Sunday, June 17, 2012

Wat eksamenskryf ons leer!

 Ek skryf eerskomende Dinsdag eksamen en so in my voorbereiding sien ek toe soveel van die ooreenkomste met die lewe van elke dag, want eintlik is elke dag soos eksamen skryf.

 

  1. Jy moet inskryf vir die eksamen:

 

Deesdae is al die data wat jy moet weet oor enige onderwerp orals beskikbaar, maar dat dit daar is, beteken nie ek gaan dit intens leer nie.  Wanneer ek onder druk is en wanneer ek ‘n datum en tyd het en ingeskryf is, dan skielik doen ek moeite en gaan soek dit.  Ek gaan koop vir my merkerpenne en ek doen werklik moeite om die informasie te probeer onthou.

 

Sommige mense skryf nooit in vir die eksamen nie, hulle funksioneer op hulle eie basiese kennis om oor die weg te kom.  Die lewe is ‘n werklikheid en jy het nie al die kennis in jou om te funksioneer sonder enige verdere inligting nie.  Vir my het daar ‘n wekker afgegaan, want as ek nie die eksamen afhandel voor die einde van die maand nie, kan ek nie meer my beroep beoefen nie.

 

So gaan daar daagliks alarms af van dinge wat ons druk om te verander en te vernuwe en op te Let, want anders gaan ons lewe nie in die rigting groei waar ons wil wees nie.  Dit help nie jy druk jou kop in ‘n gat en dink dat alles om jou om jou moet draai en mense by jou moet leer nie.  Sommige mense skryf nooit in vir die eksamen nie.

 

  1. Dit kan of ‘n las, of ‘n plesier wees:

 

Twee weke gelede het ek my oudste, Hugo, gehelp om voor te berei vir sy eksamen.  Dit was naweek en natuurlik was daar soveel ander dinge wat ons eerder sou wou doen as om te leer.  Ons het die Vrydagaand besluit om aan die leerdery ‘n totaal nuwe betekenis te gee.  Ons het die Saterdag opgestaan en begin om notas te maak op “Powerpoint”.   Ons het ‘n mooi agtergrond gekies en begin “speel”.  Dit was verbasend, want as ek opgestaan het om ‘n breek te neem, het Hugo my nooit langer as 5 minute gegee om te rus nie.  So het ek die aand 21:00 ‘n halt geroep.  Die Sondag toe ons opstaan het hy skielik my begin druk dat ons dit vinniger moet doen, want hy wou nog ‘n vak op die manier doen voor die Sondagaand.

 

Die eksamen, die werk, die tyd, alles bly dieselfde, maar met die regte ingesteldheid het ons ons “swaarkry met lekkerkry klaargekry”.  Ek was eers glad nie geinterreseerd in hierdie eksamen nie en ek het gedink dat dit onbenullig is.   Stadig het ek maar begin om al die notas te versamel, maar wou nie leer nie.  Toe het ek my ingesteldheid verander, want daar is nie ‘n keuse van of ek kan skryf of nie, net die keuse van of ek dit vir my ‘n berg of 'n plesier gaan maak. 

 

Ek het al baie keer geskryf oor die feit dat die lewe ‘n keuse is en ek glo dat alles ‘n keuse is, want jy kry 2 mense wat dieselfde situasie het as jy, maar wat dit met genot aanpak.

 

  1. Belangstelling, Belangrikheid en Blootstelling:

 

Op skool was daar sekere vakke wat eenvoudig nie vir jou interessant of belangrik was nie.  Daardie frustrasie wat ek in houtwerkklas gehad het, sal ek nooit vergeet nie.  Ek is natuurlik nie ‘n persoon wat met my hande kan of wil werk nie.  Daar was egter vakke wat vir my belangrik was en daarom het ek dit geniet.  Dan was daar ook vakke wat my belangstelling geprikkel het en daarom het ek geniet om meer daaroor te lees en uit te vind. 

 

Daar is elke dag dinge wat vir my lekker is om te doen, want dit is my belangstelling.  Dit was gister vir my lekker om te kyk hoe die Springbokke speel, maar die wedstryde tussen Nieu Zeeland en Ierland was interessant, maar my hart was nie daarin soos met die Spriingbokke nie. 

