het en daardie drade probeer ontkoek het.
In hierdie inperktyd sien ek baie van die slim ouens wat ons
vertel dat ons nou die tyd gegun word om na binne te keer en ‘n klomp dinge in
ons uit te sorteer. Op Facebook sien ek
mense se grappies, frustrasies en stryd in hulle om met hierdie hele ding te
deal. Dit is nie maklik nie, want waar
ons so gewoond geraak het om soos ‘n rivier te kan vloei na ons doelwitte toe,
is ons skielik ingeperk en vind ons onsself in ‘n maalkolk van gedagtes en
idees. Jy kan hoegenaamd nie werklik,
hoe hard jy ookal probeer en positief is, eenvoudig aangaan soos jy aan gewoond
is nie. Die maalkolk gooi jou rond, jy
weet soms nie eers waar bo of onder is nie, en die vis raak min om te eet. Jy vra antwoorde, maar in die soeke raak jy
met die gespartel totaal en al verder verstrengel in idees. Jy sit, soos daardie seuntjie wat ek was en
kyk na die “perfekte” boom wat wag, maar dit is frustrerend want die bleddie
drade se knope weerhou van jou om nou te kan versier, wat jy al weke en dae na
uitsien.
In hierdie tyd is dit ook so dat daar ander mense se drade
saam op die vloer voor jou le, en die goeters raak ook met mekaar verstrengel
en geknoop. Die drade wat so saam op die
vloer le, het ook ‘n geskiedenis, met ander knope en uitdagings, dit is nie so
maklik soos daai liggies wat jy nuut by Santa’s Warehouse koop wat mooi in lyn
verpak is nie. Asof een gekoekte draad
nie genoeg is nie, sit jy met ‘n vloer vol wat inmekaar verstrengel is.
Wanneer die slim mense vir ons vertel dat jy in hierdie tyd
aan jouself moet tyd en effort spandeer, is dit makliker gese as gedaan. Daarmee gekonfronteer, is die begin om eers
die verskillende mense se drade van mekaar te verdeel. Jy kan nie op die stadium, indien ooit, almal
en ander se drade ontkoek voor jy nie eers alles mooi met ‘n plan uitmekaar
gehaal het nie. Belangrik dan ook is dat
elkeen op sy plekkie moet sit, en sy eie draad ontknoop. Dit beteken nie dat jy nie kan help as jy
sien iemand sukkel nie, maar glo my, as jy dit nie eers verdeel nie, gaan jy
tot en met die uitbreek van Covid-221 steeds in koekerasie sit.
Wanneer jy die verdeling gedoen het, dan kan jy fokus op jou
eie koekerasie spul. En waar begin jy? Jy begin by iets werkbaar, soos in die geval
van die draad, by die punt, die prop.
Dit is totaal onmoontlik en onlogies om in die middel te begin, maar ek
en jy is soms so gewoond daaraan om in ons lewens ook te wil in die middel
issues uit te sorteer, en dan is ons verbaas dat ons nie regkom nie. Al wat jy doen in die middelgedeelte is dat
jy die spanning van die knoop kan verminder, wat natuurlik kan help, maar deur
die spanning te verminder het jy nie ontknoop nie, jy het slegs die knoop ‘n
ander vorm gegee.
Daar is in ons eie warboel van drade en knope baie maniere
wat ons gebruik om die spanning te verlig.
Een daarvan is rasionalisering, waar ons onsself met allerhande
redenasies regverdig hoe ons is en hoekom ons is waar ons is. Wat gebeur is dat ons dit dan deurgans moet
doen, aangesien die ander persone om ons weer trek en stoot wat elkgeval weer
die spanning in die knoop laat toeneem.
‘n Ander houding is dat ons vir onsself se dat dit nie nodig
is om hierdie spesifieke knoop te ontknoop nie en ons koppe in die sand
druk. Ons sien nou hoe mense se harte
breek van eensaamheid en hartseer oor keuses wat hulle gemaak het, maar meer
nog, keuses wat hulle nie gemaak het nie.
Nou sit hulle alleen en kripeer in hulle alleenheid, net omdat hulle nie
die regte besluite uitgevoer het nie.
Nog ‘n effek is dat ons sit en wag en die werk vir iemand anders
los. Te veel kere plaas ons die onus op
die omstandighede wat volgens ons hoop miraculously vir ons die knope gaan
ontknoop. Sodoende veroorsaak ons ‘n
leuen, want die ander persoon kan ook nie, al het hulle al hulle knopies
ontknoop, voortgaan om die boom te versier nie, want jy hou hulle terug. Om net
eenvoudig jou knope vir ander te los, maar meer nog te ontken, weerhou jy ander
om uit die maalkolk van hulle lewens te kom en hulle doelwitte en sin te
bereik.
Ons plaas ook graag die skuld vir die geknoopte tou op die
ander mense om ons, maar maak dit enige verskil? Geheel en al gladnie, want die tou IS
geknoop, en al die blaam in die wereld gaan niks kan verander nie. En as hulle dit wel geknoop het, het jy erens
hulle toegang en speelruimte met jou tou gegee.
Erens in die hele harwar is daar ook mense wat eenvoudig ‘n sker in die
kombuislaai gaan haal en dink dat om die knope uit te sny die antwoord is. Al waarmee jy dan sit is dalk ‘n draad wat
met insulation tape gekoppel is, maar waar die mooiheid van die liggies en
versiering vervaag en jou lewe ‘n afskeep lewe word, en jy vir jou boom kyk en
besef die tekortkominge van die liggies wat jy uitgesny het. Jy loop ook die kans vir ‘n swak konneksie
wat moontlik die hele boom kan afbrand.
Die begin van ontrafeling is by die punt, die essensie, en soos in die geval van die string liggies, die plek waar die krag vandaan kom, anders gestel, die liggies se bron en wat dit laat “tick”.
Ek dink nie dat daar ooit in ons geslag en tyd iets soos hierdie was wat ons so in ‘n wurgknoop het nie. Niemand weet wat kan gebeur nie, nie die kenners nie, nie die media nie, nie die politici nie en nog minder ek en jy. As jy soos ek is, is jy al om en dom gedink.
Al raad wat ek myself gee is die volgende, om so effens
afstand te neem. Ons vang onsself hier
in die huis dat ons, as ons ons kom kry, weer op ‘n nuuskanaal of op Facebook is. Ons het op ons fone daai tracking app van die
virus wat soos ‘n ticker aanhou tel. En
wat doen dit op die ou einde? In jou
absolute toiletpapier koper kop, vang die dinge jou in jou wortel van oorlewing. Dit smokkel met jou kop en kan jou vinnig in
depressie laat verval. Die knope word
stywer en stywer getrek.
Ek onthou dat ek in die ontrafeling, daar op die vloer vir
my ma gevra het of ek nie maar die draad net so gekoek op die boom kan sit
nie. En haar antwoord van NEE, irriteer
en frustreer my, want ek soek NOU die antwoord en die uitkoms. En daar is ongelukkig met hierdie oefening
nie ‘n towerstaffie nie, jy moet eers hier deur, knoop vir knoop en dag vir
dag. Ek onthou dat my ma dan op daardie
frustrerende oomblik ‘n “time-out” geroep het om vir ‘n oomblik net bietjie
koeldrank te gaan drink of buite te stap om weer moed bymekaar te maak vir die
tameletjie. Ons weet dat as ek in
frustrasie aan die toue gaan begun ruk en pluk en trek uit dwang, gaan dit net
die situasie vererger en nog meer koekerasie veroorsaak. Dalk, en soos in verseker, die oomblik wat jy
so voel en wil ruk en pluk en jou speelgoed wil rondgooi, vat spasie, daar is
gelukkig nog baie tyd om te ontrafel, en ontrafeling kan NET in kalmte en insig
gedoen word. So, moenie jaag nie, vat
ruimte en spasie.
Erens het iemand dit in ons koppe ingeprent, ook sonder
enige substansie of empiriese studie, dat om afstand te neem van dinge, beteken
dat jy apaties is. Dit is loutere snert
volgens my. Die feit dat ek opstaan uit
die gekoekte drade op die vloer en vir ‘n oomblik buite gaan asem haal en my
bene rek of ‘n koeldrank gaan ingooi, maak my in geen mate apaties van die
knoop en die rol draadwerk nie.
Inteendeel, dit gee my baie keer meer perspektief op die probleem. As daar een ding is wat jy vandag kan doen,
is afstand neem en perspektief kry.
Een van my vriendinne is ‘n sielkundige en sy is gladnie op Facebook
nie, en haar antwoord is “ek wil nie ingesuig word deur die maalkolk nie”. Dit beteken nie dat sy nie op datum is nie,
sy kyk haar nuus en lees ook News 24, maar wanneer dit haar pas. En hoeveel kan ons daaruit leer, sy speel met
die hond, werk, lees, binge, gym, draf, le in die son, swem, luister musiek,
werk aan ons program, maak kos, drink wyn ens.
Haar filosofie is dat sy weet sy kan nie NOU 100% haar knoop ontknoop
nie, so sy maak vrede daarmee en kry allerhande perspektiewe van hoe sy dit wel
gaan doen na dese.
Een ding wat die pandemie ons leer is hoe om te deel met
magteloosheid, en op ‘n manier te deal daarmee so bes ons kan. Ons het ‘n keuse, om ingesuig te word en die
gevoel van magteloosheid te vermenigvuldig en dalk self in die drade
verstrengel te raak, of om te fokus op wat ons kan en so bietjie afstand te
kry. So miskien, neem so ‘n dag en kry
bietjie afstand en asem en krag, al is dit net vir ‘n kort tydjie.
Sit vandag die Televisie nie op CNN of so nie, check nie die
Covid-19 stats op jou APP nie, sit jou foon neer en haal asem. Moenie vandag op jou knope fokus nie, ontprop
jouself van jou knope, kabels en issues en haal bietjie asem en go smell the
roses. Want gelukkig het ons nou die
voordeel van “more is nog ‘n dag!”
No comments:
Post a Comment