Monday, January 4, 2016

As is verbrande hout!

As kinders het ons almal die woorde gehoor:  "As is verbrande hout".  Die betekenis daarvan is om ons in die werklikheid te anker, want die woord "as" beteken eenvoudig dat dit gaan oor dinge wat nie so is nie.  As ek dit gedoen het of as ek dinge anders gedoen het, dan sou dinge vir my uitgewerk het. 
Wanneer ek na mense se verhoudings kyk, kom ek al meer agter dat dit ons grootste probleem is van hoekom ons verhoudings met mense nie uitwerk nie. 

Ons liefde vir ander mense is nie onvoorwaardelik nie.  Die enigste onvoorwaardelike liefde wat ons sien is die liefde van 'n ma vir haar kinders, maar in romantiese verhoudings oor die algemeen is die voorwaardelik. 

Op 'n vreemde manier kom ek vandag in my denke af op 'n interresante teorie, eintlik 2 teoriee waar die een die ander gebruik.  Karl Duncker het 'n eksperiment in 1945 ontwikkel, die "candle problem", waarmee hy volwassenes se vermoe toets om kreatief te dink.  In hierdie studie van "functional fixedness" word die konklusie gemaak dat volwassenes om die probleem op te los, aangesien dit vir ons moeilik is om gewone voorwerpe op nuwe maniere te gebruik.  Die sielkundige, Sam Glucksberg neem hierdie probleem verder, vir die een groep gee hy 'n geldelike motivering as hulle die probleem vinniger oplos as die res van die groep, en hy kom toe agter dat die mense wat NIE 'n geldelike motivering kry nie, die probleem vinniger opgelos het.

Die twee eksperimente wys eintlik 2 dinge vir my, en die eerste is dat die antwoord eintlik, soos met die "candle problem", reg voor ons is, dit is ons onvermoe om opsies te oorweeg wat ons keer om die antwoorde in ons lewens te kry.  Soms is ons te bang dat ons foute gaan begaan of verkeerde besluite gaan neem, maar in werklikheid kom verandering in my lewe die oomblik wat ek besef dat ek dieselfde situasie op verskillende maniere kan sien. 


In die tweede plek leer en besef ons dat dit nie werklik oor die geld as motivering gaan nie, maar dat verwagtinge spanning op ons plaas wat daartoe lei dat ons nie antwoorde vir ons lewens vind nie.  Ons kry nie oplossings nie, want die druk is te groot op ons.  Elke dag verwag ons van mense om dinge te wees, wat hulle dalk nie kan of wil wees nie, en ons kasty elkaar elke dag as hulle nie is wat ons van hulle verwag nie.  Is dit nie dalk die rede hoekom ons verhoudings sukkel nie, omdat ons voorwaardelik liefhet?    Dalk is ons so vasgevang in ons vrees dat ons iemand gaan verloor, dat ons 'n kunsmatige verhouding koester waar ons van mekaar verwag om deur hoepels te spring, en dat ons aan die einde van die dag so moeg gespring is, dat ons nie tyd of energie besit om te leef nie?

As is verbrande hout, en as ek in 'n verhouding met iemand staan waar "as jy dit doen" of "as jy ophou om dat te doen", is jou verhouding vinnig oppad na 'n plek van uitbranding toe.  Wanneer jy nie by iemand gelukkig kan wees, te midde van wie en wat en omstandighede nie, is jou verhouding uitgebrand.  En nou is die interresante ding, alhoewel ek 'n voorstander is van Gary Chapman se "love languages", waarin hy ons leer van die groepe waarin jy mense se liefde kan opdeel, is daar een kardinale fout met die boek.  Die boek leer ons om na jou maat te kyk, en natuurlik ook na jouself, om te verstaan hoe jy vir hulle kan en moet lief wees.  Die probleem daarmee is dat dit alles oor voorwaardelikheid gaan, nie net sekuriteit en geld nie, maar in woorde en aanraking ens.  Eintlik gee hy vir ons net 5 "As-se", waaraan ons moet voldoen om gelukkig te wees. 

En ek weet hy is 'n kenner op die gebied en kyk na menslike optrede en daarvoor het ek baie respek.  Maar wat hy werklik daarmee bewys is dat mense voorwaardelik lief is, en dat jy liefde vir iemand beantwoord deur vir hulle lief te wees op grond van hulle verwagtinge van jou.

