Tuesday, December 8, 2015

Moenie jou beeste name gee nie!



'n Boer sal vir jou vertel dat jy nooit vir 'n bees of 'n skaap 'n naam moet gee nie, want dan is dit soveel moeiliker vir jou om hom te slag wanneer die tyd reg is.  'n Snaakse ding gebeur wanneer iets 'n naam kry, want onmiddelik het dit 'n persoonlikheid en is nie sommer maar net nog 'n bees wat op die land loop nie.  Ons sien deur die eeue hoe belangrik name is, en ek onthou nog soveel kleinkinders wat ont-erf is deur 'n oupa omdat die kind nie sy oupa se naam gekry het nie.  In die nuwe denke oor name en klanke, se ons dat name belangrik is wat jy kies vir kinders, want klanke gee 'n vibrasie af wat mense of aantrek of afstoot.

Elke ding het deesdae mos ook 'n politiese korrekte manier om jou oor die ding uit te spreek.  Mense is nie gestremd nie, maar fisies uitgedaag.  Kinders is nie pleinweg meer stout nie, maar hulle is eerder ADHD of een of ander ander afkorting.  So gee ons elke dag name aan dinge wat om ons gebeur.  Nou dink ek daar is 2 kante van die benaming van dinge, net soos met die skaap en die bees.

Aan die een kant is dit belangrik om dinge 'n naam te gee, want, indien dit universeel erkenbaar en definieerbaar is, weet mense presies wat dit is, en help dit om te diagnoseer en te behandel.  As mense nie name gehad het nie, hoe sou ons dan mense roep of weet met wie ons op die foon praat? So, die naamgewery het 'n doel om mense van mekaar uit te ken of om sekere dinge te identifiseer.

Naamgewery kan aan die ander kant baie vreemde "negatiewe" invloed ook kry.  Soms word dit soos met die bees dat wanneer jy dit 'n naam gegee het, dit baie moeiliker word om hom te slag.  Mense kruip maklik weg agter dinge soos hulle afkoms, hulle sindrome en dink dat wanneer dit 'n naam het, jy agter dit kan wegkruip.  Ons sien ook dat dit in families die geval is waar mense 'n van soos "Mandela" het, en dink dat dit jou moet en sal dra deur jou lewe. 
Eintlik gee die naamgewery aan "iets" die reg om 'n "iemand" te word.  Dit is dalk wat bedoel word met die skep van "karma".  Ek kom agter dat mense in die westerse wereld soms 'n probleem het met die idee of die woord, maar in werklikheid is dit nie altyd 'n kosmiese uitwerking van oorsaak en gevolg nie.  Soms is karma net die skep van 'n issue of 'n situasie.  Ek sien dit baie in verhoudings waar mense oor dinge begin praat wat hulle pla, dan gee hulle 'n "naam" aan 'n emosie, en dan word dit lewenslank 'n saak van geskil tussen mense.

Ek weet dat sielkundiges ons leer dat jy moet kan kommunikeer oor dinge, maar ek sien dit soveel keer dat dit juis hierdie naamgewery is wat dinge kompliseer tussen mense.  En dieselfde gebeur tussen mense as wanneer jy 'n bees 'n naam gee, dit skep komplikasies later wanneer dit nodig is om te slag en word al hoe moeiliker om die dier te slag.  Hierdie is so waar in verhoudings, veral wanneer ons met mekaar praat en ons emosies oordra, dan gee ons 'n vibrasie of 'n personifikasie aan ons emosies, en dan word dit soms onmoontlik vir die paartjie om dit geslag en opgelos te kry.

Ons loop daagliks met sulke dinge in ons verhoudinge rond, "jy laat my voel" byvoorbeeld is 'n kragtige benaming, want dit laat my blitsvinnig verstaan wat van my verwag word of nie van my verwag word nie.  Skielik plaas hierdie benamings van ons emosies ons in 'n kissie en daar bly ons.  Die kissies laat ons soms voel asof dit ons verstrengel, maar natuurlik kan dit ons ook vry maak. 

Daar gebeur ook ander dinge in die naamgewing van emosies en die verbalisering daarvan.  Kyk bietjie aan die begin van 'n verhouding, wat ons kalwerliefde noem, hoe "maklik" die verhouding is, terwyl hoe meer name ons aan dinge gee, hoe meer Karma ontstaan tussen mense.  Natuurlik voel dit onmoontlik om altyd net in daardie nirvana stadium te bly, sonder dat ons van mekaar sekere dinge verwag.  Ek advokeer gladnie hier dat mense nie met mekaar oor dinge moet praat nie, maar dat ons versigtig moet wees watter dinge ons name gee in ons verhouding, omdat ons verstaan dat as iets 'n naam het, dit baie moeilik is om daarvan ontslae te raak.  Die ander kant van die muntstuk is dat die "mooi" dinge wat ons name aan gee, ook net so moeilik is om van ontslae te raak.

Ons verval soms so in die groef van alles in ons lewens en verhoudinge name te gee.  Partykeer vergeet ons dat ons versigtig moet wees, want dalk, miskien verseker, is die dinge wat jou in jou verhouding pla, JOU issue en nie die van die verhouding of die ander persoon nie.  Daar is 3 persone in 'n verhouding betrokke, Ek, Jy en Ons.  Soms is JY reg, soms is die ander persoon reg, maar dit is nie waaroor dit in verhoudings gaan nie, dit gaan oor die ONS. 
Mense sukkel ongelooflik waneer hulle die ONS verantwoordelik maak vir iets wat nie die ons se probleem is nie, maar die ek of jy.  Soms moet jy jouself vra of EK my issue of probleem deel van ONS mag maak, want ons weet tog dat net ek my beeste kan voed of slag.  Soms het ons in ons lewens issues van dinge gemaak (hulle name gegee), maar omdat ons nie kans sien vir die slag van die bees nie, maak ons dit deel van ONS se verantwoordelikheid om dit te doen.  Elkeen van ons moet besef dat, alhoewel mense saam in 'n verhouding is, ek nie my issues in die verhouding kan indra nie.  Dit is MY bees, en dit is ek en ek alleen wat vir Blommetjie moet slag.

'n Boer gee nie sy beeste name nie, want soms is 'n bees net 'n bees.  Soms moet ons nie al ons gevoelens en emosies so benaam en analiseer, dat ons later nie kan doen wat ons moet doen nie.  Soms is emosies net emosies, en soms is situasies net situasies en soms is die ander persoon se aksies net aksies.  Jammer dat ek nou "name" daaraan gee, maar die beginsel is dat ons soms ons eie lewens kompliseer deur dinge MEER betekenis te gee as wat dit moet, en daardeur karma skep en ander verantwoordelik maak vir ons situasies en gevoelens.

Dit is natuurlik vir ander mense altyd makliker om jou bees vir jou te slag, want hulle is nie die een wat daaraan betekenis gegee het nie, dit is JY.  Vir ander is jou bees net 'n bees, en dit is altyd JY en JY alleen wat so voel oor 'n saak.  En dit is die laaste ding wat ons van mense "verwag" in verhoudinge, want ons dink dat as ek EK en al my benaamde beeste in die verhouding inbring, dit oplos in die groot ONS en dan word ek soms kwaad as hulle nie dieselfde deernis en gevoelens vir my beeste het nie.  Onthou altyd, JY het hulle name gegee, JY het hulle gevoer, en dit is en word onregverdig om van ander te verwag om dieselfde te voel en op te tree oor jou issues, as JY.

No comments:

Post a Comment