Tuesday, April 7, 2020

Die moeilike vrae:


Daar is niemand wat werklik daarvan hou om eksamen te skryf nie.  Dit is een van die mees vreesaanjaende dinge wat jy kan doen.  In my ervaring was dit nog erger, aangesien ek meeste van die tye nie goed genoeg voorbereid was nie, nie dat jy ooit volledig en perfek voorbereid kan wees nie.  En daar is natuurlik soveel stories en teoriee van mense wat vir jou ‘n hele boel dinge kwytraak oor hoe jy met hierdie tameletjie moet omgaan.

Hulle vertel jou om goed op te let in die klas en natuurlik goed voor te berei.  En daar is ‘n legio van kursusse en programme wat vir ons leer hoe om te leer.  Of dit kopkaarte is of om op die dak te gaan leer, tot en met watter tipe breinkosse jy moet eet of ook die musiek wat jy kan luister om die breingolwe te verander.  Maar soos die een oom ook gese het, “Gat in stoel, tot jy klaar is”, is seker ook ‘n manier.  Allerhande faktore speel ‘n groot rol, maar een ding is seker, dit is nooit die heel lekkerste ding om te leer nie, al probeer jy dit met allerhande stories inkleur.

My ma is ‘n serious akademiese mens, soos dit vir my klink het sy baie van leer en akademie gehou, so ‘n regte pliggie in haar tyd, dink ek.  Tot haar verbasing was haar bloedjie gladnie so nie.  Ek het eers later agtergekom dat ek eintlik baie aandag afleibaar is.  Dit beteken nie dat ek dom was nie, en ek was gelukkig om baie dinge akademies te kon bereik, maar ek sal nie akademie as een van my lekkerste dinge opgee van wat ek myself mee besig wil hou nie.  Geen van die sypaadjie sielkunde het met my gewerk nie, veral nie as my ma gese het:  “My kind, dink so daaroor, dit wat jy nou moet deurgaan is ok, want dink net, more middag hierdie tyd is jy klaar en dan kan jy doen net wat jy wil”.  O, nee, dit het nie vir my enigsins die swaarkry met lekkerkry laat klaarkry het nie. 

My ma het ook haar eie hulp aangebied oor wat om te doen daardie oomblik wat jy wel die vraestel voor jou het.  Sy het my geleer dat ‘n mens nugter en rustig moet wees in die tyd van eksamen skryf.  Ek het daardie paar minute voor die eksamen gehaat.  Veral op universiteit het ek in Teologie baie minderwaardig teenoor die ander studente gevoel.  Mense wat regte en ander goeters as Teologie geswot het, sal nooit besef hoe absoluut gefokus teologie studente op Universiteit is nie, moontlik as gevolg van die feit dat hulle dit as ‘n roeping sien. 

Gewoonlik, net voor jy by die eksamenlokaal aankom, het jy uit ordentlikheid mekaar gegroet en in sulke groepies gestaan en gesels.  Dit is gewoonlik in daardie oomblik wat ek besef het dat ek heeltemal te min geswot het, want my mede studente het my so bang gepraat oor die dinge wat hulle wel geswot het.  Vir my was die swottings baie keer soos om lotto te speel, want my studenteaktiwiteite het my so besig gehou dat ek net-net tyd gehad het om te spot vir die eksamen.  Ek moet ook met skaamte se, dat ek ook nie genoeg in die klas was om konstruktief te kon spot nie, want spot werk slegs as jy genoeg kennis insamel om eers te weet wat om te spot.  Dit nou ter syde, dit is juis in hierdie groepies waar my stress tot sy hoogste gedryf is, want eintlik het ek besef dat ek rerig te min geswot het en gladnie weet hoe ek die eksamen gaan deurkom nie.

Met hierdie spanning en skuldgevoel van lui wegsteek het ek my plek ingeneem.  Soms het dit nog vererger met die instap wanneer jy die professor sien, en hy so ‘n amperse gryns-lag op die gesig het wat jou laat dink dat hy iets in die mou voer.  Ek onthou in Nuwe Testament in my vierde jaar wat die professor 3 van ons voor die eksament vorentoe geroep het om, op grond van ons jaarpunte, reeds ons her-eksamen te skeduleer omdat hy geen kans vir ons gegee het om daardie dag ‘n haas uit die hoed te trek nie.  (Ek het hom gewys, ha-ha, en nie nodig gehad om die her te doen nie).