Is 'n ma ooit minder lief vir haar kind wanneer hy 'n swak jaar op skool beleef?  Is sy liewer vir haar kind as sy haar vuil bord agtertoe vat?  Is sy minder lief vir haar kind wanneer haar kind nie haar kamer opruim nie?  Daar is al soveel studies gedoen oor die positiewe invloed wat onvoorwaardelike ouerliefde het op kinders, nie net in hulle natuurlike bestaan nie, maar ook op hulle skoolwerk.  Verdere studies toon dat kinders wat grootword in 'n gesin waar mense in onvoorwaardelike liefde leef, self suksesvoller in hulle huwelike en latere gesinslewens is.

Ek dink niks van wat ek hier van praat is vir enige van ons nuwe nuus nie, maar ons raak soms so vasgevang inn onsself, dat ons presies sukkel met die "candle experiment", waar ons later nie uitkomste kan vind meer nie.  Ons verhoudinge verkrummel, wat kan werk as ons net anders dink daaroor.  Miskien is die beste verduidelikking van so 'n liefde hoe ek oor God dink, want God is vir my lief, irrespective wie ek is en wat ek doen.  Dalk is dit ook hoekom mense sukkel met hulle verhouding met God, want ons dink dat God van ons verwag om dinge te doen, voordat God vir ons lief is.  Een van ons proffesore het altyd gese:  "God het jou en jou offerhande nie nodig om God te wees nie".  God het jou ook uniek gemaak, self in die moederskoot aanmekaar geweef, en Hy verstaan wie en wat jy is, en is onvoorwaardelik lief vir jou, al maak jy ook 'n gemors van jou lewe, of al bereik jy wat.

Ek dink ons vergeet soms dat in 'n verhouding, of dit met God, met jou huweliksmaat, met jou kind of jou medemens is, tussen 2 pole is.  Elke pool is uniek en elke pool is en bly wie of wat hy of sy is.  Maar 'n verhouding is slegs moontlik indien daar nie 'n "as" by betrokke is nie.  Soveel mense stel eise aan God:  "As God vir my lief is sal Hy dit of dat vir my gee" en as Hy dan nie doen nie, dan dink mense soms dat God nie vir hulle lief is nie.  Gun ons God om God te wees, en beteken onvoorwaardelike liefde teenoor Hom nie ook dat ons God toelaat om self te besluit of iets vir ons gegee word of nie?  Gee jy vir jou kinders alles wat hulle vra, en as jy dit nie gee nie, maak dit jou minder lief vir hulle? 

Soms dink ek dat ons in ons emosies en verhoudings net soos kinders in 'n speelgoedwinkel optree.  Ons kyk, ons soek en ons vra, en as ons nie kry wat ONS pas nie, dan gooi ons 'n vloerskop.  Dit is soms waar vir almal van ons en in elke verhouding waarin ons staan, want dit gaan oor MY en nie oor JOU of ONS nie.  Ek stel eise en ek verwag van jou om maar te dankbaar te wees dat ek jou in my lewe toelaat, en daarom my "as-se" te beantwoord.  Hoe sinneloos is die lewe dan nie, en is daar dan enige sprake van 'n verhouding, of is dit dan net 'n ruiltransaksie.  Kyk wat ek vir jou gedoen het, nou verwag ek dieselfde van jou!  As jy 'n verhouding met iemand het, moet dit onvoorwaardelik wees.

Ja, nou hoor ek dat mense vra:  "Maar as my man dit of dat, moet ek dit net aanvaar"?  Natuurlik is dit belangrik dat 2 pole dieselfde onvoorwaardelikheid teenoor mekaar toepas, en soms is dit nodig om weg te stap.  Vir hierdie oefening, hier aan die begin van die jaar, gaan kyk eerstens na "HOE" jou liefde vir ander lyk en of jy onvoorwaardelik lief is, en of dit nie dalk jou "As-se" is wat tot jou hartseer en ongeluk lei nie.  Dalk is dit my "As-se" wat die verhouding in verbrande hout verander.

Gaan leef "As-Loos" en kyk hoe hoog jou verhoudingsvure gaan brand in 2016.

2 comments: