Wednesday, July 11, 2012

Balke en splinters en ouma se Datsun

 Ek was omtrent so 10 jaar oud, toe koop my ouma 'n motor by haar neef.  Ek kan goed onthou dit was so 'n blou Datsun 1600, daardie tyd toe hulle nog sulke boksie-motors gebou het.  My ouma was so trots op haar motor.  My ouma het in 'n woonstelblok gebly en daar was nie toesluitmotorhuise nie, slegs daardie middelste onderdakparkering met die grasperk en braaiplekke op.

 

My ouma was so bang dat iemand haar motor moet steel en het elke dag vir ons vertel dat sy deur die nag wakker word en deur die venster in haar sitkamer gaan loer het of die motor nog daar is.  Een oggend 3:00 lui ons huisfoon en my ouma is histeries want haar voertuig is gesteel.

 

Sedert daardie tyd worstel ek ook baie met die denke oor of situasies soos wat my ouma getref het deur haar aangetrek is (die Bybel noem dit mos dat wat jy vrees oor jou sal kom) en of dit sou gebeur het sonder my ouma se insette of vrese.

 

Ek het in die vorige blog genoem dat ons besig is om na motors te kyk om te koop en dat ons so bietjie buite die algemeen na "onbekende" motors kyk.  Wat my vreeslik opval is dat ek voorheen nooit hierdie voertuie op die pad gesien het nie, en skielik sien ek hulle raak.  Ek sien die Dodges, die Chevrolets en selfs ander motors wat ek nooit van geweet het nie. 

 

Mense praat deesdae vreeslik baie oor die konsep dat ons die wêreld om ons "skep" deur die manier wat ons dink.  Ons trek, as ek dit so kan noem, dinge na ons toe aan.  Ek wonder toe sommer of ek so belangrik is dat ek 'n ommeswaai in die wêreld van motorsmaak kan veroorsaak?  Is dit ek wat die katalis is dat mense nou skielik meer Dodge motors koop, of was dit maar altyd daar en al wat verander het is my ingesteldheid teenoor die voertuie? 

 

Die Bybel vertel ons ook op verskeie plekke dat ons denke en ingesteldheid wel 'n invloed het op ons lewe, en nie net op vreemde maniere nie, maar ook in die praktyk.  Aan die een kant het ons altyd die mense wat glo dat alles voor die tyd deur God besluit is, en dat ek net my rol speel sonder enige insette van my eie.  Aan die ander kant van die redenasie het ons mense wat glo dat ek die middelpunt van die lewe is en dat God my bystaan, maar dat EK die wêreld skep waarin ek woon.

 

My standpunt bly altyd dat dinge in die lewe nie OF-OF is wanneer dit by redenasies soos die kom nie, maar eerder EN-EN.  Die rede hiervoor is dat ek nooit die antwoord op hierdie raaisel gaan vind nie.  Wat ek wel glo is dat daar tog genoeg bewyse is dat my ingesteldheid, denke en optrede tot iets lei, al is dit net my observasie van dinge of dalk skep ek my lewe soos dit nou is.  Ek is nie net 'n pion van God waarvan God al die toutjies trek nie. 

 

Die Bybel vertel tog dat ons as mense die vermoe besit om te kan berge versit, wat tog vir ons 'n aanduiding is dat ek 'n rol in die wêreld om my speel.  Ons ken ook die gesegdes dat wanneer jy jou met die semels meng, die varke jou opvreet.  Ons is ook deeglik bewus dat God ons liefhet en dat hy niks slegs met ons wil laat gebeur nie.  Maar telkens sien ek siekte, ongeluk, hartseer, frustrasie en pyn in mense en wonder dan hoekom God so iets toelaat?  En ek besef weereens dat ek nie my rol in die wêreld om my heeltemal kan ignoreer nie.  Elke gedagte en elke oomblik het 'n rimpel effek in my en almal om my se lewens, en alles begin by my denke en gedagtes.  Die Bybel noem dit nie verniet dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou nie, want God wil ons elke oomblik herinner dat dit belangrik is.

 

Dit is vreemd dat as ek die dag geirriteerd is, ek die hele dag met mense saamleef wat  my irriteer.  As ek dink dat alle mense sleg is, gaan mense om my altyd sleg wees.  As ek negatief is en dink iemand is "useless" , raai wat, gaan hulle dinge doen wat my punt versterk.  As ek dink dat vrouens nie kan bestuur nie, gaan ek die hele tyd vrouens kry wat voor my inry om my denke te voed.  As ek dink niemand is betroubaar nie, gaan mense onbetroubaar voorkom en wees in my geselskap. 

 

Die omgekeerde is ook waar, dat wanneer ek lief het, het ek liefdevolle mense om my.  As ek mense om my sag hanteer, gaan mense sag en teer wees in my teenwoordigheid.  Jesus het as voorbeeld altyd die halfvol glas in mense se lewens gesoek, eerder as om hulle op hulle sondigheid te wys.  Hy is die een wat die prostitute se voete gewas het en die seer mense verbind het, terwyl die oordelende massas hom daaroor aangevat het.  Iemand het een keer gese dat die rede vir die feit dat die massas Jesus verwerp het toe hy op aarde was dalk gebore is uit die feit dat mense nie geglo het dat dit moontlik is dat daar 'n liefdevolle mens op aarde is wat opreg was nie.  Miskien sien jy ook elke aksie van mense om jou met oordeel, en is jy verblind vir dit wat mense doen en beteken in jou lewe. 

 

Daar word ook vir ons geleer, behalwe dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou, dat ons ook nooit die duiwel 'n vatkans moet gee in ons lewe nie.  Wat dit beteken is een ding en dit is dat jy, soos in Star Wars, baie keer oorgaan na jou "donker" kant.  Eerder 'n lewe wil leef van negatiwiteit en kla en oordeel, as om te soek na die mooi in die lewe en die mooi in mense om jou. 

 

Ek lees nou 'n interresante boek oor hoe om op te hou rook, en een van die belangrikste aspekte is dat ons rokers gebreinspoel is, maar meer nog onsself brienspoel.  Ek het so gewoond geraak om in situasies 'n sigaret aan te steek, dat ek nie meer dink daaroor nie.  Ek het so begin glo in al die verskonings en redes vir hoekom ek rook, dat ek vergeet het hoekom ek nie wil rook nie.  Ek is so vasgevang in my gewone manier van doen, al weet ek dit gaan my dood veroorsaak, maar ek hou aan daarmee.  So leef ek my lewe met ingesteldheid teenoor mense wat hulle en myself so ongelukkig maak, en al weet ek dit is nie wat ek soek nie, hou ek aan daarmee.  Elke dag wat ek dink mense is "useless", weet ek dat ek hulle emosioneel doodmaak, maar ek hou aan met my ingesteldheid.  Dit is maar een voorbeeld, maar snaaks genoeg is dat 'n mens kry wat jou oe soek om te kry.

 

Dalk moet ons vandag in ons verhoudings so bietjie gaan kyk na ons ingesteldheid en besef hoe dit alles om my impakteer.  Miskien moet ek vra of ek die hele tyd 'n stok soek om iemand mee te slaan, of eerder 'n geleentheid om hulle te prys of vas te hou.  Sit ek die bril van oordeel op, of kyk ek eerder met my blindheid verby die "foute" van die mense om my.  Haal ek die sweep uit om mense te kasty vir wat hulle nie is nie, of eerder my beursie van liefde om hulle te betaal vir wat hulle wel vir my beteken.  Veg ek elke dag teen die balk in my eie oog, of is ek so besig om die splinters in ander raak te sien.  Vul ek my dag met positiewe energie, of vul ek my leefruimte met allerhande "verslawings" soos rook wat ek weet nie werk nie.  Ons weet dat hierdie ingesteldheid nie werk nie, want dit is net in Wiskunde waar negatiewe somme kan uitwerk op die positiewe.  En die belangrikste van alles is dat dit ongelukkig nie ek is, of hierdie blog is, of die sielkundiges is, of die regte tyd is wat dinge gaan verander nie, dit is ek en ek alleen. 

