Monday, March 30, 2020

Trou is nie perdekoop nie!

Die oumense het mos gese: “Trou is nie perdekoop nie”. En so wanneer ons in isolasie sit, word almal mos ‘n denker oor die lewe in geheel. Een ding is seker dat die lewe nooit weer dieselfde gaan wees na Covid-19 nie.
Ons spekuleer en filosofeer heen en weer oor baie dinge, maar ook ons verhoudinge waarin ons is, met ons self, met ons kinders en ook ons liefdesverhoudinge. Sommiges sit en wonder ook oor hulle toekomstige verhoudings. En een dinge is seker, daar is nie een antwoord of een resep nie, daar was nog nooit en daar sal ook nooit wees nie. Salomo het gese dat in al sy wysheid, selfs nie eers hy die antwoord het nie, selfs nie eers met sy hele harem, wil dit voorkom of hy dalk ook nie sy mind kon opmaak nie. Maar al wat ons kan doen is om te spekuleer, al is dit uit ons eie ervaring. Daar is wel riglyne vir ‘n suksesvolle verhouding, met wie ookal wat ons kan nastreef.
Ek het baie troues in my lewe gedoen, en een van my gunsteling analogie prentjies van ‘n verhouding is die beeld van ‘n mens se liggaam, as ‘n metafoor van hoe ‘n gelukkige verhouding behoort te wees.
Ons is redelik bewus van wat jou liggaam inhou. Die eerste ding is dat jou liggaam nie altyd “perfek” is of kan wees nie, want waaraan sal jy dit nou meet? Dit is ‘n goeie ding om jou hare te laat doen en grimering aan te wend om jou liggaam te probeer beter maak. Baie verhoudinge gaan ten gronde wanneer jy dit net as vanselfsprekend aanvaar. Dit is ‘n goeie ding om eerstens te besef dat jy moet moeite doen, net soos wat jy nie net die oggend opstaan en net so met jou pajama’s werk toe gaan nie, moet jy ook met alle verhoudings in jou lewe probeer om dit mooier en meer aanloklik te maak vir jouself in die spieel en vir die mense om jou.
Daarmee saam moet jy jou liggaam oefen en gesonde kosse eet. Die spreekwoord lei: “garbage in, garbage out”. Natuurlik nou met die lockdown kan jy nou nie gym toe gaan nie, en kan jy ook maklik jou gesig met allerhande dinge voer. Ons besef dat eksterne faktore ons lewens kan en gaan beinvloed, maar wat jy jou liggaam voer, gaan gevolge he. Nie net fisiese dinge nie, maar ook emosionele en intellektuele dinge van buite beinvloed ons. Wie en wat jy toelaat in jou lewe, sal aanhou.
Derdens moet jy besef dat wie iemand is, is wie hulle is. Jy kan hoe hard probeer en kosmeties jou liggaam probeer verander, maar heel in die essensie van alles, mense verander nie. Jy het nou een maal ‘n groot beenstruktuur, en jy kan die beste maak wat jy wil, “but you will always be big boned”. Jy kan doen wat jy wil, jy kan nie aan jou lengte verander nie.
Dus, aanvaar wie jy en wie iemand is, soos hulle is, en verstaan dat jy nie met al die “putty” in die wereld iemand kan verander nie. As jy nie iemand KAN aanvaar soos hulle in hulle essensie is nie, gaan jy permanent ongelukkig wees. Dit is ‘n keuse, maar onthou net ook dat jy nie self volmaak is nie, maar as jy nie iemand kan blindelings aanvaar nie, sal jy nooit gelukkig wees nie. Baie mense het sulke lysies van hoe jou ideale maat lyk en doen, maar as jy jou lysie net eenvoudig kan vergeet en iemand aanvaar vir wie en wat hulle is, dan gaan jy gelukkig wees. As jy nie vir mense kan verduidelik of ‘n lysie opnoem van hoekom jy by iemand is nie, dan is jy waarlik gelukkig en lief.
Soms is die lysies die dinge wat ons weerhou van ons sielsgenote, want ons kyk so vas teen dit dat ons nooit die moeite doen om iemand in hulle diepste te leer ken nie. Wanneer jy nie werklik weet of vir iemand kan verduidelik hoekom jy vir hulle lief is en by hulle is nie, jy is net, dan is dit wie en waar jy moet wees.
Wanneer ons na ons liggame kyk, is daar twee belangrike faktore waarop jy moet let. Die belangrikste daarvan is dat daar sekere dinge is waarvan daar 2 is, en sekeres waarvan jy net een het. En hier is waar ‘n verhouding interresant word.
Dit waarvan jy 2 het, oe, ore, arms, hande, longe, bene en voete. ‘n Verhouding is tussen 2 mense, en soos met die dinge wat jy 2 van het, is elkeen nie 100% dieselfde in sterkte nie. Hulle sien verskillend, hoor verskillend en doen verskillend. En jy het ‘n dominante een, jy is byvoorbeeld of regs- of linkshandig. Ons dink baie keer verkeerdelik dat ons alles in gelyke mate moet kan doen, maar dit is onrealisties. Elke een in die verhouding MAG die wereld anders sien, anders ervaar. En belangrik ook, al verloor ek my een arm, kan ek leer om met een arm alles en meer te doen as wat sekere mense met 2 kan doen.
