Monday, January 18, 2016

Pampoene en Pitte



Vandag word ek herinner aan die storietjie van die uitgeholde pampoen en die Bobbejaan.  Die pampoen kry 'n gaatjie bo-in, net groot genoeg vir die Bobbejaan se hand, en dan word daar pampoenpitte teruggegooi in die pampoen.  Die Bobbejaan druk dan sy hand deur die gat om die pitte in die hande te kry, maar die oomblik wanneer hy sy hand probeer uithaal, kry hy dit nie reg nie, want sy vuis is te groot.  Hy moet eers die pitte weer laat gaan om sy hand uit die pampoen te kry.

Vanoggend lees ek weer op 'n klomp plekke of Facebook aanhalings van om in die oomblik te leef en om die dag te gryp.  Dit klink na 'n pragtige teorie, maar in my eie lewe en dalk in joune ook, kom ons agter dag dit nie so eenvoudig is nie.  Ons hande is soms so vol met die verlede en ons baggasie dat dit amper onmoontlik word om dit gedoen te kry.  Ons vuise bol van die pitte in ons verlede, en die enigste manier om die mooi van die nuwe dag te ontvang, verg baie, want soms wil ons dit nie laat gaan nie. 

Ek leef in 'n wereld waar klomp mense geskei is, of vervreemd is van 'n huweliksmaat.  Ek hoor hoe hulle hulle drome uitspreek om weer by iemand betrokke te raak en die hunkering na 'n lewe wat hulle verdien.  Maar soveel keer sien ek dat dit nie werk nie, al ontmoet hulle die wonderlikste persoon, omdat hulle nog so vasgevang is met hulle vuiste in die pampoen.  Soms is die hele wereld rondom jou gestrooi met ander en nuwe geleenthede, maar jy is so gefokus op jou hand in die pampoen, dat, of jy nou die vars en mooi rondom raaksien, jy dit nie kan optel nie.

In 'n gesprek hieroor nou die aand, maak 'n vriend van my 'n baie goeie opmerking.  Selfs die Israeliete het in die woestyn terug verlang na die kospotte van Egipte.Dit is menslik om vas te hou aan dinge wat ons selfs in slawerny gedompel het, al het ons die hoop op 'n land van melk en heuning.  Soms wonder ek of dit nie die rede is hoekom ons nie vorentoe kan beweeg in ons lewens nie?  Dit gaan nie hier net oor mense nie, maar ook al die ander dinge wat ons aan vashou, ons mislukkings of ons suksesse.  Gister is verby, net vandag is die realiteit.  In die maand wat verby is het 'n vriend van my deur 'n slegte tyd gegaan en kon nie lig in die tonnel raaksien nie, en in daardie oomblik kom iets by my op: "Wat as?".  Wat as vandag iets of iemand oor jou lewe loop en jou hande TOE is met vashou aan die verlede en die mislukking?  Want as jou hande in 'n vuis toe is, hoe gaan jy die mooi en dit wat God vir jou vandag gee kan aanvaar?

Dit beteken nou nie net dat jy jou verlede en al die ervarings van wat gebeur het net weggooi nie.  Daardie Bobbejaan kan eenvoudig sy hand oopmaak, die pampoen bietjie skud sodat die pitte uitval en dit herrangskik.  Dalk as al daardie pitte van jou uit die pampoen op die grond versprei le, dit vergelyk met al die vars en nuwe en pitte van seeninge wat God vir jou gee.  Dan is jy natuurlik welkom om die pitte op te tel wat jy wil, maar dan is dit jou keuse.  Dan kan jy die vrottes ignoreer en varses optel.  Dan kan jy perspektief kry, soos die Israeliete om vir jouself af te vra of dit nou werklik SO fantasties was in Egipte?  Deur die verlede so te hanteer, kry jy perspektief.
So, dit beteken nie dat jy alles in die verlede moet weggooi nie, natuurlik is daar ook mooi, maar ons verknogtheid en vashou daaraan is die probleem.  Soveel mense leef elke dag in agonie van die pampoen se rand wat die sirkulasie in jou hand afsny om vas te hou aan dinge wat nie noodwendig die moeite werd is nie.  Soveel mense vra elke dag om te ontvang, en hulle sien die mooi van die pitte om hulle, maar hulle wil nie laat gaan nie, of nog erger, hulle dink hulle mag nie laat gaan nie. 

Wanneer jy jou hand in 'n vuis maak, voel jy in beheer, want jy kan terugveg, en om jou hande oop te maak, selfs liggaamstaal-gurus leer dit vir ons, wys dat jy oop, maar ook vulnerable is.  In lyn met ons Godsdiens, glo ek elke mens bid en vra vir 'n beter lewe elke dag, maar soms is dit nie dat God dit nie vir ons gee nie, dit reen uit die hemel neer op toegebalde vuiste wat eerder vashou.

Ek dink aan die storie van die dogtertjie wat se pop stukkend was en sy vir haar ouma vra om die pop reg te maak.  Ouma haal toe haar kissie met allerhande garings en naalde uit en gaan sit op die bank.  Ouma het nog nie eers die garing deur die naald geweef nie, toe gryp die dogtertjie die pop terug.  Ouma se toe vir haar:  "My kind, as jy wil he dat ek die pop moet regmaak, sal jy my moet vertrou en die pop moet laat gaan en vir my tyd gee om dit reg te maak". 

Dinge in jou lewe kom nooit reg met vuis bal en slaan nie, dinge kom reg wanneer jy vulnerable is en jouself oopstel vir die Genade van God en jou oe oopmaak vir wat om jou werklik gebeur, en slegs met 'n oop hand kan jy ontvang.  Met ogies wat oop is kan ons dinge objektief sien, selfs dit wat in die verlede gebeur het.
Ek wil afsluit met 'n laaste storie.  Deesdae is daar soveel verskillende plat skerm televisies op die mark.  Die een is groter as die ander, die een is Plasma of LED of UHD of SUHD, volgens hulle spesifikasies.  Wanneer jy net een plat TV voor jou sien, geniet jy die program wat daar op is, maar eers wanneer jy in die winkel almal van hulle in vergelyking saam sien, dan kan jy werklik die verskil sien tussen die verskillende kwaliteite.  Dan eers verstaan jy hoekom die een duurder as die ander is.

Dit is eers wanneer jy jou pampoenpitte laat gaan, jou pitte uitskud in vergelyking met ander pitte, wat jy jou pitte sien vir wat dit werklik is.  Dalk, en net dalk kom jy dan agter dat die pitte wat jy aan vasgehou het vrot is en wonder hoekom jy so lank daaraan vasgehou het en jou arm lam geword het.  Maar, dalk en net dalk, wanneer jy dit uitgooi in die lig van ander pitte, dalk kom jy dalk agter dat dit eintlik diamante is wat jy in jou lewe gehad het, en dat dit wat was dalk nie so sleg is in relaas tot dit wat jy om jou gesien het en gedink het dat die alternatief so wonderlik is nie.

Wie sal weet, dalk is vandag die dag wat jy laat gaan, die dag wat jy kans kry om te sorteer en die dag wat jou hele lewe verander?  Dit bly jou keuse, jou lewe!  

No comments:

Post a Comment