 

Hulle sê dat die ergste verslawing in die wêreld rook is en dat dit die moeilikste is om af te leer, maar ek dink dat hierdie 'n groter verslawing is.  Mense sterf elke dag in hulleself met woede en hartseer en pyn, maar hulle sal dit om die dood nie los nie, want hulle is nie bereid om te verstaan dat dit by hulle begin nie.  Daar sal nooit die regte tyd wees om op te hou rook nie, want daar is altyd 'n geleentheid of 'n gewoonte sigaret of te veel stress of te lekker ontspanning, wat my verskonings gaan gee om op te hou rook. Altyd 'n rede, maar wanneer die kanker of die hartaanval my tref, dan is dit te laat om op te hou, want die skade is reeds gedoen.

 

Gaan kyk vandag bietjie na jou ingesteldheid teenoor jouself, mense om jou, lewensmaat, kinders, vriende ens.  En moet nie 'n fout maak nie, dit is nie hulle wat jou ingesteldheid beheer nie, net JY!  Maar dit is net soos met die rook, jy gaan soms voel dat daar 'n rede is om iemand af te jak of om te oordeel of te verskree, en wat maak dit saak.  As jy weet dat iets nie 'n goeie uitwerking op jou lewe of mense het nie, moet dit nie sê of doen nie. 

 

Ek is seker dat ons met die verkeerde ingesteldheid en denke, meer mense elke dag verwoes en doodmaak as wat enige sigaret of dwelms doen.  En die uiteinde van hierdie gedrag is dat jy jouself doodmaak, want al kry die mense om my deur my verkeerde ingesteldheid tweedehandse "rook" in, is dit die persoon wat die sigaret aansteek wat die meeste daardeur beinvloed word. 

 

Jy kan jou lewe verander, jy kan 'n fantastiese verhouding met jou lewensmaat he, jy kan 'n wonderlike tyd met jou kinders spandeer, jy kan ook beinvloed wat in die lewe na jou kant toe kom, maar JY moet dit gaan skep.  Ek ken mense wat in die haglikste omstandighede denkbaar leef, maar met 'n lag in hulle hart, en ander wat alles het en elke dag in hel leef en alleen is!

 

Hou op wegkruip agter die verskonings van jou verslawing, ook aan woede, rusie, "uselessness", pyn, jammerkry, hartseer, onvertroue ens.  en gaan doen iets daaraan.  Hou op maak asof dit my persoonlikheid is, dit is nie.  Ek is in beheer van my lewe, my woorde, my optrede en niemand anders nie.  Niemand het my gedwing om te rook nie, ek het gekies, so kan ek ook vandag kies om my ingesteldheid te verander en dinge anders te sien sodat ek kan LEEF eerder as om te STERF!

 

Jakobus 4:17:  "As iemand weet dat hy iets verkeerd doen, maar hy hou aan daarmee, dan is dit sonde"

 

 

 

Sunday, July 8, 2012

"Trou is nie perdekoop nie"

Ek is nou in die proses om te soek na 'n nuwe motor wat ek kan koop, en so in my enigheid dink ek toe gisteraand aan die afrikaanse spreekwoord wat sê:  "Trou is nie perdekoop nie".  Deesdae koop 'n mens nie sommer baie perde nie, want ons perde is deesdae motorvoertuie met perdekrag onder die enjinkap.  Terwyl ek so motors bestudeer, sien ek dat hierdie proses ons baie herinner aan die verhoudings waarin ons leef.

 

Wanneer jy 'n motor koop, veral in die mark waarin ons vandag is, dat die keuse wat jy nou maak by jou gaan bly vir 'n lang tyd.  Jy moet gemaklik voel met jou keuse en weet dat jy tien teen een met die voertuig gaan sit vir 5 jaar of meer.  Verhoudings met mense is ook gemik op die lang termyn, en verkieslik lewenslank.  Ek dink dit is hoekom mense so bang is om finale keuses te maak en volledig met iemand in 'n verhouding in te spring, want anders as met motorvoertuie, kom verhoudings nie met waarborge en diensplanne nie.  Daar is geen manier dat jy jou maat kan terugvat na die handelaar en verwag dat hulle haar moet terugvat of haar moet omruil nie.

 

Ek hou baie van motors, maar daar is nie 'n manier dat ek almal kan bekostig wat ek graag soek nie.  Ons het almal sekere dinge wat ons beperk in die keuses wat ons kan maak.  In motorkoop is dit die geldelike dinge wat ons beperk, en ek moet soms vrede maak met wat ek kan bekostig en geniet wat ek KAN koop en nie die hele tyd rondloop met pyn oor wat ek NIE kon koop nie.  In verhoudings soek ons ook altyd die beste "waarde" vir ons geld, die persoon wat die beste by ons pas en vir ons gee wat ons nodig het.  Ek is nogal ietwat sinies oor hierdie tipe van standpunt, aangesien ek glo dat mense in verhoudings mense "kies" en dan die hele tyd op die tekortkominge van my maat wys.  Miskien is die persoon in jou lewe 'n ouerige Honda met stampe en stote met nukke en grille, maar as ek elke dag die arme Honda die skuld gee dat dit nie 'n Porsche is nie, is tog totaal onregverdig. 

 

Vrydag het ek die voorreg gehad om weer met my 1989 Honda Ballade te ry wat aan my oom in Holland behoort en wat hier by my huis staan.  Hy spoeg en spartel om aan die gang te kom en hier waar ons bly kyk mense jou nogal vreemd aan wanneer jy met 'n motortjie ry waarvan sekere bakdele met "cable ties" vasgehou word.  Ek en Blacky ry toe na ons afsprake, en te midde van wat almal om ons van ons gedink het, het ons gelag en soveel pret gehad.  Weereens besef ek dat ons samelewing tog so vreemd is en ingestel is op die uiterlike, terwyl dit gaan oor die heerlike geselskap binne die voertuig en nie oor wat ander dink of voel of oordeel nie.  Soos wat ons ry sien ek hier in Atterbury by die robotte al die mense in hulle luukse Duitse motors, sonder 'n glimlag en sonder dat dit lyk asof hulle die lewe geniet.  Sal jy eerder gelukkig wil wees met jou situasie, of in 'n situasie wees wat jy nie geniet nie, net omdat dit luukser en mooier is?

 

Op ons ouderdom moet ons ook verstaan dat die motors wat jy kan bekostig eerder tweedehandse motors is.  Hulle het almal myle op en hulle het enjins wat nie meer so vlot loop nie en waarvan die bakwerk skrapies en stampe het.  In alle verhoudings koop jy iemand wat 'n geskiedenis het, en jy weet ook dat daar nie volledige diensrekords is van die persoon nie.  Hulle is nie so goed onderhou soos wat ons graag sal wou gehad het nie, en ook nie soos hulle dit wou gesien het nie.  Maar net soos met motors dink ek mense soek maar net iemand wat mooi na hulle sal kyk en hulle meganika en denke met liefde en deernis gaan hanteer.  As ek 'n motor se enjin oopmaak, erken ek dat ek geen idee het wat om te doen as iets fout gaan nie.  Deesdae is enjins so gekompliseerd dat die mense wat hulle by die handelaars moet onderhou oorsee gevlieg word om te gaan leer hoe hulle werk, want hulle kan dit nie bekostig om 'n fout te maak nie, want mense se lewens kan afhang van hoe goed hierdie mense hulle werk doen.  Meeste mense wat deesdae motors koop het ook geen idee van wat onder die enjinkap aangaan nie.  So ek moet ook weet dat ek nie weet wat in my maat se enjinkap aangaan nie, en ek kan ook nie van hulle verwag om my "reg" te maak nie.  Maar een ding wat ek geleer het is dat jy goed en gelukkig oor die weg kan kom, selfs met 'n motor wat nie perfek is nie.

 

Daar is natuurlik ander opsies beskikbaar as jy nie kan koop nie, soos motorhuur of motor leen.  Die probleem daarmee is dat dit net verbruik is, en nie eienaarskap of verhouding nie.  Gaan maar na Avis en kyk bietjie met hoe min sorg mense die motors wat hulle huur hanteer.  Hoeveel mense ken ek wat hulle bakkies geleen het vir ander om iets aan te ry, wat vir jou sal sê dat jy nooit jou voertuig uitleen nie, want die risiko is net te groot.  As mense nie hulle eie voertuie koop nie, het mense eenvoudig nooit dieselfde ontsag vir die voertuig nie.  In verhoudings moet jy 'n "commitment" maak, van watter aard ookal, om daardeur te wys dat jy "omgee" en ook lei jou commitment outomaties na 'n beter omgee en nasien van jou voertuig.

 

Mense is deesdae al hoe meer "gesofistikeerd" in hulle behoeftes wanneer dit by motorkoop kom.  Daar moet kameras in wees wat jou help om agtertoe te ry, 'n plek waar jy jou I-pod kan inprop, navigasie, DVD spelers vir die kinders agter in die voertuig, 'n wonderlike klankstelsel om lekker musiek te kan luister wanneer jy ry.  In baie gevalle fokus die handelaars ons aandag weg van probleme in die voertuig met al hierdie ekstras wat jy voor betaal, maar wat nie die essensie van die voertuig is nie.  My oupa Frans het gesê dat hoe meer dinge daar in 'n motor is, hoe meer dinge is daar wat breek.  Wanneer ons dus met iemand in 'n verhouding is of iemand kies, moet ons versigtig wees dat ons nie so oorbluf word deur die uiterlike "onbelangrike" dinge, dat ons nooit eers oplet of daar 'n enjin onder die kap is nie.  Die siel van 'n motor is die enjin en nie die DVD speler in die voertuig nie, want dit help my niks as ek al die dinge het en dit in my motorhuis moet geniet, want die voertuig kan my nêrens heen neem nie. 

 

Ek kom nog uit die tyd waar my ouers en hulle vriende verdeel was tussen Merc en BMW aanhangers.  So was ek vir lank iemand wat in my keuse oor voertuie net gekyk het na die sogenaamde bekende make.  Twee weke gelede stap ons by 'n Amerikaanse handelaar in, en daar sien ek nou werklike waarde vir geld.  Die voertuig wat ek sien is half prys van die voertuig wat ek graag sou wou koop.  Jy sien, soms moet ons die manier wat ons gebruik gaan analiseer en ons oopstel om vars te dink oor dinge.  As ek terugkyk net my BMW's my altyd goed behandel, en selfs my Land Rovers (glo dit of nie), maar nou kyk ek op 'n ander manier na dinge.  In ons verhoudings kan ons soms so vashaak by die feit dat ons nie het wat ons dink ons moet kry nie, dat ons vergeet om te sien wat ek wel het.  Dalk gaan my Amerikaanse motor nie die mense om my beindruk nie, maar ek leef nie soos hulle met die reuse paaiemente nie, maar geniet 'n voertuig wat vir MY werk. 

 

Mense om my kyk my aan in my leenkarretjie vanuit hulle luukse statige waens, en hulle vorm 'n opinie oor my.  Veral die vier-by-vier tannies ry sommer voor jou in by 'n sirkel, want hulle dink jy is nie waardig om saam op die pad te wees nie.  Een van die beste lesse wat ek in versekering geleer het, is dat elke mens die reg het op dieselfde behandeling, of hulle nou 'n R50 per maand polis uitneem of R5 000 per maand.  Partykeer hanteer ons ook maar ons maats in verhoudings met afguns of dat ons dink dat ons beter is as hulle.  Wat ek wel ook geleer het uit die voorbeeld hier bo is dat die klient met die R50 polis, veral in ekonomiese moeilike tye, eerder sy kontrak tot op die einde van die tyd betaal, maar dat die groot premies makliker verval.  So, die klient met die klein premie, beteken soms vir my meer as die groot klient oor die langer termyn.

 

Ek sien tussen mense wat ek ontmoet 'n paar tendense wat ek graag wil uitlig. 

 

Mense koop hulle motors met die oog daarop dat dit slegs tydelik is totdat die model wat hulle graag wil koop beskikbaar word.  In sulke situasies word die mense in my lewe presies dit, iemand wat ek op trap om by die volgende trappie uit te kom.  In die geval is alles selfsugtig.  Hou op om bang te wees binne verhoudings, koop die kar, en hou op om dit te leen of te huur.  Jy mors in elkgeval jou tyd en jou energie om te wag vir iets beter om oor die pad te kom.  Jy sien, baie motormaatskappye vervang modelle die hele tyd.  Dit beteken dat as ek altyd die beste en mooiste en op datum produk soek, ek elkgeval altyd agter sal wees.  Breek daardie "droomlewe" scenario in jou lewe.  Gaan en gaan bedink bietjie waarmee jy besig is en of jou ongeluk in jou verhouding nie die produk is van jou breinspoeling nie.  Gary Player het so baie vir mense geleer oor gholf en die lewe in die aanhaling wat se:  "Play the golf course as it is, and not how you would like it to be". 

 

Die breinspoeling kom uit onsself waar ons dink dat jy altyd beter en verder en groter moet droom.  Dit is iets wat ons geleer is wat nie vir my sin maak nie, want as ek vrede maak met my situasie en die voertuig koop, beteken dit tog nie dat ek iets prysgee of dat my lewe vol hartseer en pyn is en gaan stagneer nie.  Inteendeel, ek dink dat mense wat "settle" gelukkiger is as hulle wat altyd die agterdeur oophou of wag vir iemand wat dalk nooit gaan realiseer nie.  As jy so leef en altyd wag, gaan jy die ongelooflike lekkerte van jou rit mis, en geen wonder dat jy dan ongelukkig is in jouself en in jou verhouding nie.

 

As jy iemand wil vra wat hulle droomvoertuig is, sal mans veral vir jou iets opnoem soos 'n Ferrari.  Ek sit so paar jaar gelede met iemand in 'n vergadering wat 'n Ferrari ry, en kom toe agter dat alles ook maar nie so lekker gaan met sy genot nie.  Hy parkeer net op sekere plekke, want hy is so bang dat iemand sy motor gaan krap.  Hy moet baie geld spandeer wat mense steel die kentekens van die wieldoppe af.  Nie net gepaar van die prys nie, maar ook die versekering en petrol kos hom 'n arm en 'n been.  Toe dink ek dat, alhoewel ek dink dit heerlik sal wees om 'n Ferrari te besit, nie alles altyd groener is aan die ander kant van die draad nie. 

