Thursday, March 1, 2012

Dans met die lewe

So begin my dogtertjie Layla nou loop. Ek onthou die eerste treetjies en hoe sy versigtig al langs die bank gevat en voetjie vir voetjie begin loop het. Dan het sy maar telkemale geval en hartstogtelik gehuil. Sy was maar bang om die sekuriteit van die bank te los en op haar eie te loop. Sy het vir lank weer teruggegaan na kruip toe, want dit het haar veilig laat voel.

Wanneer ek haar nou so bekyk, is die uitdrukking op haar gesiggie ongelooflik. Sy lag van oor tot oor en is ongelooflik trots op wat sy vermag het. Nou is daardie afstand na haar koekoe toe soveel korter en vinniger. In haar hartjie voel sy ‘n ongelooflike gevoel van genoegdoening.

Alles in ons lewens is ‘n groeiproses. In onsself leer ons loop, leer ons praat, leer ons van die wêreld om ons op skool. Dan begin ons soveel vertroue in onsself kry dat ons begin om te draf en later te hardloop, voluit.

Daar is natuurlik altyd dinge en tye wat ons pootjie. Dinge wat ons dwing om weer te kruip vir ‘n oomblik. Dit is ook ‘n wonderlike manier van die natuur om ons te leer om eers weer ons voete te vind, voordat ons opstaan en weer hardloop. Ons grootmense is die hele tyd ingestel om hierdie nuwe lopertjie van ons te probeer beskerm en te help. Ons sien ‘n trappie en gaan nader om te help en te keer dat sy nie val nie, maar soos ons ook al probeer, val gaan ongelukkig deel van die lewe wees.

Layla het nog nie geleer van gladde vloere en uitkyk vir probleme nie. Ons wat groter is, ons kan sien as ‘n vloer nat is, wat ons versigtiger maak.

Wat nou vreemd sal wees, is wanneer hierdie lopertjie van ons weer gaan begin om te kruip. Kruip omdat sy bang is vir wat die uitdagings van loop inhou. Liewer weer teruggaan na haar ou bekende en beheerbare situasie. As dit net vir ‘n oomblik is, nou ja, verstaan mens dit, maar wanneer dit permanent word dan is dit ‘n krisis.

Jy sien, wanneer uitdagings of krisisse ons tref is ons geneig om weer te begin kruip. Daar is niks mee fout nie, maar wanneer dit permanent raak, dan het ons probleme. 'n Mens is nie gemaak om net te kruip nie, maar om te hardloop. Ek glo met my hele hart dat God ons geskep het om elke dag ekstaties gelukkig te hardloop en te bokspring. Wanneer ek om my kyk, sien ek so ‘n vreemde gesig van volwasse mense wat met dummies rondkruip. Mense wat so vuisvoos deur die lewe geslaan is dat hulle nie meer kans sien om op te staan nie en eerder al kruipend deur die lewe gaan. Tevrede eerder met die min as om weer ‘n kans te vat in die lewe.

So staan ek nou die dag by ‘n klomp van my familielede wat nou almal in hulle 70’s is. Wat my opval van hulle is dat hulle almal nou skielik probleme en pyne ondervind. Hulle lyk energieloos en hulle lyk asof hulle almal vrede begin maak dat hulle nie meer lank met ons gaan wees nie. Dit in ‘n tyd van mediese wetenskap waar 70 eintlik maar jonk is. Daar is 2 spanne waarin ek hulle in wil verdeel. Aan die een kant is die wat al soveel vermag het, dat hulle voel hulle het hulle doel in die lewe bereik en al die lekker dinge gedoen wat hulle wou doen. Aan die ander kant is daar kruipers. Mense wat nooit ooit werklik die genot van die dans van die lewe gevoel het nie en eintlik al die laaste 50 jaar net wag om dood te gaan.

In watter kamp sal jy graag wil wees as jy 70 is? Ek weet in watter kamp ek wil wees en daarom wil ek vandag daaraan iets doen. Jy dink 70 is vêr, maar toe jy 20 was, het jy gedink dat 40 vêr en oud is.

