Monday, January 11, 2016

Wat jy vrees kom oor jou!

Wanneer ek na mense om my kyk, verstaan ek baie mooi en vinnig, sonder enige vreeslike wetenskaplike eksperimente, dat VREES die grootste krag is wat alle mense kan dryf.  Ek dink ons fokus so baie keer op dit wat ons moet doen, dat ons in ons persoonlike ontwikkeling min doen aan dinge wat ons eintlik beheer, waaronder vrees die sterkste is.  Die Bybel vertel ons dat "wat jy vrees oor jou kom", en in baie gevalle sien ek dat mense juis die lewens, juis die omstandighede LEEF wat hulle vrese was of is.


Die rede hiervoor is heel eenvoudig, eerstens is dit dat dit waarmee jy elke oomblik in jou kop besig is, jou denke, jou aksies en jou vibrasies bepaal.  In gholf, wanneer jy voor 'n kort gaatjie staan met water voor, en jy dink die hele tyd aan die water, is jou kanse natuurlik baie groot om NIE die setperk te haal nie, maar die bal in die water te slaan.  Daar is genoeg voorbeelde in die sportsielkunde wat hierdie idee vir ons al bewys het.  Natuurlik beteken dit nooit dat jy die water ontken en die gevaar daarvan ignoreer nie, jy beplan rondom dit, vat dalk 'n ekstra yster om seker te maak dat jy die setperk gemaklik haal en die water buite spel laat.  En wanneer jy die gevaar en die vrees uit die scenario gehaal het, dan fokus jy op die setperk en nie meer op die water nie, en dit is al. 


Dit beteken nie dat as jy dit alles gedoen het dat jy nie dalk nog steeds in die water gaan beland nie, want soos die lewe is gholf ook nie 'n spel van perfeksie waarin jy altyd regkry wat jy aanpak nie. 


Tweedens, wetenskap het nou al vir ons bewys dat die negatiewe altyd 'n groter rol speel as die positiewe, omdat ons as mense die konsekwensies daarvan eintlik vrees.  Die aantrekkingskrag van die water om die putjie is sterker, want die negatiewe konsekwensies vir my rondte is grootter wanneer ek in die water slaan, as op die setperk.  Verder is dit moeiliker om op die positiewe van die setperk te fokus, want menslik is ons vrese sterkter as positiewe uitkoms.   En ons as mense is so gekonditioneer dat die negatiewe en die sneeubal effek van die konsekwensies vir ons swaar op ons harte rus, en dit is hoekom die Bybel dit dalk so stel.  Hoekom het die Bybel in daardie vers nie net gese:  "waaarop jy fokus sal oor jou kom" nie?  Omdat, selfs sonder bewyse of wetenskap ons reeds weet dat die negatiewe swaarder op ons rus.


Dit is natuurlik nie noodwendig al die dinge wat jy VREES nie, maar ook al die ander dinge in jou lewe wat vir jou belangrik is.  Daar is sekere dinge wat vir ons SO belangrik is in ons lewens, wat ons nie op wil kompromiee aangaan nie, geen probleem daarmee nie, maar wat maak jy wanneer jou lewe NIE uitwerk soos jy dit beplan het nie?  Dit gaan nie soseer oor dat jy sekere dinge in jou as belangrik ag nie, maar die vrees van as dit nie beantwoord word nie.  My doelwit is om die setperk raak te slaan, maar what-if?  Se nou net die bal land in die water, gaan ek dan nog kan leef, gaan ek dan nog aangaan met die rondte en die mislukking agter my sit?  Gaan ek kan verder gaan, my bal uitgooi en weer probeer om die setperk raak te slaan?  Gaan jy bereid wees om die les te leer en kan jy verstaan dat almal al 'n bal in die water geslaan het, of leer dat jy ook nie perfek is nie, maar op die volgende putjie 'n 6 yster eerder as 'n 7 gaan slaan op die afstand, want jy het geleer.  Dalk daarna kyk en besef dat dit in konteks dalk net 'n oefenrondte is, en wat jy hier geleer het op 'n belangrike dag en plek kan toepas.


Ek het dit as soveel keer gesien, mense wat hulle vrese "leef", en mense wat nie kan insien dat hulle keuses maak wat op die ou einde hulle vrese gaan laat waar word nie.  Veral in verhoudings tussen mense, kies 'n vrou wat bang is dat haar man haar verneuk in baie gevalle juis die ou in 'n vriendekring wat 'n los oog het.  Sy is dan baie keer ook die een wat op sy foon sal gaan rondkrap om te kyk waarmee hy besig is, en in baie gevalle iets agterdogtig vind.  Dan verf sy hom in 'n hoek in, en dan "word" hy dalk die een wat haar gaan verneuk, omdat sy hom nie vertrou nie.  Ek veralgemeen nou verskriklik, maar hopelik verstaan ons die beginsel daarvan.


