Friday, January 29, 2016

My ma se gebedskassie

Sedert ek my verstand het, het my ma 'n boksie met gebede in.  Wanneer sy oor iets bid, skryf sy dit op 'n papiertjie en sit dit in die boksie.  Wanneer die gebed verhoor word, haal sy die papiertjie uit en dan skryf sy die datum daarop van die dag wat die gebed verhoor is.  En glo my, daar is bitter min van die papiertjies en gebede wat nie datums op het nie.


Soms wonder ek oor baie dinge van die lewe, en soms stress ek myself oor 'n mik oor dinge.  Ek lees allerhande boeke en artikels van mense wat ons probeer leer hoe dinge moet werk.  As voorbeeld neem ons die boek "The Secret" wat ons leer dat alles moontlik is met die "Law of Attraction".  Die van julle wat my blog baie lees sal verstaan hoe ek soms, of elkgeval die meeste van die tyd met daardie konsep stoei, want erens diep in my verstaan ek wat daarmee bedoel word, maar erens in my ook voel dit nie vir my reg nie.  Ek het soveel keer al allerhande dinge probeer met my lewe en om dinge te verander, maar dit het nie gewerk nie, en dan vra mens altyd hoekom?  En jy gaan kyk na jou eie bestaan en die keuses wat jy gemaak het, en jy kasty jouself oor gebrokenheid wat jy in mense gebring het.  Jy le nagte wakker oor hartseer in jou hart, of jy voel skuldig oor dinge wat jy nie gedoen het nie.  Jy dink jouself gek aan al hierdie dinge.


Vanoggend kyk ek 'n fantastiese video op YouTube wat juis handel oor al die dinge wat ons oor stress, en ek dink so by myself: "In al die dinge wat ek myself oor kasty of oor twyfel of oor wonder, is die hoof oorsaak daarvan nie dalk my geloof nie?"  in die boek: "The Skilled helper" begin die outeur deur vir ons te se dat die kern van elke probleem wat mense het, spiritueel van aard is.  Wat hy daarmee bedoel is dat eerder en voordat jy iemand vir iets kan behandel, of enigsins begin om die probleme en krisisse in jou lewe te probeer hanteer, gaan eers na die kern van alles, na God.


Nou weet ek weer daar is 'n klomp mense wat gaan redeneer dat dit nie so is nie, en ja, ek was van die eerstes op Universiteit om vir Prof Muller te se dat ek dit nie glo nie.  En vir lank het ek steeds so bly dink, maar vandag wonder ek of die skrywer nie tog reg was nie.  Jy sien, ons is soms so besig met onsself en probeer dinge in ons eie krag regmaak of verander, dat ons dalk die punt en die kern daarvan mis.  En hoe ouer ek word en hoe meer ek lees oor "self help", hoe meer besef ek 2 dinge.  Die eerste is, ek wonder of 'n mens jouself kan help en die tweede is dat daar niks is wat iemand al ooit na die Bybel geskryf het, waarvan dieselfde informasie nie ook in die Bybel opgeskryf is nie. 


En in hierdie oomblik van my lewe voel ek nie op 'n goeie plek toe ek opstaan nie.  Ek was nie lus vir die dag nie, en ek sien op na al die dinge wat ek moet doen.  En toe besef ek een belangrike ding, dat ek my dag eerder met God moet begin.  Ek gee nou nie om hoe jy jou beeld van God sien nie, en of jy glo dat Jona in die vis was en of die maagdelike geboorte werklik is of nie, maar een ding weet ek seker, jy kan nie sonder God nie.  In al my wedervaringe met mense sien ek baie wat glo in God en dit uitleef, en ook ander wat dit nie doen nie.  Op die oog af lyk dit, soos Dawid ook baie keer gevra het, dat dit met die wat God nie in hulle lewens het nie en nie naby Hom leef nie, dieselfde behandeling kry as die wat in God glo.  En juis daarin le die antwoord van HOEKOM jy in God moet glo, want God glo in almal.  God gee vir almal, en dit is genade. 


Wat ek wel in hierdie tyd in my lewe ervaar is dat ek, veral in tye wanneer dit met jou swaar gaan, ek nie myself kan indink om dit sonder God te doen nie.  Ek praat elke oomblik met hom en ek vertrou dat wat ek nou moet deurgaan, deel van God se wil is, of dalk nie.  Dalk is die feit dat my lewe uitdraai soos dit doen, dat dit te doen het met die feit dat ek TE veel op my self staatmaak, wat ek nou al weet ek nie die krag voor het nie.  Ons lewe in 'n wereld waarin ons soveel beheer kan uitoefen, ons kan net 'n ligskakelaar aanskakel of ons kan net in 'n motor kan klim en dinge self doen, dat ons dink ons dit met al die ander dinge OOK kan doen.  Maar soms is daar ook loadshedding en 'n kar wat breek wat jou dan ook magteloos laat voel.  Een ding is waar en dit is dat God se diensplan NOOIT verstryk in jou lewe nie, en verder is daar niks wat jou vandag pla wat God nie KAN uitsorteer of WIL uitsorteer nie. 


Dit laat my toe ook skielik dink aan my ma se gebedsboksie, want dit is HAAR law of attraction.  Dit is haar manier om die dinge in haar lewe aan te trek, maar ek hou van die idee van die boksie, want dit beteken 2 dinge, die eerste is dat sy dit fisies op skrif sit, en die tweede is dat sy dit in vertroue laat gaan en in God se hande plaas.  Dalk is dit 'n beter manier om die law of attraction uit te leef en dit is om met God oor dit te praat, en dit in God se hande te plaas.  Ek weet ook dat daar kere in haar lewe was wat sy gevoel het dat sy dit nie meer wil doen nie, of die briefies wil weggooi, want alles loop nie altyd na plan nie.  Maar wanneer sy die boksie oopmaak en weer begin kyk na al die plekke en tye waar gebede verhoor is, word mens tog weer gevul met die grootheid van God en maak dit is 'n mens dankbaar.


Te veel kere wil ons vorentoe kyk en dan sien ons nie 'n pad oop voor ons nie, en ons dink aan allerhande dinge soos om in die NOU te leef.  Wanneer ons terugkyk op ons pad tot hier, help dit ons baie om te onthou waar en hoe God vir ons uitkomste gegee het.  Dit help ons om te besef, nie net waar en hoe nie, maar ook soms die onmoontlikheid van waaruit en waarheen God ons gelei het.


Ek weet nie wat jou stress en probleem vandag is en deur watter tipe seer JY gaan nie.  Ek gaan vandag weer besef en verstaan dat God groter is as enige stress in my, en ek gaan dit vir God gee in die wete en in die verstaan dat God dit sal verhoor, in totale geloof.  Wetend dat op die regte tyd, en in groot vertroue en danbaarheid vir wat God alles vir my gee, Hy dit weer sal doen, oor en oor.


"Perde kan afgerig word vir die stryd, maar dit is God wat die oorwinning gee"

No comments:

Post a Comment