Ek is bewus van al die houe wat ons elke dag vat. Ek is bewus dat daar dalk in jou lewe nie nou musiek speel wat jou laat voel asof jy wil dans nie. Miskien is jou dans nie op ‘n plat vlak nie en voel dit dat jou dans opdraende is. Dalk voel jy dat jy wil kruip omdat dit totaal donker is om jou. Dalk trek die pyn en spanning jou af op jou knieë. Ongelukkig weet ons dat ons klein Layla-lopertjie dalk nog baie gaan huil en deur omstandighede op haar boude teruggestamp gaan word. Die uitdaging in die lewe is nie in hoeveel keer jy omgestamp gaan word nie, maar hoeveel keer jy opstaan.

Oortyd sal sy die vermoë ontwikkel om nie oor die kleinste dingetjie te val nie. Haar beentjies gaan sterk word en sy gaan die berge van die lewe kan klim. Terwyl sy bly kruip, ontwikkel sy ander vaardighede, maar nie wat sy nodig het vir bergklim nie. Sy gaan kan opkruip natuurlik, maar dit gaan vreemd wees en vreemd lyk. Elke keer wat sy opstaan, ontwikkel sy ook die vertroue in haarself. Elke keer wat sy val leer sy om weer te probeer, waarsonder sy nooit by haar drome gaan uitkom nie.
Hoekom sal jy dus kruip as jy kan loop en hardloop?

Die een antwoord is vrees. Ons is bang vir die onbekende en vir wat die lewe na my kant toe gooi. Vrees kan net oorkom word deur geloof. As die aantrekkingskrag van wat ek wil bereik groter is as my vrees oor wat verkeerd kan loop, dan sal ek opstaan. Die realiteit vertel ons dat dinge gaan gebeur, maar net omdat dit dalk kan gebeur, beteken nie dat ek dit as verskoning mag gebruik om aan te hou kruip nie.

Die ander alternatief is twyfel. Twyfel in myself en in my vermoë om dinge te doen laat mense moed opgee nog voordat hulle begin het. As ek dink ek kan nie loop nie, hoekom dan enigsins probeer? Die enigste manier om dit te oorkom is om te doen. In die film “Entrapment” sê Sean Connery: “First we try, and then we trust”. Deur te doen gaan die twyfel weg en kry jy vertroue. Gaan delf in jou verlede en daarin behoort jy tye en situasies te vind wat jou kan oortuig dat jy nie behoort te twyfel in jouself nie, want jy het al. En omdat jy het, kan jy weer al is dit met baba treetjies.

Dit het natuurlik breinspoeling nodig, aangesien die wêreld om my my deur die “realiteit” laat twyfel en vrees, maar my drome en my vermoëns om te bereik wat ek wil mag dus ook my “realiteit” wees. Twyfel en vrees is nie eg nie, tot ek dit eg maak. As ek dit eg maak en daarin glo word dit realiteit. So mag my drome en ideale ook on-eg wees, tot ek dit eg maak. Dan word dit my realiteit.

Ek weet nie waar jy vandag leef en wat jou pla nie. Ek weet nie of jy gelukkig of ongelukkig is nie. Ek weet nie watter probleme en krisisse jy ondervind nie. Ek weet nie in hoeveel pyn en lyding jy is nie. Ek weet nie of jy hartseer of eensaam is nie. Ek weet een ding, dat die negatiewe ook verbygaan, maar slegs as ek dit beveg en opstaan.

Ek het op die plaas grootgeword sonder elektrisiteit en donkerte was ons grootste vyand. Die lampe het nie heeltyd gewerk nie en ek kon nie sommer net ‘n skakelaar aansit en daar was lig nie. Ek was bang vir die donker, want ek was hulpeloos daarteen. Sou ek huil van vrees, sou my ma inkom met haar “toorts” en skielik, binne ‘n oogwink het die lig die donker laat verdwyn.

Staan vandag op, lig jou kop op en skakel jou lig aan. Verdryf die donkerte, staan op en gaan dans met die lewe!

No comments:

Post a Comment