En dit bring ons by die volgende punt oor VREES, en kom ek gebruik daardie voorbeeld.  Die vrou LEEF al in die konsekwensies van die vrees, nog voordat enige iets gebeur het.  En dit is wat vrees doen, jy LEEF reeds in dit al het dit nog nie gebeur nie, of al gaan dit nooit gebeur nie.  Dit is natuurlik ook so dat jy "muscle memories" en ondervinding het van vorige tye wat dinge met jou gebeur het en jy nie kans sien om weer deur dit te gaan nie.  Terwyl jy iets vrees, beteken nie dit gaan in realiteit met jou gebeur nie, maar in die VREES leef jy nou reeds deur die emosies.  Wanneer daardie vrou die foon optel en begin krap, werk sy alreeds deur die gevoelens DAT sy iets gaan kry, sy gee al klaar toe AAN die gevoel dat hy haar reeds verneuk het. 


Maar wat sal gebeur as die vrees van die water rondom die setperk gladnie daar was nie, en daar nie spanning van mislukkings en konsekwensies daarvan is nie?  Dit gaan nog steeds dieselfde setperk wees, dieselfde afstand en dieselfde stok waarmee jy gaan slaan, maar my fokus en kans op sukses gaan soveel groter wees, nie omdat ek 'n beter speler is nie, maar omdat ek nie die vrees van die water op my brein het nie. Ek dink dit is baie belangrik vir ons almal om ons vrese te ken, presies te weet wat dit is en dit onder beheer te kry, en soos professionele gholfspelers (wat ook soms in die water slaan), ons spel so te vertrou en ons fokus so op die doelwit te oefen, dat ons kanse op sukses groter en beter is. 


Die lewe is nie perfek nie, daar is watergate en dongas en slote en sandkuile elke dag in ons lewens.  Die uitdaging is nie om te verwag van gholfbane om nie water voor setperke te plaas omdat ek so spesiaal is en my vrees vir water skielik gholfbaan ontwerp oor die hele wereld moet beheer nie.  Dit is die ander kant van die muntstuk, veral in verhoudings, ons verwag van mense om ons vrese weg te vat en ons gelukkig te maak.  Niemand kan "namens" jou die spel speel nie, elke mens het sy eie tellingkaart, en niemand kan die hou "namens" jou slaan nie. 


Jou vrese is joune en joune alleen, en net soos wat jou maat vir jou raad kan gee en moed kan inpraat (want hy of sy ken jou vrese) is dit net jy wat dit moet hanteer en oorbrug. En dalk die belangrikste daarvan is dat wanneer jy dit nie oorbrug nie, jy sal moet vrede maak dat mense en situasies ALTYD in jou lewe gaan herhaal, of dit nou jou vibrasie is wat dieselfde dinge na jou toe aantrek, of dat dit dalk in die Bybel staan of welke teorie jy in glo, feite bly feite.  Miskien is dit dalk dat jy so ingestel is op jou vrese, dat jy DIT veral raaksien en nie dat daar 'n ander antwoord ook kan wees nie, want as jy fokus op rooi Smerties, gaan jy eerste die rooies raaksien.


Te veel mense gee te vinnig op, en weier om verder aan die spel deel te neem, maar wat 'n verlies aan ervarings en skoonheid van die gholfbaan en kammeraadskap gaan jy mis.  En is dit op die ou einde so erg om 'n ou balletjie in die water te slaan?  Gaan dit die einde van jou lewe beteken? 


Gaan dus nou met rustigheid en eerlikheid jou week in en gaan analiseer jou vrese, verstaan dit en hanteer dit, en maak vrede met die feit dat die lewe geen waarborge het nie, en dat vrese gaan bestaan.  En laastens, laat jou lewe beheer word deur die prys om te PROBEER om die setperk raak te slaan, en hoe daardie emosie jou gaan laat voel, dan is jou kanse op sukses en geluk veel meer as om dit te laat beheer deur jou vrese.  En onthou, as enige iets of iemand, vrees ingesluit jou lewe beheer, is omdat jy die beheer daarvan weggegee het, dit is JOU lewe, gaan leef voluit en met so min vrees as moontlik.  Laat jou lewe 'n teksvers laat ontstaan: "Wat jy droom kom jou oor"!


No comments:

Post a Comment