 

Steven Covey het ons in die jare 80 geleer van die houer met die klippies en die sand.  Hy het ons geleer dat ‘n mens jouself so goed moet ken dat jy eers die dinge inpak en doen wat vir jou belangrik is en wat jou belangstelling prikkel.  Wanneer jy dus leef vanuit hierdie prioriteite eers, is daar skielik plek vir die sand en klein klippies, want jy het uit prioriteite geleef.

 

  1. Die notas:

 

Alle eksamens handel oor ‘n sekere onderwerp en daar is afbakening van die werk wat jy moet leer.  Daar word ook melding gemaak van ekstra informasie wat jy ook na kan kyk om die eksamen makliker te maak.

 

Almal wat makelaars is, moet hierdie eksamens aflê en daar is soveel informasie en notas beskikbaar wat vir mekaar heen-en-weer- gestuur word.  Die eerste belangrike faktor is om eers al die info en notas te versamel wat jy kan.  Dan moet jy, omdat jy nog nie ‘n idee het waaroor dit handel nie, deur al die informasie gaan om te weet wat van nut is en wat jy gaan gebruik.   Soms is hierdie so oorweldigend, dat mense sommer moed opgee voordat hulle begin het.

 

Sonder informasie is jy eenvoudig nie voorbereid vir enige eksamen nie.  Jy moet eers soveel notas kry as wat jy kan.  Wanneer dit oor die verhoudings van mense handel, vra ons soms te min vrae en stel ons te min belang, dat ons die eksamen pluk, want ons het nie genoeg insae in wat in hulle harte en koppe gebeur nie. 

 

  1. Die opsommings:

 

Ons soek altyd kortpaadjies om dinge gedoen te kry.  Een daarvan is om by mense opsommings te kry van die notas.  Ek het nou al soveel keer dit probeer en een ding wat ek geleer het daarvan is dat opsommings van iemand anders, HULLE opsommings is.  Dit maak soms glad nie sin nie, want ek verstaan nie wat die konteks is waarbinne hulle dit gedoen het nie.  Dit maak so effens sin as ek reeds deur die notas gegaan het, maar opsommings op hulle eie maak soms glad nie sin nie.

 

Ons moet altyd die konteks van mense se lewens eers verstaan voordat ek die eindproduk van hulle aksies kan verstaan.  Soms neem ons mense op sigwaarde en nooit hulle agtergrond en wat in hulle harte gebeur nie.  Mense gee ons raad oor ons eksamen met hulle opsommings, maar dalk is dit opsommings van ‘n totaal ander eksamen wat nie op jou van toepassing is nie.  Dit is waar die spreekwoord ook vandaan kom van ASSUME en aannames, maak ‘n donkie van jou en van my. 

 

  1. As alles jou oorweldig:

 

Ek ken nie die statistieke nie, maar ek dink nie iemand is al ooit dood van leer of van eksamenskryf nie.  Soms vat ons die lewe te ernstig op en laat ons toe dat die stapel boeke vir die eksamen my oorweldig.  As dit so voel, vat beheer en raak prakties.  Prioritiseer en vat een ding op ‘n slag.  Soms pak ons al die boeke voor ons en dit lyk te veel om deur te kom, so pak hulle eers op ‘n ander plek en vat happies van die werk soos wat jy kan.

 

  1. Jy gaan nooit volleerd wees nie:

 

Die wêreld en dinge om jou verander elke dag.  So weet ons dat al het jy die vorige eksamen geslaag, daar elke keer nuwe vrae is.  Jy sal nooit 100% alles weet nie en daarom is daar uit 100 gewoonlik ‘n slaagsyfer.  Soms dink ons dat ons lewens ‘n gemors is omdat ons nie 100% kry vir alles nie.  Natuurlik moet jy streef daarna, maar in sekere gevalle is jy suksesvol met 50% en kan vorder na die volgende vlak. 

 

  1. Daar is altyd verskonings om nie te leer nie:

 

Net soos nou, skryf ek eerder my blog as om te gaan leer.  Daar is nut en sin daarin om ‘'n blog te skryf of om jou kas reg te pak, maar moet nooit verskonings soek om nie te fokus op wat regtig saakmaak nie.  Nou gaan ek leer!

 

Gelukkige Vadersdag almal!

 

 

No comments:

Post a Comment