Wednesday, July 11, 2012

Balke en splinters en ouma se Datsun

 Ek was omtrent so 10 jaar oud, toe koop my ouma 'n motor by haar neef.  Ek kan goed onthou dit was so 'n blou Datsun 1600, daardie tyd toe hulle nog sulke boksie-motors gebou het.  My ouma was so trots op haar motor.  My ouma het in 'n woonstelblok gebly en daar was nie toesluitmotorhuise nie, slegs daardie middelste onderdakparkering met die grasperk en braaiplekke op.

 

My ouma was so bang dat iemand haar motor moet steel en het elke dag vir ons vertel dat sy deur die nag wakker word en deur die venster in haar sitkamer gaan loer het of die motor nog daar is.  Een oggend 3:00 lui ons huisfoon en my ouma is histeries want haar voertuig is gesteel.

 

Sedert daardie tyd worstel ek ook baie met die denke oor of situasies soos wat my ouma getref het deur haar aangetrek is (die Bybel noem dit mos dat wat jy vrees oor jou sal kom) en of dit sou gebeur het sonder my ouma se insette of vrese.

 

Ek het in die vorige blog genoem dat ons besig is om na motors te kyk om te koop en dat ons so bietjie buite die algemeen na "onbekende" motors kyk.  Wat my vreeslik opval is dat ek voorheen nooit hierdie voertuie op die pad gesien het nie, en skielik sien ek hulle raak.  Ek sien die Dodges, die Chevrolets en selfs ander motors wat ek nooit van geweet het nie. 

 

Mense praat deesdae vreeslik baie oor die konsep dat ons die wêreld om ons "skep" deur die manier wat ons dink.  Ons trek, as ek dit so kan noem, dinge na ons toe aan.  Ek wonder toe sommer of ek so belangrik is dat ek 'n ommeswaai in die wêreld van motorsmaak kan veroorsaak?  Is dit ek wat die katalis is dat mense nou skielik meer Dodge motors koop, of was dit maar altyd daar en al wat verander het is my ingesteldheid teenoor die voertuie? 

 

Die Bybel vertel ons ook op verskeie plekke dat ons denke en ingesteldheid wel 'n invloed het op ons lewe, en nie net op vreemde maniere nie, maar ook in die praktyk.  Aan die een kant het ons altyd die mense wat glo dat alles voor die tyd deur God besluit is, en dat ek net my rol speel sonder enige insette van my eie.  Aan die ander kant van die redenasie het ons mense wat glo dat ek die middelpunt van die lewe is en dat God my bystaan, maar dat EK die wêreld skep waarin ek woon.

 

My standpunt bly altyd dat dinge in die lewe nie OF-OF is wanneer dit by redenasies soos die kom nie, maar eerder EN-EN.  Die rede hiervoor is dat ek nooit die antwoord op hierdie raaisel gaan vind nie.  Wat ek wel glo is dat daar tog genoeg bewyse is dat my ingesteldheid, denke en optrede tot iets lei, al is dit net my observasie van dinge of dalk skep ek my lewe soos dit nou is.  Ek is nie net 'n pion van God waarvan God al die toutjies trek nie. 

 

Die Bybel vertel tog dat ons as mense die vermoe besit om te kan berge versit, wat tog vir ons 'n aanduiding is dat ek 'n rol in die wêreld om my speel.  Ons ken ook die gesegdes dat wanneer jy jou met die semels meng, die varke jou opvreet.  Ons is ook deeglik bewus dat God ons liefhet en dat hy niks slegs met ons wil laat gebeur nie.  Maar telkens sien ek siekte, ongeluk, hartseer, frustrasie en pyn in mense en wonder dan hoekom God so iets toelaat?  En ek besef weereens dat ek nie my rol in die wêreld om my heeltemal kan ignoreer nie.  Elke gedagte en elke oomblik het 'n rimpel effek in my en almal om my se lewens, en alles begin by my denke en gedagtes.  Die Bybel noem dit nie verniet dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou nie, want God wil ons elke oomblik herinner dat dit belangrik is.

 

Dit is vreemd dat as ek die dag geirriteerd is, ek die hele dag met mense saamleef wat  my irriteer.  As ek dink dat alle mense sleg is, gaan mense om my altyd sleg wees.  As ek negatief is en dink iemand is "useless" , raai wat, gaan hulle dinge doen wat my punt versterk.  As ek dink dat vrouens nie kan bestuur nie, gaan ek die hele tyd vrouens kry wat voor my inry om my denke te voed.  As ek dink niemand is betroubaar nie, gaan mense onbetroubaar voorkom en wees in my geselskap. 

 

Die omgekeerde is ook waar, dat wanneer ek lief het, het ek liefdevolle mense om my.  As ek mense om my sag hanteer, gaan mense sag en teer wees in my teenwoordigheid.  Jesus het as voorbeeld altyd die halfvol glas in mense se lewens gesoek, eerder as om hulle op hulle sondigheid te wys.  Hy is die een wat die prostitute se voete gewas het en die seer mense verbind het, terwyl die oordelende massas hom daaroor aangevat het.  Iemand het een keer gese dat die rede vir die feit dat die massas Jesus verwerp het toe hy op aarde was dalk gebore is uit die feit dat mense nie geglo het dat dit moontlik is dat daar 'n liefdevolle mens op aarde is wat opreg was nie.  Miskien sien jy ook elke aksie van mense om jou met oordeel, en is jy verblind vir dit wat mense doen en beteken in jou lewe. 

 

Daar word ook vir ons geleer, behalwe dat ons oor ons gedagtes die wag moet hou, dat ons ook nooit die duiwel 'n vatkans moet gee in ons lewe nie.  Wat dit beteken is een ding en dit is dat jy, soos in Star Wars, baie keer oorgaan na jou "donker" kant.  Eerder 'n lewe wil leef van negatiwiteit en kla en oordeel, as om te soek na die mooi in die lewe en die mooi in mense om jou. 

 

Ek lees nou 'n interresante boek oor hoe om op te hou rook, en een van die belangrikste aspekte is dat ons rokers gebreinspoel is, maar meer nog onsself brienspoel.  Ek het so gewoond geraak om in situasies 'n sigaret aan te steek, dat ek nie meer dink daaroor nie.  Ek het so begin glo in al die verskonings en redes vir hoekom ek rook, dat ek vergeet het hoekom ek nie wil rook nie.  Ek is so vasgevang in my gewone manier van doen, al weet ek dit gaan my dood veroorsaak, maar ek hou aan daarmee.  So leef ek my lewe met ingesteldheid teenoor mense wat hulle en myself so ongelukkig maak, en al weet ek dit is nie wat ek soek nie, hou ek aan daarmee.  Elke dag wat ek dink mense is "useless", weet ek dat ek hulle emosioneel doodmaak, maar ek hou aan met my ingesteldheid.  Dit is maar een voorbeeld, maar snaaks genoeg is dat 'n mens kry wat jou oe soek om te kry.

 

Dalk moet ons vandag in ons verhoudings so bietjie gaan kyk na ons ingesteldheid en besef hoe dit alles om my impakteer.  Miskien moet ek vra of ek die hele tyd 'n stok soek om iemand mee te slaan, of eerder 'n geleentheid om hulle te prys of vas te hou.  Sit ek die bril van oordeel op, of kyk ek eerder met my blindheid verby die "foute" van die mense om my.  Haal ek die sweep uit om mense te kasty vir wat hulle nie is nie, of eerder my beursie van liefde om hulle te betaal vir wat hulle wel vir my beteken.  Veg ek elke dag teen die balk in my eie oog, of is ek so besig om die splinters in ander raak te sien.  Vul ek my dag met positiewe energie, of vul ek my leefruimte met allerhande "verslawings" soos rook wat ek weet nie werk nie.  Ons weet dat hierdie ingesteldheid nie werk nie, want dit is net in Wiskunde waar negatiewe somme kan uitwerk op die positiewe.  En die belangrikste van alles is dat dit ongelukkig nie ek is, of hierdie blog is, of die sielkundiges is, of die regte tyd is wat dinge gaan verander nie, dit is ek en ek alleen. 

 

Hulle sê dat die ergste verslawing in die wêreld rook is en dat dit die moeilikste is om af te leer, maar ek dink dat hierdie 'n groter verslawing is.  Mense sterf elke dag in hulleself met woede en hartseer en pyn, maar hulle sal dit om die dood nie los nie, want hulle is nie bereid om te verstaan dat dit by hulle begin nie.  Daar sal nooit die regte tyd wees om op te hou rook nie, want daar is altyd 'n geleentheid of 'n gewoonte sigaret of te veel stress of te lekker ontspanning, wat my verskonings gaan gee om op te hou rook. Altyd 'n rede, maar wanneer die kanker of die hartaanval my tref, dan is dit te laat om op te hou, want die skade is reeds gedoen.

 

Gaan kyk vandag bietjie na jou ingesteldheid teenoor jouself, mense om jou, lewensmaat, kinders, vriende ens.  En moet nie 'n fout maak nie, dit is nie hulle wat jou ingesteldheid beheer nie, net JY!  Maar dit is net soos met die rook, jy gaan soms voel dat daar 'n rede is om iemand af te jak of om te oordeel of te verskree, en wat maak dit saak.  As jy weet dat iets nie 'n goeie uitwerking op jou lewe of mense het nie, moet dit nie sê of doen nie. 

 

Ek is seker dat ons met die verkeerde ingesteldheid en denke, meer mense elke dag verwoes en doodmaak as wat enige sigaret of dwelms doen.  En die uiteinde van hierdie gedrag is dat jy jouself doodmaak, want al kry die mense om my deur my verkeerde ingesteldheid tweedehandse "rook" in, is dit die persoon wat die sigaret aansteek wat die meeste daardeur beinvloed word. 

 

Jy kan jou lewe verander, jy kan 'n fantastiese verhouding met jou lewensmaat he, jy kan 'n wonderlike tyd met jou kinders spandeer, jy kan ook beinvloed wat in die lewe na jou kant toe kom, maar JY moet dit gaan skep.  Ek ken mense wat in die haglikste omstandighede denkbaar leef, maar met 'n lag in hulle hart, en ander wat alles het en elke dag in hel leef en alleen is!

 

Hou op wegkruip agter die verskonings van jou verslawing, ook aan woede, rusie, "uselessness", pyn, jammerkry, hartseer, onvertroue ens.  en gaan doen iets daaraan.  Hou op maak asof dit my persoonlikheid is, dit is nie.  Ek is in beheer van my lewe, my woorde, my optrede en niemand anders nie.  Niemand het my gedwing om te rook nie, ek het gekies, so kan ek ook vandag kies om my ingesteldheid te verander en dinge anders te sien sodat ek kan LEEF eerder as om te STERF!

 

Jakobus 4:17:  "As iemand weet dat hy iets verkeerd doen, maar hy hou aan daarmee, dan is dit sonde"

 

 

 

No comments:

Post a Comment