En jy kan eintlik nie wag vir die vraestel om uitgedeel te word sodat jy dit nou net kan klaarkry nie.  My ma het my probeer leer om in die oomblik te probeer rustig te wees, hoe onmoontlik en moeilik dit ook voel.  Omdat sy jare lank wiskunde vir matrieks gegee het, het sy ‘n geheim met my gedeel. 
Haar vraestelle was so in 3 tipe vrae opgedeel.  Die eerste deel was die “maklike” vrae, dinge wat almal eintlik sonder voorbereiding moet weet en kan doen.  Dit was so 30% van die vraestel.  Die tweede deel is die “dink” vrae, waar jy so effens meer breinkrag nodig het.  Dit is so 50% van die vraestel wat jou vaardigheid toets, hier kan jy verstaan dat jy gaan foute maak.  Dan in die laaste gedeelte, so 20%, is werklik ingestel om die kaf van die koring te skei, en waar sy haar top leerders getoets het om onderskeidings te kry. 

Sy het my rustig gemaak om te besef dat jy nie alles in die vraestel 100% sal kan doen nie, om dit te weet maak jou al klaar rustiger.  Dan ook, om te onderskei watter vrae in watter kategorie val, en om jou confidence op te kry deur eers die maklikste vrae eerste aan te pak, dan die vaardigheidsgedeelte en as jy tyd het die onderskeiding vrae.  Wanneer jy in daardie volgorde dit doen, kan jou brein rustig word en dit voel asof jy beheer het oor die vraestel.

Later het ek besef hoe dit ‘n bloudruk dit vir ons lewens is, en dit is eintlik veronderstel om die natuurlike ingesteldheid te wees.  Waar ons hier vandag sit, is daar soveel dinge wat ons dink, voel en ervaar.  Hierdie is eintlik ‘n eksamen wat ons almal besef nie een van ons ooit op voorbereid kan wees nie.  Jy kan in ‘n groepie huddle en hoor hoe almal hulle stories vir jou spin, maar glo my, niemand weet nie.  As ek net hoor hoe dit kenners van virusse verskil oor wat moet en nie moet nie, besef jy, op die oomblik is niemand slim nie, hulle “klink” net slim.  Ons gaan hopelik hierdie eksamen slaag, maar niemand gaan hier 100% kry nie, en min gaan ‘n onderskeiding kry.  En ook iets wat ek by my ma geleer het, doen jou bes, nie almal is gemaak om onderskeidings in Wiskunde te kry nie, maar dit beteken nie dat jy nie volgens jou vermoe die beste moet probeer nie. 

Ons is nou so halfpad deur 21 dae van lockdown, en maak nie saak wie jy is nie, almal van ons soek betekenis uit hierdie situasie.  En hier is my raad uit my ma se wysheid oor hoe ek dink ons dit moet aanpak. 

1.       Daar is dalk ‘n moontlikheid dat hierdie ding verleng kan word, maar fokus ook op hoe lekker jy gaan voel wanneer hierdie ding verby is.  Die eksamen gaan nie weg nie, ongelukkig kan jy nie registreer vir ‘n sieketoets met ‘n doktersbrief nie.  Hier moet jy deur, maar dink tog aan dat jy weer alles gaan kan doen wat jy wil, wanneer die eksamen verby is.  Alhoewel almal vir jou vertel om in die NOU te leef, verstaan ook dat sonder drome die lewe baie saai en depressief gaan wees.

2.      Kry jou kop reg wanneer jy daar sit en eksamen skryf, en fokus.  Jy is nou hier, om die hele tyd te dink aan alles wat jy anders sou wou doen en aan FOMO te ly, gaan jou niks in die sak bring nie.  Jy is hier, wees bewus van waar jy is en moenie nou dink aan hoe die “professor” jou nou van ‘n klomp dinge ontneem nie.  Dit gaan jou nou niks help nie.  Dit help ook gladnie om jouself nou te belowe dat jy volgende keer harder gaan leer en beter keuses wil maak nie, want jy het nie, en die kanse is dat jy ook nie gaan nie.

3.      Organiseer die vrae wat aan jou gestel word, soek die maklikes, en doen dit eers.  Kry beheer deur dit te doen wat jy wel kan doen, skottelgoed, lekker kos maak, TV kyk, lees, bad, tandeborsel, gras sny, klere was en tande borsel.  Dit is dinge wat “makliker” kom en waaroor jy beheer het, doen dit eerste, elke dag.  Jy sal vinnig besef hoe jou kop draai wanneer jy buite beheer, in beheer voel.
4.      Die middelste gedeelte gaan jouself bietjie uitdaag, en is dinge waaroor jy effens sal moet dink.  Maar, erens in jou het jy die formules.  Dit is nou wanneer jy kans kry om die teorie wat jy versamel het, toe te pas.  Maak nou tyd vir die goeters wat jy nog nooit gedoen het nie, byvoorbeeld navorsing of jou boek skryf of klere kleiner of groter maak of jou garage uitsorteer.  Bietjie dinge wat jou uitdaag, soos daardie ou wat die Comrades die naweek in sy tuin gehardloop het.  Doen iets wat jou dwing om nie net ‘n asemdief te wees nie.  Dit is die lyf van die eksamen, 50% daarvan.

5.      Wanneer dit by die onderskeidingsvrae kom,  soos vrae oor die “sin van die lewe”, of “het ek die regte keuses gemaak?” of “is ek by die persoon by wie my hart is” of “hoe ek my lewe gaan rig na hierdie”, dit is dinge wat belangrik is om jou te onderskei, maar jy kan dit tog nie aanpak as jy nie eers die confidence het nie. 

Dit is belangrik dat jy die sequence regkry, eers te doen wat normaal kom, dan bietjiie dabble om jouself uit te daag, as ‘n basis van waar jy hierdie moeiliker vrae kan begin antwoord.  Hierdie is deel van die vraestel, en jy kan dit nie oorkom nie, maar as jy by die moeilike begin, gaan jy dalk so moedeloos word omdat jy nie die antwoorde het nie, dat jy sommer gaan moed opgee en selfs nie eers kans sien of tyd het vir die eerste twee nie.  En ook, die eerste twee gaan jou nie net confidence gee nie, maar gaan jou ook help op ‘n ander manier met die onderskeidingsfase.

As jy die normale en uitdagings aangepak het, gaan jy besef dat jy waarde het, maar nog meer, jy gaan sekere keuses kan maak, want dit is waar die leiding gesetel is.  As jy skielik besef hoe lekker of aaklig dit vir jou is om vir die mens wat hier saam met jou is, met passie of renons kos te maak en jy kan saam lag of afkraak oor hoe jy die besem vashou, dalk beinvloed dit jou denke oor jou toekoms en die sin in die lewe. 

Wanneer jy dalk sien hoe jou huweliksmaat of kinders se selfsug jou lei om jou af te sloof en hulle doen niks, gaan dit jou dalk laat besluit om jou sin in die lewe te begin af te dwing.  Of dalk besef jy hoe ongelooflik die persoon hier langs jou op die bank is en dat jy jou alles vir haar of hom sal wil gee.  Dalk besef jy dat jy finansieel swak besluite gemaak het, en jy dalk beter keuses in die na-tyd moet maak om geld weg te sit in ‘n noodfonds, en te spaar.  Miskien besef jy dat jou hardegat houding of ingee oomblikke jouself ongelukkig en eensaam maak, so jy kan dan besef waaraan en aan wie jy in die na-tyd moet werk.  Jou eensaamheid laat jou dalk besef om nie so vol strooi te wees nie, maar jou oop te stel vir liefde en vriendskappe wat jy nie gedink het jy nodig het nie.  En dalk bewys jou normale en uitdaagdinge aan jou dat jy totaal en al op ‘n verkeerde pad is, in ‘n verkeerde verhouding is of ‘n totaal simpel beroep is of dat jy totaal en al op die regte pad is.

Die belangrikste van die hele boodskap hier is, die eksamen is ‘n eenheid, daar is die 3 tipes vrae, maar moenie eers begin met die moeilikste nie, want dit dien nie noodwendig die ander twee nie.  Maar, as ek dit in sequence van maklik na moeilik doen, dien die eerste twee my in die moeilikste vrae van alles.  Dit is die circle of life, wie jy is, dan jou uitdagende dinge en uiteindelik jou idee van sin van die lewe.  En dan die belangrikste is, daar is altyd groei, want die gaan beslis nie ons laaste eksamen wees nie.  Handewas het nou by sommige mense skeilik tweede natuur geword, wat lei tot uitdagings om jou eie handreiniger te maak, wat jou vrede gee dat jou kanse om siek te word minder word, en dalk en moontlik ‘n nuwe besigheid wat jou toekoms kan bepaal, ons sal nie weet nie.

Ek leef tussen baie slim mense, filosowe, dominees en denkers.  Ek lees hulle boeke en luister hulle video’s, en ek respekteer hulle baie.  Maar een ding wat ons altyd moet onthou, al sien ons hulle as die dux leerlinge van ons generasie, hulle moet ook eet, hulle moet ook bad en hulle hande was.  Hulle is ook daar in die middel besig met allerhande uitdagende programme en skryfwerk.  Geen persoon kan ‘n onderskeiding kry, as hulle slegs die 20% sin in die lewe vraag kan beantwoord nie, want dan gaan hulle pluk!  En dan vir jou, al kan jy nie nou die moeilikste vrae antwoord nie, dit maak nie saak nie, jy kan nog steeds slaag, so ontspan, haal diep asem en baie sterkte vir vandag.

“All difficult things have their origin in that which is easy, and great things in that which is small” Lao Tzu

No comments:

Post a Comment