Wednesday, January 20, 2016

Daar is 'n tyd vir alles

Die lewe het so gejaag geraak, en alles handel rondom tyd.  Niemand van ons hou daarvan om in 'n tou te staan en wag nie, selfs al het ons niks anders om te doen nie.  Netnou wag ek so ongeveer 5 minute vir my Word om op my stadige rekenaar oop te maak om 'n ander blog te skryf, so lank dat ek tyd gehad het vir die ketel om te kook en 'n koffie aanmekaar te slaan.  En toe besluit ek om eerder oor tyd en geduld te skryf as oor daai ander onderwerp wat ek seker later sal skryf.


Die wereld waarin ons vandag leef is so gevul met "onmiddelike" satisfaksie.  Ek wil nie vir my online iets koop nie, want as ek skoene koop wil ek dit eintlik sommer daar in die winkel aantrek, en nie eers wag dat DHL of iemand dit eers oor 'n dag of wat kom aflewer nie.  Ons is ongeduldig en ons het nie geduld vir wag nie, so dit gaan dus in die eerste plek nie oor TYD nie, maar dit gaan eerder oor wag en geduld.  Ons soek antwoorde, uitkomste, genade en seen, en ons soek dit onmiddelik.


Dit is dieselfde in elke faset van ons lewens, ons soek antwoorde en uitkomste onmiddelik, en dit is heel menselik, want ek voel die pyn en die behoefte in hierdie oomblik.  Veral wanneer jou lewe nie sin maak nie, dan bid jy en vra dat die antwoorde na jou toe moet kom, maar dit doen nie altyd onmiddelik nie.  My oumagrootjie het gese: "My kind, dinge gaan met jou gebeur, en jy gaan nie onmiddelik weet hoekom nie, maar gee dit tyd, een dag sal jy net wakker word en verstaan hoekom".  En ek hoor presies wat sy bedoel het, maar ek sukkel vreeslik daarmee om dit te doen.


Vanoggend lees ek in Prediker 3 die hele verduidelikking dat daar 'n tyd vir alles is, en toe ek dit lees, toe besef ek dat wanneer die Prediker daaroor praat, hy 2 dinge daarmee doen.  Gaan lees dit bietjie dan sien jy dat die tye wat hy van praat, altyd 2 pole het wat mekaar uitkanselleer.  Byvoorbeeld 'n tyd om te huil en 'n tyd om te lag, 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterf.  So, in die eerste plek leer 'n mens dat dinge uitkanselleer, en daarmee gee hy vir ons hoop.  Dalk is ek vandag hartseer, maar op 'n tyd sal dit met lag vervang word, maar die wanneer sal ek nooit weet nie.  Soms is ons so vasgevang in die depressie van die oomblik en ons balans is heeltemal versteur en dan dink ons dat dit nooit sal reg kom of verander nie, maar die prediker vertel dat dit sal.  So, dit maak nie saak hoe jy vandag voel nie, dit sal op 'n manier terug swaai om jou weer balans te gee.


Die tweede wat die Prediker ons leer is geduld, wat ek dink die moeilikste is.  Jy het drome, behoeftes en ideale wat jou baie naby aan die hart is, en jy soek onmiddelike satisfaksie rondom dit.  Die wereld verwag van ons om onmiddelik en vandag vir ons alles te gee wat ons nodig het, maar die lewe werk nie so nie.  Gaan lees maar baie van die boeke oor mense wat suksesvol was in hulle drome en hoeveel keer en hoe lank hulle probeer het om te kry wat hulle harte begeer het.  Jy kan 'n avokado nie ryp dwing of druk nie, en 'n groen avo is nie lekker nie.  Dalk is dit hoekom ons lewens soms so vreeslik sleg proe, want dit is nie die regte tyd om die avokado af te skil en te eet nie.


Soms ook is die vrug wat jy na smag nie in seisoen nie, en ons spring op en af by die Woollies omdat hulle dit nie in voorraad het nie.  Ons roep dan die bestuurder en gooi ons speelgoed, terwyl dit op daardie oomblik net onmoontlik is om kersies in die hande te kry.  Dit maak nou gladnie saak hoe jy dit crave en wat jy ookal doen nie, op die oomblik is dit onmoontlik.  So is dit met ons drome en ideale en ook ons pyn, want ons soek die antwoord NOU.  Nou is dalk nie die tyd nie, en heel moontlik is JY nie reg om nou die antwoord te kry nie.  Partykeer moet ons eers deur die lesse van die situasie werk, veranderings aanbring en groei voordat ons reg is om die balans te kan hanteer.  Soms ook is die lesse wat ons moet leer ook deel van die manifestasie van die balans in ons lewens, dit is nie altyd net van buite wat dinge in plek val nie.  Meeste van die kere is dit ONS wat onsself moet regruk en transformeer sodat dinge kan verander en die balans kan kom. 


Ons praat so baie oor geloof en om God te vertrou met die dinge in ons lewens, en ons wil onmiddelikke antwoorde op ons probleme kry.  Maar het ons genoeg vertroue in God dat ons God gun om God te wees en om op die regte tyd vir ons te gee wat ons vra?  Het ons ook genoeg vertroue dat God in die proses saam met ons is en ons laat groei om by die punt uit te kom waar ons kan ontvang wat ons vra?  En laastens, God te vertrou dat wanneer ons NIE kry wat ons vra nie, God 'n ander deur vir ons sal oop maak, en dat ons dan die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal ervaar.

No comments:

Post a Comment