Tuesday, December 22, 2015

Koel soos n Komkommer oor Kommer

Kom ons wees nou eerlik, bekommernis is deel van menslike natuur. Hoe ons ookal vir onsself vertel dat jy in die oomblik van NOU moet leef, weet ons daar is n more wat kom. Selfs al is jy nou op vakansie bekommer jy steeds oor dinge. Gaan die kinders dit geniet of gaan jou skaapboud op kersdag reg uitkom of gaan die weer lekker wees of selfs dat die vakansie te vinnig verby gaan wees. Jy draai ook dalk jou sente om en bekommer jou daaroor. 

Die realiteit is dat bekommernis jou genot van die lewe en jou vakansie steel. Wat is die punt van vakansie as jy jou gaan bekommer? Dus, wees bewus van 2 dinge, jy gaan ek kan altyd iets vind wat jou bekommer, en tweedens dit steel die sin van dinge by jou.

Mense vra baie vir my in hulle kommentaar op my blogs hoekom ek altyd so positief klink. My blogs is soms uit teenreaksie op die bekommernisse in my lewe en nie n buite konteks optrede nie. 

Dit is dalk die eerste belangrike punt om te maak en dit is dat EK KIES om nie my bekommernis my te laat beheer nie. 

Nou, mense dink dat so n keuse daartoe lei dat jy niks aan jou situasie doen nie. Mense dink dat dit n 'kop in die gat' reaksie is, maar die teendeel is waar. Ek het net agtergekom dat om teen die despair wat saam met bekommernis loop te kies, die eerste deel van die oplossing van probleme is. 

Mense vergeet dat aksies in jou brein begin en nie jou hande wat die besem gryp en begin vee nie. Tweedens het ek geleer dat as ek nie halt roep erens in die bekommernis nie, dit gaan sneeubal sodat ek oor meer en meer dinge my gaan bekommer.  Derdens het ek uit my situasies geleer dat n mens baie meer kan uitstaan as wat mens dink. Vierdens het ek besef dat as ek vir n week lank my bekommer oor dat ek oor n week gaan honger lei, ek reeds vir n week lank honger is, elke dag, die hele dag. Bekommernis laat jou reeds die probleem ervaar nog voor dit gebeur of enigsins 'gaan' gebeur. In die vyfde plek soek ek uit alles die les wat ek moet leer. Laastens is ek gelowig, ek het n onverskrokke geloof dat God my sal help. En daardie geloof kom nie altyd in die vorm dat die beker my sal verbygaan nie, maar in die wete dat God altyd by my is.

Dus, wat doen ek? Ek kom uit die gewoonte om my oor alles tot vervelens toe te bekommer. Ek praat uit ondervinding, want ek was so dat ek naderhand niks meer geniet het nie, tot ek besluit het om anders met myself om te gaan. Ek verstaan dat dit ook te doen het met my persoonlikheid en dat dit nie altyd is wie jy is nie, so hier volg n paar algemene wenke.

1. Soek die mooi in NOU

Kyk vir n oomblik om jou rond en kyk wat jy het. Soveel keer fokus ons op wat ons nie het nie, maar wanneer ons soek na wat ons het, sien ons dat die glas meer as half vol is. Wanneer ek dit doen, vervaag my despair, want my beker loop oor.

2. Doen iets lekker

Gisteraand is die laaste aand wat my dogtertjies by my is vir die vakansie. Terwyl ek opsien na die weggaan en oor allerhande issues my bekommer, besluit ek summier om hulle die liggies in Lawley straat te gaan wys. Oppad soontoe sing al die kinders saam met die radio. Daar aangekom hang hulle by die vensters uit en juig oor elke kersvader, kruis en kersboom. Die genot en opwinding op hulle gesiggies laat my van als vergeet. Hulle leef IN die oomblik en leef hulleself uitbundig uit. Hulle bekommer hulle nie oor hoe hard hulle skree 'kersboom pappa' nie. Daar leer hulle my toe n groot les, en toe ons by huis kom kry ek drukkies en 'dankie pappas'.

Ek kan hulle nie see toe vat nie, maar gisteraand is n beter ervaring om by 'in te check' as n week in Mauritius. Kinders waardeer die klein goeterkies, en bekommer hulle nie oor die klein karretjie waar 6 agterin moet sit nie. 

3. Worry realisties

Ons dink soms alles waaroor ons bekommer is 10 uit 10. Ek het die reel van 10 by my niggie geleer en dit werk so. As iets lewensgevaarlik is, dan is dit n 10, anders is dit op meeste n 8. As daar bloed uitkom is dit n 8, anders op die meeste n 6. As ek niks daaraan kan doen nie, dan is dit n 6, maar as ek iets daaraan kan doen, op meeste n 4. As ek iets daaraan kan doen, maar niks doen nie, is dit n 4, en wanneer ek iets daaraan doen word dit n 2.

Wanneer iets onder n 5 is, dan kantel die skaal na my kant toe, want dan is ek in beheer. 

Ek het verder in my lewe geleer dat 99% van dinge waaroor ek my bekommer nie gebeur nie, en dit wat wel gebeur min kere so erg is soos dit oor en oor in my kop afgespeel het. 

4. Soek alternatiewe

Nou, gewoonlik op hierdie punt behoort jy anders te dink, want daar is nooit net een antwoord op jou situasie nie. Selfs wanneer jy jouself in n hoek ingeverf het bly daar altyd die opsie om deur die nat verf te loop. Natuurlik is dit nie gemaklik nie, maar dit is doenbaar.  Soms moet jy terugtrek na jou ma toe of jou X-Box vir n jaar bere om jou punte te verbeter. Maar lekker of nie, dit maak jou weer dankbaar dat jy n ma het om na terug te trek of n X-Box gehad het om mee te speel.

Soms voel dit dan steeds vir jou asof jy nie opsies het nie, maar die besluit om deur die verf te loop is steeds JOU besluit. En meeste van die kere as jy dit moet doen en jy kyk terug op dit, was dit nie eers so erg soos jy gedink het nie. 

5. Jy is altyd in beheer

Wanneer jy jouself in n situasie van despair bevind, kasty ons onsself omdat ons dink en voel dat dit ons skuld is. Ok, dit kan en is soms die oorsaak. Maar het jy ooit daaraan gedink dat as dit jy was wat dit veroorsaak het, dat jy dan ook die oplossing is? 

Ek het geleer dat ek en ek alleen my situasie kan verander. Ander mense is daar om jou te help, maar net jy en jy alleen skryf die eksamen. 

6. Moenie ophou glo en bid nie

Daar is altyd lig in die tonnel, en dit is nie n trein wat van voor kom nie. Het jy al agtergekom dat jou oe aanpasbaar is in die donker? As jy jou oe knip, waar dit eers pikdonker was is daar skielik vorms wat jy kan uitmaak. 

Blinde mense leer ons dat al kan jy nie sien nie, het jy steeds ander sintuie wat jy kan gebruik. Jou hande kan jou help voel sodat jy nie in iets vasloop nie. Jou neus kan jou laat ruik waar die uitgang van die tonnel is. Jou vel kan jou laat voel waar die hitte van die uitkoms is en jou ore kan jou laat luister waar die voeltjies sing. 

As jy glo dat daar n uitkoms is, sal dit kom vir jou en sal jy dit soek. As jy dit nie glo nie gaan jy dalk in n hopie sit en vergaan, dalk centimeters van die uitgang af. Hoe sal jy ooit weet?


No comments:

Post a Comment