Monday, November 21, 2011

Kattelewe

So kry ons toe verlede week 2 meisiekinder katjies, Prinses en Mika. So vir die eerste paar dae is hulle nog maar baie verskrik met die botter-voet smeerdery en al. Hulle bly aan die een kant van die huis en jy kan hoor in die miaau dat hulle baie vreemds voel so weg van hulle mamma af. Ek moet sê dat ek nie 'n kat mens was nie, en maar versigtig was vir die hele nuwe ervaring, maar hulle is gepottie, en gebruik hulle sandbak. Dis half 'n ervaring as jy altyd 'n hondmens was en met 'n "poopscoop" op die gras moet rondloop.

Nou terwyl ek hier sit, dink ek aan die laaste paar dae, en veral oor die debat oor "nature vs nurture". Die twee katte se persoonlikhede verskil hemelsbreed. Dieselfde ma, dieselfde ou huis, dieselfde nuwe huis, dieselfde bed, dieselfde geleenthede en dieselfde kos. Maar Mika is die een wat die minste bang is en die hele huis verken. Sy is nie skaam om op jou te spring of deur die huis te loop en aan alles te ruik nie. Prinses is die bang een, hardloop altyd agter en as sy nie vir Mika kan sien nie, miaau sy totdat Mika weer terugkeer van die eksplorasie af.

Dit laat 'n mens dink aan al die redenasies wat ons al gehad het oor mense en menslike optrede. In teologie het ons baie geleer van die "verhalende" pastoraat waar ons geglo het dat elke mens 'n storie het. Hoe meer iemand van hulle storie vertel en in perspektief sien, hoe makliker kan hulle die probleme in hulle lewens oplos. Ons teken prentjies vir hulle van patrone in hulle genealogie van buite-egtelike verhoudinge tot dwelmafhanklikheid. Ons probeer dan saam die storie opstel, en soms in die vertel van die storie kry die meer volwasse ek my A-Ha moment waar ek verstaan.

My katte het my duidelik gewys dat die werklike ek iemand is wat op 'n basiese vlak reeds vasgelê is, en dat baie min daarvan gaan verander. Of gaan dit verander? Ek sal nou maar met die katte 'n pad stap en sien, want dalk raak Mika skugter en word Prinses die leier. Dalk is Prinses slimmer en weet dalk intuitief dat sy Mika in toom moet hou vir haar eie beswil.

So ook leef ons elke dag met nuwe lesse en uitdagings. Elke nuwe dag bring nuwe uitdagings en spanning oor ons wat ons mee moet saamleef. Die vraag is altyd vir my oor watter gedeelte van 'n mens se lewe ingebore is en watter gedeelte aangeleerde gedrag is. Dit is in my eie lewe kompleks, want soms is jou aangeleerde gedrag so ingeprent deur die "habit" dat jy kan dink dat dit deel van jou ingebore menswees is. Wanneer het jy dalk jou drome en ideale verloor en opgehou om die Mika te wees en sonder vrees die wêreld aan te pak? Wanneer het jy dalk begin om jou ooglopende vrees vir die lewe te verloor, soos Prinses, en in die leier te ontwikkel wat jy is, al is dit soms vanuit 'n beskeie uitkyk, omdat jy eers analiseer voordat jy inspring in die lewe?

Ons word ook ingebore in 'n nuwe huis en wêreld met ander faktore en mense met vooropgestelde idees. Mense wat soos ek sommer van die staanspoor meer attraksie vind by Mika, want ek hou nie van mense wat terughou nie. So oordeel die wêreld oor die "prinsesse" , omdat die "Mika's" meer inval by wat aanvaarbaar en populêr is. So doen ons ook met ons kinders op skool, en ons verwag van hulle om in te pas by alles en almal. Wanneer hulle dit doen, en verkeerde keuses maak, dan blammeer ons hulle "cool" vriende en vriendskappe daarvoor.

Jy sien, aan die een kant kom ek, my kinders, my huweliksmaat, my vriende en my katte op 'n sekere manier in die lewe in. 'n Mens kan nie altyd help hoe jy in die moederskoot aanmekaar geweef is nie, watter gene jy het, watter kleur hare jy het nie, en hoe lank of hoe lomp jy is nie. Van ons is meer avontuurlustig en het meer talente in sekere areas as ander. Ons kan baie van wie ons is nie "help" nie, so gemaak en so is ons laat staan. Dit kan ons beskryf as die basis van wie ons is, maar nooit is die gebou klaar gebou net met die fondamente nie. So is die storie van ons lewens nooit afgehandel as ons net die inleiding gedoen het en die karakters voorgestel het nie.