So, vir die liggaam om te funksioneer het jy nie noodwendige 2 arms nodig nie, en hulle het ook nie nodig om ewe sterk te wees en gelyktydig dominant en gelyk te wees nie. Laat die ander toe met hulle krag en swakheid, wees jy die dominante krag waar die ander een swak is, en onderdanig waar die ander een sterk is. Maar ondersteun ook, hou die spyker vas dat die een met die krag die spyker inslaan omdat hulle meer krag agter die hamer kan wees. As jy pale toe skop en jy is regtervoet dominant, is jy die een wat moet vastrap om die regtervoet te help om deur die bal te swaai. Die 3 punte as die bal deur die pale seil is julle beide s’n, en as julle mis skop, deel julle saam die teleurstelling.
Die funksionering van die 2’s in jou liggaam, kan ook nie werklik gebeur as die dinge wat jy slegs een van het nie bestaan nie. Jou brein is slegs een (al het hy 2 dele in die eenheid). As jou liggaam in 2 gedagtes is en verwarrende boodskappe na die ledemate toe stuur, kan en gaan niks gebeur nie. Eers wanneer jy in ooreenstemming is, dan kan die skop plaasvind. Die brein is ‘n wonderlike ding, en daarom het jy ook ‘n wonderlike ding dat jy kan beredeneer. “A house devided falls”, is net so belangrik. As die verhouding waarin jy is nie ‘n universele en duidelike ooreenstemming het nie, beteken jou ledemate absoluut niks. Wat op die ou einde nie beteken dat jy moet of mag toelaat dat jy in ‘n rigting gedomineer word nie, gladnie. Dit is juis wanneer mense meer outomaties in harmonie dink, wat dinge fenominaal vermag kan word. Dit maak dit ook natuurlik makliker om met iemand te assosieer wat op dieselfde golflengte en intellektuele vlak as jy is.
Die ander belangrike “1” in jou liggaam is jou ruggraat, wat eintlik die raamwerk is wat die hele spul bymekaar hou. Die ruggraat hou nie net alles bymekaar nie, dit is die ondersteuning van die dinge in jou liggaam. So, mense voel pyn wanneer hulle voel dat daar geen ondersteuning is nie. As daar nie die raamwerk is nie, dan is dit soos ‘n amoeba, rigstringloos wat nooit ‘n spyker sal kan inslaan of ‘n bal kan skop nie. Ondersteuning se doel moet wees dat dit tot beide se voordeel is. Onthou dat die rigstring in die middel is en nie net een kant ondersteun en nie die ander nie. Daar is baie dinge wat ons sien as die rugstring van ‘n verhouding, ‘n huweliksertifikaat, kinders, godsdiens, finansiele sekuriteit ens. ens. Die rugstring is versteek en leef en kom binne in die liggaam voor. Dit is die ongeskrewe dinge wat ons nie altyd sien of weet of kan beskryf nie, jy weet dit is of daar of nie daar nie. Dit is die wil in jou, wat uit jouself kom om daar en by die persoon te wil wees, sonder reels of regulasies. Net daar te “wees” vir mekaar, sonder twyfel. Dan kan jy pale toe skop en fokus op die pale en die rigting en hoe hard jy moet skop, maar as jy heeltyd twyfel of jou rugstring jou “back” het, sal jy nie kan funksioneer nie.
En seker die heel belangrikste is die HART. Ons voel liefde in ons hart. Dit is daardie gevoel wat deur jou liggaam ruk as ‘n persoon jou bel, whatsapp of jy hulle sien. In daardie oomblik vergeet jy van of jy links of regshandig is. Jy gee nie werklik dan om oor wat jy sien of wat iemand jou kan bied nie. Jy wonder in daardie oomblik NIE oor enige iets nie, jy voel slegs die krag van die bloed wat druk en vloei deur jou are. Die perd wat jy koop en opsaal kan die mooiste Arabier wees met al die regte papiere en pedigree, maar as daar nie deur sy are bloed pomp nie, gaan hy nooit vir jou die resies kan hardloop nie. Sonder werklike onvoorwaardelike liefde in jou hart maak dit ook nie saak hoeveel krag jy het nie, jou sterk hand en geoefende bene gaan blou word en sal eventueel geamputeer moet word, en stelselmatig gaan die hele liggaam sterf.
Ongelukkig is liefde, soos Salomo ook se, “onverstaanbaar”, jy het dit, of jy het dit nie. En as jy dit het, is dit nie soos ‘n virus wat jy van kan herstel nie. Liefde is nie ‘n ligskakelaar wat jy aan en af kan skakel nie. Sodoende het jy daarom ‘n verantwoordelikheid teenoor jouself en die ander ledemaat in die verhouding wat jy kies. As jy nie daar is met alles in jou nie, skep jy verwagting van die ander ledemaat dat hulle bloed van jou hartkamer gaan ontvang, maar daar is geen werklike effort nie, en so staan hulle ‘n goeie kans om te sterf.
En die heel belangrikste van als, jy kan nie in ‘n verhouding wees waar jy slegs verwag van die ander om vir jou bloed te gee nie, en net so mag jy ook nie net daar wees om bloed te gee en niks terug te ontvang nie.
En die fenominale “geluk” in jou lewe en verhouding kom wanneer jy in HARMONIE al hierdie dinge het, nie noodwendig in volmaaktheid nie!

No comments:

Post a Comment