 

So baie mense se lewens gaan dus by hulle verby terwyl hulle wag vir die "perfekte" voertuig wat moontlik nie bestaan nie.  Alle voertuie en alle verhoudings het almal dieselfde boublokke van raam, wiele en enjins, maar almal het een ding in gemeen en dit is om my by my bestemming uit te bring, te midde van al die ekstras of prys of spoed.  Soms moet 'n mens tot die besef kom dat selfs die duur motor jou dalk ook breek en dalk vir jou meer frustrasies bring as jou huidige voertuig.

 

Jy moet jou voertuig oppas en seker maak dat jy nie in situasies verval waar dit van jou weggeneem kan word nie.  Jy sal nie met opset deur 'n "township" ry of jou voertuig sommer enige plek parkeer nie.  Soms neem omstandighede of jou GPS jou op 'n verkeerde roete, maar dit is jou natuurlike instink om daar uit te kom, want jy wil nie kanse vat nie.  Hoekom vat ons dan so baie kanse met ons verhoudings en plaas ons onsself op risiko om alles te verloor?  Bly weg van situasies waar jou verhouding onder risiko is, want glo my, een dag is een dag wat dit gaan gebeur.  Ek het soveel vriende wat ek sien wat hulleself oor en oor in situasies begewe waar dinge kan skeef loop.

 

Gaan vandag en gaan smeer bietjie politoer aan jou verhouding en gaan wees gelukkig oor die manier wat dit jou by jou bestemming uitbring!

 

 

Tuesday, July 3, 2012

In Jesus se spore

Die liefde is seker die moeilikste konsep ter wêreld om oor te praat, te skryf en te kommunikeer.  Ons weet baie goed uit die Bybel en die wyse Salomo, dat daar nie ‘n manier is, met al sy wysheid en alles, om vir ons te weet hoe die liefde tussen 2 mense werk nie.  Ons gebruik baie kere die woord liefde in relaas tot ander mense, maar soms wonder ek self of ek weet en onthou wat dit behels as jy vir iemand toedig dat jy lief is vir hulle.  Jy sien, om vir iemand te sê dat jy lief is vir hulle, roep ‘n groot verantwoordelikheid by ons.  Wanneer jy vir iemand dit sê, dan het mense ‘n hele rits dinge van wat hulle van ons kan verwag en dit is waar die tameletjie nou inkom met liefde.

Die grootste voorbeeld wat ons kan sien van liefde is die liefde wat God vir ons as mense het.  Die Bybel vertel vir ons dat God ons so liefgehad het, dat Hy Sy eie Seun gegee het om vir ons te sterf.  Wat hierdie liefde beteken is dat as God bereid is om dit vir my as mens te doen, hoeveel te meer kan ek Hom vertrou met al die ander minder belangrike dinge in my lewe.  God se liefde is ‘n ideaal wat ons leer presies wat liefde is.  Dit is nie onderhandelbaar nie en ook nie onderhewig aan enige kriteria of toetse van of dit so is nie, dit IS so. 

Wat God se liefde ons leer is dat liefde nie ‘n wederkerige situasie behoort te wees nie, God is nie lief vir ons omdat ek iets doen of verdien nie.  God se liefde is volmaak aangesien daar nie ‘n miskien en moontlik en dalk by betrokke is nie.  Liefde se bron kom van God af, dus, wanneer ek vir iemand sê dat ek hulle lief het, beteken dit dit kom van MY af en is nie afhanklik van hulle reaksie of optrede na die tyd nie.  Mense wil graag van jou weet hoekom jy hulle lief het, maar soms moet ons maar soos Salomo erken dat ons nie ‘n idee het hoekom ons so voel nie, maar ons is. 

‘n Verdere deel van God se liefde sien ons uit die optrede van Jesus Christus dwarsdeur die Bybel.  Jesus het sy liefde uitgeleef deur soos 'n dienaar op te tree.  Daar is 'n baie mooi woord in Afrikaans wat diensbaarheid die beste uitdruk en dit is on-baat-sugtig.  Weereens ‘n voorbeeld van God se liefde wat prakties is en waar Jesus dinge doen sonder dat Hy daaruit baat wil vind, met ander woorde sonder om iets terug te kry, of te verwag om terug te ontvang.  Jesus wil maar graag sien dat ons, net soos ons maak wanneer ons vir mense lief is, dat ons Hom ook lief het, maar Sy liefde kom eerste en staan alleen en het nie ankertoue van enige aard nodig nie.  Dit is liefde!

Liefde is dus ‘n konsep wat op sy eie bestaan en wat JY bou vir iets of iemand.  Die God waarin ek glo is 'n  God wat nie toelaat dat dit wat ons doen die beeld van liefde en Sy liefde vir ons laat aanraak nie.  Dit is soos 'n “post” op Facebook waar daar geen “like” of “share” knoppies en plek vir kommentaar is nie.  Sy liefde staan vas, sonder enige terugvoer of antwoord van ons – en 1 Korinthiërs 13 stel dit duidelik dat as ek nie hierdie liefde van God in my lewe HET nie, beteken my lewe hoegenaamd niks en het ek eintlik nog nie een oomblik geleef nie.  Die teksvers gaan vêrder om te sê dat ware geluk ook vêrder in my lewe kom, daardie oomblik wat ek dit kan regkry om so ook met die mense om my te wees.

Menslike “liefde” en ek plaas dit met opset tussen aanhalingstekens, lyk vir my in die praktyk anders te wees.  Liefde vir ons is soos ‘n bad vol water.  Voordat ek in die bad klim en pens-en-pootjies inspring, bevoel ek eers die water.  Elkeen het sy eie manier, sommige voel met hulle hande, ander met die toon en ander met hulle elmboog, om seker te maak dat die water die temperatuur is wat hulle “pas”.  Ons sien ook hierdie tendens in ons aanvaarding of verwerping van Godsdiens dat ons eers sommige bewyse soek voordat ons 100% net gaan inspring in die liefde. 

Natuurlik is ons almal bewus van die feit dat almal al in liefde teleurgesteld is in ons lewens en in water geklim het wat of te koud of te warm was.  Ons glo dat dinge wat met ons gebeur 'n leerskool is, maar wat het ons geleer daaruit?  Wat problematies is, is dat mense soms die baba met die badwater uitgooi by die deur.  Die feit dat die water in 'n verhouding nie na wense was nie, beteken nie dat ek nooit ooit weer mag bad nie.  Dit bring my terug by 1 Korinthiërs 13 waar die liefde vir ons uitgespel word, maar vreemd genoeg, nie die lys van dinge waaraan ander moet voldoen oor die liefde voordat ek hulle kan liefhê nie, maar eerder wat ek moet doen om liefde te WEES.

Wat liefde dus is, is dat ek myself moet liefhê as 'n begin soos God my lief het en besef dat ek besonders is, maar omdat ek besonders is in die oë van God beteken nie dat ek nou “spesiaal” moet behandel word en moet dink dat die water wat vir my voorberei word deur ander perfek by MY behoeftes moet pas nie.  Ons is heel bewus van ons menslikheid en dat ons almal strewe daarna om beter mense te wees.  Soms gaan die water nie heel perfek in temperatuur wees nie, maar genoegsaam om in die doel daarvan te slaag en dit is dat ek myself kan was en verfris kan wees. 

Dit hang natuurlik ook af van die konteks waarin ek leef, want as die water in die somer nie warm genoeg is nie, is dit draaglik, maar wanneer dit winter is, is dit nie lekker om in koue water te bad nie.  Dit is egter 'n feit dat ek en jy MOET bad, ons kan nie sonder skoon verfrissing bly nie, want dan gaan niemand ooit naby ons wil kom nie van die reukie wat ons gaan afgee.  Sodoende is mense wat in liefde leef, al is dit NET die liefde wat God vir hulle het, mense wat ons eerder by sal wil wees as hulle wat 'n stankie afgee.  Mense sonder liefde is onaantreklik en onaangenaam om naby te wees, maar mense wat in die liefde leef is aantreklik. 

Die nuwe vertalings van die stuk in Korinthiërs gebruik so mooi die woord HET, wat vir ons die indikasie gee dat dit iets is wat 'n mens besit en nie iets wat 'n mens net leen nie.  Dit word DEEL van jou en niemand kan dit van jou wegneem nie.  Jesus is gekruisig deur die mense, maar dit het niks gedoen aan sy liefde vir hulle nie.  Hoeveel van ons kan dit sê?  Ons loop met jare lange verwyte en baklei in ons wat verwyderd is van wat liefde is.  Jesus het nie op Hom laat trap nie, maar liefde vir mense en diensbaarheid het meer getel as om SY punt te bewys.  

Moeder Theresa het gesê dat jy sal goed wees vir mense en hulle sal dit in jou gesig teruggooi, maar dit beteken nie dat jy moet ophou om vir mense goed te wees nie.  Miskien is vandag die dag wat ons moet gaan stilstaan en onsself moet afvra of ons die liefde HET?  Miskien is vandag die dag wat jy weer jou Bybel moet optel en gaan lees wat liefde is en nie jou liefde afhanklik maak van wat ander aan JOU doen nie.  Miskien is vandag die dag wat jy mense om jou asem gee en waar jy On-Baat-Sugtig lief het, sonder dat jy terug ontvang wat jy dink jy behoort te kry? 

Dalk moet ons weer die konsepte van wat liefde is gaan nastreef, naamlik, geduld, vriendelikheid, nie jaloers wees nie, nie jou eie beuel blaas nie, nie vol van jouself wees nie, nie onwaardig optree nie, nie jou eie belange vooropstel nie, nie kort van draad wees nie, nie boekhou van die kwaad wat jou aangedoen is nie, juig oor waarheid wat seëvier, stil wees oor ander se foute, steeds bly vertrou, aanhou hoop en alles verduur en ON-BAAT-SUGTIG gaan liefhê.

 

 

 

Wednesday, June 27, 2012

Dit is ernstig?

In verkope leer 'n mens vinnig baie dinge van die menslike psige wat jy moet toepas om suksesvol te wees.  Een hiervan is natuurlik om te luister na die klient, eerder as om met jou eie agenda te gaan en jou wil op die klient af te druk.  Luister en antwoord slegs wanneer dit absoluut nodig is, maar jy moet die klient laat voel asof hy in beheer van die situasie is en in so vêr moontlik moet jy probeer om vir die klient die produk te gee wat sy/haar situasie en behoefte die beste pas.

 

As spesialis in 'n sekere area, word dit soms moontlik om nie oor te neem nie, veral as jy kan sien wat 'n beter opsie is vir die klient.  Veral leer 'n mens redelik vinnig dat om kritiek te gee op bestaande produkte onmiddelik die klient laat toeslaan, aangesien die klient op die produk besluit het op 'n sekere tyd.  Die kritiek is nie werklik gemik op die klient nie, maar op die produk, maar die klient is altyd selfbewus oor besluite en neem die tipe kritiek persoonlik op. 

 

Die “four agreements” se een been is dat 'n mens niks persoonlik moet opneem nie.  Die rede hoekom hierdie been genoem word, is omdat dit menslike natuur is.  Sommige mense doen dit in 'n mindere mate, maar almal is geneig daartoe om so op te tree.  Dit is amper soos die voorbeeld van iemand wat verantwoordelik voel as die kat kleintjies gekry het.  Een ding is seker en dit is dat mense nie hou van kritiek nie selfs al is dit goeie raad wat moontlik kan lei tot 'n beter situasie.

 

Mense wil ook altyd hulle punt staaf en hulleself verantwoord oor besluite wat hulle geneem het.  Dit voel asof hulle aanvaarding soek by ander mense vir die besluite wat hulle geneem het.  Hulle dink dat as ander mense met my saamstem en my punt insien, dat dit 'n sterretjie plaas wat my laat voel dat ek die regte besluit geneem het. 

 

Alhoewel ons graag wil hê dat die lewe anders moet werk, moet ons ook maar eerlik wees dat as ek met mense oor die weg wil kom, mense dinge persoonlik gaan en wil opneem.  Aan die een kant dink ek dat dit so moet wees, want jy moet jouself en dit wat joune is beskerm.  So is mense en soms moet ek die baan speel soos die baan is en nie soos ek wens dit was nie.

 

Aan die ander kant neem ek en jy dinge soms te persoonlik op.  Iemand het een keer die stelling gemaak dat depressie is wanneer ek myself en die lewe te ernstig opneem.  Ek is deffinitief skuldig daaraan, omdat ons almal graag perfek wil wees vir die wêreld en die mense om ons.  Ons wil graag mooi wees in en deur ander mense se oë en voel dat ons belangrik genoeg is.  Miskien is ons behoefte eerder aan liefde en aanvaarding as oordeel en kritiek.  Dalk is ons in onsself steeds daardie graad 6 seun of dogter wat populêr wil wees onder ons maats en 'n tikkie van sukses wil voel.

 

Wanneer iemand dus vir jou raad gee of 'n standpunt het wat nie klop met wat jy dink en glo nie, neem dalk vandag so 'n trappie terug en kyk na die situasie baie mooi.  In die eerste plek is alles wat mense sê nie altyd vêr-oordelend nie, maar dalk be-oordelend.  Tweedens is mense wat jou raad gee besig met hulle eie dinge daar diep in hulle eie koppe en harte.  Jy weet nie altyd wat hulle beweegrede is om met jou te praat nie en so hoef jy ook nie die slegte te kies nie, want dalk bedoel hulle net goed.  Verder weet jy ook dat dinge in jou lewe verander en jy nie dieselfde kan bly nie, so, is dit dus so belangrik dat jy ALTYD reg moet wees. 

 

Soms gaan jy foute maak en dinge doen wat vir ander nie reg of goed is nie, maar dit is JY wat die keuse gemaak het en niemand weet regtig ook hoekom jy dit so gekies het nie.  Jou keuse en optrede is jou eie en het nie nodig om in die oë van ander mense aanvaarbaar te wees nie, dit is JOU lewe en JOU hart en JOU keuse.  Miskien het die tyd gekom dat ons nie meer so ernstig alles bekyk nie.  Miskien het die tyd gekom dat jy die lewe so bietjie laat gaan en minder intens moet leef, want daar gebeur elke dag wonderlike dinge om jou, dat dit nie nodig is om die hele tyd met die “negatiewe” daarvan om te gaan nie.     

 

So moet jy ook nie in jou interaksie met ander probeer reg wees en oordelend wees nie, wat maak dit tog nou saak of iemand van jou verskil of nie?  Dit is nie nodig vir JOU om altyd reg te wees nie.  Almal het die reg om hulleself te wees en in dieselfde asem wil jy ook die reg verdien om jouself te wees, maar jy kan slegs die reg aan jouself gee, as jy ander die reg daartoe gee en andersom.

 

“Moenie die lewe so ernstig opneem nie, dit is net tydelik”

 

Thursday, June 21, 2012

Wat jy kry is wat jy sien!


Toe kom en gaan die eksamen toe nou Dinsdag en ek is so verheug dat dit verby is.  Hierdie eksamen het soveel opwinding verskaf wat ek met ‘n pre-eksamen blog verduidelik het, maar daar is ‘n hele storie wat gevolg het na die vorige blog.

Maandagaand voor die eksamen het ek ‘n krapperigheid in my oog ontwikkel.  Gelukkig het ek oogdruppels in die yskas gehad wat ek gedink het die probleem sou oplos.  Ek het druppels uit die yskas gaan haal en nadat ons dit ingegooi het eers agtergekom dat dit die verkeerde druppels was.  Mia, my dogtertjie was by ‘n oogspesialis wat vir haar druppels voorgeskryf het wat haar oogspiere verslap en haar pupille vergroot.  Ek moet sê, die krapperigheid in my oog was weg, maar ek het begin stress, maar darem gedink dat dit uitgewerk sal wees teen die volgende oggend. 

Toe ek Dinsdagoggend wakker word, het my oë gelyk asof ek op dwelms is.  Ek kon vêr sien, maar van naby sien was daar nie sprake nie, alles was ‘n waas.  Jy kan dink hoe moedeloos ek was na al die voorbereiding om nou met so ‘n agterlosigheid my kanse op die slaag van die eksamen in die wiele te ry.  Ek kry toe ‘n “clicks brilletjie” om te fokus en te lees, maar dit het baie inspanning geverg.  Dit is nou 3 dae later en ek kan al amper begin lees, maar jy kan jou voorstel hoe ‘n groot skok dit op jou sisteem is om binne ‘n paar ure jou 20-20 visie te verloor en nie te sien nie.

Ek is ‘n groot voorstander van Louise Hay se werk, veral “Healing your life”.  Die onderbou van haar werk is dat ons denke en emosies ‘n fisiese uitwerking het op ons.  Met ander woorde beteken dit dat alles wat ek dink ‘n werklikheid word in die fisiese wêreld.  Ons lees selfs in die Bybel daarvan dat jy nie eers sonde moet “bedink” nie, want dit is dan dieselfde as wat jy dit gedoen het.  Ek weet dat as ek die vers mooi analiseer dit dalk nie presies dieselfde beteken as wat Louise Hay bedoel nie, maar die beginsel is dat ons ons denke moet oppas.

Die agtergrond van my eksamen is die volgende.  Ek het ‘n nagraadse kwalifikasie in Finansiële beplanning en toe die wetgewing ingekom het dat almal hierdie eksamens moes aflê, het ek van die begin af gedink dat dit ‘n klomp nonsens is.  In my kop het ek geskop daarteen om die eksamen te gaan skryf.  Die afsnydatum vir alle adviseurs om die eksamen te skryf is 30 Junie 2012 en soos julle kan sien het ek dit tot die laaste week uitgestel om te gaan skryf. 

Kan dit dalk wees dat ek met my onderbewuste denke my situasie van “blindheid” fisies veroorsaak het?  Louise Hay gaan ook vêrder in haar werk en neem die fisiese kondisie en maak ‘n konneksie met watter tipe emosies dit kan veroorsaak.  Die oog en enige kondisie daarvan is die visie van die toekoms.  Amper kan ‘n mens dit terugbring daarnatoe dat ek nie kans gesien het om die eksamen te skryf nie. 

Louise Hay se denke lei ons ook om te verstaan dat niks toeval is nie en dat alles met ‘n doel gebeur en dat dit ons is wat dinge veroorsaak.  Daar is ander denke wat weer glo dat alles in God se hande is en dat alles wat gebeur “pre-destined” is.  Ek stoei nogal lank in my lewe oor hierdie idee, want ek glo eerder dat daar ‘n balans in alles is.  Ons is nie poppe waarvan God alles aan toutjies beheer en waar ek geen seggenskap het oor wat met my gebeur nie.  Ons het, tesame met die plan van God, ook beheer oor ons aksies, denke en emosies.

Maar alles begin by wat ek dink en wat ek voel.  Dit maak dit eintlik gevaarlik om so daaraan te dink, want jou denke kan dalk ook lei daartoe dat jy onbewustelik ‘n proses aan die gang sit wat verkeerde druppels in jou oë laat gooi.  Jou aksies is nie net “random” nie, al dink ons dinge is “toeval”. 

So sit ek vandag en wonder oor al die ander dinge wat ek dink oor die lewe.  Ek sit en wonder wat hierdie dinge in my lewe tot gevolg het of kan hê in die toekoms.  As ek so luister na mense om my en wat hulle denke is en standpunte, dan wonder ek nie meer hoekom die wêreld so deurmekaar lyk nie.  Mense wat dink dat alles toelaatbaar is, maak hulle hulleself nie oop vir die “toeval” van verkeerde middels wat in hulle oë beland nie?  Mense wat dink dat almal sleg is, gaan hulle nie “toevallig” in ‘n wêreld leef waar almal sleg gaan wees nie?  Wanneer ek dink dat almal leuenaars is, gaan ek nie “toevallig” mense om my hê wat vir my lieg nie? 

Ek glo nie in toeval nie, want daar is veel meer dinge in my lewe waar ek die uiteinde van dinge kan terug spoor na my denke en aksies.  Ons gee so maklik die skuld vir dinge aan ander mense en hulle aksies, asof ons dink dat ons uitgelewer is aan die noodlot.  Dit gaan nie net oor die negatiewe nie, maar in hierdie situasie bied dit ook aan my ‘n ongelooflike geleentheid.  As ek weet dat ek saam met God die skepper is van my eie lewe, kan ek dus vandag opstaan en verantwoordelikheid neem vir die lewe wat ek geskep het en kan ek weet dat ek môre vir myself ‘n fantastiese lewe kan skep.

Maar voordat ek 'n huis kan bou, moet ek eers ‘n plan opstel.  Hoe lyk die plan van die lewe wat jy wil bou?  Pas op wat jy dink, want dit is hoe jou huis gaan lyk!

 

 

Sunday, June 17, 2012

Wat eksamenskryf ons leer!

 Ek skryf eerskomende Dinsdag eksamen en so in my voorbereiding sien ek toe soveel van die ooreenkomste met die lewe van elke dag, want eintlik is elke dag soos eksamen skryf.

 

  1. Jy moet inskryf vir die eksamen:

 

Deesdae is al die data wat jy moet weet oor enige onderwerp orals beskikbaar, maar dat dit daar is, beteken nie ek gaan dit intens leer nie.  Wanneer ek onder druk is en wanneer ek ‘n datum en tyd het en ingeskryf is, dan skielik doen ek moeite en gaan soek dit.  Ek gaan koop vir my merkerpenne en ek doen werklik moeite om die informasie te probeer onthou.

 

Sommige mense skryf nooit in vir die eksamen nie, hulle funksioneer op hulle eie basiese kennis om oor die weg te kom.  Die lewe is ‘n werklikheid en jy het nie al die kennis in jou om te funksioneer sonder enige verdere inligting nie.  Vir my het daar ‘n wekker afgegaan, want as ek nie die eksamen afhandel voor die einde van die maand nie, kan ek nie meer my beroep beoefen nie.

 

So gaan daar daagliks alarms af van dinge wat ons druk om te verander en te vernuwe en op te Let, want anders gaan ons lewe nie in die rigting groei waar ons wil wees nie.  Dit help nie jy druk jou kop in ‘n gat en dink dat alles om jou om jou moet draai en mense by jou moet leer nie.  Sommige mense skryf nooit in vir die eksamen nie.

 

  1. Dit kan of ‘n las, of ‘n plesier wees:

 

Twee weke gelede het ek my oudste, Hugo, gehelp om voor te berei vir sy eksamen.  Dit was naweek en natuurlik was daar soveel ander dinge wat ons eerder sou wou doen as om te leer.  Ons het die Vrydagaand besluit om aan die leerdery ‘n totaal nuwe betekenis te gee.  Ons het die Saterdag opgestaan en begin om notas te maak op “Powerpoint”.   Ons het ‘n mooi agtergrond gekies en begin “speel”.  Dit was verbasend, want as ek opgestaan het om ‘n breek te neem, het Hugo my nooit langer as 5 minute gegee om te rus nie.  So het ek die aand 21:00 ‘n halt geroep.  Die Sondag toe ons opstaan het hy skielik my begin druk dat ons dit vinniger moet doen, want hy wou nog ‘n vak op die manier doen voor die Sondagaand.

 

Die eksamen, die werk, die tyd, alles bly dieselfde, maar met die regte ingesteldheid het ons ons “swaarkry met lekkerkry klaargekry”.  Ek was eers glad nie geinterreseerd in hierdie eksamen nie en ek het gedink dat dit onbenullig is.   Stadig het ek maar begin om al die notas te versamel, maar wou nie leer nie.  Toe het ek my ingesteldheid verander, want daar is nie ‘n keuse van of ek kan skryf of nie, net die keuse van of ek dit vir my ‘n berg of 'n plesier gaan maak. 

 

Ek het al baie keer geskryf oor die feit dat die lewe ‘n keuse is en ek glo dat alles ‘n keuse is, want jy kry 2 mense wat dieselfde situasie het as jy, maar wat dit met genot aanpak.

 

  1. Belangstelling, Belangrikheid en Blootstelling:

 

Op skool was daar sekere vakke wat eenvoudig nie vir jou interessant of belangrik was nie.  Daardie frustrasie wat ek in houtwerkklas gehad het, sal ek nooit vergeet nie.  Ek is natuurlik nie ‘n persoon wat met my hande kan of wil werk nie.  Daar was egter vakke wat vir my belangrik was en daarom het ek dit geniet.  Dan was daar ook vakke wat my belangstelling geprikkel het en daarom het ek geniet om meer daaroor te lees en uit te vind. 

 

Daar is elke dag dinge wat vir my lekker is om te doen, want dit is my belangstelling.  Dit was gister vir my lekker om te kyk hoe die Springbokke speel, maar die wedstryde tussen Nieu Zeeland en Ierland was interessant, maar my hart was nie daarin soos met die Spriingbokke nie. 

 

Steven Covey het ons in die jare 80 geleer van die houer met die klippies en die sand.  Hy het ons geleer dat ‘n mens jouself so goed moet ken dat jy eers die dinge inpak en doen wat vir jou belangrik is en wat jou belangstelling prikkel.  Wanneer jy dus leef vanuit hierdie prioriteite eers, is daar skielik plek vir die sand en klein klippies, want jy het uit prioriteite geleef.

 

  1. Die notas:

 

Alle eksamens handel oor ‘n sekere onderwerp en daar is afbakening van die werk wat jy moet leer.  Daar word ook melding gemaak van ekstra informasie wat jy ook na kan kyk om die eksamen makliker te maak.

 

Almal wat makelaars is, moet hierdie eksamens aflê en daar is soveel informasie en notas beskikbaar wat vir mekaar heen-en-weer- gestuur word.  Die eerste belangrike faktor is om eers al die info en notas te versamel wat jy kan.  Dan moet jy, omdat jy nog nie ‘n idee het waaroor dit handel nie, deur al die informasie gaan om te weet wat van nut is en wat jy gaan gebruik.   Soms is hierdie so oorweldigend, dat mense sommer moed opgee voordat hulle begin het.

 

Sonder informasie is jy eenvoudig nie voorbereid vir enige eksamen nie.  Jy moet eers soveel notas kry as wat jy kan.  Wanneer dit oor die verhoudings van mense handel, vra ons soms te min vrae en stel ons te min belang, dat ons die eksamen pluk, want ons het nie genoeg insae in wat in hulle harte en koppe gebeur nie. 

 

  1. Die opsommings:

 

Ons soek altyd kortpaadjies om dinge gedoen te kry.  Een daarvan is om by mense opsommings te kry van die notas.  Ek het nou al soveel keer dit probeer en een ding wat ek geleer het daarvan is dat opsommings van iemand anders, HULLE opsommings is.  Dit maak soms glad nie sin nie, want ek verstaan nie wat die konteks is waarbinne hulle dit gedoen het nie.  Dit maak so effens sin as ek reeds deur die notas gegaan het, maar opsommings op hulle eie maak soms glad nie sin nie.

 

Ons moet altyd die konteks van mense se lewens eers verstaan voordat ek die eindproduk van hulle aksies kan verstaan.  Soms neem ons mense op sigwaarde en nooit hulle agtergrond en wat in hulle harte gebeur nie.  Mense gee ons raad oor ons eksamen met hulle opsommings, maar dalk is dit opsommings van ‘n totaal ander eksamen wat nie op jou van toepassing is nie.  Dit is waar die spreekwoord ook vandaan kom van ASSUME en aannames, maak ‘n donkie van jou en van my. 

 

  1. As alles jou oorweldig:

 

Ek ken nie die statistieke nie, maar ek dink nie iemand is al ooit dood van leer of van eksamenskryf nie.  Soms vat ons die lewe te ernstig op en laat ons toe dat die stapel boeke vir die eksamen my oorweldig.  As dit so voel, vat beheer en raak prakties.  Prioritiseer en vat een ding op ‘n slag.  Soms pak ons al die boeke voor ons en dit lyk te veel om deur te kom, so pak hulle eers op ‘n ander plek en vat happies van die werk soos wat jy kan.

 

  1. Jy gaan nooit volleerd wees nie:

 

Die wêreld en dinge om jou verander elke dag.  So weet ons dat al het jy die vorige eksamen geslaag, daar elke keer nuwe vrae is.  Jy sal nooit 100% alles weet nie en daarom is daar uit 100 gewoonlik ‘n slaagsyfer.  Soms dink ons dat ons lewens ‘n gemors is omdat ons nie 100% kry vir alles nie.  Natuurlik moet jy streef daarna, maar in sekere gevalle is jy suksesvol met 50% en kan vorder na die volgende vlak. 

 

  1. Daar is altyd verskonings om nie te leer nie:

 

Net soos nou, skryf ek eerder my blog as om te gaan leer.  Daar is nut en sin daarin om ‘'n blog te skryf of om jou kas reg te pak, maar moet nooit verskonings soek om nie te fokus op wat regtig saakmaak nie.  Nou gaan ek leer!

 

Gelukkige Vadersdag almal!

 

 

Wednesday, June 13, 2012

Mike en die blik verf

Mike kry werk om die wit lyne op die teerpaaie te verf.  Sy eerste uitdaging is die lang reguit stuk pad tussen Beaufort-Wes en Colesberg.  Na die eerste dag is sy baas baie beïndruk, want hy het ‘'n stuk van 3 km op sy eie geverf, waar die gemiddeld so 800 meter is.  Die volgende dag verf hy 1,5 kilometer, die derde dag 500 meter en so word dit al hoe minder.  Sy baas is toe baie bekommerd en vra hom hoekom dit so is.  Mike antwoord:  “Meneer, dit word al hoe minder want weet jy hoe vêr is dit om elke keer terug te stap na die blik verf daar aan die begin?”

 

 

Soms voel dit asof dit al hoe moeiliker word om vordering te maak.  Dit voel soms vir jou dat jy vashaak en selfs met die mooiste bedoelinge kry jy dit nie reg om gelukkig en opgewonde die dag van vandag te leef nie.  Dit is natuurlik baie simplisties om te dink dat daar een antwoord is wat vir alle mense die oorsaak is, maar baie mense se probleem is dieselfde as Mike s’n.  Ons verfblik het êrens vasgehaak en elke liewe dag gaan ons eers weer al die pad terug na die verfblik.  Dit kan natuurlik ‘n pynvolle ervaring wees waarheen ek teruggaan, maar ook êrens waar ek sukses beleef het, wat soms meer gevaarlik kan wees.