In die laerskool is ons in die begripstoetse oor 'n storie altyd uitgevra oor die karakterontwikkeling wat deur die storie gebeur het. Hoe het die boelie in die skool die dramaheld geword? Hoe het die lelike eendjie die ou van haar drome gekry? Hoe het die skaam maatjie geleer om voor mense te praat en hoofseun geword? En hoe het die held van die rugbyspan in die niet verdwyn na skool? Hoe het die "Mika" die volgeling geword en hoe het "Prinses" die leier van die trop geword?

Dit wil voorkom asof ons basiese persoonlikheid slegs die inleiding van die storie is. Gister sit ek by 'n reunie saam met my universiteitsvriende en ons praat oor al die dinge wat gebeur het en wat ons gedoen het. Ons praat ook oor alles wat ons bereik het en hoe "mean" ons was. So praat ons toe oor van ons ander vriende en wat hulle bereik het, en die wat vasgevang is of was in die eerste hoofstuk of in die inleiding. Jy sien, waar jy vandag is, is ook maar net 'n sinnetjie in 'n hoofstuk, maar die "fat lady" het nog nie gesing nie.

Elke dag het ons te doen met allerhande mense en situasies om ons wat van ons verwag om op 'n sekere manier aan te pas, of om op 'n sekere manier te rebelleer. Daar is mense met opinies wat ons menswees in twyfel trek, mense wat ons veroordeel, ons uitdaag of ons ondergang soek. Natuurlik sal "Mika" nou op die oomblik in 'n krisis beter weet wat om te doen en waar om weg te kruip. Soms is jou basiese persoonlikheid jou redding in 'n sekere situasie, maar op ander tye kan dit jou ondergang beteken. Sekere dinge soos eksplorasie gaan vir "prinses" moeiliker wees as gevolg van haar persoonlikheid. Wat sy egter vir my moet vra is: "Hoekom?". Sy is 'n huiskat en daar is baie tyd vir haar om te doen wat sy wil doen. Sy het nie nodig om te eksploreer nie, want haar sussie kom altyd weer terug, en wie het gesê dat 'n huiskat die hele wêreld moet verken?

So bring dit ons terug na die ou konsep dat die lewe nie een enkele antwoord het nie, en dat ons nie mense op grond daarvan moet oordeel en veroordeel nie. Ek het twee katte nou, en ek moet hulle elkeen liefhê op hulle eie manier. Ek het 4 kinders, en elkeen verskil, so daar is nie een manier wat vir almal werk nie. Slegs as ek hulle leer ken en toelaat om hulle eie menswees te ontdek en aanvaar soos hulle is, kan ek hulle help om die lewe te gaan leef. Wat is die beste huiskat, die een wat verken of die een wat op die bank rustig lê? Niemand kan sê nie. So ook kan ons dus nie oor mense oordeel nie, want wie weet wie en wat die beste is. Elke mens het sy eie menswees met sy eie idees, en om te dink dat jy die antwoord het (vir jouself) is goed, maar om te dink dat dit die enigste antwoord is, dit is waar die probleem inkom, want mense verskil.

Ek kan die tafel dek vir mense om my, maar ek kan hulle nie dwing om van die kos wat ek maak te hou nie. Mense wat die lewe geniet en mense om hulle het, is mense wat 'n buffet voorberei en mense self laat kies wat hulle wil eet en waarvan hulle hou. As hulle dus nie doen soos ek wil of hou van dieselfde geregte as ek nie, beteken nie dat ons nie die aand en die reis saam kan geniet nie.

Steeds het ek dus nie die antwoord of dit natuur of blootstelling is wat ons vorm nie, maar ek dink dat ons 'n sekere deel van wie ons is aan die natuur kan toeskryf, en die ander gedeelte aan blootstelling aan die wêreld. Daarmee saam het ons 'n verantwoordelikheid om onsself (eerstens) aan dit bloot te stel wat ons lewens gaan verryk, en teenoor ander om vir hulle die buffet voor te sit sodat hulle in hulle eie reg die "Mika" en "Prinses" gaan word wat hulle uit hulleself wil word.


Sent via my BlackBerry from Vodacom - let your email find you!

No comments:

Post a Comment