 

 

Mike kan nou wawiele maak soos hy wil, die pad moet geverf word, vandag en vorentoe.  Mike sal baie vinnig moet leer om hierdie haakplek te oorkom, want anders gaan hy beslis sy werk verloor.  So moet ons ook leer om die haakplekke in ons lewens te oorkom, maar hoe doen ‘n mens dit?

 

 

1.  Vergewe:

 

 

Dit is een van die mees basiese beginsels wat ons dwarsdeur die Bybel lees.  Soms voel dit of ons nie die blik verf kan skuif nie, want dit is te swaar.  Vergiffenis is om te voel dat daar ‘n las van jou skouers af is.  Jy voel lig skielik weer asof jy energie het, dat jy lig en beweegbaar is.  Dit is nie net om ander mense te vergewe nie, maar soms ook jouself.  Jy sal moet leer om nie sulke groot “grudges” te dra teenoor dinge wat gebeur het met jou nie.  Daar is baie redes hoekom mense aan jou dinge gedoen het, wat nie altyd “aspris” en met opset was nie.  Hulle optrede was dalk deel van hulle eie prosesse en dalk voel hulle ook enorme skuld teenoor jou vir wat hulle aan jou gedoen het.  Dalk voel hulle niks nie, maar vergiffenis is so absoluut noodsaaklik vir jou om vorentoe te gaan.

 

 

Veral in verhoudings leer ons uit die Bybel dat die liefde nie boekhou van die kwaad nie.  Soveel van ons is elke liewe dag in ons redenasies met mekaar vasgevang in die kwaad wat ons voel iemand ons aangedoen het.  Dit maak ons sulke ou suur mense, want die tekort aan vergiffenis is ‘n gif wat jou hele lewe en elke faset gaan vergiftig.   Sommige van ons is onder die indruk dat vergiffenis iets is wat eers kan kom wanneer iemand my om verskoning kom vra.  Dit gaan dalk nooit gebeur nie, want mense dink almal anders oor situasies wat gebeur het.  Vergiffenis handel nooit oor “hulle” nie, maar oor “jou”. 

 

 

Vergiffenis handel ook nie oor “regmaak” nie, want aan gedane sake is daar geen keer nie.  Vergiffenis handel ook nie oor om iemand “terug te kry” nie.  Vergiffenis is iets wat uit jouself kom en vergiffenis is iets wat jy VIR JOUSELF alleen doen.  Sommige mense loop rond met sulke enorme emmers vol haat van wat ander mense aan hulle gedoen het.  Die ander persoon het intussen salig onbewus van jou pyn en haat aanbeweeg met hulle lewens.  Sonder vergiffenis laat ons toe dat die insident en die mense wat verantwoordelik was elke liewe dag van ons lewens ons beïnvloed.  Hoekom sal ons oor en oor die pyn wil ervaar as ons dit kan hanteer met liefde vir onsself en vergiffenis.

 

 

2.  Laat gaan:

 

 

Die Bybel leer vir ons dat wanneer ons vergiffenis ontvang het van God, Hy nooit ooit weer daaraan dink nie.  Soms vergewe ons onsself en ander mense, maar ons kan dit eenvoudig nie laat gaan nie.  Soos reeds genoem, daar is niks wat jy nou aan die situasie kan doen nie.  Ek kan dit vergelyk met Mike wat terugstap na die verfblik daar aan die begin waarvan die verf lankal onbruikbaar en dik geword het.  As iets nie bruikbaar is vir jou pad vorentoe nie, hoekom gaan jy dan elke keer terug daarheen, net om elke keer herinner te word dat die pad terug sonder enige vrugte is. 

 

 

Elke keer wat jy dit terugroep in jou gedagtes, maak jy jouself weer bewus van die pyn, wat weer lei daartoe dat jy van vooraf sal moet vergewe.  Dit is ‘n bose kringloop wat nie positief bydra tot vandag nie.

 

 

Om te vergewe en te laat gaan beteken ook nie dat dit wat aan my gedoen is “reg” was nie.  Ek stem saam dat dit vol pyn en baie trane kon gewees het, maar as dit jou lewe vandag negatief laai is daar nie plek daarvoor in jou lewe nie.  Ek sien soveel mense wat met hierdie totale haat saamleef elke dag en soos die monnike in die Middeleeue dink dat dit goed is om hulleself elke dag te kasty met die pyn uit die verlede.  So ontmoet mense nuwe lewensmaats, maar herhaal die prosesse van die verlede elke dag, amper asof hulle hulleself nie ‘n wonderlike lewe toewens nie en glo dat hulle gelukkig “mag” wees nie.

 

 

3.  Gun jouself ‘n nuwe blik verf:

 

 

Ek wonder hoeveel van ons besef die wonder van vandag en van die lewe van elke dag?  Ons is soms so vasgevang in ou patrone dat ons totaal vergeet van die wonder wat elke dag om ons gebeur.  Ons is so besig om ander te verwyt en onsself te pynig dat ons totaal vergeet van die wonder om my vandag.  Ek weet dat wanneer jy by sielkundiges sit in sessies jy oor en oor die verlede moet herroep om dit te revalueer.  Dit beteken nie dat jy dit oor en oor moet herhaal nie, die doelwit daarvan is vir jou om die verfblik te erken vir wat dit is en te her-definieer, sodat jy kan vergewe en kan aanbeweeg.

 

 

Gun jouself die lewe deur vergiffenis en deur te laat vaar wat jy niks aan kan verander nie.

 

 

4.  Kom oor jouself:

 

 

Ons leer uit die Bybel dat jy nou naaste moet liefhê soos jouself, maar ek voel dat ons in ‘n wêreld leef waar die skaal soveel swaai na die individu, dat ons dink dat ons die sentrum van die heelal is en dat alles en almal na ons pype moet dans.  Die lewe kan nooit so werk nie, want elke klippie wat in die water val maak sy eie kringetjie om die middelpunt, maar tegelykertyd val daar miljoene klippies elke dag wie se kringetjies mekaar beïnvloed.  Alhoewel jou lewe en kringetjie vir jou die heel belangrikste is, moet jy verstaan dat dit nie net JOU dammetjie is nie.  Jy is deel van ‘n groter geheel. 

 

 

Mike kan spring soos hy wil, maar as hy nie wakker skrik nie, gaan hy sy werk verloor.  Hy is dalk die eerste paar dae belangriker en beter gewees as sy medewerkers, maar dit gaan oor vandag en nou.  Ons kan nie verwag dat die lewe my anders moet hanteer omdat ek dink dat ek spesiaal is nie.  Elkeen is spesiaal, maar niemand is meer spesiaal as al die ander mense wat God geskep het nie.

 

 

Dit help ons baie met vergiffenis, as ons besef dat mense om ons dalk dinge doen of gedoen het omdat hulle op daardie oomblik gedink het dat dit die regte ding is.  Die Four Agreements leer ons dat ons dinge nie so persoonlik moet opneem nie en in beginsel leer ons daaruit juis dat ons nie moet dink dat almal om ons ‘n komplot teen ons het nie.  Mense leef hulle lewens, jy ook en ons maak keuses wat ander mense seermaak of gesond maak, nie altyd met die intensie om JOU te kruisig nie.

 

 

“Here, gee my die krag om te verander wat ek kan en die besef wat ek nie kan nie en die insig om die verskil te ken”